Kaptein Alwyn probeer nie om met hierdie seun te sukkel nie. Hy kan mense goed genoeg lees om te sien dit gaan nie die moeite werd wees nie. Bornmann sal hom nie daaraan steur nie.
Toe die hoof terugkom, stap Alwyn rusteloos op en af, maar toe doktor Serfontein gaan sit, doen hy dit ook. Daar is ’n hele paar minute lank stilte.
Toe die hoof praat, is sy stem rustig.
“Soos ek vroeër vandag vir iemand gesê het, is dit goeie medisyne vir ’n mens se hart en siel om soms stil te wees.”
“Sommige mense het nie ’n hart nie,” antwoord Alwyn byna onhoorbaar.
“Jy wou my uitvra oor Jan Fiskaal se jongste verskyning,” sê die hoof.
Alwyn haal ’n notaboekie uit een sak en ’n pen uit ’n ander.
Hy vra ’n paar vrae en skryf die hoof se antwoorde in die vorm van ’n verklaring neer.
“Ek lees dit nou vir jou voor en dan kan jy dit onderteken,” sê hy toe hulle klaar is.
Die hoof luister diep ingedagte.
“Is alles korrek?” vra Alwyn.
“Dis hoe dit gebeur het.”
Alwyn staan op en kom na die lessenaar. “Jy is seker jy het niks uitgelaat nie? Hierdie persoon, wit of bruin of …”
“Wit.”
“Nou goed dan! Hy het jou vir jou geld aangehou en jou met ’n rewolwer gedreig sodat jy uit die motor moes klim.”
Dis nie wat gebeur het nie en die hoof het dit ook nie so vertel nie, maar hy stry nie nou nie.
Dit lyk of die stilte die speurder irriteer.
“Jy het eers gesê hy’t jou geld geneem. Nou vertel jy ’n ander storie.”
“Ek het nie gesê hy het die geld gevat nie.”
“En toe, om die een of ander rede waaroor jy baie vaag is, het die wapen uit sy hand geval. Waar is dit nou?”
Die hoof haal die rewolwer uit ’n laai en oorhandig dit. Die speurder steek dit in sy sak. “Sonder die wapen het hy natuurlik gevlug!” sê hy. “Daardie soort lafaard is net dapper as hy agter ’n skietding kan wegkruip.”
“Hy is nie ’n lafaard nie.”
Die speurder staan ingedagte en fluit saggies by homself.
“Ek het daardie deuntjie lanklaas gehoor,” sê die hoof rustig. “Die vorige keer was in die operahuis in Leipzig.”
“Ek was nog nooit daar nie. Wat het ek gefluit? Ek het nie besef ek doen dit nie.”
“Dis ’n aria uit ’n operette: Le postillon de Longjumeau.”
“O wel, ’n mens tel sulke deuntjies maar op.”
Doktor Serfontein staan op. Hy is skielik baie formeel.
“Ek is jammer, ek moet jou nou vra om my te verskoon,” sê hy, “as jy niks meer wil weet nie.”
Die atmosfeer is nou gelaai.
“Jy is nie baie vriendelik teenoor my nie, maar jy verdedig ’n misdadiger. Eienaardig!” sê Alwyn. “Jy het nie daarvan gehou toe ek Jan Fiskaal ’n lafaard noem nie.”
“Toe hy die rewolwer verloor het, was die perd se hoewe ’n wapen waarmee hy groot skade kon doen, maar hy het nie.”
Alwyn frons vies. “Dis ’n vreemde manier vir hom om op te tree!”
“Nie eintlik nie.”
“Wat bedoel jy?”
“Dit maak nie eintlik saak nie.”
“Kyk, ons weet almal jy is ’n bevoorregte en vooraanstaande man, maar dis ’n amptelike ondersoek hierdie!”
“Ek het al jou vrae beantwoord. My persoonlike mening is tog nie ter sake nie.”
Alwyn is boos. “So jou simpatie bly by Jan Fiskaal. Ek hoop hy sal dit waardeer.”
Die hoof antwoord nie. Sy oë is op die venster se donker vierkant gerig asof hy luister na iets wat buite gebeur.
Net soos Alwyn vroeër gemaak het, fluit hy saggies terwyl hy dink. Die kaptein wens hy kan die hoof se gedagtes lees.
Skielik hoor hulle hoewe op die stoep se stene en ’n perd se swart kop verskyn buite by die glasdeur.
Alwyn beweeg met soveel geweld buitentoe dat hy die hoof se lessenaarlamp omstamp. Jan Fiskaal het sowaar hier waar die speurder ondersoek instel, opgedaag om vir hulle te wys hoe min dink hy van hierdie bekende speurder se pogings om hom vas te trek.
In die donker gryp Alwyn na die perd se teuels. Die volgende oomblik roep hy hard uit.
Perdepote hamer weer op die stoepstene en terwyl die hoof ’n ander lig aanskakel, hoor hy hoe die perd oor die lae wit hek spring en weggalop.
Toe sien hy die kaptein buite op die stoep voor die deur lê.
Hy weier dat doktor Serfontein hom help. Hy kom alleen regop en steier tot by die stoel waarop hy vroeër gesit het.
Die hoof ondersoek die kneusplek aan sy slaap. “Jy gaan môre ’n kopseer hê,” sê hy.
Hy skink water uit ’n beker wat met ’n glas op ’n tafeltjie staan en gee dit vir die speurder.
“Wat ’n hou!” fluister Alwyn. “Dit voel of hy my met ’n hele boom geslaan het.”
“Dit was nogal ’n harde hou.”
“Maar wat was sy plan? … En hoekom het hy dit toe nie uitgevoer nie?”
“Ja-nee, dis twee groot vrae.”
Alwyn herstel gou.
“Miskien was dit net ’n vriendskaplike besoek, maar waar is jou goue sigaretkoker wat op die lessenaar gelê het? Het jy dit in jou sak gesteek?”
“Nee, dis weg.”
“Is dit hoe ’n goeie vriend hom gedra?”
Die hoof vererg hom nie. “Kom ek neem jou na jou woonwa toe,” sê hy.
“Nee dankie, eerder na die polisiestasie op die dorp, as jy so gaaf sal wees.”
“Natuurlik. Jy sê mos ek is ’n betroubare vriend.”
Alwyn se bewolkte oë gaan wyer oop, maar sy ooglede is swaar. Hy sukkel om alleen te staan en is verplig om op die hoof se arm te leun.
“As Jan Fiskaal jou sy vriend kan noem, is dit net omdat jy hom jammer kry,” sê die speurder uiteindelik toe hulle in die hoof se motor is. “Of is dit miskien omdat jy jaloers is op sy vryheid?”
Die hoof hou sy oë op die pad en antwoord nie.
3
SMIT SE PENARIE
Krynauw is moedeloos bed toe. Wat op aarde gaan die hoof môreaand vir hom sê? Moet dinge altyd verkeerd gaan? Is hy dan getoor of iets?
Eers lank nadat Bornmann ook in die bed is en al vas slaap, begin hy insluimer.
“Gene!” fluister ’n stem skielik by sy oor.
“Wie …?”
“Dis André.”
“Is jy mal?”
“Nee, man, kom uit balkon toe!”
Krynauw is vaak, maar hy huiwer nie. Soos hy Smit ken, sal hy aanhou totdat Bornmann wakker is, en dan is daar perde. Nagtelike besoeke word onder geen omstandighede toegelaat nie.
“Wat makeer jou?” vra Krynauw toe hulle buite is. “Jy weet ons gaan braai as