Maar iets voel nie reg nie. Is sy wie sy sê sy is?
Of is sy Satan se sussie?
14
Villa Persephone
Paul trek sy knieë op. Sy lip proe na metaal. Hy druk saggies met sy vinger teen sy lip. Dit bloei weer. Hy gebruik die duvet se een punt om sy neus af te vee. Ouch. Die trane rol oor sy wange. So vinnig hy afvee, kom daar nuwes. Hy kan nie meer nie. Wil nie meer nie. Kom oorgee so maklik?
Ek maak hulle vrek, hoor jy, Pissie? Eers die een, dan die ander een. Daarna kies ek nog een. Een vir elke keer wat jy probeer.
Die deur gaan oop. Paul steun. Hy kyk nie op nie; maak nie sy oë oop nie. As hy nie reageer nie, waai Bullet dalk sonder om hom weer beet te kry. Hy verstyf, reg om te vlug. Weet sy lyf kan nie.
Niks gebeur nie.
Paul hou asem op.
Dan voel hy ’n hand op sy hare en iemand gaan sit langs hom op die bed. “Is jy oukei, Paul?” vra ’n stem. Bekommerd. Alicia s’n.
“Haai, shame, Paul. Is jy orraait?” eggo Jolly.
“Uhhmm.” Paul kreun net en trek sy bene hoër op. Hou sy oë toe. Iemand vat aan sy hand. Moet Alicia of Jolly wees. Paul druk die hand. Hy hoop dis Jolly s’n. Van Alicia wil hy nou niks weet nie. Hy’s broos. Sy lyf én sy gevoelens. Sy vertroue ook.
Hoe kón sy? Maar sou sy regtig? Sy wil dan ook hier uit. Waarom sou sy hom gaan snitch? Om in te wees by die big shots? Om haar eie veiligheid te verseker? Sou sy regtig so laag daal?
Hy kan hom dit nie indink nie. Wie’s die scaly een? Alicia? Of Cindy?
Sy kop klop. Hy sukkel om te fokus. Nugter te dink. ’n Hand streel oor sy voorarm.
“Wullet?” vra Paul na ’n rukkie.
“Sê weer?” Alicia hou haar kop nader om beter te hoor.
“Wullet?”
Alicia draai na Jolly en frons.
“Bullet?” wil Jolly weet.
“Uhhmm, Wullet?” vra Paul deur sy opgeswelde lip en maak sy oë oop.
“Hy is iewers saam met Mister D, Paul. Dis oukei. Ons sal waai voor hy terugkom.”
“Oukei,” mompel Paul.
“Ek was bang hulle maak jou dood,” sê Jolly. “Jy lyk beter as wat ek gedink het.”
“Uhhmm,” antwoord Paul en raak weg in die niks.
“Paul? Is jy oukei?” Daar is ’n hand op sy skouer.
“Huh?” Paul strek en skielik skiet die pyn van oral deur sy lyf. Sy ribbes kla onophoudelik. Dis te seer om te beweeg. Hy onthou. Hy hoop Maria bring nog pynpille. Slaappille. Wat ook al.
“Einaaaa,” mompel hy en maak sy oë oop. Jolly en Alicia se gesigte is ooghoogte voor syne.
“Pille?” vra hy.
“Hier,” sê Alicia. “Maria het gebring. Saam met jou kos. Kan jy regop?”
“Uh-uh. Seer.” Paul maak weer sy oë toe.
“Die goeie nuus is: Bullet sê hy het niks gebreek nie. Hy’t net seker gemaak jy try nie weer dieselfde tricks nie. So’t hy ewe tevrede vanoggend vir Mister D vertel. Ons moet jou aan die beweeg kry. Jy moet iets eet, Paul,” sê Alicia.
“Uhhh. Seer. Hoe’t hulle geweet?”
“Wat geweet?” vra Alicia.
“Daar was niemand naby nie. Die pad hek toe was oop. Toe skielik, Miguel.”
“Cindy het jou gesnitch,” antwoord Jolly driftig. “Sy’t jou iewers deur ’n venster gesien en Miguel gebel.”
“Ek was amper uit,” mompel Paul. Hy kan dit steeds nie glo nie. Dis net te toevallig dat Cindy hom juis op daardie moment deur ’n venster sou sien. Satan se sussie.
Dalk is Alicia nie heeltemal so onskuldig as wat sy voorgee nie? En Jolly? Wat is haar storie? Sy en Alicia is beste pelle.
Hy wil huil. Agter ’n kas inklim en daar bly sit. Vir ewig en ewig. Alicia. Sy is spesiaal. Wás. So het hy gedink. Hy ken haar nog nie lank nie, maar hulle het net gekliek. Soos ou siele, vanuit nêrens. Hy weet nie mooi wat hy vir haar voel nie. Wat hy vir haar wíl voel nie. Hy voel net … crushed. Sy kan tog nie ’n snitch wees nie! Dalk het sy vir Jolly vertel van die great escape en Jolly het miskien haar bek verbygepraat. Hy sou terugkom vir haar. Sy het geweet. Of was sy bang hy los haar? Vergeet van haar?
Hoe kón sy in hom twyfel? Of het dié plek klaar haar siel gesteel?
Hy sal volgende keer weet om vir blerrie niémand te sê nie. Nie eens ’n vet engel as hy dalk besluit om uitéindelik sy werk te doen en om die hoek te loer nie. As daar ’n volgende keer is …
“Ons is bly jy’s nie dood nie, Paul,” sê Jolly.
“Dood kan mens nie altyd met die oë sien nie. Daar is erger dinge as dood,” sê Paul, sy oë steeds toe.
“Hoe bedoel jy?” vra Jolly. Sy klink ontsteld.
“Sonder hoop …”
“Daar is altyd hoop, Paul!” antwoord Jolly. “Solank ons asemhaal, is daar hoop. Mens gee nie so maklik op nie.”
“Jy verstaan nie, Jolly. Hulle hét my.”
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.