Kinders wat moor. André le Roux. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: André le Roux
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Биографии и Мемуары
Год издания: 0
isbn: 9780624089438
Скачать книгу
die hof aangevoer.

      Die OTC se oogmerk was glo om Sataniste te bekeer. Hulle het duiwels uitgedryf. Pasop vir die Kerk van Satan! was hul waarskuwing.

      Toe begin hulle mekaar doodmaak.

      Nadat Cecilia uit die kloue van Satan ontsnap het, het sy haar eie bediening begin, Electus per Deus (EPD). Uitverkore deur God. Sy wou wraak neem ná ’n uitval met Ria Grunewald (61), leier van die OTC. (Grunewald woon sedert 2013 op ’n onbekende plek onder ’n nuwe naam.)

      Die staat het aangevoer EPD was ’n onderneming wat mense vir geld vermoor het. En Cecilia het lustig haar eie volgelinge, tipies kultusleier, uit hul geld geswendel. Geld vir die sogenaamde weeshuis wat sy kamma vir “kinders van Satanisme” bedryf het, is direk in haar rekening inbetaal. Sy het gedurig geld nodig gehad omdat sy “siek” was. Dan leukemie, dan gepik deur slange, dan asma waarvoor sy ’n suurstoftenk byderhand moes hê, tot selfs in die hof.

      “Ek sê mos ek is siek!”

      Volgens ’n voormalige vriendin het sy die geld uitgegee op drank en motorfietse. Daar was ook dwelms. Sy sou moor vir geld. (Wat ongewoon is vir reeksmoordenaars.)

      Vir regter Ellem Jacob Francis was dit die ergste saak in sy 18 jaar op die regbank. Eerder uitverkore deur Lucifer, het hy in Augustus 2019 in sy uitspraak gesê.

      Dit was die ergste, wreedste, mees bisarre saak waaraan hy in sy 34 jaar as speurder gewerk het, het kapt. Ben Booysen aan Rapport gesê. Overkill frenzy, ’n sentiment wat deur prof. Gert Saayman, forensiese patoloog, gedeel is.

      Dit was nie sommer hierjy-moorde nie.

      Die regter het Steyn beskryf as “’n bose mens” met geen vooruitsig op rehabilitasie nie.

      Haar ouers, Piet en Mara Brandt, het deurentyd in haar onskuld geglo. Hulle het haar “Poppie” of “Pop” genoem.

      Haar eksman, Dries Steyn, ’n polisieman, het haar volgens ’n proefbeampteverslag beskryf as ’n goeie vrou en ’n goeie ma vir hul twee tienerkinders, ’n 13-jarige dogter en 15-jarige seun (beaam deur haar ma). Dries het ook geglo sy is onskuldig by die moorde betrek. Haar eerste huwelik, vóór Dries, het blykbaar net vier dae gehou.

      Cecilia sê weens die dissosiatiewe identiteitsteuring verloor sy kort stukkies van haar geheue, maar as sy 11 moorde gepleeg het, dít sou sy tog onthou het?

      Wie was hierdie vrou?

      Cecilia is op 15 uit die skool. Sy was ’n Goth. Later sou sy aanspraak maak op etlike doktors- en meestersgrade, dat sy as mediese dokter aan die Universiteit Stellenbosch gekwalifiseer het. Volgens haar ma het sy nie op skool geleer nie, maar sy’t onderskeidings gekry.

      Sy hou van lees, het sy in ’n onderhoud aan die Sunday Times gesê. Nou nie liefdesverhale nie, dis te voorspelbaar. Speur- en misdaadverhale. En ’n regshandboek van Unisa terwyl sy in aanhouding was.

      (So lief vir kerk en Bybellees, het haar ma gesê.)

      Sy het ’n normale kindertyd gehad, het Cecilia vertel. Netbal, tennis, karate en atletiek. Sy’t nie gehou van rokke nie, eerder weermagbroeke.

      “Die naaste wat ek ooit aan popspeel gekom het, was GI Joe.”

      Maar later het sy haar volgelinge wysgemaak sy’s ’n 42ste generasie heks (“die belangrikste heks van alle tye”), afstammeling van die farao Ramses II, ’n vampier en weerwolf. Sy kon astraal reis, Egipte toe, selfs maan toe. Sy kon op water loop.

      Haar volgelinge het geglo dis eg wanneer haar slagtande – te koop by enige speelgoedwinkel – begin groei het, met bolletjies bloed in haar kieste, toegeknoop in die vingerpunte van plastiekhandskoene.

      Lady Cecilia is in ’n ritueel met Satan getroud.

      “Deur saad en wortel, deur knop en stingel, deur blaar en blom en vrug, deur lewe en lis: Ek, Satan, neem jou, Cecilia, as my bruid,” volgens ’n dokument wat by die hof ingedien is.

      Sy was nou die Bruid van Satan. Wat nogal ’n nuwe gedagte was: Die Bruid van Satan wat op water loop …

      In “hoë nagte” op die Satanistiese kalender het Cecilia bloed opgebring terwyl daar vir haar gebid word.

      Alles sommer nonsens, het sy aan die Sunday Times gesê. Ondanks die bewyse van foto’s en video’s (op YouTube). Kyk, daar lê klein Anja opgekrul op die vloer …

      “En selfs al is ek ’n vampier of heks, dis mos nie teen die wet nie?” het Cecilia verklaar.

      Onder haar Know your Enemy-kursusgangers was sakemanne en prokureurs.

      Marinda Steyn (50), ook van EPD, maar nie familie van Cecilia nie, was ’n gewilde, “saggeaarde” Engels-onderwyseres aan ’n plaaslike hoërskool – en self ’n goeie manipuleerder. Sy was Cecilia se tweede-in-bevel wat vir haar ingestaan het op verskeie van die misdaadtonele, volgens die hof. Sy is reeds vroeër saam met John Barnard (40) skuldig bevind en 11 keer lewenslank plus 115 jaar tronk toe gestuur. Sy het een van haar medebeskuldigdes, Zak Valentine (30), se vrou 60 keer met ’n mes gesteek nadat sy haar met ’n hamer oor die kop geslaan het omdat sy die groep wou verlaat.

      “Mikeila, ek gaan jou nou vermoor … begin bid.”

      Die toneel was besonder bloedig. Sy het dit “angswekkend maar terselfdertyd opwindend” gevind om iemand dood te maak: “Ek het ’n verligting gevoel wat ek nog nooit voorheen gevoel het nie,” het sy in die hof gesê.

      In die hof het sy Cecilia, haar “beste vriendin”, probeer verontskuldig en gesê sý, Marinda, het die meeste moorde beplan. Nie Cecilia nie. “Sy dra die Vrug van die Gees.”

      Valentine was ’n aktuaris met ’n BCom-graad en het ’n goeie werk as makelaar gehad. Hy het groot bedrae geld – tot R100 000 per maand – aan Cecilia gegee. Net so verstommend soos regter Williamson se uitspraak in die saak teen Angelique Orsö en Lawrence van Blerk, “dat mense deur duiwels besete kan wees”, het Valentine se regsverteenwoordiger, adv. Amanda Nel, gesê daar kan net een rede wees waarom ’n geleerde man soos hy Cecilia se stories geglo het.

      “Werklike Satanistiese magte.”

      Valentine is tot 8 keer lewenslank plus 93 jaar, effektief 25 jaar, gevonnis vir sy aandeel in al die moorde. Hy het sy vrou bedwelm sodat sy vermoor kon word.

      Party van hul slagoffers is met, wat hulle genoem het, ’n chokie-chokie verwurg. Volgens Mevrou Y, wat vir 3 jaar in getuiebeskerming was, het Cecilia ’n versameling van 500 messe en pangas gehad.

      Nee, dit was net meer as 800, het Cecilia haar gekorrigeer. Met ’n Zippo-versameling daarby.

      Marinda het haar twee kinders, Le Roux Steyn en Marcel, gebruik om te help moor. Marcel was 10 toe sy Cecilia ontmoet het. Sy het Marcel banggepraat met die poppe op haar bed. Hulle het geheime name en vertel vir Cecilia alles wat Marcel doen. Wat herinner aan Chané van Heerden se poppe wat snags sou wakker word.

      Marcel het by drie geleenthede gesien hoe Cecilia se tande groei wanneer sy kwaad raak, en sy was bang vir die demone, die “goggos”, waarmee haar ma haar gedreig het.

      Volgens die twee kinders se stiefma, Hannelie Scheepers, is hulle in hul ouerhuis “gemanipuleer en gebreinspoel”. Hulle is verwerp. Mevrou Y het aan Rapport gesê: “Nie Marcel of Le Roux het dié lewe gekies nie, hul ma het dit vir hulle gekies.”

      Le Roux was 16 toe die eerste moorde gepleeg is. Marcel 14. Die eerste keer het Marcel net toegekyk.

      Sy het getuig hulle het op ’n varkkop geoefen om “met ’n mes te steek en met ’n byl te kap”. Sy het deelgeneem aan die moord op Mikeila en het haar met ’n mes gesteek.

      Marinda Steyn wou nie in die hof die name van Cecilia se verskillende persoonlikhede noem nie, want “netnou luister hulle” …

      Cecilia Steyn was waarskynlik ’n psigopaat sonder gewete. Die meeste reeksmoordenaars, het talle navorsers bevind, is inderdaad psigopate.

      “Net jou gewone huisvrou-psigopaat