Hy’s nes ’n ou vrou met ’n nat broek. Maar hy haal darem vir homself ’n Fanta uit die koelboks wat tussen hom en Karlien op die agtersitplek staan, al is hy kamstig karsiek. Hoekom de hel sou jy Fanta drink as jy karsiek is?
“Verkeer voor,” antwoord Bossie. “Nee, ons kan nie verby nie.”
Dan is daar skielik verkeerstekens in die pad. Veertig kilometer per uur, wys ’n bord. Dan nog ’n bord: twintig kilometer per uur. Die trok voor hulle trek van die pad af. ’n Verkeersbeampte met ’n AK-47 oor die skouer bekyk die trok en stap dan na die bestuurder se ruit toe.
“Yes!” sê Adriaan. “Give him a fine. A massive one. Hy flippen wil mos.”
Paul voel net so, maar bly eerder stil as om met Adriaan oor enigiets saam te stem. Na die Karlien-kwessie bly hy wonder of hy hom ooit weer sal kan vertrou.
Nog ’n verkeersbeampte beduie Bossie moet intrek langs die verroeste blou trok, wat Adriaan se moer so koer.
Paul hou asem op. As hulle vandag die Landie deursoek, slaap hulle almal in die tronk. Sy maag begin kramp. Dit voel asof hy nie genoeg suurstof kry nie. Hy maak die paneelkissie oop, gooi ses Rescues in sy linkerpalm en gooi al ses tegelyk in sy mond. Sy hande bewe.
Die verroeste blou trok wat hulle heelpad opgehou het, vertrek weer. Sonder probleem.
Flip, dit was maklik. Paul sug, glimlag.
Nee wat, dan stres hy seker verniet. Hopelik. Sy sielkundige sê vrees lê in die toekoms, behalwe natuurlik as daar ’n leeu in die teenwoordige tyd reg langs jou staan, maar die meeste van ons vrese is toekomsgebaseerd. En daarom is stres ’n oefening in futiliteit.
Hah, blerrie hah!
Want die meeste van die tyd het ons geen beheer oor die toekoms nie. Sê sy shrink. Maklik om te praat. Put your money where your mouth is, wil hy vir haar sê. Hy sal like om haar in sý skoene te sien, te sien hoe ver sy in sy skoene kan loop voordat sy heeltemal uitfreak.
Chill, Paul. Roetine-padblokkade, moenie spoke opjaag nie. The power of positive thinking. Doelbewus haal hy stadiger asem. Hy laat sy hande op sy bobene rus sodat hulle ophou bewe. As die verkeerspolisie daai stuk blik op wiele verder kan laat ry, kan daar mos nie vir hulle enige probleme wees nie? Die Landie is ten minste ’n netjiese voertuig, padwaardig – selfs al is dit lankal nie meer die nuutste Land Rover op die mark nie.
“Your licence, please, sir?” glimlag die vet verkeersbeampte van agter sy donkerbril. Polo. Hy’t ’n Cartier-horlosie om die linkerpols en ’n AK oor die skouer net om sy voorkoms af te rond. Perfectly accessorised. Eat your heart out Dolce & Gabanna.
Hopelik het Mikhail Kalashnikov sakke vol geld uit Afrika se uitverkore masjiengeweer gemaak. Of dalk nie. Onder die destydse kommunistiese regering, het die arme drommel waarskynlik sy gat af gewerk vir boggerol. Kalashnikov het die AK-47 glo vir die Russiese weermag ontwerp, maar Paul sal sy beste vlieghengelstok verwed dat daar meer AK’s in Afrika is as in die res van die heelal.
Daar is nat kolle onder die fashion-conscious cop se arms en sweet loop in strale langs die vetrolle in sy nek af, want die humiditeit is hoog. Die beampte glimlag vir Bossie, gee sy lisensie vir hom terug en waggel dan om die Landie. Hy kyk eers op die Cartier om sy linkerpols, spoeg in die gras en bestudeer dan die voorruit aandagtig.
Sy uniform het in die was gekrimp, of sy nommer was uitverkoop, of miskien kan die fabriek nie sirkustente vervaardig nie. Hy waggel-roei terug om die Landie. Swaartekrag is ’n bogger.
Hy kom staan weer by Bossie se oop ruit: “Licence disk in order. Passports please?”
Bossie gee almal se dokumentasie deur die oop venster aan.
“You know that I have to give you a fine, sir?” glimlag hy vir Bossie en skuif die AK-47 effens.
“Why?” Bossie klink nie regtig verbaas nie.
“It is against the law to have a cooler box on the back seat.”
“Ooooh.” Bossie se wenkbroue lig net. “Really? I wasn’t aware of that.”
“Yes,” glimlag hy dat jy net tande sien – en skuif weer aan sy geweer. Die ding raak seker na ’n ruk swaar. Óf dalk probeer hy ’n statement maak. Die man se duim is ’n redelike fris hoenderboud, sy hand ’n jong kalkoen. “Unfortunately, sir.”
Hy ruk ’n dokument met ’n amptelike stempel uit sy sak en hou dit onder Bossie se neus.
“But—”
“Sharrap, stupid,” sis Paul deur sy tande vir Adriaan.
“How much is the fine?” vra Bossie onverstoord.
“Twenty dollars,” glimlag Walrus, terwyl hy sy blinknat voorkop met ’n vuilwit sakdoek afvee. “US, of course.”
Bossie hou sy hand na Paul uit, palm na bo. Paul druk ’n Amerikaanse noot in Bossie se hand.
Paul sug, grinnik in sy binneste. Dis ’n slim kêrel dié. Vir seker ken hy die verskil tussen US en Zim dollars.
Die verkeersbeampte glimlag, gee vir Bossie ’n strokie deur die oop ruit aan en beduie hulle kan maar ry.
“Blerrie hel.” Paul kyk na die blou trok, nou weer voor hulle in die pad, wat sonder boete rustig verder skommel en skud. Agter op die bak is ’n klomp gehawende meubels gestapel. ’n Paar uitgerafelde toue hou die klomp bymekaar. Heel agter op die bak is ’n verslonste ou rusbank. Paul sien stukke spons by die vaalgroen rugleuning uitsteek.
Die twee kindertjies met loopneuse agter op die rusbank draai om en waai vir hulle.
Paul waai terug.
4
Net voor die grens tussen Zimbabwe en Zambië,
einde November
Paul verwonder hom aan die groen. Hoeveel skakerings is hier? Vrekken baie, waarskynlik! Want almal van hulle is – op een plek – hier verwoud.
Bossie trek die Landie in die parkeerarea in.
“Wat nou?” vra Adriaan. “Ek dog jy sê ons stop nie vir die gewone toeriste-stories nie.”
“Is so,” sê Bossie. “Maar daar is net een Vic Falls. Was julle al hier?”
“Nog nie,” erken Paul. Sy pa het al op die Zambezi gevlieghengel, en hy weet die Zambezi is die vierde grootste rivier in die wêreld. Tweeduisend sewehonderd kilometer lank. So iets. Sy pa is mos iemand wat die natuur uitcheck. Rotsformasies bestudeer en al daai. Whatever! Sy pa maak amper kompulsief ’n hele studie van ’n plek voor hy daarheen gaan. Plaas hy net ’n toergids huur. Veel minder werk.
Paul is kort op Adriaan se hakke by die Victoria Falls National Park se kaartjiekantoor uit en loop amper teen sy rug vas, want Adriaan het in die middel van die paadjie gaan staan om druppels van sy bril af te vee.
Paul keer sy rug op Adriaan. Hulle staan immers aan die voet van een van die wêreld se bekendste watervalle. The smoke that thunders. Mosi-oa-Tunya is glo die inheemse Tsonga-naam.
Die ander moet hulle gatte nou roer. Hy kan nie wag om te gaan kyk hoe die waterval lyk wat een punt sewe kilometer breed is en honderd meter ver in die dieptes aftuimel.
Gelukkig het Bossie vooraf gesê hulle moet reënjasse bring, anders sou hulle jasse moes gehuur het. Hy het regtig nie lus om ’n reënjas te dra wat oompie Skilfer aangehad het nie. Vanoggend se motreën wil-wil meer byt kry en hier by Vic is daar in elk geval ’n voortdurende misreën, vergesel deur die donker, gewelddadige dreuning.
“Kom, tjomme,” sê Bossie uiteindelik, kaartjies in die hand en skuur by hom en Adriaan verby.
Paul vee die waterdruppels uit sy hare uit, van sy gesig af. Hulle moet by daai kantoor eerder swembroeke uitverhuur, in plaas van reënjasse. As dit aan die begin van die reënseisoen só lyk, wil hy nie weet hoe dit teen die einde van die seisoen