Sweepslag. Annerle Barnard. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Annerle Barnard
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780624086789
Скачать книгу
dreun soos dit in die Oranjerivier stort.

      Hy wonder of die stories oor die reuse-babers waar is? Dié wat so groot soos haaie is en bodemlangs naby die wal lê en wag vir visse om deur die water meegesleur te word. Hulle hou glo net hulle bekke oop en sluk – te lui en te groot om te beweeg. Blykbaar is selfs die polisieduikers bang vir hulle. Nantus sê hulle sal lag-lag ’n mens heel insluk. Paul skop harder. Hy gaan beslis nie vandag Jona speel nie. Baber se kind sal hom moet kom haal as hy hom wil hê.

      En Nantus ken in elk geval nie die verskil tussen ’n duif en ’n dolfyn nie.

      Paul kom weer op en kyk waar die boot is. Effens nader. Hulle gooi nou groter sirkels op soek na hom. Hy weet hulle het die selfoonkamera se flits gesien. Die klitsgras van sy hemp se bosak hou die slimfoon binne. Nie dat dit enigsins help nie. Dalk moet hy van die foon ontslae raak, dit in die dieptes laat verdwyn. Dis net ekstra gewig. Maar miskien kan een of ander IT-vaalseun nog die foon red. Sy pa paap sweerlik ’n aap as hy nou weer ’n nuwe foon moet koop. Die foto’s kan hy altyd weer van die Cloud aflaai.

      Paul kom weer op vir asem. Die motorboot dreun verder weg. Voor hom is die berg. Nog niks nader nie, voel dit. Ongeveer ’n kilometer se swem, skat hy. Genadiglik is die berg laag. Vir Voortrekkertoertjies oor die Drakensberge sien hy nie kans nie.

      Paul swem nou bolangs. Hy dwing sy asemhaling meer egalig en ritmies. Hy het in ’n stadium gedink hy gaan verdrink. Nie omdat hy nie kan swem nie, maar omdat hy die vrees toegelaat het om sy asem te steel. Hy hou by borsslag. Vryslag sou vinniger wees, maar as die ouens in die boot ’n verkyker het, wil hy nie te veel water spat nie.

      Uiteindelik! Hy lê op sy rug in die vlak water en wil huil van verligting. As daar iewers nog spiere in sy lyf is, kan hy hulle nie sover kry om te beweeg nie. Gelukkig is die dam se water nie koud nie. Hy lig sy kop en kyk rond, sien nie meer die motorboot nie. Met ’n steun draai hy om, staan hande-viervoet in die vlak water. Nou laag lê, tussen die bosse hou.

      Links.

      Wal se kant toe.

      6

      Villa Persephone

      “Bullet sit nog hier buite. Wat soek jy? Hy gaan ons doodm-”

      “Nee, hy is weg,” fluister Jolly. “Is jy oukei?”

      Alicia laat sak haar kop. “Ja. Seker maar.” Sy begin snik.

      “Toemaar, dis oukei,” troos Jolly. “Ek verstaan.”

      “Ek weet jy verstaan, Jolly, maar wat gaan ons doen? Hoe kom ons hier uit? Die vensterrame is toegesweis. Al kry ons die venster oop, is dit heeltemal te hoog om te spring. Tensy jy wil selfmoord pleeg.”

      “Nie selfmoord nie, nee,” antwoord Jolly verskrik. “Glad nie, nooit nie,” herhaal sy en skud haar kop. “Kom ons gaan kry tee. Met baie suiker.”

      Jolly maak die kamerdeur oop. Alicia deins terug.

      “Bullet is weg. Die laastes is almal weg. Kyk, die hek is gesluit,” beduie Jolly en trek Alicia agter haar aan by die deur uit. Hulle sluip gangaf. Die sitkamer aan die einde van die gang is donker en die TV se skerm glim grys. Jolly stap na die agterste kombuishoekie van die sitkamer sonder om enige ligte aan te skakel. Die maan maak genoeg lig sodat hulle kan tee maak sonder om aandag te trek. Alicia haal bekers uit die kas terwyl Jolly die ketel volmaak.

      “In ons mokhukhu is dit baie koud in die winter. My mammie druk plastieksakke in die gate in om die wind uit te hou. Dit help nie altyd nie. En as dit reën, reën dit in. Dan is als nat – van ons kooigoed tot die stoele. Wanneer die koue kom, drink ons graag tee. My mammie steek die flame aan en maak vir ons tee met baie suiker.”

      “Watse ding is ’n flame?” vra Alicia.

      “ ’n Stofie wat met paraffien werk. Mens kan net een pot op ’n slag op hom sit,” beduie Jolly.

      Alicia weet Jolly gesels om haar aandag af te trek. Jolly-hulle het dit nie breed nie, maar wat Jolly gehad het, is ’n paradys in vergelyking met dié plek. Hoe op aarde sy steeds vashou aan hoop, weet Alicia nie.

      “… en toe kom skree die man vir my mammie sy vat sy besigheid weg. Sy moet die pampoene in kwarte sny en los verkoop teen die prys waarteen sy die heel pampoene verkoop. Maar niemand het geld nie. Die mense in die township sukkel en kos is duur. My mammie sê hom toe sy vat niemand se besigheid nie. Sy skree nie op die dakke sy verkoop groente nie. Maar sy woon in die Vrystaat. Sy is hier gebore. En hy? As sy polisie toe gaan, gaan hulle háár nie toesluit nie, want dis nie sy wat sonder ’n paspoort uit Lesotho kom nie.”

      “En toe? Het sy hom by die polisie gaan aangee?”

      “Nee. Hy het haar daarna uitgelos en teruggegaan na sy mokhukhu toe. Dis sy saak as hy die groente duur wil verkoop. Hy weet hy mag nie in die land wees nie.”

      “Flip, kan jy glo?” Alicia is stomgeslaan. “Hoe kom hulle deur die grens?”

      “As die rivier droog is, loop hulle sommer deur. Dis baie maklik.”

      “Geez, Louise.” As hulle nie in so ’n siek situasie was nie, sou Alicia kon lag oor al Jolly se stories. Party klink te goed om waar te wees. Maar niks is onmoontlik nie. Kyk net waar sit hulle!

      Iewers klink manstemme op.

      “Dis Mister D,” fluister Jolly en beduie hulle moet terug kamer toe.

      “Wat soek hy hier?” wil Alicia weet. Sy’t skielik te min asem en haar maag begin kramp. “Dis al lank na middernag. Amper 02:00.”

      Alicia voel warm tee op haar voet spat terwyl hulle haastig gangaf sluip. Sy gee nie om nie. Sy wil nou net in die kamer kom. Buite sig wees. Laag lê.

      “Weet nie. Hy is nooit so laat nog hier rond nie.” Jolly druk die kamerdeur agter hulle toe. Sy sit haar tee op Alicia se bedkassie neer. “Sjjjjjt,” beduie sy met haar vinger voor haar mond.

      Sy sak op haar knieë voor die kamervenster neer en draai haar oor na die venster om beter te hoor.

      Dan is die stemme weer stil.

      “Kon jy iets hoor?” wil Jolly by Alicia weet.

      “Nee. Net die stemme. Mister D het kwaad geklink.”

      “Hy is sleg. Evil.”

      “Die duiwel in lewende lywe. Met wie het hy gepraat?” wil Alicia ongeduldig weet.

      “Met Bullet en Bradley. Bradley is die een met die baie tattoo-”

      “Ja, ek weet,” sê Alicia ongeduldig. Jolly is ’n wonderlike mens, maar sy kan truie uitryg as sy die dag lus is; ’n dooie jakkals aan die draf praat.

      Alicia ril. Sy weet nie vir wie sy die bangste is nie – Bullet of Bradley. Maar as hulle saam met die blas Griek is, voorspel dit niks goeds nie.

      7

      Maart

      Vanderkloof, Saterdag

      Verdomp, wat ’n gesukkel! Paul se been brand. Doringtak. Hy vryf vererg om die brand weg te kry, stamp in die loop sy linkervoet teen ’n groot klip. Vreksels. Eers moes hy sy gat af swem om op land te kom en nou veg die berg met hand en tand terug. Hy moet nog hoër, links hou. Sy plan is om tot by die damwal te beweeg, want die teerpad Vanderkloofdorp toe loop bo-oor die wal.

      Dalk kry hy ’n geleentheid. Hopelik is daar vandag ook mense wat na die damwal kom kyk.

      “Voertsek!” sê hy vererg en klap na die swerm muggies wat in sy oë en neus wil kom broei.

      Hy kan nie lekker onthou hoe die wal aan die Vrystaatkant lyk nie. Plaas dat hy gister opgelet het. Dis nou wat gebeur as mens nie water gewoond is nie! Tipiese Vrystater: staar na die digte wit mis by die sluise en vergeet van die res.

      Die damwal is stewig in die berg geanker. Dít weet hy. Hy en sy pa het ’n ruk lank daar teen die relings aan die binnekant van die wal gestaan en na die dam gekyk.