“Jammer, Bossie,” sê hy en Adriaan gelyk. Jinx.
“You owe me a soda,” sê Adriaan eerste.
Paul ignoreer dit. Hoe minder hy van Adriaan weet, of sien, of hoor, hoe beter. Dis oukei om saam met hom sokker te speel – in opponerende spanne. Maar dit beteken nie hulle is weer pelle nie. Nie na wat gebeur het nie.
Hulle is amper by die grenspos by die Victoriawaterval, en Bossie lyk nie of hy enigsins van plan is om van sy mal idee af te sien nie. Paul staar na die misreën van die waterval wat kilometers ver sigbaar is.
“Asseblief, Bossie?” Hy voel naar. Sy hande bewe. Hy hou hulle weer voor die lugverkoeler. Toe vee hy hulle aan sy kortbroek af, maar hulle bly klam. ’n Ander, onsigbare hand wurg hom om die keel.
“Ontspan, Paul.” Bossie swenk effens om ’n slaggat te mis. “Daar’s Rescue-pille in die paneelkissie.”
Paneelkissie? Regtig? Net Bossie wat ’n cubby hole ’n paneelkissie sal noem. Paul skuif laer af in sy sitplek en trek albei hande deur sy hare. Hy suig aan drie Rescues. Sy senuwees is gaar sedert die storie vroeër vanjaar. Rescue-pille werk in normale omstandighede, maar dié is beslis nie normaal nie.
“We’re doomed,” mompel hy.
2
Bloemfontein,
einde Oktober
“Sick,” sê Adriaan. “Ons het van jou waghond ontsnap. Dit was maklik. Betaal jou pa hom ’n salaris? Want daai dude is vas aan die slaap.”
Karlien giggel net.
“Bossie is oukei.” Paul voel hy moet Bossie darem verdedig. Hy’s nie te sleg nie, al is hy soms ’n pyn in die gat. “Ons is nie veronderstel om by die hek uit te gaan nie, en hy is bloot net veronderstel om indringers uit te hou. Nie om ons binne te hou nie. En hy sit met die koerant op die troon, so hy weet nie ons het ’n toon geklap nie.”
“Wonder wat gaan hy maak as hy uitvind?” Adriaan runnik van die lag.
“’n Flippen gasket blaas. Uitfreak. Die plot verloor. My nek omdraai. Ons moet ons gatte roer. Anders is dit nag. Ek het Bossie nog nooit kwaad gesien nie, maar ek dink ook nie ek wil nie.” Eintlik voel Paul sleg. Net so ’n bietjie. Hy maak dalk nou droog. So ’n bietjie. Maar hy mag darem seker ook lewe! Dis buitendien sý lewe – nie Bossie s’n nie.
Die skool het al ’n paar vreemde oproepe ontvang van mense wat navraag oor Paul doen en daar was al ’n keer of wat ’n paar slegte, sluwe skurke wat die skoolterrein probeer betree het, maar Bossie het die probleem nog elke keer opgelos. Dis waarvoor hy betaal word.
Maar sy klasmaats spot hom omdat hy nêrens sonder sy waghond mag gaan nie.
“Good that you’re too ugly for a girlfriend, Rudman, otherwise you would have had to take your gorilla with, when you went smooching. That gives you a kick, hey? Voyeurism. Turns you on? Maybe try it. Come tell us all about it.” Hawkins is vir ’n tweede keer in graad tien. As hy besluit om meer tyd voor sy boeke te spandeer, kan hy homself dalk net verras, maar hy reken skoolwerk is net vir patete. Sy downfall is sy groot bek. Sodra hy hom oopmaak, weet mens hy is ’n verwaande gomgat.
“Read between the lines, dude,” het hy geantwoord en die middelste drie vingers van sy linkerhand vir Anthony Hawkins gewys. Eintlik wou hy Hawkins klap. Hy wou hom klap dat sy tande loswikkel en een-een by sy smetterige bek uitval.
“Can’t handle the truth, Rudman? You know that girl you’re seeing? She is a dyke! She likes girls.” Giggel. “I’m not surprised, not at all. You, my boy, are not man enough to keep a girl happy.”
Hawkins roer graag die pot, krap om te sien wat uitklim. Maar sy meerderwaardige houding en aanmerkings oor Alicia het Paul se moermeter gekickstart en in die rooi gedruk. Toe lig hy sy vuis en vergeet van skorsing, of ’n moontlike dagvaardiging.
Hy het teruggetrek en probeer slaan met al wat in hom is, en meer. Dit was ’n wraakgierige hou. Die ene woede. Hy het geslaan om dood te slaan.
Niks bereik nie.
Want Bossie se hand was skielik soos ’n staalklamp om sy gewrig.
Hawkins het gegrinnik, Paul met die voorvinger op die bors getik. “Saved by the gorilla. Can’t even fight your own battles without help, pansy boy?” As hy vir Hawkins van die aarde af kon gevee het, het hy dit wragtig gedoen, maar Bossie se greep was staal.
“Paul, los dit,” het Bossie gefluister, hom op die skouer geklop. “Tel tot by tien. Hy’s nie die moeite werd nie. Hy’s net ’n windlawaai.” Bossie het sy gewrig een keer gedruk en toe gelos.
Hawkins was reeds veilig in sy volgende klas, onder die onnie se oë.
Paul was lus om Bossie te pot, net daar en dan, maar Bossie is Bossie. Onaantasbaar. Paul het sy tas opgetel en na die volgende klas toe gestap. In sy hart was moord.
Bossie het verdwyn, net so skielik as wat hy verskyn het. Maar Paul het geweet Bossie is nooit ver nie. Hy’s oral, weet als, hoor als, sien als. Bossie style.
Hoe op aarde weet Anthony Hawkins dat Alicia lesbies is? Miskien het hy haar en Adéle in die dorp gesien? Hulle is baie diskreet, wás baie diskreet. Eintlik het Alicia dit aanvanklik geheim probeer hou, maar Adéle is dwars en aspris. Sy reken sy weier om ’n leuen te lewe, no matter what. Adéle is in ’n privaat skool net buite Bloem, wat dit makliker vir haar maak, maar nie vir Alicia nie. Hoërskool Oranje is groot. Norme en standaarde, ’n bepaalde soort, is hoog – soos by die meeste skole. As jy buite die boks beweeg, merk mense dit op. Klaarblyklik het Alicia besluit om die boks finaal agter te laat.
En ná alles wat met Alicia gebeur het, dink hy dis vermetel van Hawkins om haar te oordeel. Natuurlik weet Hawkins nie van die hel waardeur hulle is nie, maar dis ook nie sy saak nie. Alicia ís en bly sy vriendin. Hawkins moet sy bek van haar af hou.
Hawkins hoef nie van Alicia te hou, óf met haar lewensuitkyk saam te stem nie. Maar wanneer mens iemand viktimiseer net omdat die persoon anders is as jyself, is jy eintlik net ’n boelie.
“Polla, jy ontmoet nie mense en sê vir hulle: ‘Haai, ek is Paul en ek’s straight nie’. So ek hoef myself nie voor te stel as ‘Alicia en ek is gay’ nie.” Dit was Alicia se antwoord toe hy haar vra of haar skoolmaats weet van haar en Adéle.
Eintlik het hy spesifiek oor Karlien gewonder. Of sý weet en of Karlien straight is? Supersexy, baie sportiewe, bruingebrande Karlien wat saam met Alicia gimnastiek doen en sy hart vinniger laat klop. Alicia het hulle aan mekaar voorgestel. Hy het vermoed Karlien is straight, maar wou net seker maak.
“Soos ’n strykplank,” het Alicia bevestig. “Polla, my vriende ís en bly my vriende. Karlien is cool. Straight. Sy’s ’n pel. Nie my shrink nie. Ek hóéf my siel nie voor haar oop te skeur nie. Dalk verstaan sy. Dalk nie. Hoekom vra jy? Eyeball jy haar?”
“Sy’s hot. Weet nog nie heeltemal nie. Seker, ja. Ek check haar eers uit.”
“Vra haar uit. Sy probeer oor jou uitvis. Sy dink jy’s serious eye candy, maar het ook gedink ek en jy het iets aan.” Sy het geglimlag en hom ’n druk gegee. “Ek stuur haar nommer.”
Sy foon het gepieng toe sy die WhatsApp deurstuur.
Alicia is saam met hom kaalvoet deur die hel. En terug. Haar hel was soveel heter as syne. En haar lewe het net mooi niks met ander uit te waai nie.
Hawkins moet net sy bek oor Alicia hou.
3
Net voor die grens tussen Zimbabwe en Zambië,
einde November
“Jislaaikit, gaan daai trok nou heeldag