Roepman. Jan van Tonder. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Jan van Tonder
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798158961
Скачать книгу

      “Ek wil ook nie, Ada.” Dit is Ma se naam: Ada. “Nee kyk, dis partykeers vir my te stil, jy weet, net ek en Stoney in die huis, maar ek weet darem nie of ek sou kans gesien het nie. Kleintyd is al erg genoeg, maar vyf groot meisiemense in een kamer, wat beddens en hangkaste moet deel – nee, dis ’n resep vir moeilikheid daardie.”

      “Soos ek sê, Hannie, toe die ses kleingoed nou daar is, êrens moes dit stop. Maar vyf jaar later, toe ek dink ek is nou oud genoeg en alles is dankieheretog verby, was dit weer sulke tyd.”

      “Mans het ook nie genade met ’n mens nie.”

      “Praat jy.”

      “Kyk, die enigste tyd nog wat ek Stoney aan my laat vat, is wanneer sy lus begin uithang waar ander mense dit kan sien.”

      Ma lag. “Nee, jong, vir my was daar nie kans vir verwyt nie, want Abram het net naweke huis toe gekom en dan was ek tog te dankbaar vir die ekstra paar hande.”

      “Ek weet nie hoe jy dit gehou het nie, Ada.”

      “Daar is altyd genade, Hannie. Wanneer die nuwe twee gelyk honger geword het en ek moes gaan sit om vir elkeen ’n bors te gee, kon die ander maar skree soos hulle wil – dit was my rustyd.”

      Ek het op die stoeptrap sit en luister. Hulle het nie van my geweet nie. Ek was besig om te tel hoeveel tieties Snippie het. Haar pens het dáár gestaan van die kleintjies. Ma het verniet koppies kookwater deur die vensters gegooi om die reuns te verjaag.

      “Die oudstes was later groot genoeg om te begin help met die kleintjies, anders weet ek nie wat sou gebeur het toe ek wéér swanger was nie. Ek het groot gedra, en maande lank het ek aaneen gebid dat die Here my asseblief tog nie nóg ’n tweeling moet gee nie.

      “Maar ek sê vir jou, Hannie, wanneer die nood op sy hoogste is, is die uitkoms daar: dit was net Timus. Op sy eie. Die enigste van my eiers wat nie ’n dubbeldoor was nie.”

      Dubbeldoor. Dis ’n ding wat ek nog nooit kon uitgewerk kry nie, al het ek vyf susters en twee ore en twee oë. Die meisiekinders maak altyd of ek nie bestaan nie, dan praat hulle ook dinge voor my, nes Ma en tannie Hannie, of hulle hol kaal van die badkamer af kamer toe as hulle weet dis net hulle en ek in die huis. Ek loer hulle so uit die hoek van my oog, en ek het nog nie ’n eier van ’n uur oud aan een van hulle gesien nie.

      “Timus het alleen aangekom, maar Hannie, laat ek jou sê, na sy geboorte het die ordinêrste pyntjie my op hol gehad – was Timus regtig op sy eie hier binne, of wag daar nog ’n verrassing vir my? Dit het weke gevat voor ek heeltemal gerus was.”

      Hulle lag dat die trane loop.

      Ma haal ’n sakdoek uit haar rok se mou. “Toe die dokter my vra wat ek hom gaan noem, kon ek net my skouers optrek, want die hele tyd wat ek hom verwag het, was ek so verskrik dat ek skoon vergeet het dat hy naam moet kry.”

      “En toe, Ada?”

      “Noem hom sommer Septimus, sê die dokter vir my. En al wis ek goed daar was nog nooit g’n Septimus in ons familie nie, sê ek vir Abram dis wat ons die kind gaan doop.”

      “Jy was seker so bly dat dit net een kind was wat naam nodig had dat jy hom Hendrik Frensch ook sou genoem het as die dokter dit voorgestel het.”

      “Gmf!” antwoord Ma.

      Hendrik Frensch, dis doktor Verwoerd se name. Ek sou nie omgegee het as hulle my so genoem het nie. Pa ook nie, hy’s ’n Nat. Ek wonder of hy vandag so maklik sou besluit het om my pak te gee as hy moes sê: Badkamer toe, Hendrik Frensch!

      In die tyd wat Ma-hulle Oupa gaan begrawe het, is ek op ’n Sondag vlei toe. Sondae mag ons nie see toe gaan of bos toe of vlei toe nie. Ons moet ons stil gedra. In ons eie jaart. En dis waar ek van plan was om te bly daai Sondag wat Pa-hulle weg was, maar toe kom die kerk-Bantoes met hulle lang rokke en tromme en goed by ons huis verby en ek onthou skielik die plek wat ek ’n tyd terug in die bos gesien het. ’n Plek wat my bang gemaak het.

      Ek het eendag daarop afgekom toe ek vir Ma gaan avokado’s soek het. Elke boom wat ek geken het, was al gestroop, maar toe kry ek in een van die digste dele van die bos ’n groot boom met baie vrugte aan. Ek sou nooit van hom geweet het as dit nie vir die trop ape was nie.

      Ek was skielik tussen hulle, en ek het geskrik, maar toe hulle in die bome vlug, is ek agter hulle aan, al met die bospaadjie op. Toe hulle met die boomtoppe langs weg van die paadjie af begin swaai, moes ek onder die struikgoed deurkruip om te sien waarnatoe hulle gaan. Dit was half skemer op die vloer van die bos. Die grond was klam. Toe is daar skielik ’n plekkie waar ek kon regop staan. Die ape was weg, maar voor my was die grootste avokadopeerboom wat ek nog ooit gesien het.

      Ek was bang vir die stilte en die alleengeit. As iemand my daar vermoor het, sou g’n mens my ooit gekry het nie. Ek het nie mooi geweet waar ek is nie. Rondom my was net bosse en digte struike en bobbejaantou en ander rankgoed. Eintlik was ek verdwaal. My maag het begin draai. Toe is dit of ek my verbeel ek hoor ’n lokomotief fluit, en ek dink dadelik aan Joon. Altyd wanneer ek die gewoel by die loco hoor, weet ek dat die mense daar besig is om te werk omdat Joon hulle wakker gemaak het. En wanneer ek aan Joon dink, begin my banggeit altyd weggaan.

      Ek het in die boom opgeklim, al met ’n oorhangtak langs, en toe ek bo die res van die bos uitkom, kon ek my oë nie glo nie: net ’n paar honderd tree van my af was die vlei en die shunting jaart en die loco met sy rye trokke en lokomotiewe en elektriese units. ’n Ent verder weg die kampong waar die Bantoes bly wat by die loco werk. En toe eers sien ek hoeveel avokado’s daar aan die takke sit. Ek het een gepluk en my arm laat afhang en gekyk waar ek die peer kon laat val sonder om dit te kneus, maar my vingers wou hom nie los nie – skuins onder my was ’n oopte met ’n groot kring in die gras, diep uitgetrap soos onder die swings in die parkie naby die skool. Binne die kring was die gras lank en regop. Buite-om was dit platgedruk. Ek het sommer geweet dis die Bantoes se kerkplek.

      Ma hou nie daarvan dat ons kaffer sê nie – hulle is Bantoes. Ma is ’n Sap. Sy sê alle mense het regte. As Bantoes iets doen waarvan sy nie hou nie, noem sy hulle nerwe of skepsels.

      Ek is huis toe met net daardie een avokadopeer, want dit het vir my gevoel of ek nie op die kerkplek hoort nie. Die hare op my voorarms het bly regop staan. Maar die Sondag toe die Bantoes met hulle tromme en mooi klere verbykom, het ek seker nie mooi gedink toe ek kortpad vlei toe vat om hulle te gaan inwag nie.

      Ek het op een van die avokado se oorhangtakke gaan lê en wag, reg bo die danskring. Die kerk-Bantoes het deur die vlei aangeloop gekom, nader en nader, en toe hulle reg oorkant my gaan staan, het ek skielik vasgekeer gevoel. Ek wou af, grond toe, maar dit was te laat om weg te kom. Een-een het hulle met ’n nou paadjie langs na die kring toe gekom, en na ’n rukkie se skuur tussen bosse en takke deur het hulle onder my gestaan. Mens moet weet van hulle paadjie, anders sal jy hom nie kry nie.

      Toe hulle buite-om die kring gaan sit, het ek geweet hoekom die gras daar so platgedruk was. Een van die mans het begin bid. Hy het hard gepraat. Nou en dan het daar spoeg aan sy baard gesit. My lyf het seer geword, maar ek wou dit nie waag om te roer nie, al was almal se oë toe.

      “Amen,” het die man gesê en hulle het begin sing. Die tromme het nog eenkant gelê – oopgesnyde olieblikke met beesvel wat oor die twee openinge met rieme styfgespan is. Ek het gewens hulle wil daarop begin speel sodat ek my kon regskuif op die tak sonder dat iemand my hoor.

      Een van die vrouens se kleintjie het begin huil en sy het haar rok se knope voor losgemaak en hom laat drink. Niemand het eers na haar gekyk nie. Net ek. Ek hét al gesien hoe ’n vrou dit doen: toe Gladys nog vir Boytjie tiet gegee het, maar sy het altyd ’n doek oorgegooi as ek of Pa of Braam naby was. Boytjie is haar kind.

      Uiteindelik het party van die mense op die tromme begin slaan: ka-doem, ka-doem, ka-doem-doem-doem. Die ander het begin dans, al in die rondte in die uitgetrapte kring. Ek het my ’n bietjie reggeskuif op die tak, maar daar het stukkies bas ondertoe geval en ek het banger geword.

      Een van die mans, die een wat gebid het, het weer hard begin praat. Of dit preek was, weet ek nie. Sy kop het kort-kort agteroor