Kinders wat moor. André le Roux. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: André le Roux
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Биографии и Мемуары
Год издания: 0
isbn: 9780624089438
Скачать книгу

      Êrens, iewers.

      Jongmense, die Goths en “Alternatiewes”, in opstand teen gesag en konvensies van hul ouers en die Kerk, het swart klere gedra, hul naels swart geverf, swart kerse aangesteek en glasie-glasie gespeel. Dan noem hulle hulself Sataniste en verkoop hul siel aan die duiwel.

      Duiwelaanbidders. Grafskenders.

      Dit was die middel 1980’s en die ’90’s. Mense was op hol. Suid-Afrika was in die duisternis van Satan-paniek, ook genoem morele paniek.

      Die Griekse god Pan het vir ons meer nagelaat as net die panfluit. Ook die woord “paniek”. Hy was glo so lelik met sy baard, stert en bokpote dat sy ma by sy geboorte Paniekerig van hom weggehardloop het. En wanneer hy in sy middagslapie in die woud gesteur is, het hy met ’n skielike harde geskree mens en dier vreesbevange laat spaander.

      Die “satanic panic” het rondom die 1980’s in Amerika begin met aansprake van wydverspreide sogenaamde “satanic ritual abuse” (SRA). Party mense is onskuldig tronk toe gestuur. Dit het ’n hoogtepunt bereik in die vroeë 1990’s en toe begin taan namate Amerikaanse sielkundiges, navorsers en die polisie die hele ding begin bevraagteken het.

      Maar in Suid-Afrika was die paniek nog in volle swang. Dit was ’n epidemie wat gou die openbare verbeelding aangegryp het. Satanistiese simbole het hul verskyning gemaak op kinders se skooltasse, potloodboksies en aantekeningboeke. Die kinders is daarteen gewaarsku. Tydskrifte, koerante en Die Kerkbode het daarteen geskryf. Predikante het daarteen gepreek. Politici het daarvan kennis geneem in die parlement.

      Satanisme is werklik en dis hiér. Wee jou die Broederskap van die Ram met sy gewaande 200 000 lede, wat destyds ’n volle 10% van die wit Suid-Afrikaanse bevolking sou wees.

      Oral in evangeliese kerke is duiwels uitgedryf, soms met noodlottige gevolge. Dis deel van sogenaamde verlossingsbediening (“deliverance ministry”) sodat jy gereinig kan word van die duiwelse geeste, want dis waar al jou probleme vandaan kom.

      Al hoe meer kinders het begin getuig hoe hulle van Satanisme verlos is toe hulle tot bekering gekom het. Daardie gedurige stryd tussen goed en boos. Dit was ’n spirituele probleem, nie sielkundig nie.

      Sulke Sataniste wat “reggekom” het (“recovered”), was nooit self by rituele betrokke nie, maar hulle kon presies vertel wat daar gebeur het. Of hulle was self die slagoffers met ’n fantastiese storie om te vertel. Daar was orgies, massaverkragtings, bestialiteit en bloed. Die polisie het Satanistiese lêplekke oopgekrap met gruwelike detail van skedels en mensvetkerse.

      Satan was daarop uit om die bestaande orde, die beskawing soos ons dit geken het, en Christelike waardes omver te werp. Hy’t oral geskuil. Tienerswangerskappe en dwelms was sy skuld. Ook heavy metal-popmusiek en die Voëlvry-rockbeweging, wat op universiteitskampusse verbied is, was duidelike bewys van Satan se musieksmaak.

      Dalk die mees bisarre van Satanisme, sê die sielkundige Scott Lilienfeld en kollegas, is dat heavy metal-groepe Satanistiese boodskappe in hul opnames ingeglip het. Jy hoor dit as jy die plaat agteruitspeel, en die boodskappe moedig die jeug aan om selfmoord te pleeg.

      Sogenaamde backmasking. Dit het reeds in 1969 begin met die Beatles se liedjies “Rain” en “Revolution 9”.

      Wag, dis heeltemal moontlik om boodskappe te hoor waar daar nie is nie. Die verskynsel het ’n geleerde naam: pareidolie, wat Wikipedia definieer as “’n sielkundige fenomeen waarin die brein op ’n stimulus reageer, gewoonlik ’n beeld of klank, deur ’n bekende patroon waar te neem waar daar nie een is nie”.

      Op dieselfde manier sien ons gesigte in wolke, rotse of op Mars. En dis presies waar die man in die maan vandaan kom.

      Dis deel van ’n ander mite genaamd subliminale boodskappe, wat onbewustelik gehoor word.

      Waarvan niks sin gemaak het nie. Waarom sal kunstenaars die mense wat hul musiek koop, aanmoedig om selfmoord te pleeg? Christenjeuggroepe in Amerika het inderdaad plate verbrand uit protes.

      Satan was in die mistieke, in enigiets Oosters. Oosterse ornamente, selfs Persiese tapyte. Om nie te praat van Boeddhisme en Hindoeïsme nie. Afgodery.

      “Raak ontslae van Persiese tapyte en Boeddha-beeldjies,” het John Gardiner, voormalige tydskrifredakteur, en sy vrou, Helen, geskryf. “Dit nooi net Satan by jou huis in.” Aangehaal deur die Johannesburgse mediakenner Nicky Falkof. Die Gardiners het ook vertel van “Sarah” wat ’n aborsie ondergaan het en toe die fetus moes eet.

      Satanisme het geen perke geken nie.

      En joga. Satan wag net totdat jy joga doen of mediteer, en sodra jy mooi stil word, gryp hy jou siel.

      “Is karate en joga van die duiwel?” het Huisgenoot plegtig gevra in die uitgawe van 10 Julie 1986. En ’n professor van Stellenbosch (F.J.M. Potgieter) het in Die Kerkbode koeng foe bygevoeg. As jy koeng foe beoefen, stel jy jouself oop vir Satan.

      Falkof haal ’n Satanjagter aan wat verdere gevare uitgewys het: Die Sterre Voorspel, toordokters, kettingbriewe, hipnose, kleurterapie, homeopatie, refleksologie, akupunktuur, dagga, alkohol, LSD, slaappille. Flieks soos The Exorcist, Rosemary’s Baby en The Omen, vanselfsprekend verbied deur die sensuurraad. Boeke soos Richard Bach se Jonathan Livingston Seagull, oor ’n seemeeu wat teen konvensies in wou vlieg, en Anton LaVey, stigter van die Kerk van Satan, se standaardwerk The Satanic Bible wat in 1969 in Amerika verskyn het.

      Byna vanselfsprekend was pornografie en homoseksualiteit, spesifiek “lesbiërs”, ook op die gevaarlysie. Nes masturbasie, buitehuwelikse seks, seksuele fantasieë, maar ook “negatiewe emosies”.

      Alles met die komplimente van Satan.

      Die destydse Transvaalse Onderwysdepartement het ondersoek ingestel en ook ’n paar waarskuwingstekens bygevoeg: “Ekstreme rebelsheid, ’n geneigdheid om swart te dra, ’n belangstelling in seks en dwelms, en ’n smaak vir heavy metal-musiek.”

      Dus: doodgewone, normale adolessente.

      Die destydse minister van gesondheid, dr. Rina Venter, het dié tekens beaam en ’n “aversie teenoor Christenskap” bygelas. Die polisie se eie webwerf het 41 tekens uitgewys, waaronder “genderverwarring”, fantasiespeletjies, Gotiese modes en ’n belangstelling in rekenaars(!).

      Ja, hy onthou Satanisme, het ’n jong man aan Falkof gesê, sy beste vriendin op skool was ’n Satanis. Of sy’t probeer om een te wees.

      “Mense het na ons skool gekom en praatjies gelewer oor Satanisme. Sy het dan geluister na wat Sataniste doen en dan’t sy dieselfde gaan doen. Nou nie die moord en seks nie, maar die ander dinge. Sy’t haar arms gesny en met haar bloed goeters op mure geskryf. Al die Sataniste in ons skool het hard probeer om mense te laat glo hulle is bad.”

      Die Sataniste in die skool was ’n grap, maar daar was ’n negatiewe nadraai vir sommige kinders. Hulle is gestigmatiseer en uitgeskuif.

      “Julle speel met vuur, met die duiwel self. Satanisme is ’n misdaad teen die mensdom!” het die destydse minister van wet en orde, Adriaan Vlok, onomwonde verklaar.

      Satan was deel van die kommunistiese aanslag, die Antichris.

      Die SAUK is daarvan beskuldig dat hy Satanisme bevorder met Ghostbusters, Superman en Teenage Mutant Ninja Turtles. Dié beskuldiging het van ’n swart studenteorganisasie in Soweto gekom.

      Satan het die townships bereik.

      Die wit Satan-paniek, skryf Falkof, het min of meer op dieselfde tyd gekom toe daar ’n toename in moetiemoorde en heksery in die townships was.

      Bloemfontein het die eer gekry as die Satanistiese hoofstad van die land. Oos-Londen, Durban, Johannesburg en die Oos-Rand het ook nie agtergebly nie.

      Maar die polisie was reg vir Satan.

      Een van die bekendste Satanjagters was Kobus Jonker, bekend as Donker Jonker of God se Speurder, ’n polisieman en wedergeborene aan die hoof van die polisie se okkulteverwante misdaadeenheid, die sogenaamde “cult cops”. Dié eenheid is in 1992 gestig om