“Ek moes dit nie gedoen het nie,” sê Eugene opreg jammer. “Ek moes eers gedink het.”
Bornmann lyk dankbaar oor hierdie eerlike reaksie, maar sê nogtans: “Jy het gelieg, hoe jy dit ook al bedoel het.”
Krynauw se wange word rooi. “Ja,” sê hy, “dis waar.”
Bornmann dink vir ’n oomblik en besluit dan: “Ek gaan jou nogtans by Burger rapporteer.”
“Maggies, dis gaaf van jou!”
Die hoofseun glimlag vir die eerste keer. “Ja, baie gaaf! Jy en jou vriende moet hierdie jaar probeer om uit die moeilikheid te bly. Julle word aanhoudend gehok en dis lastig met die sport. Ons kan nie sonder julle in die spanne klaarkom nie.”
Bornmann stap weg.
“Krynauw!” roep meneer Gerritson.
Eugene het ernstig gelyk, maar nou glimlag hy breed. Hier is iemand wat baie gaaf met hom was gedurende sy eerste moeilike skooldae.
“Meneer! Welkom!” sê hy.
Sy oë blink ondeund, maar hulle weet albei dit moet van nou af “meneer” wees.
“Ons was vreeslik bly toe ons hoor wie’s ons nuwe sportonderwyser. Kan ek ’n rukkie inkom en gesels?”
“Ja, asseblief! Ek sal dankbaar wees as jy my bietjie op hoogte kan bring.”
Krynauw het genoeg om te vertel. Daar is niemand anders wat so baie weet van wat op Keurboslaan aangaan nie.
“Ek is jammer jy is sommer die eerste dag al in die moeilikheid,” sê die onderwyser toe Krynauw later saam met hom na die personeel se huis stap.
“Meneer bedoel met Bornmann? Ja, dis jammer, want almal is taamlik moeg vir my nonsens, en meneer Burger sal dink ek probeer weer aspris wees.”
“Wat gaan hy doen? Hy was baie gaaf toe ek hier was.”
“Hy is nog steeds. Hy dreig ’n mens net met vreeslike goed. Die kinders noem hom ‘Laksman’ omdat hy sulke bloeddorstige goed sê, maar dit bly net altyd by praat. Eintlik word hy baie hartseer as ons so droogmaak. Ons hou almal baie van hom.”
“En doktor? Is hy nog so streng soos in my dae?”
“Hy’t niks verander nie,” sê Krynauw effens kortaf.
Meneer Gerritson verstaan. Hy onthou goed hoe erg die klein Eugene oor die hoof was.
“Ek sal jou op die sportveld so besig hou dat jy nie gaan tyd kry om nonsens aan te jaag nie,” belowe hy.
Terwyl hulle gesels, is die hoof op pad skool toe van sy plaas naby Mbabane.
Hy het die tweeling self gebring en aan sy plaasbestuurder Rossouw, ook ’n oudleerling van Keurboslaan, oorhandig met die opdrag dat hulle ten minste tien uur ’n dag moet werk. Maar die twee lyk heel tevrede. Dis ’n baie mooi plaas en omgewing. Daar is perde om te ry en ’n rivier om in te swem.
Doktor Serfontein is bly die saak is afgehandel en dat sy broers nie te ongelukkig is nie. Nou kan hy sy aandag op sy werk toespits. Bedags behoort hy aan die skool, maar saans skryf hy en gee hom oor aan sy verbeelding. Selfs nou, terwyl hy bestuur en die wind koel by die venster inwaai, is hy besig om aan sy roman te dink.
Sy gedagtes word met ’n skok onderbreek.
Daar is ’n gedawer van perdepote teen die rant bokant die pad. ’n Wilde gelag weergalm teen die berge en twee rewolwerskote klap.
Die skoolhoof kyk kalm op na die donker figuur op die groot swart perd, trap rem en bring die motor stadig tot stilstand.
Die gemaskerde rower pluk aan die teuels sodat die perd op sy agterpote ronddans. Die dier maak ’n draai en kom weer op al vier pote te lande.
Die ruiter sit soos ’n swart skadu afgeteken teen die oranje lug van die sonsondergang. Alles is doodstil. Op ’n vreemde manier is die atmosfeer rustig en nie gespanne nie.
Dan praat die hoof sag. “Dis goed om soms so stil te bly en die ratte van die aarde te hoor draai.”
Die man laat die perd nader kom, tot by die motor. Die rewolwer word teen doktor Serfontein se slaap gedruk.
Hy deins nie terug nie.
“Jy is ’n held, doktor Serfontein!” sê Jan Fiskaal en lag weer uitbundig.
“Nee wat, ek weet jy sal nie skiet nie.”
“Dis wat jy dink!”
“Ek sal nie met jou stry nie. Maar iets pla my … Hierdie perd is bang vir jou.”
“Dis hoekom ek sy baas is. Vrees is die beste teuels.”
Doktor Serfontein laat sy hand tussen die perd se oë rus. Die dier word so stil, dit lyk of hy uit klip gekap is.
Die skoolhoof begin saggies ’n wysie fluit.
Jan Fiskaal lig die rewolwer hoog om doktor Serfontein se arm daarmee weg te slaan, maar die arm word so rats weggeruk dat die skielike beweging die ruiter byna uit die saal laat val. Die rewolwer spat uit sy hand en beland onder die motor.
Die hoof pluk die deur vinnig oop en spring uit aan die kant waar die rower is. Om dit te kan doen, moet hy die perd effens wegstoot.
“Klim weer in of ek trap jou plat!” roep die man wild uit. “My perd sal ’n lelike gemors van jou gesig maak!”
“Kyk of hy sal.”
“Gee jy nie om nie?”
“Nee.”
“Hoekom nie?”
“Hoekom is jy nie bang om iets oor te kom nie?” vra die hoof.
“Omdat my lewe vervelig is.”
“Jy speel.”
Skerp oë loer deur die gaatjies van die masker en bekyk die hoof se gesig. “Jy kan maklik praat. Jy het alles!” sê Jan Fiskaal.
Die hoof haal sy beursie uit sy baadjiesak. “Jy het my tog voorgekeer vir geld.”
“Ek het nie geweet wie’s in die kar nie.”
“Nietemin, hier is alles wat ek by my het, selfs ’n bietjie kleingeld.”
Die man klap die hoof se hand weg sodat die muntstukke in die pad rol. Hy gryp die beursie en smyt dit in die hoof se gesig terug. Dan pluk hy aan die teuels sodat die perd weer op sy agterpote dans. Hulle laat vat teen die berg op.
Die hoof buk stadig en tel die geld, beursie en rewolwer op.
Hy klim terug in die motor en bestuur verder soos iemand wat droom.
Kort voor Bornmann sy aandverslag aan die hoof moet lewer, laat die huismoeder hom weet doktor Serfontein het van sy huis af gebel, en hy wil Krynauw spreek.
Bornmann loop tot by die seniors se dagkamer.
Ná die dag se reis, uitpakkery, swem en ’n bietjie bedekte heimwee, is dit hier stiller as gewoonlik.
“Krynauw! Die hoof wil jou sien,” kondig die hoofseun aan.
“Deksels, Gene! Wat gaan nou weer aan?” vra Rothman.
“Hoe moet ek weet?” sê Eugene skor en stap agter Bornmann aan.
“Dankie!” sê hy toe hulle in die gang is. “Jy het gesê jy sal my net by Burger rapporteer, en hy het my al klaar vertel hoe my gedrag hom en almal teleurstel!”
“Miskien het Burger vir doktor iets gesê, maar ek het nie. As ek ’n belofte maak, hou ek woord.”
“Ek weet. Jammer, man.”
Bornmann maak die juniors se kamerdeur oop.
“Komaan, Nieuwenhuis!” sê hy.
Die