Hoe hou celebrities dit? Al daai lyfwagte! Buitendien kom hulle net na die nuwe Yamaha-motorfiets van Chang se neef Hai kyk. Dis mos oukei? Chang is ’n skoolmaat. Dis nie asof ’n kernoorlog hier gaan uitbreek nie. Regtig?
Tien minute, dan klap hy ’n toon, belowe hy homself, dan snol hy en Karlien huis toe, terug in die swembad in. As hy nóg ’n preek moet aanhoor, gaan hy kots. Dalk kan hy en Karlien aangaan waar hulle vroeër vanmiddag opgehou het.
6
Grens tussen Zimbabwe en Zambië,
einde November
O hel! Waar’s Bossie? Flippit! Bossie?
Paul draai sy oë soos ’n trapsuutjies, probeer sy kop stilhou. Bossie móét hier iewers naby wees. Of nie? Waar is hy? Bossie?
Niks.
Helsems! Reg van voor af kom Donker en Konkel aangedrentel, asof met vakansie.
Sy hart sit in sy keel vas. Bossie is nêrens! Wanneer hy hom die nodigste het, is hy ’n lugleegte. Paul voel sy asem jaag, sy hande bewe. Nee, hy gaan nié vandag uitfreak nie.
Kalm soos ’n daggawalm, Paul! Die Rudmans maak planne. En Bossie sal hom nie drop nie. Dit kan net nie. Bossie moet iewers tussen die digte plante wees, al sien hy hom nie. Hy haal … probeer diep asemhaal.
Die lug ruik na groen, na nat en diep in die groen, angs.
Donker en Konkel is nou so twintig meter van hom af.
“Nie naby die afgrond nie. Nie naby die afgrond nie.” Paul draai effens uit na links sodat dit lyk asof hy vir die twee wat van voor af kom, plek maak. Hy gaan staan stil om kamstig na die reënboog te kyk. Bossie moet net naby wees. Anders is hy geskiedenis.
Vir een sien hy dalk nog kans, maar nie vir twee Kung Fu’s nie.
Sy spiere span styf. Reg vir aksie. Sy hande is opgetrek in die reënjas se lang moue. As hy tog net ’n jaggeweer gehad het! Hy is keelvol vir die klomp sluwe, moorddadige kriminele, vir vrees en heeltyd oor sy skouer kyk. Per slot van rekening is hy die onskuldige party. Hoekom moet mens altyd pens boontoe gaan lê wanneer jy niks verkeerd gedoen het nie, ordentlik wees, terwyl die kriminele jou probeer uithaal?
Konkel gee ’n vinnige tree vorentoe, ruk sy regterarm op. Sy vuis suis deur die mis. ’n Hamermeul in volle vaart, ’n stormram. Maar Paul het gekoes, en Konkel se nat vuis suis by sy oor verby, gly rakelings oor die nat van sy reënjas se skouer.
Moroon, het jy miskien gedink hier staan “duh” op my voorkop? Paul spring agtertoe om Donker se kappende oop hand te mis.
Amper!
Bossie, waar die hel is jy?
Donker hip-hop nader, reg vir aksie. Sy oë is koud. Bokant sy regteroogbank lê ’n dik litteken. Meslem?
Die reënwoud verstil. Of is die suising in sy kop bloot oorverdowend? Donker en Konkel beweeg saam in, op tien voor twee.
Paul se asem brand in sy keel. Hoe lank kan hy nog duck en dive? Waar is Bossie? Of selfs die klomp Britte?
Here, help!
’n Sopnat skaduwee kom van agter ’n hoë boom te voorskyn, asof hy gestuur is.
Konkel kreun toe die hou hom op sy gorrel tref. Hard genoeg om ’n gat in ’n Israeliese tenk te maak, hard genoeg om Konkel die hiernamaals in te stuur. Miskien kan hy met mediese hulp nog gered word?
Maar Bossie verskaf die mediese hulp, sý styl.
Konkel verdwyn oor ’n lendelam paaltjiesheining so kuithoogte; oor ’n klomp doringtakke; oor die rand van die afgrond en val sy moer suur. Touloos bungee hy, sonder sy medewete of toestemming. Selfs al wou ’n engel hom red, is hy nou krokodilkos.
Bossie se motto: almal moet eet.
Paul ril.
Dan is Donker op hom. Die Kung Fu-voet in aantog maak kontak met die mes in Paul se hand. ’n Skokgolf trek deur sy elmboog. Donker skel in sy befoeterde, afgekapte Chinees. Kantonees. Whatever.
Die paadjie word rooi. Die mes het Donker in die kuit getref, sien Paul aan sy stukkende swart broek.
Kry vir jou!
Die bloed word deur die sagte reën verdun, was weg. Donker hinkepink, maar staan reeds nader vir die volgende ronde. Paul lig die Gerber-mes waaroor hy eers ongemaklik was, maar alles in die heelal is onderworpe aan verandering wanneer jy moord in iemand se oë sien. Go, Gerber!
Skielik lig Donker se voete van die grond af op, bly hy in die lug hang. Sy oë bult, sy gesig ’n diep kersierooi. Hy gryp na die stuk rankplant om sy nek, skop na Bossie se bene agter hom. Maar Donker is kort. Hy woer-woer soos ’n insek in ’n web, maar maak nie waves nie.
Bossie trek die rankplant styf. Gooi Donker met mening op die grond neer.
Donker begin rol om weg te rol. Hyg. Blaas. Stik. Hoes.
Bossie keer Donker se rolbeweging. Hy lig en laat sak sy hand in ’n kapbeweging, verenig dan ook Donker se gorrel met sy nekwerwels. Nog ’n veranderlike buig voor die Wet van Bossie.
“Vat onder.” Bossie kyk gou links en regs: “Oukei, Paul, lig!” Paul lig Donker aan die voete op. Hy dink nie, reageer net. Bossie het die man aan die bolyf beet. Saam-saam help hulle hom om by sy tjomma uit te kom.
“Swaartekrag wen altyd in ’n vryval, tjom,” mompel Bossie en vee sy hande aan sy broekspype af.
Nat hande teen natter broekspype. Hier is die trappe van vergelyking: nat, natter, Vic Falls.
Bossie kyk links en regs en loop dan ’n ent in die paadjie op. Paul verstaan, stap in die teenoorgestelde rigting, kyk rond. Niks. Hulle ontmoet weer in die middel.
Paul se gehoor keer stadig terug. Sy voete sit in ’n nagmerrie vas. Sy bene is lood.
Bossie tree agter ’n klomp varings in en tel sy reënjas op. Die water loop in straaltjies in sy nek af en onder sy sopnat baadjie in.
“Hoekom het jy dit uitgetrek?” Paul beduie na die reënjas. “Jy’s papnat.”
“Want dit girts-girts,” antwoord Bossie. “’n Dowe kan jou doer hoor aankom met klere wat so raas.”
Bossie blaas asem uit en vryf sy hande teenmekaar. “Kom ons gaan kry wegneemkoffie. Dan moet ons padgee, oor die grens.”
Paul se beenspiere stoei teen iets diks soos stroop. Hy lig sy voete stadig, doelgerig. Sy maag het opgeskuif boontoe en baklei nog teen sy hart vir spasie.
Jip, hulle moet hier weg.
Hy kyk weer op in die paadjie, dan anderkant toe. Hy sien geen toeriste nie, dis skoon.
Dis gelukkig nóg nie skoolvakansie nie, dus is hier nie tonne Suid-Afrikaanse besoekers nie. Droë seisoen is Mei tot Oktober. Dis wanneer almal wat deur die wildlewe begeester is, hier rondry. Desember tot April is groen seisoen. Reënseisoen. En hulle is hier aan die einde van die droë seisoen, November se heel laaste stuiptrekkings. Die eerste reëns het reeds begin.
Gelukkig geen ooggetuies nie.
Toe Bossie netnou in Vic Falls se parkeerarea afgedraai het, het Paul nogal gehoop om in Devil’s Pool te gaan swem. Devil’s Pool is op die randjie van die Val. Sick! Net vóór die water honderd meter ver oor die afgrond donder. Tuis het hy dit ge-YouTube.
Wie sou dit die eerste keer ontdek het? En hoeveel mense is al saam met die water oor die afgrond?
Donker en Konkel het alles befoeter. Niks Devil’s Pool vandag nie. Hy hoop die krokodille eet lekker. Lipleklekker.
Flippen twee Kung Fu spoil sports.