Vier begrafnisse en 'n troue. Pat Stamatélos. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Pat Stamatélos
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780795703393
Скачать книгу

      Titelblad

      PAT STAMATÉLOS

      Vier begrafnisse en ’n troue

      KWELA BOEKE

      Opdrag

      My dank aan:

      Suzette Alberts vir al jou hulp en geduld oor die jare

      Louis Joubert en Elize Bezuidenhout vir julle inspirasie met die skryf van die boek

      en aan David en Mia Wiggill: geniet dit!

      Hoofstuk 1

      1

      Dulcie-Anne Douglas stamp effens aan haar dogter. Sy lig haar wenkbroue en rol haar oë in die rigting van die kisdraers. Voetjie vir voetjie loop hulle die paadjie van die lykswa na die graf. Aan die voorpunt van die swart geklede groepie loop haar swaer, Sparky. Stewig en sterk gebou, eggenoot van die oorlede Hanna.

      Langs Sparky, aan die ander kant van die kis, loop Hanna se broer Dudley Brown. Vergeleke met Hanna se doodsgewig weeg Dudley ’n skamele tagtig. Sy swart pak en das lyk nuut. Vir Dulcie is die enigste spikkeltjie op die man met die mooi maniere, smaakvolle kleredrag en kiertsregop houding die welige bos hare wat oor sy gestyfde hempskraag hang.

      Dudley lyk op ’n druppel soos Peter Sellers met ’n pruik en ’n snor. Vandat Dulcie hom ken, het hy die lang hare. Sy oorlede vrou Hilda was mal daaroor, maar Dulcie deel nie dié entoesiasme nie.

      Enver-Lewis, die gekiste Hanna se enigste seun en enigste kind, loop agter sy pa. Agter hom loop Dulcie se seun, Ashwin: donkergrys hemp, swart broek en sonder baadjie, met sy oorlede pa se swart das aan. Ashwin se gestalte spreek van die ure wat hy in die gym deurbring. Op sy ma se onkoste.

      Die ander twee draers is familievriende. Die een met krulhare wat ’n stralekrans om sy kop vorm, die ander met reguit hare oor ’n plooierige voorkop. Simon-en-Garfunkel-dubbelgangers, glimlag Dulcie.

      Die meeste mense hou ’n sambreel oor die kop teen die stuifreën, die draers inkluis. My eerste nat begrafnis, dink Dulcie ’n bietjie geamuseerd.

      “Kyk hoe sweet hulle onder Hanna –” begin sy, maar word onderbreek deur Cheryl se “Máá!” en ’n stampie in die ribbes. Cheryl se knipperende oë kyk afwaarts, maar haar ma weet sy loer.

      Dulcie sluk haar woorde toe sy sien hoe Cheryl met ’n sakdoek oor haar oë vee. Haar blik flits van die draers na die grond voor haar. Dan na haar dogter se voete, en haar oë rek van verbasing.

      “Het jy nie swart skoene gehad om aan te trek nie?” vra sy geskok.

      “Máá . . . Sjuut, dis ’n begrafnis.”

      “Rooi skoene is nie begráfnisskoene nie,” fluister Dulcie, ’n byt in haar stem.

      Sy self is paslik geklee in ’n swart romp (gister gekoop) en ’n wit bloes (twee dae tevore gekoop). Sy het twee jaar gelede dieselfde swart skoene na haar man, Bennie, se begrafnis gedra.

      Met ’n stadige beweging laat Dulcie die swart mantilla van haar kop afgly tot op haar skouers. Sy probeer dit ongesiens in haar handsak druk, vroetel ’n oomblik onder in die sak rond.

      “Máá . . .”

      Dulcie maak ’n klikgeluid met haar tong. Maar in plaas van ’n pepermentjie gryp haar vingers ’n koevert vas. Op pad na die begrafnis het hulle gou by die poskantoor aangegaan. Sy het nie ’n posstuk verwag nie, maar Ashwin het teruggekom met ’n brief van die plaaslike hospitaal.

      Ná Bennie se ongeluk het hy tien dae lank in dié hospitaal gelê. Hy het gesterf sonder om sy bewussyn te herwin.

      “Maak dit oop,” het sy gesê toe Ashwin haar die brief wys.

      “Dis van die hospitaal.”

      “Ja, toe, wat wil hulle hê?” het sy ongeduldig gevra toe sy in die hoofpad inswaai.

      “Ma, daai trok gaan ons –”

      “Ag, bly tog stil, Cheryl, ek weet wat ek doen.”

      “Dis die rekening vir Pa se tyd in die hospitaal.”

      “Nou wat wil hulle van mý hê? Die Railways het mos nalatigheid erken en onderneem om die mediese onkoste te betaal. Hoeveel skuld . . .” Dulcie se stem het weggeraak soos sy konsentreer om ’n bakkie verby te steek.

      “Ons gaan sterf nog voor ons by die begrafnis –”

      “Cheryl, assebliéf!”

      Bennie het sy lewe lank vir die Railways gewerk. Eers as ’n shunter, toe ’n kondukteur op die treine, en later inspekteur van een of ander aard.

      Twee jaar gelede het hy sy vrou die oggend koebaai gesoen en afgesit werk toe. Twee uur later het die stasiemeester en ’n polisieman op haar drumpel gestaan. “Ek is jammer, mevrou, ons bring slegte nuus . . .”

      In love stories lees jy van mense wie se lewe uitmekaarval weens die dood van ’n geliefde. Dit was vir haar altyd te dik vir ’n daalder. Sy het die twee mans voor haar aangestaar, te oorbluf om te praat. En skielik het sy geweet: háár lewe is op die punt om uitmekaar te val.

      Bennie het al met die kant van die perron langs geloop toe dit meteens onder hom padgee. Hy het afgeval en sy kop oopgekloof teen ’n ysterspoor. Die stasiemeester het met hom hospitaal toe gejaag.

      Ná sy begrafnis het Dulcie ’n prokureur gaan sien. Alle bewyse van nalatigheid asook die mediese rekeninge is aan die hof voorgelê. Hulle skuldeisers het ingestem om te wag vir die uitspraak.

      Die einde van die saak was dat die Railways ingestem het om al Bennie se mediese onkostes te betaal, sowel as sy begrafniskoste. Dit het ’n hele jaar gevat voor alles afgehandel was, en amper net so lank voordat enige geld aan haar oorbetaal is.

      Met haar vergoedingspakket van drie miljoen het die kinders haar aangemoedig om die huis in Gumaville te verkoop. Nie dat sy enige aansporing nodig gehad het nie. Gumaville se modderstrate vol gate en dongas, die gebrek aan munisipale dienste, die verhongerde kinders, weggooidiere en leë winkelrakke was maklik om agter te laat.

      Sy was gretig om weg te kom van enige tasbare herinneringe aan Bennie en Gumaville, en het die huis dadelik verkoop, al was dit vir ’n appel en ’n ei. Haar visier gerig op die high society-voorstad genaamd Roxy.

      Met die drie miljoen in haar bankrekening, plus die paar duisend vir die verkoop van haar huis, het sy begin geld uitgee. Om die waarheid te sê, sy het dit álles uitgegee, besef sy benoud terwyl sy versnel om ’n trok verby te steek.

      Die Roxy-huis se prys was oorspronklik drie miljoen, wat die verkoper later afgebring het na ’n skamele twee punt twee. Die eiendomsagent verantwoordelik vir dié bevredigende transaksie was ’n mooie man genaamd Rocky van der Merwe. Groot, vlesig, blou oë, blonde hare en onweerstaanbaar. Wel, amper.

      Die nuwe meubels en gordyne het so te sê saam met die binnehuisversierder aangekom. Dié om haar voor te sê waar die meubels moet kom, hoe die gordyne moet hang en hoe om dit af te show. Oorspronklike etswerke, Persiese matte en Oosterse kussings (haar keuse), skilderye en houtwerk (Cheryl se keuse), groot keramiekvase en ’n stel AMC-potte (Ashwin se keuse) het die prentjie afgerond. Wel, amper.

      Die binnehuisversierder het art deco-spieëls in die slaapkamers voorgestel, toe ’n duur lappie hier en ’n kosbare matjie daar, tot by die klein Merc – vir haar. Cheryl was uit haar vel oor haar splinternuwe Uno.

      Ashwin was heel tevrede met sy Volksie. Al wat hy nog wou hê, was ’n hoëtroustel, ’n jaar se Sports Illustrated en ’n prent van James Dean (lewensgroot) wat langs sy sportmotor poseer. Nie sleg vir ’n twee-en-twintigjarige nie. Sy self het ’n uitrusting of twee gekoop, vir die skyn van ryk wees.

      Met haar onderdak, meubilering, klerekas en kinders wat versorg was, was sy oortuig dat hulle (eintlik sy, want die kinders sal binne ’n jaar onafhanklik wees) gerieflik op haar Railway-pensioen sou kon leef. Selfs met die hoë huisbelasting wat sy moet betaal. Alles is immers kontant betaal, en sy het hoegenaamd géén skuld nie. Met die uitsondering van haar tweeweeklikse manikuur