Roepman
Jan van Tonder
Human & Rousseau
Vir DEON VISSER
EN
MY SUSTERS Magda, Ronél, Annette, Elna en Marietjie, by wie ek kleintyd stukkies lewe kon afloer en -luister. Vir DIE VROU wat destyds hoeveel jaar in ons huis gewerk het; aan haar dra ek die Gladys-karakter op om te vergoed vir die feit dat ek haar Zoeloenaam en -van vergeet het. En in die hoop dat dit met haar en haar mense goed gaan. Ook vir MARIETJIE COETZEE wat my al 20 jaar lank van my ergste darlings probeer red; vir TINEKE wat die manuskrip onvermoeid gelees en herlees het; vir SUZAAN wat my nie toegelaat het om aan Roepman te twyfel nie. Postuum vir MY BROER, Andries, wat ongelukkig nooit sy wonderlike stories neergeskryf het nie. So ook vir MY PA EN MA, Andries en Anna, wat ons almal met baie hulp van Bo grootgekry het.
Lesers wat meen dat hulle hulleself of ander persone in hierdie boek herken, misgis hulle. ’n Storie is nie die lewe nie.
1
“Die lewe is nie ’n storie nie, Timus, hoeveel keer moet ek dit nog vir jou sê?”
Mens kan sien Pa se voete is nie gewoond aan kaal wees nie. Sy tone probeer van die gras af wegkom. Hulle is amper so wit soos die gips aan my arm.
“Timus, hoor jy my?”
“Ja, Pa.”
“Wat het ek gesê?”
“Dat die lewe nie ’n storie is nie.”
“Kyk na my as ek praat!”
Dis moeilik om na Pa te kyk as hy kwaad is. Sy oë is ligblou. Gewoonlik. Maar as hy kwaad is, kan mens amper nie sien waar die wit ophou en die blou begin nie. Ek verwag altyd dat sy een oog myne sal bly vashou terwyl die ander een my op en af kyk, op soek na nog iets om mee ontevrede te wees.
Dis erg genoeg om met jouself ontevrede te wees as jy in die spieël kyk. Die Here het my mos uitgekies om agter te bly. Al my maats is my voor. Myle. Gebreekte stemme, hare tot in die kieliebakke, baard, nét sulke peesters. Maar ek wil nie daaroor praat nie.
“Hoekom jy dink ons jou nog oor enigiets moet glo, is vir my ’n raaisel. Die spul twak darem wat jy nou weer hier gestaan en kwytraak het … Ons lê snags wakker oor jou, Timus, ek en jou ma.”
Pa is nie ’n man wat sal jok nie, maar dit glo ek nie: dat hy oor my wakker lê. Má, ja, maar nie hy nie. “Jy kwel jou verniet, vrou, kinders word vanself groot,” sê hy altyd as Ma nóg ’n bobbejaan agter die bult gaan haal. Sy sê hy slaap saans nog voor sy kop kussing raak, en hy word eers na die eerste sluk oggendkoffie wakker. Glo oor hy ’n rein gewete het.
“Jy maak die lewe nie juis vir ons makliker nie, Timus.”
Ek sê amper vir hom dit was Joepie se ma wat dit vandag vir ons moeilik kom maak het, nie ek nie. Sy het hier kom staan en ou koeie uit die sloot grawe.
Toe Pa-hulle nou die dag terugkom van die plaas af en sien my arm is gebreek, het Braam gou gesê: “Gehol en geval, Pa.” Braam is my broer. Hy is baie ouer as ek. Ma het haar kop geskud: “Timus, jy sal my nog grys hare gee met jou wildgeit.” Pa het gesê kinders se breekplekke groei gou aan, sy hoef haar nie te kwel nie.
Niemand het weer iets daaroor gesê nie, tot Joepie se ma vandag hier aangekom het, kopdoek oor die curlers en haar voorskoot nog om die lyf. Toe sy by die kleinhekkie inkom, het Ma haar net een kyk gegee en gesê daai vrou se tong jeuk seker weer vandag iets vreesliks. Dit was so goed sy sê ek mag maar gaan afluister.
Die tannie het nie eers gaan sit nie. Net dag gesê en begin praat: “Ek kom doen net my Christelike plig, Abram. Jy weet ek is nie ’n vrou wat my neus in ander mense se sake steek nie, maar ek kon nie langer hierdie ding alleen dra nie. Twee weke nou al, vandat julle van die begrafnis af teruggekom het tot nou toe, loop ek met ’n gewetenswroeging wat my nie rus of duurte gee nie.”
Toe vertel sy vir Pa hoe ek bebloed en vuil en met geskeurde klere en ’n af arm by die huis aangehardloop gekom het. Van die vlei se kant af. En wie weet wat my nie dalk alles daar oorgekom het nie. Dit nogal op ’n Sondag.
Pa klop met die kneukel van sy middelvinger teen my gips. “Die enigste rede hoekom ek jou nie foeter nie, is omdat die Here jou klaar genoeg gestraf het. Wanneer gaan jy verantwoordelikheid begin aanleer, Timus?”
Ek knip my oë. Weer ’n keer. Kan dit wees? Pa se een pupil bly doodstil staan en die ander een beweeg: af, af, tot by my voete, op na my gebreekte arm, en terug na my gesig toe. Hy het dit tóg reggekry, na al die jare.
“Timus,” sê hy, “waar is jou gedagtes nóú weer?”
“Ek konsentreer op wat Pa sê.”
“Wat het ek gesê?”
“Dat Pa ’n rein gewete het.”
“Wat?” Hy lyk baie kwaad. “Badkamer toe, lyk my ons is by praat verby.”
Die badkamer beteken ’n pak slae. Ma sou gesê het there’s no two ways about it. En al wat ek gedoen het, was om die waarheid te vertel oor hoe ek my arm gebreek het, al wou ek nie eintlik nie.
Pa stuur jou badkamer toe en dan gaan spuit hy die gras nat terwyl hy dink hoeveel houe genoeg sal wees. Hy wil nie slaan terwyl hy kwaad is nie, sê hy. Terwyl jy wag, dink jy aan allerhande goed om te probeer vergeet waar jy is en hoekom, en na ’n láng ruk kom Pa en maak die deur agter hom toe en gaan sit op die lêwwetrie se deksel. Hy praat eers met jou, terwyl hy in jou oë in kyk. Dan slaan hy.
Jy kan skree soos jy wil, sy hart word nie sag nie – hy slaan soveel soos hy besluit het. Maar dié kere wat hy voor die tyd besluit het hy gaan jou nie slae gee nie, kyk hy jou en kyk jou tot jy wens hy wil liewer slaan en klaarkry. En as hy weg is, sluit jy die deur en sit ’n halfuur op die bad se rand, te skaam om uit te kom.
Die wag is altyd erg vir my. Almal in die huis weet wat kom, en hulle is stil soos mense by ’n begrafnis. Mens hoor die lokomotiewe en elektriese units by die loco en jy hoor ander kinders wat nie slae gaan kry nie in hulle eie jaarts lag, en partykeer kom Rankieskat teen jou bene skuur en hy weet nie eers hoe rooi hulle netnou geslaan gaan wees nie.
Hier is niks te doen in die badkamer nie. Vir Pa is dit maklik, hy staan buite met die tuinslang in die hand. As hy wil, kan hy sy vinger oor die punt hou en die water laat sprei sodat die son ’n reënboog daarin maak. Of kyk hoe ver hy gespuit kan kry. Ek weet hoe ver: verby die hoogste takke van die wildevy in ons agterplaas. Sulke sterk water het ek nog nooit op ’n ander plek gesien nie. Dis oor ons in ’n gat bly, sê Braam. As mens van ons af oploop tot bo waar Lighthouseweg by Bluffweg uitkom, en dan verder met Bluff aan teen die bult uit tot heel bo waar hy weer begin sak na Wentworth se kant toe, kom jy by die watertoring uit. ’n Grote ding wat ons van hier onder af kan sien. Die water kom daarvandaan in ’n dik pyp onder die pad langs af tot hier, en van die dik pyp af in dunneres na die huise toe. As mens ons tuinslang op die grond laat lê en jy draai die kraan heeltemal oop, spuit hy so erg dat hy heen en weer swaai en opstaan en neerslaan soos ’n ding wat pik.
Ons spring daaroor en koes en probeer om nie natgespuit te word nie, maar die tuinslang maak baiekeer ’n skielike draai en dan kry mens ’n koue skoot oor die lyf. As Ma dit sien, kom maak sy die kraan toe. “Ook net mense wat nie hulle eie wasgoed was nie wat so in die water sal speel,” sê sy dan.
Saans na ete kom haal Gladys warm water in die huis om mee te bad. Sy het net koue water in die shower van haar kaia. Sy kom haal eers haar kos en pak die skottelgoed in die oond om dit die volgende oggend te was, anders is haar dag te lank, sê Ma. Wanneer sy haar badwater kom haal, is dit al donker. Ek het haar een aand ingewag, en toe sy met die emmer water op die kop terugloop na haar kaia toe, het ek die kraan vinnig oopgedraai. Sjjjjj! het die tuinslang gemaak en Gladys het gaan staan. Die water het skielik gespuit en die tuinslang het heen en weer begin swaai. Gladys het gegil en die emmer laat val. Voor ek die kraan heeltemal toegedraai kon kry, het Ma in die agterdeur gestaan.
Ek het slae gekry daardie aand. Ma was baie kwaad. “Dit kon kookwater in daardie emmer gewees het – wat dan?”
“Sy