Kinders wat moor. André le Roux. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: André le Roux
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Биографии и Мемуары
Год издания: 0
isbn: 9780624089438
Скачать книгу
verduidelik hoe Satanisme nou eintlik werk. In die saak teen Angelique Orsö en Lawrence van Blerk, wat haar ma met ’n braaipan doodgeslaan het, het regter D.M. Williamson inderdaad – verstommend – “aanvaar dat mense deur duiwels besete kan wees”, maar hy was nie oortuig dat dit hier die geval was nie.

      Die geloof in Satanisme was sterk genoeg dat selfs die regbank die moontlikheid erken het, sê Falkof.

      Jonker het daarop aanspraak gemaak dat hy 19 moorde, 6 verkragtings en 4 roofsake in die 5 jaar voor 1994 positief met Satanisme verbind het. Hy het glo 500 sake ondersoek en 114 mense gearresteer. Sonder om te sê hoeveel hiervan in die hof beland het of op watter aanklagte.

      Hy het wel gesê 45 Sataniste is die afgelope 3 jaar skuldig bevind op klagte wat wissel van sodomie tot verkragting. Hy het ook Satanistiese selle in ryk buurte in Bloemfontein en Pretoria oopgevlek, laasgenoemde die kinders van hoë staatsamptenare en predikante. In Bloemfontein het hy ’n kers ontdek wat van mensvet gemaak is, maar hy’t erken hy’t nie die liggaam gekry nie.

      “Ek glo die duiwel bestaan,” het hy in die polisietydskrif Servamus geskryf, “want ek het dinge sien gebeur. Ek het ’n vrou gesien wat reg in my teenwoordigheid aangeval is deur ’n demoniese wese.”

      Snye het skielik op haar arm uitgeslaan en ook die duiwelse getal 666.

      Dit was nie ’n geïsoleerde geval nie. Hy’t dit herhaaldelik gesien. Daar was ook die 11-jarige meisie in KwaZulu-Natal, het hy in 2010 aan die aanlyn tydskrif Vice vertel. Terwyl ’n pastoor vir die meisie gebid het, het verskillende stemme by haar keel uitgekom en bloed het by haar borste uitgespuit. ’n Rukkie later het ’n string miere skielik by haar tepels uitgeloop.

      “Miere?”

      “Ja, miere. Toe hou dit skielik op, maar toe klim daar ’n klein waterskilpadjie by haar naeltjie uit. Van die ander pastore in die vertrek het weggehardloop.”

      ’n Klein waterskilpadjie?

      Jonker erken hy sou dit ook nie geglo het as hy dit nie self gesien het nie.

      Oral in sy studeerkamer was Satanistiese snuisterye, “bewyse”, soos hy dit genoem het. Hy het nie geskroom om vir ’n foto te poseer met ’n afgeslagte kat wat hy aan die nekvel soos ’n trofee omhoog hou nie. Jonker het vertel hoe een van Eugène Terre’Blanche se lyfwagte (hy was ’n Satanis, die lyfwag) aan hom gesê het wat hulle met katte doen, swart katte.

      “Hulle bind stokke tussen die kat se bene vas sodat dit nie kan beweeg nie, sit die kat op ’n altaar en dan …” In Port Elizabeth het daar in ’n stadium meer as 60 katte in een area weggeraak, het hy vertel.

      Nog meer bisar was Jonker se aanspraak dat hy eenkeer die tokkelossie gesien het …

      Dit was in Venda, het hy aan Vice vertel, op die plaas van ’n welgestelde familie waar die tokkelossie elke nag ’n jong meisie verkrag het. Daar was geen plaasdiere nie. Die diere het weggetrek. Buite die plaashuis het uitgebrande klere oral op die grond gelê, want elke keer dat die meisie haar klere wil aantrek, slaan dit aan die brand.

      Jonker het ingegaan en begin bid vir die meisie wat op ’n bed gesit en ’n lemoen geëet het.

      Hy vertel: “Ná sowat 20 minute het ’n deur langs my oopgegaan en ’n klein mannetjie, soos ’n dwerg, het na my toe gehardloop. Hy was ’n ou swart man en het oormatig gesweet, al was dit ’n koue dag.

      “Ek het gesê: ‘Wat maak jy hier? Kan ek jou help?’ En hy’t in ’n growwe stem geantwoord: ‘Ek wil haar help.’

      “Ek het vir hom gesê hy moet loop, want ons is besig. Hy’t gegrom en geloop. Niemand op die plaas het geweet wie die kort mannetjie was nie en niemand het hom sedertdien weer gesien nie.”

      Hy was ’n fisieke mens, nie ’n spook of gees nie. Hierna het die nagtelike verkragtings opgehou en die plaasdiere het teruggekeer.

      Nee, Jonker het nie gesê of die tokkelossie Afrikaans gepraat het nie …

      Dinge kan erger raak.

      Pasop vir 30 April, die belangrikste datum op die Satanistiese kalender, het Jonker gewaarsku. Dis Walpurgisnag wanneer menslike offerandes wêreldwyd gebring word, gewoonlik babas en kinders, deurboor met seremoniële dolke.

      Dit “verklaar” die onverklaarbare verdwyning van kinders. Ouers is gewaarsku om nie hul kinders alleen skool toe te laat loop nie. Ouers in Port Elizabeth, Oos-Londen, Durban, Bellville en elders in die Wes-Kaap het hul kinders uit die skool gehou.

      Dis hier waar die naam van die land se bekendste pedofiel ook opgeduik het. Gert van Rooyen was ’n Satanis wat skoolmeisies ontvoer het vir Satanistiese rituele, het sy seun Flippie vertel. Dit verklaar hoekom die meisies nooit gevind is nie. Maar geen bewyse is hiervoor gekry nie en Flippie, wat reeds in die tronk was weens moord, is ’n verdere vonnis opgelê vir meineed.

      Daar was net een probleem met al hierdie Satanistiese aansprake. Dit het nie gebeur nie. Wêreldwyd kon nog nooit enige bewyse daarvan gevind word nie. (Sien, dit wys jou net hoe goed hierdie duiwels is, hulle laat geen spoor na nie, babas word huidjie en muidjie opgeëet!)

      Dis ’n kenmerk van Satanistiese moorde dat dit nooit liggame oplewer nie. En waar daar liggame is, is dit bloot moord onder die vaandel van Satanisme ter verdediging en versagtende omstandighede, wat howe gewoonlik nie aanvaar nie.

      Met die verminking van Michael van Eck se liggaam het Chané van Heerden en Maartens van der Merwe van Welkom dit kennelik te ver gevoer, psigopaties onder die dekmantel van demone.

      Werklike Sataniste is nooit gesien, gehoor of in hegtenis geneem nie. Al wat sigbaar was, was naïewe, opstandige kinders in swart klere. Sataniste was net te vinde in die argiewe van tydskrifte en koerante, skryf Falkof. ’n Kulturele histerie teen die agtergrond van maatskaplike onsekerheid, politieke woelinge en ’n nasionale identiteit onder beleg in die laaste dae van apartheid.

      “Satanisme was ’n morele paniek rondom ’n bedreiging so fantasties dat geen bewyse van die bestaan daarvan ooit aangeteken is nie.”

      Toe, teen die 1990’s, het die duiwel teruggegaan van waar hy gekom het. Dit was die einde van die bisarre dwaasheid in Suid-Afrika. Almal was verniet so op hol.

      En adolessente kon weer adolessente wees.

      Glad nie so lank gelede nie, in die boekjaar 2014–’15, is nog 21 speurders opgelei om okkulteverwante misdaad te bekamp.

      Reeds in 2012 het die polisie in ’n memorandum voorbeelde genoem: Van heksery, insluitend towery, vervloeking en voedoe, vampirisme, poltergeeste (“onverklaarde aktiwiteite deur ontwrigtende paranormale entiteite”) en aantygings van verkragting deur die tokkelossie.

      Marcel Steyn en die Krugersdorpse afspraakmoorde

      Dit was toe nie die einde van Satan nie. Eintlik was hy nooit weg nie.

      Die demone was terug.

      Hulle gooi jou teen die vloer en laat jou kerm soos ’n kind. Daar’s bloed in jou mondhoeke. Dan vat die ander oor …

      Daar is meer as honderd “ander”. Jy gaan lê net op jou rug, maak jou oë toe, dan kom hulle vir jou. Lily, die een wat jou vervloek (en ook Maartens van der Merwe van Welkom besoek het). Daphne, die een wat graag kosmaak. Die bose Akeshia. Maar met ’n ander enetjie, die 3-jarige Anja, kan jy alte lekker speel en inkleur.

      Cecilia Steyn (toe 35) van Krugersdorp aan die Wes-Rand was die baasbrein agter die sogenaamde Krugersdorpse afspraakmoorde. In 2018–’19 is in die Johannesburgse hooggeregshof aangevoer sy kon verskillende persoonlikhede aanneem, sogenaamde dissosiatiewe identiteitsteuring, nes Angelique Orsö se “meervoudige persoonlikheidstipes”.

      Maar Cecilia Steyn het goed geweet wie Cecilia Steyn is. Geldgierige kultusleier, rampokker, bedrieër, bomplanter, dief en reeksmoordenaar.

      Tussen 2012 en 2016 het altesaam 11 mense hul lewe deur haar verloor. Ses lede van die Overcomers Through Christ Ministry (OTC), die kultuskerk, is aangekeer. Hulle sou afsprake maak met eiendomsagente