Roepman. Jan van Tonder. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Jan van Tonder
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798158961
Скачать книгу
al gesoen, Timus?”

      Martina was reg. Toe ons vanjaar in die hoërskool kom, het ek gesien Voete Labuschagne begin pouses met Elsie praat. Ek het hulle só gekyk en sommer geweet. Voete se stem het lankal gebreek en hy skeer en hy is glo al van standerd sewe af in die eerste rugbyspan. Hy het standerd tien gedop. Party mense sê aspris, om nog ’n jaar lank rugby te kan speel vir die skool.

      Anyway, Elsie is nou Voete se girlfriend. En ek kan niks daaraan doen nie. As ek Zane was, sou ek kon, maar ek is ek.

      Toe ons by die huis kom, ek en Mara, haal sy haar beursie uit en gee vir my tien sent. “Gaan koop vir jou ’n lekker roomys,” sê sy.

      Ek vat die geld, maar ek het nie meer lus vir roomys nie.

      “Timus-kind,” sê ouma Makkie, “as Zane so sterk is soos jy sê,

      hoekom kry hy nie vir Joon van Helen af weggehou nie?”

      “En oom Rocco van sy ma af,” sit Martina by.

      Ma raps haar met ’n nat vadoek op die boud.

      “Eina!”

      “Hou jou neus uit grootmensgoed, veral as dit verkeerde dinge is, en nog meer so voor Timus.”

      As ek nie my ore oopgehou het nie, het ek seker nou nog nie geweet van Zane se ma en oom Rocco nie. En van hoe bang mense vir Joon is. Hoe hulle met hom naby liewer die kwaad wat hulle wil doen, laat staan tot hy weg is. Eenkeer het hy glo voor Zane se ma en oom Rocco gaan staan toe hulle weer êrens heen op pad was. Oom Rocco is ryk. Hy’t ’n kar met ’n afslaandak. Hy kom kuier by die tannie wanneer die oom dagskof werk. Partykeer gaan ry hulle ’n entjie en dan sit Zane se ma haar mooiste kopdoek op sodat die wind haar hare nie te veel verwaai nie.

      Maar daai dag wat Joon voor hulle gaan staan het, het die tannie haar kop laat sak en teruggeloop in die huis in en oom Rocco het sy kar se taaiers van kwaadgeit laat spin en weggery.

      Toe Ma daarvan hoor, het sy gesê sy wens Joon kan oral wees, dan sou daar baie minder sonde gewees het hier waar sy haar kinders goed probeer grootmaak.

      “As Zane regtig wil,” sê ek, “sal hy vir Joon en oom Rocco saam kan platslaan.”

      Ouma Makkie trek ’n knypie snuif in haar neus op. “Hoekom haal hy dan sy frustrasies op die onskuldige vlermuise uit?”

      “Gmf! Daar’s niks onskuldig aan ’n vlermuis nie,” sê Ma.

      Dis vrugtevlermuise wat Ma so kwaad maak, nie die gewones nie. Wanneer ons wildevy se vrugte ryp is, kan ’n mens hulle bedags hoog tussen die blare sien hang, groter en leliker as Zane s’n, en saans vreet hulle die vye en skyt in die verbyvlieg blertse teen ons huis se mure. Soggens moet Gladys dit met die tuinslang afspuit, dan sê sy altyd: “Zane kills the wrong bats.”

      Niemand kan voor die tyd raai wanneer dit sal gebeur nie, maar op ’n dag wanneer dit al skemer begin word, hoor iemand die draad fluit, en dan is dit nie lank nie of die hele spoorwegkamp weet: Zane slaan vanaand weer vlermuise.

      Mens kom soos gewoonlik van die skool af en jou ma is besig met die goed wat sy elke dag mee besig is. Jy hoor honde blaf en Rankieskat lê opgekrul op Pa se stoel. Dit raas by die shunting yard en die loco. Jy eet koffie en brood en trek jou skoolklere uit en gaan speel buite.

      Dis ’n gewone dag tot die draad begin swaai, en voordat daar drie vlermuise dood lê, tou ’n hele streep kinders agter Zane aan.

      Hy loop op die muur langs wat keer dat die skuins jaarts van die huise aan die bos se kant van die straat wegspoel as dit reën.

      Zane praat dan met niemand nie, maar elke keer as die draad ’n vlermuis tref, sê hy: “Bastard.”

      Ons help hom om die dooies bymekaar te maak en hulle in ’n boks te gooi. Nie een mag bly lê nie.

      Joon hou nie daarvan as Zane draad swaai nie. Hy sê die vlermuise het niks verkeerds gedoen nie. Maar Zane laat hom nie sê nie. Partykeer nie eers van Joon Sterrekyker nie.

      Hoe donkerder dit is, hoe moeiliker is dit om al Zane se vlermuise in die hande te kry. Party val in struike, dan kry ons hulle die volgende dag eers wanneer ons skool toe loop. Lewendiges ook, wat met gebreekte vlerke kruip en vir ’n mens tande wys en piep as jy jou hand na hulle toe uitsteek. Een het my al gebyt en ek het gedink ek gaan hondsdolheid kry, maar ek het nie.

      Ons weet nooit wanneer Zane gaan ophou nie. Dis sommer skielik. Hy laat sak sy arm en die draad val grond toe. Dan loop hy na die lamppaal waar Kingsingel sy draai by die Gouwse maak, naby ons huis, en daar wag hy vir die boks vlermuise. Baie van die straatligte by ons word met ketties uitgeskiet of met klippe uitgegooi, en dan moet die Korporasie kom regmaak. Maar die een voor die Gouwse se huis bly heel. Ek dink die ouens is bang om hom uit te skiet, want dis Zane se vlermuislig. As die boks kom, dop hy hom om en die vlermuise val flop-flop-flop op die teer. Twintig, dertig van hulle. Dié wat nog lewe, trap hy dood. “Bastard, bastard, bastard!” Dan loop hy straataf. Nie huis toe nie. Hy loop net.

      Joepie tel partykeer ’n dooie vlermuis op en jaag die meisiekinders daarmee. Hy hou hom aan die vlerke op sodat hulle oop staan soos dominee Van den Berg se toga wanneer hy die seën uitspreek.

      Die volgende dag is daar nie een vlermuis oor nie, net ’n hopie spierwit beentjies. Ons het eers gedink dis katte wat hulle opvreet snags, maar ’n kat kan nie ’n beentjie so skoon vreet soos ’n mier nie en ’n hele nes miere sal dit nie in een nag kan doen nie.

      “Iets moet met hulle gebeur in die nag,” sê Joepie. “’n Wonderwerk of iets.”

      Hy is ’n Apostolie. Ma sê hulle glo meer in wonderwerke as ons.

      3

      Ek het nog nooit so lank aaneen gepie nie. Seker maklik ’n gelling water gedrink. Die straal blink in die maanlig. Ek is seker dat ek nie sal kan ophou nie, al kom staan die hele skool se meisies nou ’n kring om my, al skaam ek my dood, al krimp my peester weg tussen my vingers. Ook nie of hy vreeslik kleiner hoef te word om amper te verdwyn nie. En al krimp hy ook hóé, hy sal oop en bloot bly sit, want daar’s nie ’n enkele haar om agter weg te kruip nie.

      Hoekom ek so baie water gedrink het, is eintlik Hennie se skuld. Hennie is ’n polisieman wat by my susters kom kuier. Spoorwegpolisie, nie SAP nie. Maar hy sê altyd gou hy’s nie ’n gewone “stasieblompot” nie, hy is in ’n spesiale seksie wat sorg dat die spoorweg se goed nie by die hawe gesteel word nie en dat smokkelgoed gekonfiskeer word.

      Hy het ’n kar, en hy skimp aanmekaar dat hy graag een van my susters drive-in toe sal wil vat. Maar hy weet nie van watter een hy die meeste hou nie, nou kuier hy maar by almal, en hy kry nie een gevry nie. Nie dat Pa die meisiekinders sal toelaat om drive-in toe te gaan nie. Hy sê dis ’n plek waar van goeie meisies slegtes gemaak word. Meantime wás Bella al een keer by die Bluff Drive-in saam met Hennie – ek het gehoor toe sy dit vir die ander vertel. Maar sy het kwaad teruggekom, nie sleg nie. “Hy’t wragtag nie eers vir my tjoklits of cooldrink gekoop nie. Net twee koppies koffie gaan haal, een vir die wind screen en een vir die agterruit. Toe ek weer sien, is al die vensters toegewasem en sy hande orals.”

      Ma hou nie van Hennie nie oor hy ’n mens nie in die oë kyk nie en omdat hy vir Rankieskat afgestoot het toe dié op sy skoot wou spring. Daar is fout met een wat ’n mens nie in die oë kyk nie en boonop nie van diere hou nie, sê sy.

      Hennie het eenslag ’n kiekie uit sy wallet gehaal en vir Martina-hulle gewys. Erika het net gesê sies! en eenkant toe gestaan, maar Martina het bly kyk.

      “Nogal groot vir so ’n klein mannetjie, nè?” het sy gesê.

      Hennie het gelag en vir Martina geknipoog. “As ’n girl die dag kan begin comparisons maak, dan’s dit mos omdat sy al iets van die lewe gesien het, of wat praat ek alles? Dalk moet ek jóú ’n slag drive-in toe vat.”

      Dis toe dat hulle agterkom ek is ook in die kombuis en dat wegsteek nie sal help nie. As Ma daai kiekie moes gesien het, het sy vir Hennie nek omgedraai. Vir ons ook. Dis van ’n Japannees wat kaal bo-op