Roepman. Jan van Tonder. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Jan van Tonder
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798158961
Скачать книгу

      “Dis wat die Japannese gebruik as die hoere hulle op die skepe kom service.”

      Ek skud my kop, want ek weet nie waarvan hulle praat nie.

      Hein sê: “Man, hulle trek dit oor hulle voële as hulle die hoere naai. Om nie kleintjies te maak nie, want hoe sal ’n pregnant hoer nou lyk?”

      “Gebruik gewone mense dit ook, of net hoere en Japannese?”

      Hulle antwoord my nie eers nie. Klap mekaar net op die skouers en begin weer lag.

      Toe sê Hein: “Dis nou die laaitie wat ek julle van vertel het, die bobaas-skuimpisser van die spoorwegkamp!”

      En hy en die ander ouens sê nog ’n klomp vieslike goed in die wegloop. Ek is nou te bang om aan te loop walvisstasie toe – netnou kry ek hulle langs die pad.

      Ek wag tot ek hulle nie meer kan sien nie, en hol dan langs die hawemuur af tot waar ek weer die effie kry. Die vissie is nog in sy punt. Dit kan nie wees nie, g’n man se peester kan so swel nie. Ek maak my oë toe en probeer die Japannees op Hennie se kiekie onthou, maar dit help nie, dit was te klein om mooi te sien. Nee, Hein-hulle het sommer die storie uitgedink. Hoe sal ’n effie anyway kleintjies kan keer? As dit waar was, sou Rykie mos nie nou in die ander tyd gewees het nie. En dan sou juffrou Louw nie dié week nog in die klas oor oorbevolking hoef te gepraat het nie. Dan sou ek ook uit die moeilikheid gebly het. Maar toe móés een van die kinders mos vra: “Hoekom het arm mense altyd so baie kinders, Juffrou?”

      Juffrou Louw het haar kop geskud. “Nogal ’n interessante vraag, het een van julle dalk die antwoord daarop?”

      Almal het net na haar gekyk. Toe sê sy: “Ek is bevrees ek verstaan dit ook nie. Julle weet, daar kom ’n punt wanneer selfs die groot ape soos orangoetangs in droogtetye weet om nie verder te teel nie, maar mense het die een kind na die ander, en dan staan en kla hulle oor geld vir kos en klere.”

      Ma sê altyd ons is haar rykdom, maar ek weet darem nie. Ryk mense het min kinders, dit het ek self al gesien. En ryk mense het karre. En hulle bly in hulle eie huise, nie die spoorweg s’n nie.

      Ek het my hand opgesteek.

      “Ja, Timus?”

      “Juffrou, ek wonder of dit nie dalk partykeer is …” Ek was dadelik spyt dat ek begin praat het.

      “Ja, Timus?”

      “Of dit nie partykeer is omdat die Here ’n ekstra klompie laat gebore word nie. Ek bedoel –”

      “Timus!” Juffrou Louw het bloedrooi geword.

      “Ek bedoel maar net, Juffrou –”

      “Ek weet presiés wat jy bedoel, en ek dink nie ek wil die res van die klas se gemoedere daarmee besoedel hê nie. Kom, jy kan vir meneer Gertenbach gaan vertel waarvan jy die Allerhoogste beskuldig!”

      Juffrou Louw weet van ons Rademans, hoeveel kinders ons is. Sy het vir my broer en al my susters ook skoolgehou. Erika en Martina is nou nog in haar biologieklas. Ek het gedink sy sal weet wat ek bedoel.

      My enigste hoop het by meneer Gertenbach gelê, maar dit was nie soos die vaste hoop waarvan dominee Van den Berg altyd praat nie.

      “Wat is die probleem vandag, juffrou Louw?” het Meneer gevra. In die een hoek van sy kantoor is daar ’n kierierak, soos Oupa s’n op die plaas, maar daar is nie kieries in nie, net rottangs.

      Juffrou se gesig was nog steeds bloedrooi. “Ek weet nie mooi hoe om dit aan u te stel sonder dat ek my aan godslastering skuldig maak nie, Meneer, maar wat Timus so pas in die klaskamer gesê het, vóór die ander kinders …” Sy het haar vuis so half in haar mond gedruk, soos ek ook meestal liewer moet doen voor ek praat.

      Meneer Gertenbach het na die kierierak toe geloop. “Gaan maar voort, Juffrou.”

      “Ek weet regtig nie hoe om dit te stel nie, Meneer, maar wat die kind gesê het, het daarop neergekom dat God die oorsaak van oorbevolking is, nie die mens nie.”

      Meneer Gertenbach het sy sakdoek uitgehaal, ’n spierwitte wat nog opgevou is, en met sy ander hand ’n rottang uitgesoek. Daar is geles, bruines, dikkes, dunnes, party waarmee ek al slae gekry het en ander wat nuut bygekom het. Ek wou vir Meneer sê hy mag my nie slaan nie, want ek het niks verkeerds bedoel nie, maar ek het stilgebly.

      Hy het sy sakdoek aan die punt gevat en oopgeskud. Dit het gelyk soos ’n groot voël wat sy vlerke klap. Hy het skielik oud gelyk. Sy skouers het soos Oupa s’n gehang die dag op die plaas. Oupa was kwaad. Ek en Braam het weer in die dam gespeel. Ons en Hendrik en Frikkie en Herklaas. Hulle is Lena wat in die plaaskombuis werk se kinders. Ons het ’n makou gevang en hom onder die water ingedruk en ’n rukkie daar gehou en dan laat los. ’n Makou kom nooit op waar jy hom onder die water ingedruk het nie, hy swem eers ’n ent van jou af weg. Mens weet nie waar hy gaan opkom nie, want die damwater is bruin en ’n makou kan sy asem lank ophou. Wanneer hy opkom, moet die naaste ou hom gryp en weer onder die water indruk. Eenkeer het die makou naby my opgekom en ek het hom gevang, maar hy was seker al moeg, anders het ek hom te lank onder die water gehou, want toe ek hom los, het hy sommer bý my opgekom. Nie eers sy kop uit die water gelig nie.

      “Nou’s jy in die moeilikheid,” het Braam gesê, en toe ek met die slap makou kant toe gaan om hom tussen die bossies weg te steek, het Oupa geroep: “Bring hier daai makou! Gee die ding vir my!” Oupa was kwaad. In een hand het hy sy geel kierie gehad, en in die ander een die dooie wit makou.

      “Moet my asseblief nie slaan nie, Oupa,” het ek gesê.

      “Wat?” Dit was Meneer se stem. Hy het die rottang met sy sakdoek staan en vryf. “Wat het jy daar gesê, Timus?”

      “Ek sê vir Meneer die kind het nie respek nie.”

      Meneer het op die rand van sy lessenaar gaan sit. “Jy was nou op ’n ander plek, nè, Timus?”

      My kop het vanself geknik.

      “Mm. Sê nou vir my hoekom jy die Here van allerhande dinge beskuldig.”

      Toe vertel ek vir hom wat ek vir Juffrou gesê het. “Ek bedoel maar net dat my ma nie self besluit het om drie tweelinge te hê nie, Meneer.” Nie ’n woord van haar dubbeldoor-eiers nie – juffrou Louw sou daaroor ook die piep gekry het. “Dis wat ek wou sê, Meneer, dis seker die Here wat oor sulke goeters besluit.”

      Meneer Gertenbach het heeltyd mooi na my geluister, en toe sê hy: “Juffrou Louw, ek dink die seun het homself net verkeerd uitgedruk. Formuleer jou antwoorde in die vervolg beter, Timus. Maar ja, wat jy gesê het, is waar: die mens wik en God beskik. Ek dink dit is wat hy bedoel het, Juffrou.”

      Juffrou Louw was baie ontevrede. Buite het sy by haarself loop en brom, maar ek kon hoor wat sy sê: “As party mense net minder wil wik …”

      Al die kinders het my aangestaar toe ons by die klas inloop. Elsie ook. Ek sou liewer slae wou gehad het.

      “Wat het jy heeldag gedoen?” vra Pa vir my.

      “Hawe toe gewees.”

      “Om te wat – jy kan tog nie visvang met daardie gips aan nie?”

      “Ek het sommer lus gehad, Pa.”

      “Timus.”

      “Ja, Pa?”

      “Was jy walvisstasie toe?” Die wit en die blou van sy oë begin inmekaarloop.

      Ek kyk grond toe.

      “Nee, Pa.”

      “Lieg jy vir my?”

      “Nee, Pa.”

      “Mm,” brom hy, “moenie dat ek hoor jy was daar nie.” Hy haal sy knipmes uit en begin sy naels skoonmaak. “As jy nie jou arm gebreek het nie, kon jy my baie gehelp het met die Shaws se bome. Ons kon vandag minstens een platgekry het.”

      Mara knipoog vir my. Sy’t my mos gesê.

      Een