Die hoof van Keurboslaan #2. Theunis Krogh. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Theunis Krogh
Издательство: Ingram
Серия: Keurboslaan
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780798153874
Скачать книгу
vra hy uiteindelik.

      “Ek kom verslag lewer, doktor.”

      “Is daar vanaand al so iets?”

      “Net een voorval, doktor. Nieuwenhuis en ’n nuwe seun het op die speelgrond baklei.”

      Die hoof kyk goedkeurend na sy hoofseun. Bornmann is nie bang vir hom nie. Hy respekteer hom sonder om in sy teenwoordigheid kortasem te raak.

      Bornmann is ietwat ouer as die ander matrieks omdat hy tussen dertien en vyftien meer as ’n jaar lank saam met sy ouers oorsee was, en hy is baie meer volwasse as die ander. Doktor Serfontein vind dit maklik om met hom te werk.

      “Stuur Nieuwenhuis maar eerste in,” sê hy.

      Die junior moet ver stap voor hy by die mat en die lessenaar kom. Die hoof se oë is die hele tyd op hom gerig.

      “Weer jy, Nieuwenhuis,” sê die stem dreigend sag.

      “Ja, doktor.”

      Die seun kyk vinnig op, maar die swart oë is so streng, hy kyk gou weer af.

      Nieuwenhuis is glad nie ’n probleemkind nie. Hy is ’n lewenslustige stouterd wat af en toe ’n loesing verdien. Maar die hoof hou nie daarvan om slae te gee nie en vermy dit as hy kan.

      Hierdie keer word Nieuwenhuis goed oor die kole gehaal en ’n besonder swaar straf vir die volgende oortreding belowe. Hy keer met ’n stralende gesig terug na die voorportaal.

      “Jy lewe nog,” sê Bornmann.

      “Hy’s vanaand in ’n goeie bui!” sê die sondaar. Hy is weer vry en draf weg om vir sy vriende te gaan vertel hoe gelukkig hy was.

      Die studeerkamerklokkie word gelui. Bornmann gaan in.

      “Krynauw, doktor?” vra hy.

      “Ja.”

      “Het doktor my daarna nog nodig?”

      “Wag maar ’n rukkie. Miskien sal daar wel iets wees.”

      Krynauw stap na die lessenaar en staan daar met sy hande mooi stil langs sy sye. Aan die spiertjie wat in sy wang spring, kan ’n mens sien hy is senuweeagtig.

      Die hoof bestudeer ’n brief. Dan kyk hy op.

      “Dis ’n brief van jou pa,” sê hy. “Hy is ontevrede met jou vordering.”

      Krynauw praat sonder om te dink. “Ja, maar dis nie omdat hy dink die skool … Ek bedoel, doktor het self op die rapport geskryf …”

      “Moenie jou opwerk nie,” val die hoof hom rustig in die rede. “Jou pa is ontevrede oor jou traagheid, nie die skool s’n nie.”

      “O …”

      “Hy sê ek is nie streng genoeg met jou nie. En hy vra of jy dan te groot is vir ’n ordentlike pak slae.”

      Krynauw bloos bloedrooi.

      “Wat dink jy?”

      “Ek weet nie, doktor.”

      “Ek weet ook nie. Jy mag my onsekerheid aan die res van jou kliek meedeel met die hoop dat dit hulle gedrag positief sal beinvloed.”

      “Ja, doktor,” sê Krynauw, baie kwaad vir sy pa en doktor Serfontein.

      Hy stap uit en besluit om nooit weer saam met die hoof van sy huis af Aandgodsdiens toe te stap nie. Hy doen dit gereeld van sy eerste jaar op skool, maar as die hoof hom soos ’n gewone skolier wil behandel en op briewe van sy pa reageer asof Krynauw vir hom persoonlik niks beteken nie, sal hy hom ook so gedra!

      Hy loop sonder ’n woord verby Bornmann en klap die voordeur hard agter hom toe. Dan stap hy deur die tuinhekkie sonder om te wag.

      In die donker bots hy net buite die hek met iemand wat wil inkom. Hy kan nie sien wie dit is nie, maar die persoon is groter as hy.

      “Ekskuus!” sê Eugene kortaf.

      ’n Flitslig skyn in sy oë en word dan afgeskakel.

      “Ek ken jou!” sê ’n half fluisterende stem. “Dis die jong man met die hartseer oë.”

      “Kaptein Alwyn!” sê Krynauw en vervolg dan vererg: “My oë is nie hartseer nie. Kaptein dink seker aan iemand anders. Daar was drie van ons by die toneelopvoering.”

      “Nee. Jy is daardie advokaat se seun.”

      Die spottende gefluister werk op Krynauw se senuwees. Kaptein Alwyn mag miskien ’n uitstekende speurder wees, maar hy hou niks van hom nie!

      “As kaptein vir doktor Serfontein wil sien, hy is nog in die huis, maar hy moet net hierna by Aandgodsdiens wees.”

      “O, ek sien! Wel, as dit jou beter pas, sal ek weggaan en môre kom.”

      “Dit het niks met my uit te waai nie.”

      “In daardie geval sal ek maar sonder jou goedkeuring ingaan.”

      Krynauw stap weg. Soos hy vanaand voel, sal hy hierdie man sommer iets aandoen.

      Hy hoor die irriterende fluisterstem weer uit die donker agter hom praat. “Lyk my julle hoof geniet dit om ’n klomp seuns soos mak hondjies aan te hou.”

      Voor Krynauw self besef hy gaan iets doen, slaan hy so hard soos hy kan na die speurder. Dit lyk of kaptein Alwyn dit verwag het, want hy gee net betyds pad sodat die volle geweld van die vuishou hom nie tref nie. Nogtans raak dit sy ken skrams.

      Krynauw se arm word vasgegryp.

      “Wat gaan hier aan?” vra die hoof skielik langs hom.

      “Doktor, ek … ” hyg Krynauw.

      “As die seniors so onbeheersd optree, is dit geen wonder die juniors doen dit ook nie. Jy het vanaand reeds genoeg van my tyd in beslag geneem. Ek sal môreaand met jou praat.”

      Die gebou se verligte vensters dans voor Krynauw se oë toe hy soontoe loop.

      “Ek is jammer ek het jou spogleerling in die moeilikheid gekry,” sê die kaptein sag. “Los hom maar. Dit was my skuld.”

      “Goeienaand. Ek het jou verwag,” sê die hoof.

      “O? Hoekom?”

      “Omdat ek vandag met Jan Fiskaal kennis gemaak het.”

      “Het jy dit aan die polisie gerapporteer?”

      “Nee.”

      “Hoe sal ek dan daarvan weet?”

      “Jy’s ’n speurder en hulle sê jy is baie goed in jou werk.”

      “Goed ofte nie, hierdie goedkoop skurk veroorsaak vir ons mense groot hoofbrekens.”

      “Hy is nie ’n goedkoop skurk nie. Nadat ek met hom gepraat het, het ek my opinie oor hom verander.”

      “Het jy hom aangevat?”

      “Ja.”

      “Het hy jou enigiets aangedoen?”

      “Nee.”

      “Het hy jou geld gevat?”

      “Dis waarvoor hy die motor voorgekeer het.”

      Die speurder bly vir ’n lang ruk stil. “Ek sal dit moet gaan opteken,” sê hy uiteindelik.

      “Ek moet die godsdiens bywoon. Kan jy wag? … Bornmann!”

      Die hoofseun het die ligte afgeskakel en kom nou eers by die hek.

      “Doktor?”

      “Kaptein Alwyn, dis Bornmann, ons hoofseun.”

      “Goeienaand, kaptein.”

      “Aangenaam,” sê die fluisterstem.

      “Neem kaptein Alwyn na die studeerkamer en bied hom ’n sigaar aan. Jy weet waar dit