“Bossie, come on. Do you think I’m stupid? Where are they?”
“Ek kan jou aflaai om hulle te gaan soek as jy wil, maar ek wag nie,” antwoord Bossie. “Ons wil gaan vlieghengel.”
Adriaan grawe net in die koelhouer, ruk ’n pak wine gums onder ander kos uit en pluk die pakkie oop. Met mening.
“Zambië, hier kom ons! Yeah!” sê Paul kamma vrolik en kyk na die bome wat verbyskuif.
Karlien kyk op, maar reageer steeds nie.
Adriaan lyk soos ’n renoster. Een met tandpyn. Hy prop nog vier wine gums in en skud net sy kop. Sy kieste bol. “Really? You’re seriously underestimating my intelligence, Bossie,” mompel hy by die wine gums verby. Dit lyk of hy enige sekonde ’n aar gaan pop.
“Nes jy wil,” antwoord Bossie. Min gespin.
“Hou op kerm en gee daardie wine gums hier.” Paul het suiker nodig om die lamgeit uit sy bene te verdryf. Hy’s nie gebou vir sulke recce-sports nie.
Adriaan gooi die pak lekkers vir Paul. Befoeterd se moses. ’n Paar val uit en land op Paul se skoot. Paul tel hulle op en druk almal in sy mond. Bossie kyk so skuinsweg na hom. Iets laat hom dink dat Bossie geamuseerd is.
Paul hou die pak vir Bossie wat net kop skud – en gee dit dan weer vir Adriaan aan. Adriaan hou die pak vir Karlien, maar sy skud ook net haar kop.
Dit gaan ’n flippen miserabele trip wees en hy het só uitgesien daarna totdat sy pa aangebied het dat Adriaan en Karlien saam kan kom …
Regtig? Hoe opwindend!
Ten minste is dit nie net hy en Karlien nie. Of hy en Adriaan nie. Dank die hemele vir Bossie.
Vir Adriaan het hy amper minder tyd as vir Karlien. Vieslike verraaier wat sy kans waargeneem het met Karlien.
Hy kyk om. Adriaan het klaarblyklik nog ’n hand vol wine gums in sy mond gedruk. Sy kake maal. Woede? Of frustrasie? Proe die rugsteker ooit wat hy kou, of kou hy net omdat hy Bossie nie met ’n vuis kan pot nie?
Hy ken nie nog ’n mens wat kan eet soos Adriaan nie. Flippen ruspe. Een met ’n vreeslike soettand.
Donker en Konkel! Móés hulle nou ook kom skoor soek het? Asof hy nie reeds genoeg nagmerries het nie. Dis ’n friggin’ mislike selfmoord-sending, en met Adriaan en Karlien in die voertuig, is alles opgefoes. Heeltemal totaal en al opgeneuk.
Hy moet net keer of hy kou sy polse van frustrasie af.
9
Bloemfontein,
laat Oktober
Dis onwettig, dit wéét hy. En wreed. Boos.
Pokerface, Paul, maan die stemmetjie in sy kop. Anders is hy voor die einde van die dag wurmkos. Ses voet onder. Pushing up daisies.
En dít rock nie. Nie op sestien nie.
Paul sluk-sluk aan die knop in sy keel, maak die Ouma-beskuitboks toe en sit dit terug op die kas. As hy nóú iets sê, gaan Hai aan sy stem agterkom dat hy twee en twee bymekaar gesit het. Hy probeer lyk soos ’n tiener by ’n vioolkonsert, proe aan sy koffie en draai om. Omdat hy bewe, hou hy die koffiebeker in albei hande vas. Sy hande brand, maar hy ignoreer dit en konsentreer net op stadig asemhaal, op nie die plot verloor nie.
“Not sure who baked these rusks but I think it might have been in the previous century. Not kosher.” Hy hoop Hai val vir sy act. “I suggest, you toss them.”
Karlien steek haar hand na die beskuitboks uit: “Laat ek sien, Paul,” giggel sy.
“Nope, Noag het dit van sy skip afgesmyt. Like seriously yesterday. En dit ruik soos versteende dinosourus. Jy wíl dit nie oopmaak nie.” Paul neem die beskuitboks uit haar hand en bêre dit weer.
“Sies vir jou, Paul,” kla Karlien.
Paul skud sy kop net effens. Rol sy oë, hoop sy vang die boodskap.
“May I rather have a banana, please, Hai?” vra Paul.
“Yes, sure.” Hai kyk skerp na Paul. Sy swart oë flits agter swaar ooglede. Chang se neef is beslis nie onder ’n kalkoen uitgebroei nie. Paul sien die agterdog in sy oë.
“Paul is always hungry. He eats like a lion,” lag Chang vir sy eie grappie, onbewus van die skielike spanning in die lug. “Only Adriaan eats more than Paul,” spot Chang met Adriaan wat ’n pak jelly babies beetgekry het.
Adriaan grinnik net.
Paul sit sy koffiebeker op die kombuiskas neer, neem ’n piesang uit die bont vrugtebak op die kas en trek die skil af. Hy vat ’n hap, al is die honger wat hom na die swem vroeër vanmiddag beetgepak het, net so skielik weg soos dit gekom het. Die piesang proe soos ou velskoene. Dinosaur dung. Dit word dik in sy keel, wurg hom. Hy sluk. Sluk weer. Probeer dit binnehou. Hy vat die laaste hap en sluk so vinnig moontlik.
Hy mag nie naar word nie.
O, dis al die tyd sý hande wat so ruik, nie die piesang nie. Dit ruik na iets tussen sout en oud. Gedroogde dodo.
Vir wat moes hulle nou juis vandag na die blerrie motorfiets kom kyk het?
Hy stap na die wasbak toe, gooi Sunlight Liquid op sy hande, altans seker die Chinese weergawe. Die skrif op die bottel is onverstaanbaar. Hy draai die kraan oop en was sy hande hard en met mening.
Hy draai om, vee sy hande aan sy broek af en kyk op.
Karlien frons.
Paul gryp sy leë koffiebeker op die kombuiskas en dra dit wasbak toe. Hy sit die beker in die wasbak neer. Hy gooi die piesangskil, wat langs die koffiebeker gelê het, in die vullisblik en was sy hande nog ’n keer.
Toe hy omdraai, is Hai se oë steeds op hom.
“Anyway, thanks for the coffee, Hai. I have to go, girls,” sê Paul vir Chang en Adriaan. “The Maths teacher hates us and kills us with homework..”
Chang grinnik net: “You staying, Adriaan?”
“Nope. I also have to go struggle through Maths. See yah.” Adriaan skuif sy bril hoër teen sy neus op, gee ’n tree in die rigting van die deur.
Nog ’n man stap die kombuis binne, net toe Paul hom uit die voete wil maak. Chang stel hulle voor aan Yi, Hai se huismaat. Die derde huismaat is Ju-Long, vertel Chang, maar hy is tans in die Kaap. Ju-long het ’n invoer- en uitvoerbesigheid, verduidelik Chang.
Regtig? Wie gee om? Hulle kan haaie leer hekel sover dit hom traak. Hy moet hier uit.
Voordat hy iets verklap.
“Bye, guys,” sê hy. Klink hy darem vriendelik, of net benoud? “Very nice to have met with you.” Hy is reeds naby die voordeur. “If I don’t hit the road now, I’ll be grounded for all eternity.”
Meer ongeduldig: “Kom Karlien. Ons maak spore. Roer jou gat, Adriaan. Ek’s haastig.”
Hai begin om iets vir Yi te sê. Hy praat Chinees, of so neem Paul aan. Dit kan seker Hebreeus ook wees. Dis nou as Hebreeus bestaan uit kort, harde, afgekapte klanke.
Hai se stem is skerp. Hard. Dit pas nie by sy ronde gesig nie. Ook nie by sy breë glimlag van vroeër nie, die glimlag wat intussen heeltemal verdwyn het. Hai staar na Paul en kyk skielik na Chang, bly dan stil en glimlag soos ’n leeu wat bok ruik.
“Okay, chat soon. See you tomorrow, Chang.” Paul is haastig om by die deur uit te kom.
Toe Chang die motorhek agter hom toemaak, sug Paul verlig. Hy forseer hom om rustig en stadig tot by die hoek te stap, totdat hy seker is dat niemand hulle van Hai se huis af sal kan sien nie.
“Wat’s fout, Paul?” wil Karlien weet.
“Hel, Paul, maar jy’s flippen ongeskik. Eers vertel jy die mense hulle beskuit is vrot,