Die Meissner-kliniek. Ena Murray. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Ena Murray
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780624064046
Скачать книгу
hy jou pa later teruggeneem het of miskien sou jou pa later maar besluit het om tog in sy pa se voetspore te volg. Maar toe het hy met ’n vrou en ’n kind gesit en . . . die brûe was agter hom verbrand; die hekke finaal gesluit. Dit was vir my ’n baie groot skok toe jy my die dag sê jy wil net een ding word, en dis ’n dokter. Ek sou liewer dat jy ’n ruimtevaarder word, enigiets, net nie ’n dokter nie.”

      “Maar Mamma het nooit in my pad gestaan nie. Inteendeel, jy het jou alles gegee sodat ek my ideaal kon verwesenlik.”

      “Ja, my kind. Want ek wou nie dieselfde fout begaan as Albert Meissner nie. Hy wou jou pa met mag en mening dwing om ’n dokter te word terwyl hy in sy hart ’n kunstenaar was. Ek wou jou nie dwing om iets anders te word terwyl ek weet jy is in murg en been ’n dokter nie, al het ek geweet jy gaan eendag voor ’n toe deur te staan kom.”

      “En ons het vandag daardie eendag bereik?”

      “Ek dink so.”

      Tog is daar nie volle oortuiging in haar stem nie. Want die ander kant is ook moontlik – en Marlene weet nie of sy miskien vir die alternatief banger is nie. Dit kan ook gebeur dat Albert Meissner sy kleindogter gaan aanvaar en dan gaan sy, die moeder, haar verloor. Want dit is wat Albert Meissner en sy kliniek met al die dokters doen. As jy eers verbonde is aan die Meissner-kliniek, is jy net een ding: ’n toegewyde dokter. Jy leef en slaap en eet kliniek. Albert Meissner, ook bekend as Godfather, sorg daarvoor. Geen wonder dat hy die bynaam gekry en die res as die Meissner-mafia bekend begin staan het nie. Albert Meissner regeer die kliniek en die wêreld wat hy daarbinne en daaromheen geskep het, soos ’n jaloerse, besitlike diktator. Dit is sy selfgeskepte aardse koninkryk waar hy die enigste en opperste gesag is. Dié wat nie doen soos hy sê nie, het geen toekoms daar nie. Dié wat die geringste mens­like feilbaarheid openbaar, word die deur gewys. Dié wat nie bereid is om onder sy heerskappy te staan nie, verdwyn net uit die Meissner-kliniek. ’n Harde man met genadelose standaarde, maar een van die briljantste medici wat hierdie land nog opgelewer het. En dis in dié wêreld waarin haar dogter, haar enigste, nou tot elke prys wil instap en haar regmatige plek opeis.

      Daarom kan die moeder, hoewel innig jammer vir haar kind, ook dankbaar wees dat die ongenaakbare aartspatriarg ook nie maklik vergewe en vergeet nie . . . indien ooit. Sy enigste seun het hy nooit vergewe nie.

      “Mamma, ek kan nie sommer nou net omdraai en wegstap nie. Ek moet ten minste probeer.”

      Die ouer vrou knik. “Wat beplan jy? Hoe wil jy te werk gaan?”

      “Ek . . . ek het gedink ek moet hom sommer net trompop loop. Ek bedoel, voor hom gaan staan, sê wie ek is en dat ek ’n kinderspesialis is . . . en dan maar kyk wat gebeur.”

      Die moeder laat haar ooglede sak, diepe jammerte vir haar slim en geleerde kind in haar hart. Want sy kort ervaring . . .ervaring van haar oupa Meissner. Die enigste Meissner wat sy ooit geken het, was haar pa, en dié was nooit in hart en siel ’n Meissner nie. Hy het na sy moeder geaard – saggeaard, kunssinnig. Nou dink Elke sy sal met daardie paar towerwoorde ’n leeftyd se verydeling en teleurstelling en bitterheid wegvee uit ’n hart waarop ’n harde kors deur die jare gegroei en verdik het. Haar arme kind.

      “Ek gaan reguit na sy huis toe ry en my saak stel. As Oupa my die deur wys, sal ek maar weer dink.” Sy kyk haar ma fronsend aan. “Daar is nie eintlik iets anders wat ek kan doen nie, is daar? Mamma sê self hy wou nooit Pappa se telefoonoproepe beantwoord nie en hy het nie eens op Mamma se brief geantwoord nie. Om te bel of te skryf gaan my nêrens bring nie. Maar as ek voor hom staan, kan hy my nie ignoreer nie. Hy sal my moet raaksien en na my moet luister.”

      “Wanneer wou jy gaan?” vra die moeder oorwonne en bêre die sug in haar hart onhoorbaar weg.

      “Hoe gouer hoe beter. Ek het ’n toekoms om te beplan. Hoekom nie vanmiddag nie? Ja, hoekom nie vanmiddag al gaan nie?” Sy verwag nie ’n antwoord op haar vraag nie en die moeder swyg. “Sal . . . sal Mamma saamgaan?”

      “Goed. Maar ek gaan nie saam in nie. Ek dink nie my teenwoordigheid sal jou saak bevorder nie.” Maar ek sal daar wees om jou stukkies bymekaar te maak en terug te bring wanneer jy daar uitkom, my kind, voeg sy stilswyend by.

      Soos alles aangaande Albert Meissner indrukwekkend is, is sy landgoed ook geen uitsondering nie. Die ou herehuis met sy sierlike gewels en sy blommende malvas in koperbeslaande vate op die ruim stoep en die koel skaduwees van die akkerbome, sien die moeder nou vir die tweede keer in haar lewe en die dogter vir die eerste keer. Nie die opstal of die kliniek wat op dieselfde landgoed staan, is van die hoofpad af sigbaar nie.

      Elke se oë is groot van bewondering: “Dis . . . pragtig, Mamma! Ek weet Mamma het dit aan my beskryf, maar ’n mens moet dit self sien om dit na reg te waardeer. Dis soos uit ’n storieboek of uit ’n rolprent!” Sy sug in ekstase. En dis haar plek van oorsprong! Sy ry teen ’n slakkegang nader, wil meer tyd hê om alles in te drink en vra skielik: “Waar kom Oupa aan sy geld? Alles – die landgoed en die kliniek – moes ’n fortuin gekos het!”

      Haar ma se stem is droog en sy is duidelik nie so beïndruk met die uiterlike vertoon wat voor hulle uitstrek nie. “Jou oupa het sy fortuin uit aandele gemaak. Die regte beleggings op die regte tyd. Daar is gesê dat hy ’n ewe briljante ekonoom as medikus sou gewees het. Albert Meissner het ’n geniale brein. Dit moet selfs sy grootste vyand toegee.”

      Elke blik haar ma vinnig aan, maar laat haar laaste sin sonder kommentaar verbygaan. Daar is ook baie bitterheid aan haar ma se kant. Dit is nie net Albert Meissner wat nie maklik vergeet en vergewe nie.

      Sy bly ’n oomblik onseker agter die stuur sit. ’n Mens kom nie sonder ’n afspraak hierheen nie, dit besef sy. Maar sy sou tog vergeefs probeer het om ’n afspraak te maak. Dus . . . Sy druk die deur oop en klim doelgerig uit.

      “Sterkte, my kind. Elke, onthou net een ding: Jy het niks waaroor jy jou hoef te skaam nie. Moenie kruip nie.” Marlene se stem is gedemp.

      Elke kyk haar ma met sagte oë aan, maar haar stem is vasberade: “Ek dink nie dis iets wat ’n Meissner sommer doen nie, Mamma. Ek is nie van plan om te pleit of te kruip nie.”

      Haar ma was verniet bekommerd. Elke kom nie verder as die voordeur nie. Toe die deur op die gehamer van die deurklopper oopgaan, kyk sy teen ’n rankerige, bleek vrou vas. As sy net ’n swart rok met ’n wit kantvoorskoot aangehad het, sou sy gelyk het asof sy saam met die opstal uit die Van der Stel-era dateer, flits dit deur Elke se gedagtes.

      “Ja?”

      Dit klink nie verwelkomend nie. Elke sluk, hou haar stemtoon beleef: “Ek sou graag vir dokter Meissner ’n oomblik wou spreek, asseblief.”

      “Jy het nie ’n afspraak nie.”

      Elke antwoord met ’n stem wat onwillekeurig ietwat verkil: “Nee, maar ek is seker hy sal my wil sien.”

      “Wie is jy?”

      Dit word al moeiliker om haar stemtoon onder beheer te hou. “Is dokter Meissner beskikbaar?” is haar weervraag.

      “Waaroor wil jy hom spreek?”

      Wie is die onbeskofte ou mens? wonder Elke en voel hoe haar bloed al vinniger begin pols. “Dit het te doen met die kliniek,” antwoord sy onwillig. Sy gaan beslis nie haar persoonlike besonderhede aan hierdie ou heks uitblaker nie!

      “Soek jy werk?”

      Dit kan Elke nie skeel as haar irritasie nou deurskemer nie. “Soort van . . .”

      “Dan moet jy na die kliniek gaan. Hulle sal jou daar help. Dokter Meissner word nie meer met sulke dinge belas nie.”

      Die deur begin toeswaai en Elke sê nou openlik woedend: “Wag ’n bietjie! Ek éis om dokter Meissner te sien!”

      Die kil oë deurboor haar behoorlik. “Hy is in die bed ná ’n hartaanval en geen besoekers word toegelaat nie. Ook as hy gesond is, ontvang hy niemand sonder afspraak nie. Tot siens, juffrou!” Die deur klap beslis toe.

      Marlene volg haar dogter se gestalte toe sy aanstap voordeur toe, en haar