Die Meissner-kliniek. Ena Murray. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Ena Murray
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780624064046
Скачать книгу
Albert Meissner nie juis kan verkwalik as hy Elke nie glo wanneer sy haar saak aan hom stel nie. As haar dogter maar háár lengte en houding gehad het, maar toe erf sy haar ouma aan vaderskant se tekort aan lengte en haar byna petite liggaamsbou. Elke lyk soos ’n fyn Dresden-poppie wat met hoepelrok en kantsambreeltjie op ’n kaggelrak hoort. Maar daar eindig die ooreenkoms ook met ’n Dresden-poppie. Die glimps van koper in die geel hare wat weerbarstig op die skouers krul en die flits in die blou oë vertel jou dat sy al die parmantigheid besit wat eie is aan klein mensies. Die parmantigheid wat hulle van kleins af aanleer om hulself te handhaaf teen die langer en indrukwekkender lede van hul spesie. Haar nommer twee-skoentjies trippel nou die trap op en met ingehoue asem wag Marlene saam met haar dogter dat die deur moet oopgaan. Dis vir Marlene duidelik dat daar ’n argument by die voordeur ontstaan en sy weet nie of sy bly of ontsteld daaroor moet wees nie. Sy is nie verbaas toe die deur in haar dogter se gesig toegaan voordat dié nog ’n voet oor die drumpel kon sit nie. Selfs op hierdie afstand kan sy sien dat dit iemand meer formidabel as Elke sal wees wat by daardie hekserige poortwagter van Albert Meissner sal verbykom.

      “So ’n ou feeks! Praat met my asof ek sommer enige . . . enige hierjy is!”

      “Het jy haar nie gesê jy is ’n Meissner nie?”

      “Nee. Hoekom sal ek? Dit het niks met haar te doen nie.”

      “Miskien is dit die kodewoord wat toegang tot die Meissner-woning sal verleen.” Ten spyte daarvan dat sy simpatie het met haar dogter se teleurstelling, kan sy ook nie help om te glimlag nie. Nou lyk Elke nog minder na wat sy werklik is. Die blou oë blits, die wange is rooi van verontwaardiging en daardie moedswillige sproete op die wipneus het al weer baldadig onder die laag poeier uitgekruip. Regtig! As sy self nie geweet het Elke is ’n volleerde dokter en al nege-en-twintig nie, sou sy sweer sy is pas uit matriek! Sy ruk haar mondhoeke reg en vra: “Wat sê die ou mens?”

      Elke praat haar na, stywe nekkie en kop in die lug: “ ‘Wie is jy? Soek jy werk?’ Verbeel jou! Wie sou sý wees? Sou Oupa weer ná Ouma se dood getrou het? Regtig, dan moet hy al begin kinds word. G’n mens kan smaak vir háár hê nie!”

      “Ek weet nie. Ek weet niks van jou oupa af ná jou pa se dood nie. Miskien is hy weer getroud. Of miskien is dit sy privaat sekretaresse. Hoekom sê sy kan jy hom nie sien nie?”

      “Hy lê glo met ’n hartaanval en geen besoekers word toegelaat nie.”

      Marlene se glimlag het heeltemal verdwyn. “Is dit erns­tig?”

      “Sy het my nie tyd gegee om te vra nie. Ek weet nie. Ek weet nie eens of dit ooit die waarheid is nie.” Elke frons bekommerd. As haar oupa nóú iets moet oorkom, miskien moet sterf voordat sy met hom kon gepraat het . . . “Mamma, ek moet uitvind hoe ernstig dit is. As dit die waarheid is . . . Oupa kan nie nou sterf nie . . .” Haar ma knik. Ja, dit sal ’n harde slag vir haar kind wees. “Ek gaan kliniek toe ry. Hulle sal my daar kan sê hoe ernstig sy toestand is as hy regtig ’n hartaanval gehad het.”

      Dis stil tussen hulle op pad kliniek toe, elkeen bly met haar eie gedagtes besig.

      Vir die moeder is dit haas onmoontlik om iets so mens­liks soos ’n hartaanval met Albert Meissner te assosieer. Sy onthou hom soos sy hom daardie dag die eerste en die enigste keer ontmoet het. Sy het eindelik toegelaat dat Fritz haar ompraat om sy ouers te gaan ontmoet. Sy onthou die indrukwekkende persoonlikheid, die bonkige gestalte en die deurvorsende oë toe sy aan hom voorgestel is. Hy was so heeltemal die teenoorgestelde van Fritz. Laasgenoemde was ook lank en sterk, maar met ’n fyner liggaamsbou. Sy pa het soos Tafelberg langs hom vertoon. Die klein, fyn vroutjie langs hom kon sy haar kwalik voorstel as die rysige man se vrou. Tog het sy Fritz in haar geëien. Dis van haar dat Fritz die sagtheid om die mondhoeke, die teerheid in die oë en die fyn kunstenaarshande geërf het.

      Die groot dokter het dadelik belangstelling in haar verloor toe hy hoor sy volg ’n kursus in beeldende kuns. Vir sulke tydverkwisting het hy nie tyd nie, het dit duidelik deurgekom. Terwyl hy sy seun weggelei het om mediese sake met hom te gesels, was dit Fritz se moeder wat die verskrikte jongmeisie in die teenoorgestelde rigting gelei en haar belangstellend na haar kursus uitgevra het, later met groot beskeidenheid ’n paar van haar eie etse gewys het.

      “Maar dis goed! Dis baie goed, mevrou!” het Marlene uitgeroep.

      Die ouer dame het geglimlag, maar om haar mondhoeke het ’n hartseertrekkie geskuil. “Ek is bly jy hou daarvan. Ek doen dit maar net as . . . as ek ’n bietjie eensaam voel. Albert is die meeste van die tyd by die kliniek. Ek mis Fritz geweldig vandat hy op universiteit is. Hoe gaan dit met hom daar, Marlene?” Die sagte oë het haar vas aangekyk en sy kon nie jok nie.

      “Mevrou, u moet hom maar liewer self vra.”

      “Hy is nie gelukkig met sy kursus nie.”

      “Nee.”

      “Ek weet. Hy wil nie ’n dokter word nie. Ek wens ek kon hom help, maar . . . dis eintlik heeltemal ondenkbaar dat Albert se seun nie in sy voetspore sal volg nie. Fritz sal moet besluit. Miskien moet jy hom help, Marlene.”

      “Ek?”

      “Julle is lief vir mekaar. Ek kan dit sien. Julle twee moet goed oor die toekoms besin. Dis baie jare wat voorlê en ’n mens kom by ’n punt waar jy nie meer kan omdraai nie. Dis nie maklik om die vrou van ’n Meissner-dokter te wees nie.” Steeds met die sagte gloed in die oë het sy voortgegaan: “My man se hele wêreld draai net om die kliniek. Daar bestaan kwalik ’n ander wêreld of ’n ander lewe vir hom . . . Ek weet nie of Fritz dit sal kan volhou nie.”

      “Hoekom . . . hoekom praat u nie self met hom hieroor nie, mevrou?” het sy gewaag om te vra.

      “Ek durf my seun nie teen wat sy vader van hom verwag, beïnvloed nie. Dit sal baie dislojaal van my wees. Maar ek is lief vir my kind. Ek wil hom gelukkig sien. Dis moeilik . . . baie moeilik.”

      Toe hulle daardie middag terugry kampus toe, kon Marlene nie stilbly nie. “Fritz, besef jy jou ma kon ’n kunstenares geword het as sy haar ten volle wou toespits op haar skilderwerk? Daardie etse van haar is fantasties vir een wat geen opleiding ontvang het nie.”

      “Ek weet. Ek het dit al die jare vermoed, maar Pa het dit nog altyd afgemaak as ’n prentjiemakery. Vir hom is daar niks anders op hierdie aarde belangrik behalwe die mediese wetenskap en die Meissner-kliniek nie.”

      “Ek dink sy is dierbaar, en al verdwyn sy byna totaal as mens in jou pa se teenwoordigheid, sal ek honderd maal liewer met haar oor die weg kom as met hom. Ek is jammer, Fritz, maar jou pa maak my bang. Hy is te oorweldigend.”

      Maar Fritz het verstaan. “Verstaan jy nou hoekom ek net nie die moed bymekaar kan skraap om hom te sê ek wil nie ’n dokter word nie? Ek is van my babadae af met die idee gevoer, Marlene. Van kleins af is ek vertel dat ek eendag die hoof van die Meissner-kliniek sal wees, dat my voete sy spore deur die sale en gange en teaters sal volg. Hy sal ’n hartaanval kry as ek hom moet vertel sy drome en ideale gaan nie bewaarheid word nie.”

      Maar dit was nie Albert Meissner wat die hartaanval gekry het nie. Dit was sy klein vroutjie. Fritz is ontbied en in die paar oomblikke wat hy en sy moeder alleen was, het sy dringend met hom gepraat.

      “Ek het eenkeer ’n gedig deur Graham Loveridge gelees. Hy noem dit ‘Realization’. Op die end daarvan sê hy:

       So many years wasted trying

       to be something I couldn’t be;

       so many years wasted worrying

       before this thought came to me:

       I must live my life for me!

      “Fritz, dis jóú lewe. Doen daarmee wat jy wil. Sorg net dat jy, wanneer jy op die end daarvan kom, nie jou kop in skaamte hoef te laat sak nie. Maar dis joune, aan jou gegee, vir jou gebruik. Jy kan jou drome verwesenlik; jy kan jou ideale bereik.”

      Hy het sy kop geknik, die moederhand styf vasgehou. “Ek wil van ballet my beroep maak, Ma.” Hy het die