Nuwelinge op Keurboslaan
Theunis Krogh
Human & Rousseau
1
DIE GRAP
Meneer Burger staan voor die hoof se tuinhekkie en kyk hoe doktor Serfontein van die tennisbaan af teruggestap kom.
Hy het op Keurboslaan begin skoolhou net nadat doktor Serfontein sy Amerikaanse peetpa se fortuin geërf het, en toe die eerste skooltjie by die destydse hoof en eienaar, meneer Schoonbee, gekoop het. Dit beteken meneer Burger was reeds hier toe vandag se groot kosskool met al die buitegeboue en swembaddens en sportvelde opgerig en aangelê is.
Dis egter lank gelede, soos seuns tyd bereken. Meneer Schoonbee met wie doktor Serfontein, wat nie juis uitreik na ander mense nie, ’n hegte vriendskap gesluit het, is lankal oorlede. Party van daardie dae se “skoolbabas” is nou al prefekte.
Vir meneer Burger lyk die hoof nog net soos toe hulle mekaar ontmoet het: lank, lenig en buitengewoon indrukwekkend. Wienand, sy voormalige hoofseun en deesdae sy sakebestuurder in Amerika, beskryf hom altyd tergend as “onnodig aantreklik”.
Meneer Burger weet die skoolhoof het pas aan ’n nuwe roman begin werk en het die tydjie vir tennis afgeknyp omdat hy, om Wienand weer aan te haal, “’n ding het oor fiksheid”.
“Ekskuus tog,” sê meneer Burger toe die hoof by hom is. “Kan ek ’n bietjie pla?”
“Ja. Kom binne.”
Danster, die hoof se persoonlike assistent, bring die silwer teestel in.
Doktor Serfontein trek sy wit sweetpakbaadjie aan, haal sy sigarette uit, en skink die tee: swart en bitter vir homself, maar met melk en suiker vir die oorgewig onderwyser wat dit eintlik moet vermy.
“Ek sal nie nou rook nie, dankie,” sê meneer Burger.
Maar die hoof is nooit lank sonder ’n sigaret nie en steek een aan. Hy bly staan, met sy elmboog op die kaggel. “Waarmee kan ek help?” vra hy. “Moet ek weer iemand se oortreding oorsien?”
“Nee, nee, dis iets anders,” keer meneer Burger goedig. “My broer wat op Groendal predikant is, het ’n seun daar in die bosse gekry. Die kind se pa het glo geestelik versteurd geraak en met sy jong vrou en seun, toe nog ’n baba, die bosse in gevlug om daar te gaan woon. Sy vrou is ’n ruk daarna dood, en hy onlangs ook, altans so dink almal, want hy het net skoonveld verdwyn. Toe my broer die kind kry, was hy al rasend van die honger, want sy geweer was stukkend en hy het nie geweet waar om kos te kry nie. Die pa het hom totaal van die wêreld afgesonder. Ek het gewonder of een van jou liefdadigheidsprojekte met jou peetpa se geld die arme seun nie dalk …”
“Kon jou broer geen naasbestaandes opspoor nie?” onderbreek die diep stem hom.
“Daar is ’n verlangse neef en niggie, maar die seun se oupa en oom is ook onlangs oorlede, so sy pa sou vandag groot plase en baie geld geërf het. Nou wil die familie hierdie kind in ’n gestig laat sit sodat hulle sy erfgeld kan kry.”
“En is hy versteurd?”
“My broer dink nie so nie. Die pa het so snaaks geword nadat ’n wawiel oor sy kop geloop het. Die seun was natuurlik nooit op skool nie. Dit laat hom minderwaardig voorkom.”
“Ons het verskeie inrigtings waar hy ondersoek en behandel kan word. Een van my broers help ons met sulke gevalle. Maar ek wil die seun eers sien. As sy familie so agter sy geld aan is, sal dit beter wees as hy hier in ’n gewone skool opgeneem kan word. Vra jou broer om hom te bring, as dit moontlik is.”
“Dis baie gaaf van jou.”
“Hy kan gerus hier oorslaap ook. Reël dit asseblief.”
“Ek maak so!”
“Bel so gou moontlik.” Die hoof beëindig die gesprek soos gewoonlik met ’n onbewustelik streng knik van sy swart kop waarop die hare so netjies lê, anders as dié van meneer Burger, wat altyd lyk of hy deur ’n doringbos gesleep is.
Terwyl meneer Burger na die hoofgebou loop, is daar oral om hom bedrywighede by die groot skool.
In die swembad is meneer Gerritson, die sportonderwyser, besig om ’n paar seniors af te rig.
Meneer Burger sien Rothman, die hoofseun, se bruin krulkop in die water. Krynauw, die onderhoofseun, lê op die rand en hyg na asem. Sy blonde hare is netjies, al het hy pas uit die water geklim.
Bo op die hoogste duiktoring staan drie jonger seuns.
“Krynauw!” sê meneer Burger.
“Meneer?”
“Is dit nie Nieuwenhuis en sy maats daar bo nie?”
Krynauw dra gewoonlik ’n bril wanneer hy nie swem of rugby speel nie. Maar hy voel daar is eintlik niks fout met sy oë nie. Soos hy sê, hulle is elkeen uitstekend; hulle werk net nie mooi saam nie!
“Ja, meneer, dis Nieuwenhuis,” antwoord hy vinnig, “saam met Venter en Pieterse.”
“Gaan jaag hulle daar af.”
“Reg, meneer. Ek het die blikskottels nie gesien nie.”
Krynauw beweeg so vinnig dat hy bo op die toring is voor die juniors iets agterkom.
“Nee! Nie Krynauw nie!” skree Flip verskrik. Maar dis te laat.
Die onderhoofseun se voet gly onder hom uit en hy skiet soos ’n pyl van bo af water toe. Gelukkig is hy die skool se beste duiker, so hy kry sy arms en bene vinnig in posisie, anders kon dit aaklige gevolge gehad het. Die toring is so hoog dat net Krynauw en Smit, afgesien van meneer Gerritson en die hoof, daarvan mag afduik.
Toe Nieuwenhuis besluit het om die duiktoring se blad met seep te smeer, het dit na pret geklink. Dalk vang hulle meneer Gerritson daarmee. Hy het hulle mos gister met die duikles pampoene genoem!
Maar toe Krynauw so val, besef die juniors skielik wat ’n gevaarlike ding hulle aangevang het. Hulle kyk met groot verligting hoe hy uit die swembad klim. Almal wat hom ken, kan sien hy wat gewoonlik so rustig is, is woedend kwaad.
Maar Krynauw gaan lê om van die skok te herstel.
Meneer Burger is reeds ’n entjie weg en het nie gesien wat gebeur het nie. Maar meneer Gerritson, wat intussen klaar is met Rothman, klim uit die water en kom na Krynauw toe.
“Wat makeer jou om sonder my toestemming te duik?” vra die sportonderwyser vies.
Krynauw kom wankelrig regop en hou sy hande agter sy rug sodat die onderwyser nie moet sien hoe bewe hulle van skok en woede nie.
“My voete het gegly, meneer,” sê hy.
“Nonsens! … Jy’s te groot vir sulke lawwighede! Jy weet baie goed jy mag net onder my toesig daar afduik.”
“Ek het nie tot vandag gewag om te begin lieg nie!” vat Krynauw vlam.
Keurboslaan se onderwysers duld nie so ’n houding en stemtoon van ’n leerling nie. Meneer Gerritson is maar net twee-en-twintig en hy is nou ook te kwaad om die saak kalm te hanteer.
“Jy het seker jou kop met daardie duik gestamp,” sê hy, “anders sou jy dit nie waag om so met my te praat nie. Vra dadelik om verskoning.”
“Waarvoor? Dis nie ek wat iemand sonder rede beskuldig dat hulle lieg nie!”
“Reg, dan weier ek om jou in die vervolg met enige sport te help.”
“Ek sal in elk geval nooit weer ’n voet hier of by rugby sit nie!”
Tot dusver was die ander prefekte wat intussen nader gekom het, te verbysterd om te roer. Rothman kom eerste tot verhaal en vat Krynauw aan die arm.
“Eugene!” sê hy kwaai.
Maar Krynauw gooi sy handdoek oor sy skouer en hardloop vies terug na die skool.
Toe Rothman weer omdraai, staan die drie juniors in ’n ry voor meneer Gerritson en boor benoud met hulle tone in die