Ongenooide gaste op Keurboslaan #11. Theunis Krogh. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Theunis Krogh
Издательство: Ingram
Серия: Keurboslaan
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780798154758
Скачать книгу

      

      Ongenooide gaste op Keurboslaan

      Theunis Krogh

      Human & Rousseau

      1

      HIPPIES EN JUNIORS

      In die groot seunskool op die heuwel bokant Keurboslaan slaap die driehonderd kosgangers vas. Dis baie vroeg. Die omringende bergrante se pers, ylblou en smarag is nog deur ’n wasem versluier. Die strome en watervalle in die klowe waar groot varings ruig groei, glinster ook roosagtig.

      Die gebou met sy binnehof en pilaargange, die talle kleiner geboue in die lower rondom en die groot plaas verder weg, is stil, maar die bekende privaatskool se hoof het al geswem en daarná formeel aangetrek soos hy later voor sy skoliere sal verskyn. Nou stap hy deur die dorp, want hy glo oefening is belangrik.

      Hy is besonder lank en stap met lang treë verby die polisiekantoor waar kaptein Snyman en jong konstabel Du Toit buitekant staan. Doktor Serfontein groet met ’n handgebaar.

      “Daar gaan hy al weer,” sê kaptein Snyman. “Ek wou nog vra hoe lank hy dink ons moet met die bende leeglêers hier uithou. Hulle begin nou al vroeg in die oggende deur die dorp stap asof die plek aan hulle behoort.”

      “Ek kan nie verstaan hoekom doktor Serfontein kan maak nes hy wil nie,” sê die konstabel. “Kaptein het gesê daai mense moet trap. Waar kom hy daaraan om te sê hulle kan maar bly? Is dit net omdat hy so ryk is?”

      “Dis nie net omdat hy baie geld het nie. Ons was almal jonk toe hy destyds hier aangekom het. Hy was brandarm, en siek ook. Die skool het toe aan ou meneer Schoonbee behoort. Hy het doktor sommer net so as onderhoof aangestel en van toe af het alles by die skool verander. Doktor het eers ’n ruk daarná skielik skatryk geword. Sy peetpa was P.F. Maxim, ’n Amerikaanse miljoenêr, en hy het al sy geld aan hom nagelaat.”

      “Maggies, ek sou darem lekker daarmee gekuier het! Hoekom het hy bly skoolhou?”

      “Wel, hy was baie erg oor ou meneer Schoonbee. Hy het natuurlik niks gesê nie, maar almal kon dit sien. Die oubaas se gesondheid het agteruit gegaan en doktor het die skool by hom gekoop en opgebou tot dit wat jy vandag sien. Teen die tyd dat die oubaas dood is, was doktor al te vas hier. Te veel mense het op hom staatgemaak.”

      “Maar hoe maak hy met al sy groot besighede?”

      “O, hy het ’n uitstekende algemene bestuurder. Wienand was sy eerste hoofseun hier – ’n lekker lawwe vent, maar glo ’n genie met geld wat die hoof se fortuin al verdriedubbel het. Hy is met doktor se suster getroud en vlieg gereeld tussen New York en hier om alles te bestuur. Doktor hou natuurlik self ook ’n ogie oor sy ondernemings om seker te maak al sy winste word aan liefdadigheid gewy … Aag, nee! Daar kom die spul hippies al weer terug!”

      Die polisiekaptein stap vinnig na sy motor.

      Aan die ander kant van die dorp het doktor Serfontein die steil pad na die kerkhof toe ingeslaan. Kaptein Snyman sien hoe hy vir ’n oomblik langs ’n groot maar eenvoudige swart granietgrafsteen gaan staan. Hy weet die skoolhoof kom dikwels soggens hier na die graf van die ou heer wie se dood hom só diep getref het dat hy van daardie dag af nooit weer meneer Schoonbee se naam genoem het nie. Ná ’n oomblik van stilte volg hy ’n paadjie oor die bult terug skool toe.

      Maar aan die begin van die laan wat van die dorp af skool toe lei, kom hy op ’n eienaardige toneel af.

      ’n Jong man van omtrent negentien jaar oud word deur ’n groep mense vasgekeer. Hulle klere bestaan meestal uit los lappe. Hulle dra blomkranse van papier om hulle koppe en daar hang talle stringe krale om hulle nekke. Woeste hare wat tot ver verby hulle skouers hang en ’n baard hier en daar voltooi die prentjie. Almal is kaalvoet.

      “Komaan, gee vir ons iets,” neul een van die groep. “Jy lyk lekker ryk! Haal uit jou beursie – ons is mos almal mensekinders.”

      “Ek’s nie een van julle nie,” antwoord die man vies.

      “Ons glo in ware vryheid,” sê die jongste hippie.

      “Vryheid waarvan?” vra Lourens Joubert.

      “Van die las van besittings en die simpel verantwoordelikhede waarmee mense hulle so bemoei.”

      Doktor Serfontein is skielik by die groep. Die hippies kyk hom gesteurd aan.

      Sy gelaatstrekke is reëlmatig en fyn. Die lippe is streng saamgepers. Sy hare lyk effens silwer, maar dis merendeels swart, soos sy oë.

      “Doktor!” roep Lourens verlig uit.

      “Joubert.” Die diep, sagte stem het ’n onverwagte trefkrag.

      “Ek het kom kuier. Ek hoop dis reg so?”

      “Waar het jy geslaap?”

      “In die hotel, maar ek kon vanoggend nie meer wag nie. Ek het geweet doktor gaan vroeg swem of ry en gehoop ek loop u miskien raak.”

      “Wag so ’n bietjie. Goeiemôre,” sê doktor Serfontein vir die groep bedelaars.

      “Hoesit, broer,” sê die jongste seun. “Dis hoog tyd dat ons mekaar leer ken. Jy is mos my heilige ouboet se skoolhoof.”

      “Hei!” sê Lourens. “Weet jy met wie jy praat?”

      “Alle mense is gelyk. Niemand is beter as ’n ander nie!”

      “Hou jou groot mond!” kom dit bars van Lourens.

      “Carolus Loggenberg,” sê doktor Serfontein, “jy bly weg van jou ma se huis en die dorp af. Jy en jou vriende het toestemming om tydelik in ’n sekere grot te woon, en dis al.”

      “Waar kry ons kos as ons nie dorp toe mag kom nie?”

      “Loop nou of julle word vir goed weggejaag. Hier kom kaptein Snyman.”

      Die hippies beweeg redelik rats en toe die kaptein se motor stilhou, is hulle al ’n entjie weg.

      “Wat is doktor se plan?” vra die polisieman vies. “Solank as wat hulle op jou grond mag bly, kan ek niks doen nie, en die dorpsmense kla gedurig by my. Hulle weet jy hou die spul dop, maar almal is bang vir wat hulle kan aanvang. Die Loggenberg-familie is skaars hier, maar hulle moet eerder dadelik weer trek as hulle sulke gespuis na ons dorp toe lok.”

      “Ek het Petrus Loggenberg kort voor sy dood belowe om hierdie seun te help,” sê doktor Serfontein kortaf.

      “Dis alles goed en wel. Ek weet die man het jou broer pynlike eksperimente op hom laat doen sodat hulle nuwe geneesmiddels kan ontwikkel en ek bewonder dit. Maar wat maak ek met die dorpsmense wat so ontevrede is? Ek kan dit nie baie langer uithou nie.”

      Kaptein Snyman is ontsteld en groet nie eens toe hy wegry nie.

      “En nou?” vra die skoolhoof vir Lourens wanneer hulle alleen is. “Jy is veronderstel om ’n vakleerling by Dresden se operahuis te wees. Die Duitse seisoen is mos tans in volle swang.”

      “Ja, maar ek kan nie meer sing nie.” Lourens trap rond op die nat blare.

      “Makeer jou keel iets?”

      “Nee, doktor, maar ek sit net daar en kom niks verder nie, nou ontwikkel my stem nie.”

      “Omdat niemand in Dresden in die groot Lourens Joubert belang stel nie?”

      “Nee, doktor. Ek was reg om my dood te werk, maar ek word nie eens een keer gevra om soveel as twee note te sing nie. My sanglesse by die konservatorium maak my elke dag net nog meer moedeloos. Verlede week is ek skielik gevra om by ’n repetisie te sing omdat die hooftenoor laat was. Ek kon glad nie regkom nie, en toe sê die regisseur: ‘Gee my tog iemand wat nie soos ’n siek hoender klink nie!’”

      “Toe loop jy weg en klim op ’n vliegtuig? Iemand anders sou moes uithou, maar jy vat net die pad.”

      “Ek het gesê my pa is siek, en die skok van die nuus het my laat hees word.”

      Lourens kry skaam omdat hy gejok het. Hy waag dit nie om na doktor Serfontein te kyk nie.

      “Jou pa is dus nie siek nie?”

      “Nee,