Sweepslag. Annerle Barnard. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Annerle Barnard
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780624086789
Скачать книгу
hoor hy weer die motorboot se enjin dreun. Hy loer deur die bossies om seker te maak Rooies en Baardman is albei op die boot. Rooies het seker besef sy kiewietbeentjies gaan dit nie maak nie. Paul wag totdat die boot in die verte verdwyn, gaan sit dan met sy rug teen ’n rots om te rus en sy strategie te heroorweeg. Hy staar na die water. Dan na die wal. Flip! Hulle weet nou hy was berglangs op pad damwal toe. Sy enigste plan het pas verdrink.

      Plan B? Hy wens hy’t een gehad. Hy weet net hy kan nie damwal toe nie. Hulle sal hom daar inwag. Twee jakkalse voor ’n hoenderhok.

      Bo-oor die berg gaan ’n leeftyd en ’n half neem. En anderkant toe – berglangs weg van die damwal – lei na nêrens. Die berg en die dam strek so ver soos wat die oog kan sien. En selfs nóg verder die vergetelheid in.

      Hy is nie seker wat die omtrek van die dam is nie. Nie dat dit enigsins ’n verskil sou maak nie. Een ding is seker: om berglangs van die wal af wég te beweeg en te hoop op beskawing, is ’n oefening in futiliteit. Hy kan netsowel die see met ’n penneblikkie probeer leegskep. Hy staar na die water. Dalk moet hy liewer weer meermin speel. Deur die dam terug dorp toe swem. Vir vrek van die honger op die berg sien hy nie kans nie. Ten minste sal hy in duisend jaar nie kans kry om dors te raak nie.

      Hoe wyd is die dam hier?

      Midmar is ’n myl. Een myl is gelykstaande aan 1,6 kilometer. So sê Secretariat wat vir hulle skeinat gee. Sy van is eintlik Van der Klashorst, maar hy is ’n Engelse Van der Klashorst. Toe word hy “ ’n perd van ’n ander klas”. En toe “Secretariat”. Secretariat het juis so ’n galopperige stappie soos iets waarvan die wielsporing gegroet het. Hy lyk eintlik meer na ’n kameel as na ’n resiesperd, maar hy is flippen briljant – Paul se gunsteling-onnie.

      Een komma ses kilometer is darem nie óm die aardbol nie. En hy het al twee keer Midmar geswem. Verlede jaar toe hy in graad nege was, en weer in Februarie hierdie jaar. Eintlik net omdat Liné geneul het dat hy saam met haar moes swem. Nantus se voete sal mos nat word as hy probeer.

      Die golwe was rof hierdie jaar. In ’n stadium het hy gedink hy gaan verdrink, maar met Midmar is daar ten minste medeswemmers, bote en lewensredders. Hier is dit net hy en die diepte – en die visse wat sal swyg oor sy lot.

      Paul strek sy bene en probeer helder dink.

      “Kalm bly, Paulie. Kalm soos ’n daggawalm,” terg Liné altyd voordat hy ’n muurbalwedstryd moet speel. So asof sý weet van dagga.

      In sy Orvis-vlieghengelhemp se een bosak het hy ’n verdrinkte selfoon. In die ander bosak het hy ’n platterige knipmes. Lig. Klein.

      8

      Maart

      Vanderkloof, Saterdag

      Paul voel in sy broek se klitsgrassakke. Hy kry ’n pakkie grondboontjies-en-rosyntjies wat hy vroegoggend in sy sak gedruk het. Yes! In die ander sak is ’n vakuumverpakte pakkie biltong. Hy kyk na die biltong en grondboontjies. Sy mond water. Moet hy of moet hy nie? Hy druk dit terug in sy sak. Net ingeval hy langer op die berg is as wat hy graag sou wou wees.

      Sy kakiehemp en -broek is reeds droog. Hy kyk af na sy skoene. Swart Vibram FiveFingers Maiori, nommer elf.

      As hulle vlieghengel op die dam, skop hy net sy Maiori’s uit en trek paddavoete aan vir hengel in die sloepe met die opblaasband. Sy opblaasband is selfaangedrewe. Hy is die “self”-deel in die aangedrewe-storie. Groot voete het voordele.

      Hy kyk weer af. Gelukkig het hy nie vandag sy Simms-vlieghengelstewels aan nie. Hulle sou hom soos lood laat sink het, maar sou beslis beter gevaar het hier oor die berg se ongelyk terrein en rotse. Nou ja. Soos sy ouma altyd sê: “Spoeg in jou een hand en wens in die ander een en kyk in watter een het jy die meeste.”

      Daar moet ’n manier wees. Paul staar na die water en wonder weer hoe wyd die dam is van hier na Vanderkloofdorp. Twee kilometer? Dalk drie? Hy is aan die Vrystaat-kant van die dam en hy moet aan die Noord-Kaap-kant kom. So naby en tog so flippen ver.

      Dalk kom soek Baardman en Rooies hom vandag weer met die boot. Dan wil hy liewer nié in die water wees nie. As hy teen môre nog nie raad het nie, sal hy swem.

      Sy onmiddellike plan is om berglangs verder met die dam langs te stap. Die niet in. Dis ’n plan wat grootliks berus op baie gebed. ’n Dam vol genade.

      Paul kyk op boontoe. Die klippe blink in die son. Die sonbesies gil steeds waansinnig. Hulle gatte brand seker op die grond.

      Hy staan op en begin tussen die bossies en rotse deur stap. Hy wil voor donker by die eerste sloep uitkom. Hulle het al daar gehengel. Dis windstil in die sloep. Die aande is nog laatsomer-warm, maar dit kan binne ’n oogwink verander, daarom soek hy skuiling.

      Sy naam is Paul Rudman. Nie Racheltjie de Beer nie.

      9

      Villa Persephone

      “Hulle het jou amper doodgeslaan,” sê Maria saggies en vat aan Paul se wang.

      “Auuu. Eina, Maria! Eina, eina, flippen eina,” sê Paul en probeer sy kop stilhou terwyl Maria met watte en iets wat na Dettol ruik sy gesig probeer skoonmaak.

      “Sorry, Paulie, sorry, sorry, seun,” prewel Maria terwyl sy werk.

      “Wag. Wag. Net eers asemhaal,” mompel Paul en stoot haar hand weg. Maria gooi die bloederige watte in ’n plastieksak en haal ’n skoon stuk uit die pakkie.

      Cindy het sy bas gered. Hy skuld haar.

      “Dis beter laat ons klaarmaak, Paulie. Die pille sal ôk nou werk. Dan sal jy beter voel.”

      “Ek haat Bullet. Ek haat hulle almal,” mompel Paul verby sy stukkende lip.

      “Ek weet, Paulie. Ek laaik hulle ôk nie. Ons almal bang Bullet en Mister D. Almal.”

      “Hoekom, Maria? Hoekom?” Paul voel hoe die trane by sy linkerooghoek uitloop.

      “Hulle is nie mense nie, Paulie. Hulle lyk net so, maar hulle se harte is nie ménseharte nie,” sê Maria en vryf vinnig oor sy hare voordat sy opstaan.

      “Bullet sê as ek weer try, maak hulle haar dood,” fluister Paul.

      10

      Maart

      Vanderkloof, Saterdag

      Die damwal is saans helder verlig. Hy het gisteraand na die ligte gestaar terwyl hy gebraai het. Karootjops en varkribbetjie. Dis ’n flippen dom tyd om aan braaivleis te dink. Sy maag draai en kramp van die honger. Sy kop klop soos ’n studenteparty. Hy is oneindig moeg.

      Hoe hou Imraan dit tydens Ramadaan? Hoe leer hy en skryf hy toets terwyl hy vas? Geen kos of water na sonop of voor sononder nie. Vir ’n hele flippen maand lank! Word hy nie moeg nie? As hy Imraan weer sien, gaan hy hom vra. Die ou het guts.

      In hierdie stadium sal hy selfs sy ma se blik moerasgras skoon eet. Sonder water, net so uit die blik. Barley-iets? BarleyLife? Ja, hy dink dis die naam. Whatever. Blykbaar vreeslik gesond. Sy drink dit elke oggend, come hell or high water. Good for her! Maak nie saak hoe jy dit sugar-coat en in smoothies probeer verdoesel nie, dit lyk en ruik soos moeras in ’n glas en dis vrek sleg. Sy maag brand. Hy’s so honger, daai moerasgras sal nou soos gebraaide Sondagskaapboud smaak.

      Wat kan hy eet? Sy pakkie grondboontjies-en-rosyntjies is lankal geskiedenis. Hy kou aan ’n grasspriet.

      Hy moet eerder op die ligte fokus. Van waar hy in die sloep skuil, sien hy nou slegs die skynsel van die ligte wat in die naghemel optoring.

      Paul sak terug teen die bossies en staar na die sterre. Hulle lyk vanaand vir hom vreeslik ver.

      “Kophou, Paul. Mens se geld mag opraak,” sê sy pa altyd, “solank jou planne net nie opraak nie.”

      “Chill, Paul,” praat hy homself moed in. Baardman en Rooies het ’n man sommer net oorboord gegooi. En toe op hom wat Paul is, geskiet.