Hy sluk die mengsel met een teug weg.
Bornmann neem die glas kombuis toe.
Die hoof se humeur verbeter aansienlik en voor hy klas toe gaan, laat hy Danster vir hom koffie bring. Die sakdoek word nie meer soveel gebruik nie.
Om tienuur toe hy vir die graad elfs Engels gee, kom Bornmann by die klaskamer in en praat saggies met hom.
“Kan doktor vir ’n oomblik uitkom?”
“Bestudeer die gedig nou self,” sê die hoof vir die klas.
In die gang gee Bornmann vir hom ’n koppie wat op ’n vensterbank wag.
Die hoof se oë rek wyd. “Wat is dit?”
“Doktor se koeksoda.”
“Werklik … Hoe lank gaan hierdie affêre nog aangaan?”
“Heeldag, doktor. Dan sal die verkoue weg wees. ’n Mens moet net geduldig wees.”
Die hoof se lippe bewe effens. Hy drink die mengsel gehoorsaam. “Ek wonder net of ek genoeg geduld het om hiermee aan te hou. Dit beteken ek moet die hele dag hier by die skool bly sodat jy my kan volg.”
“Ja, doktor. Maar darem net tot Aandgodsdiens.”
’n Mens kan sien Bornmann gee nie juis om of die hoof geduldig bly of nie. Sover die hoofseun daarvoor kan sorg, gaan hy die koeksoda drink.
Die hoof gaan terug na die klas toe en Krynauw wonder wat gebeur het om daardie lig in sy oë te laat blink.
Die lig verdwyn egter baie gou en die hoof frons. Een van die Serfontein-tweeling het voor ’n oop venster verskyn. Hy kyk bekommerd na sy broer.
Die hoof stap tot by die venster en staan met sy rug na die kamer gedraai.
“Wat maak jy hier?” fluister hy.
“Ek is vreeslik jammer, Roelof, maar ek moet met jou praat! Emil is … Ek moet jou raad vra.”
“Gaan na die huis toe. Ek sal nou daar wees.”
Frans is te rusteloos om te sit, maar die hoof gaan na sy eie stoel agter die lessenaar.
“Wel, wat makeer Emil?”
Frans kom sit ook nou en kyk af na sy ineengestrengelde vingers.
“Miskien niks nie. Dalk dink jy ek is simpel. Maar weet jy, Emil is nie soos ander mense nie. Hy voel … Hoe sal ek dit nou stel? Ek mos nie slim met woorde nie.”
“Jy wil sê hy is sensitief oor sekere goed?”
“Ja, dis reg! Wel, Fiskaal se inbraak by die plaas …”
“Eergisteraand?”
“Is dit so kort gelede? Hemel! Dit voel vir my na maande! Maar nou is Emil … Dis of hy my nie ken nie! Ek weet nie of daai skurk die nag op die plaas met hom gepraat het nie. Jy het seker gehoor hy het Emil onderstebo gery, maar nog vóór dit het hy in die bosse weggekruip, en miskien het Emil toe … Kyk, ek weet jy sal my nie glo nie, maar dit lyk asof hy … gehipnotiseer is!”
“Deur Jan Fiskaal?”
“Ja. Dis of hy nie normaal is nie; hy dwaal rond en praat nie. Dis asof hy net luister. Gisteraand was hy die hele nag weg. Rossouw dink hy’s vies omdat ons plaas toe gestuur is, maar dis nie waar nie. Ons is jammer om so lank van die universiteit af weg te wees, maar dis lekker op jou plaas.”
“Dink jy Emil het agter Jan Fiskaal aangeloop?”
“Ja, maar nie … Nie om hom te vang nie!”
“Jy is verniet bekommerd. Jan Fiskaal werk alleen. Hy sal niemand saam met hom neem nie.”
“So jy glo my? Jy glo Emil wil saamgaan?”
“Ja, ek glo dit, maar Jan Fiskaal sal hom nooit as ’n helper gebruik nie.”
“Hoe kan jy so seker wees? Jy is ons broer. Daai skurk hoop dalk om geld te kry as hy Emil ontvoer.”
“Juis omdat Emil my broer is, is hy veilig sover dit Jan Fiskaal aangaan.”
“Jy dink daai ou is bang vir jou? Ek weet nie! … Onthou, toe die padbouers se salarisse van Vaalplaas se bank af gebring is, het daar sekuriteitswagte voor en agter gery, maar Fiskaal het nog steeds die geld gekry! Hulle het op hom geskiet, maar g’n koeël tref hom mos ooit nie.”
“Hulle is te suinig met hulle koeëls.”
“Wat moet ek doen? Of Fiskaal Emil wil hê of nie, hy is soos ’n ander mens. Dit kan nie so aangaan nie.”
Die hoof staan op. Hy lyk selfs strenger as gewoonlik.
“Nee, dit kan nie.”
Dit klink asof hy ’n vonnis uitspreek. “Daar is net een mens vir wie hy lank genoeg sal bly staan sodat hy gevange geneem kan word.”
“Wie is dit? En wat maak Alwyn dat hy nog niks reggekry het nie? Hulle het dan gesê hy is so watwonders!”
“Kaptein Alwyn kan nie voorspel wat Fiskaal gaan doen nie. Selfs ons eie speurders is radeloos.”
“Waar het hy die eerste keer verskyn? Dis tog nie so lank gelede nie.”
“Nee, dis ’n paar jaar gelede. Die eerste plek was op Hekshoogte in die Wes-Kaap.”
“Hoe weet jy dit?”
“Die polisie in die stad het my vertel … Hoe het jy vanoggend hier gekom?”
“Rossouw het vir my die motor geleen.”
“En waar was Emil toe?”
“Hy het vas geslaap. Hy was die hele nag mos uit en toe hy terugkom, het hy sommer met klere en al gaan lê.”
“Julle is nie op die plaas om bedags te lê en slaap of om rond te ry nie. Julle is daar om Rossouw te help.”
Frans lyk so verslae dat sy broer ’n bietjie versag.
“Moenie jou verder bekommer nie. Emil is onder ’n soort hipnose. Maar alles sal binnekort weer normaal wees.”
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.