Die hoof van Keurboslaan #2. Theunis Krogh. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Theunis Krogh
Издательство: Ingram
Серия: Keurboslaan
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780798153874
Скачать книгу
skoolseuns sluk omtrent hulle tonge in. Hoe durf iemand so met die hoof praat?

      Doktor Serfontein kyk Emil stip aan, totdat sy broer verplig is om in sy oë te kyk.

      Emil lyk skielik verbaas oor sy eie waaghalsigheid en krimp ineen onder sy ouboet se streng blik.

      Frans kyk verbaas na hulle albei.

      Maar vreemd genoeg verander die hoof se strengheid geleidelik in ’n vertroostende glimlag wat Emil gerusstel.

      2

      DIE NUWE ONDERWYSER

      Meneer Gerritson, die nuwe sportonderwyser, staan by die skoolgebou se agterdeur.

      Hy het self hier skoolgegaan, maar die plek is vandag vir hom vreemd. Toe hy ná matriek hier weg is, was die skool en omgewing al soos dit nou lyk, maar wanneer hy aan Keurboslaan gedink het, het hy die beboste, modderige skoolterrein en die bouvallige groot huis in sy gedagtes gesien soos dit gelyk het voor doktor Serfontein dit gekoop het.

      Vandag staan hy hier as lid van die personeel, gemaklik in sy sportdrag, en bekyk die toneel met ’n gevoel van onwerklikheid.

      Die ou hoof onder wie Gerritson sy skoolloopbaan begin het, was meneer Schoonbee. Hy het hierdie plek begin sonder om te besef wat dit sou kos om dit aan die gang te hou. Hy kon nie bekostig om gekwalifiseerde onderwysers aan te stel nie. Die hele projek was eintlik ’n groot mislukking en die skool het net bly voortbestaan omdat die ouers dit nie wou sien ondergaan nie.

      Jan Gerritson is nou ouer en wyser, en deesdae weet hy die seuns het heelwat by die saggeaarde ou meneer Schoonbee geleer.

      Toe doktor Serfontein die eerste dag hier opgedaag het, was hy verlore en siek. Almal kon sien hy het ’n moeilike tyd agter die rug. Hy en die ou hoof het uiteindelik hegte vriende geword.

      Meneer Gerritson lyk uiterlik na alles wat ’n sportonderwyser en uitstekende atleet behoort te wees, maar hy het ook ’n sensitiewe sy.

      Hy probeer die skool se atmosfeer aanvoel terwyl hy staan en kyk hoe die seuns kom en gaan op hierdie eerste dag van die kwartaal.

      Die nuwe onderwyser stap rustig na die gimnasium en kyk daarvandaan uit op die blou en pers berge anderkant die riviertjie se silwer streep waar drie groot waterkuile met dinamiet oopgeskiet is. Dit is sommer vir die seuns om in te baljaar. Vir oefening en formele swemlesse is daar ’n Olimpiese swembad met duikplanke.

      Gerritson stap deur die groot saal met die apparaat na sy kantoortjie agter. Voor sy lessenaar is ’n venster waar hy gaan staan om uit te kyk.

      ’n Groepie skoliere het onder die venster saamgedrom. Almal is om en by twaalf jaar oud.

      ’n Seun wat effens ouer lyk, loop stadig verby. Hy is seker nuut hier, want hy probeer ongeërg lyk terwyl sy oë waaksaam rondkyk.

      Een van die leerlinge met ligte, krullerige hare praat met hom.

      “Hallo!” groet Nieuwenhuis.

      “Hallo,” sê die nuweling onseker.

      “Wat’s jou naam?”

      “Holman.”

      “Watter graad?” vra Toerien.

      “Sewe.”

      “Amper nog ’n junior!” spot Nieuwenhuis.

      Holman word effens rooi, maar hy onthou sy pa se waarskuwing om aan die begin versigtig te wees hier by sy nuwe skool.

      “Is dit nie hier die regte graad as ’n mens veertien is nie?” vra hy. “My pa sê die hoof wil ons nie te gou in matriek hê nie.”

      “Die hoof? Moenie my sê hulle het al weer ’n fout gemaak nie! Hulle’t belowe dit sal nie weer gebeur nie! Jy sien, doktor Serfontein is die hoof van twee plekke. Al twee is hier op Keurboslaan, maar die skool is aan die westekant van die dorp.”

      “Watse plek is hierdie dan?”

      “Moenie skrik nie. Jy sal niks ernstigs oorkom nie. Mense kom baie keer per ongeluk hiernatoe en niks ergs het nog ooit gebeur nie.”

      Toerien weet nog nie waarheen Nieuwenhuis mik nie, maar hy speel saam toe hy sien sy vriend kry swaar om nie te lag nie.

      “Wat van daardie ou wat laas jaar hier ingestap het?”

      “Moenie dit elke keer uitgrawe nie!” sê Nieuwenhuis vererg. “Hy was ’n aap! As hy nie terugbaklei het nie, sou hy niks oorgekom het nie.”

      “Waarvan praat jy?” vra Holman onrustig. “Watse plek is dit dié?”

      “Dis ’n gestig vir gevaarlike seuns,” sê Nieuwenhuis kastig verleë.

      “Nonsens! Julle is mos nie mal nie!”

      Die Keurboslaner praat sagter. “Ons is nie die ergste gevalle nie. Jy sal hulle nie sien nie. Hulle kom net snags onder streng toesig uit … Eenkeer het ’n ou nes jy per ongeluk hiernatoe gekom. Hy het die eerste aand uitgeglip om hulle te beloer en toe …” Nieuwenhuis skud sy kop en bly stil.

      “Wat het met hom gebeur?”

      “Die volgende aand het hy saam met hulle gestap, maar nie meer om hulle af te loer nie, want hy was toe een van hulle.” Nieuwenhuis vee oor sy oë met ’n bewerige hand. “En glo my, sy hare was spierwit van skrik oor wat hy die vorige aand gesien het!”

      Die ander bars uit van die lag. Meneer Gerritson grinnik ook, maar gelukkig weet die seuns nog nie hy luister hulle af nie.

      Holman besef hoe lekker hy om die bos gelei is. Hy begin slaan net waar hy kan. Nieuwenhuis slaan op sy beurt terug. Die stof waai terwyl die ander seuns die twee bakleiers aanmoedig.

      ’n Lang, skraal seun kom met haastige treë tot by die groepie, haal sy bril af en steek dit in sy sak.

      Dis sowaar Eugene Krynauw wat in meneer Gerritson se dae die skool se jongste leerling was. Hy het ontsettend groot geword, dink die onderwyser verbaas, maar dis dieselfde gesig, al is dit minder rond en blosend.

      “Haai! Is julle mal?” vra hy. “Hier kom Bornmann!”

      Die gewoel hou dadelik op.

      ’n Ander seun kom vasberade nader. Hy het ook ligte hare, maar sy gesig is vierkantiger as Krynauw s’n.

      Meneer Gerritson herken Bornmann, wat vanjaar die hoofseun is.

      “Wat gaan hier aan? O, dis al weer Nieuwenhuis! Jy gaan die skool nie weer dié jaar op horings neem nie. Ek gee jou sommer vandag al by die hoof aan. En jy – wat is jou naam?”

      “Holman … Dis nie sy skuld nie. Ek het eerste geslaan.”

      “Hulle het nie baklei nie,” sê Krynauw ewe bedaard. “Ek het net vir hulle bokslesse gegee om van die eerste dag se senuwees te vergeet.”

      “Jy laat die juniors hier buite boks waar dit teen die reëls is?”

      Die jonger outjies besef Krynauw, van wie hulle baie hou, is nou as gevolg van hulle in die moeilikheid.

      Nieuwenhuis praat soos gewoonlik sonder om aan die moontlike gevolge van sy woorde te dink.

      “Nee, dis nie waar nie, Bornmann! Ons het baklei en Krynauw wou ons laat ophou.”

      Bornmann probeer hom inhou. Krynauw is in graad elf en gaan waarskynlik volgende jaar ’n prefek wees.

      Hy vestig sy aandag op die jongeres.

      “Jy, Nieuwenhuis, word gerapporteer. Die nuwe kêrel word dié keer ’n kans gegee, maar hierna nie weer nie. Maak dat julle hier wegkom.”

      Hulle loop druipstert weg.

      Meneer Gerritson voel nou skuldig. Hy moes gekeer het, maar hy het vergeet hy is nou ’n onderwyser met verantwoordelikhede.

      “Ek is sommer lus en rapporteer jou ook,” sê Bornmann vir Krynauw. “As die seniors die prefekte