Kinders wat moor. André le Roux. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: André le Roux
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Биографии и Мемуары
Год издания: 0
isbn: 9780624089438
Скачать книгу
in die sielkunde bekend as flat affect. Geen berou of skuld of skaamte nie. Alles vir eie, egosentriese gewin. Ander mense se gevoelens – en lewe – beteken niks.

      Hulle manipuleer om te kry wat hulle wil hê. Oortuigend, en daarom gevaarlik.

      Cecilia was die meesterbrein agter die moorde.

      Meestermanipuleerder.

      “The ultimate manipulation is to kill someone,” het die kliniese sielkundige en psigopaatkenner Martha Stout gesê.

      Die hof het bevind Cecilia is ’n patologiese leuenaar, “’n meesteres van oëverblindery”. Sy was ’n “indrukwekkende” getuie wat selfs onder moeilike kruisondervraging by haar storie van onskuld gehou het.

      Psigopate het nie “senuwees” nie. Hulle is nie angstig nie en bekommer hulle oor min. Hulle voel vere vir gevolge en word nie afgeskrik deur straf nie.

      Cecilia Johanna Steyn het haar vonnis van 13 keer lewenslank plus 155 jaar stil aangehoor, effektief 25 jaar. Sy sal dus in 2044 op 63 kan aansoek doen om parool.

      “Dis lank,” het sy vlugtig aan ’n TV-verslaggewer gesê op pad hofselle toe. Amper vriendelik, amper beleefd, selfs sjarmant. In die hof was haar houding kaatjie van die baan.

      Alles psigopatiese eienskappe. Weg was die suurstoftenk.

      Le Roux Steyn het ’n staatsgetuie geword en is tot effektief 25 jaar gevonnis. Marcel is skuldig bevind aan nie minder nie as 8 moorde en nog 13 verwante aanklagte, waarvoor sy tot 7 keer lewenslank plus 144 jaar (samelopend, dus ook 25 jaar) gevonnis is.

      Deur alles, te midde van al die moorde, het Marcel 6 A’s in matriek gekry.

      Satan-swendelaar

      ’n Ander nooientjie Steyn, Leone Steyn van Roodepoort, het gesien daar’s geld te maak uit Satan.

      Leone was 17 toe sy in 2010 ’n fiktiewe Satanistiese kinderpornografie-netwerk “begin” het. Sy het kamma ’n tehuis bestuur vir kinders wat uit die kloue van dié netwerk ontsnap het – sy ook – en die kinders het vanselfsprekend kos en klere nodig gehad.

      Dink geld, en Cecilia Steyn.

      Op dié manier het Leone kerke, goedhartige inwoners van Roodepoort en ’n aanlyn ondersteuningsdiens (MobieG) oor 3 jaar uit meer as ’n halfmiljoen rand geswendel. Sy het 55 vals profiele op sosiale media geskep van kinders wat hulp nodig gehad het. Van die kinders het sy laat selfmoord pleeg om simpatie te wek.

      Die kinders het vertel van ontvoerings, Satanistiese rituele en selfs moorde, die seksuele mishandeling.

      Dit het sowat 300 beraders, almal vrywilligers, besig gehou. En getraumatiseer weens die “selfmoorde” wat hulle nie kon keer nie.

      Leone is eers in 2016 aangekeer. In die hof is haar geestesgesondheid betwyfel en sy is vir sielkundige waarneming gestuur. Sy is in psigopatiese terme beskryf as genadeloos, manipulerend en inherent gewetenloos.

      Sy het ’n opgeskorte vonnis van 5 jaar gekry en is onder huisarres geplaas.

      Morné Harmse

      ’n Spook het vir hom gesê hy moet ’n Satanis word en Satan het gesê hy moet mense aanval.

      Op die oggend van 17 Augustus 2008 het Morné Harmse, ’n tingerige matriekseun, ’n masker op sy gesig gesit – soos die masker van Corey Taylor, die hoofsanger van die heavy metal-groep Slipknot – en op ’n moordtog gegaan by sy skool, die Nic Diederichs Tegniese Hoërskool, in Krugersdorp.

      Krugersdorp. Satan-wêreld.

      Morné was 18.

      Hy het een leerder, Jacques Pretorius (16), se nek-aar noodlottig met ’n samoerai-swaard (katana) van 60 cm afgekap en nog ’n 18-jarige leerder asook twee tuiniers wat wou help, ernstig gewond. Hy het nie sy slagoffers geken nie.

      Alles was verby toe hy daarna op ’n muurtjie gaan sit en die swaard in die grond langs hom druk. Nog drie swaarde is in sy skoolsak gevind. Sy pa het die swaarde ’n paar jaar gelede vir hom gekoop.

      Minstens drie van sy vriende het geweet van die aanval wat kom. Hulle het dit saam beplan. Hulle wou iets doen wat “indrukwekkende gevolge” sou hê. Maar die drie vriende was nie ernstig nie. Morné het besluit om alleen voort te gaan.

      Toe die skoolklok lui, het hy gereed gemaak.

      “Ek het my gesig swart gesmeer, een van die maskers opgesit, die Slipknot een, twee swaarde in my gordel gesteek en nog een in my hand vasgehou. Ek het handskoene aangetrek en elmboog- en knieskerms vasgegespe.”

      Hy het 18 maande tevore na Slipknot se musiek begin luister.

      ’n Groep maats het hom genader en begin lag.

      Toe swaai Morné die swaard en tref Jacques teen die nek.

      Vyf dae ná die moord het sy ouers, Machiel en Liza, ’n ope brief aan Beeld geskryf waarin hulle sê hul kind was stil en altyd op sy plek. Hy is egter klein en maer vir sy ouderdom en is daarom dikwels deur boelies in sy vormingsjare verkleineer. Hulle is ’n streng maar hegte en liefdevolle gesin wat hom teen die boelies probeer beskerm het.

      Sy ouers het gevra mense moet hulle asseblief nie oordeel nie. Hulle het tot daardie Maandagoggend nooit kon dink hy is tot so iets in staat nie, skryf hulle in die ope brief. Hulle het nie besef watter impak die fisieke en emosionele mishandeling op hom gehad het nie.

      Verontskuldigend, veral die pa.

      Toe sy ouers hom die vorige dag in die tronk besoek het, was hy baie deurmekaar en kon feitlik niks van die voorval onthou nie. Hy het gesê hy het magteloos en waardeloos gevoel en hy wou vir homself opstaan. Hy wou “iemand” wees. Hy wou “hulle” wys, maar dit was nooit sy bedoeling om iemand dood te maak nie.

      Sy ouers dink sy betrokkenheid by Satanisme het aan hom ’n mate van beskerming gegee.

      “Toe ek die masker opsit, het alles doodstil geword en my liggaam het beweeg. Ek wou stop, maar ek kon nie.”

      Morné het self die maskers gemaak, een met die gesig van ’n nar.

      Hy is na die Sterkfontein-hospitaal vir waarneming verwys waar psigiaters bevind het hy is bevoeg om verhoor te word. Hy het skuld beken, maar volgens die staat het hy geen berou getoon nie. Die hof het dit versagtend gevind dat hy “onvolwasse” vir sy ouderdom was, volgens ’n maatskaplike werker en sielkundige.

      Die hof het ook ’n ander storie as dié van ’n “liefdevolle” gesin gehoor. Morné se verdediging het aangevoer hy kom uit ’n disfunksionele gesin met ’n geskiedenis van gesinsgeweld. Hy was bang vir sy pa wat hom gereeld geslaan het, het ’n sielkundige gesê.

      Hy was “’n gekompliseerde persoon wat in ’n droomwêreld geleef het” – waarin Satan vir hom gesê het om mense aan te val.

      Die Satanjagter Kobus Jonker het ook in die saak getuig en het aan Vice gesê hy’t Morné uitgevang: Hy’t in sy dagboek geskryf oor sy planne, wat beteken daar was nie ’n demoon in hom nie, want demone beplan nie. Hulle tree impulsief op.

      Daar was ook ’n kinkel wat met die Krugersdorpse afspraakmoorde aan die lig gekom het. Cecilia Steyn se nommer is op Morné se selfoon gekry. Dit het geblyk hy het berading by haar ontvang om hom van Satan te verlos.

      In September 2009 is Morné tot 20 jaar tronkstraf gevonnis.

      3. Bevoorregte jong moordenaars

      Die gemene delers wil dit laat klink asof die moorde die ouers (of Satan) se skuld was.

      Maar dink ook aan Don Steenkamp, wie se huislike lewe volgens alle aanduidings gelukkig was, die Waterkloof-4 en Henri van Breda, wat oënskynlik bevoorregte rykmanseuns was.

      Don Steenkamp (1)

      Op Goeie Vrydag van die Paasnaweek in April 2012 het Don Steenkamp sy ouers, Deon (44) en Christel Steenkamp (43), asook sy suster, Marthella (14), op hul plaas buite Griekwastad doodgeskiet. Hy is ook skuldig bevind