Die motor kom langs haar tot stilstand. Alicia klim in, maar stel haarself nie voor nie. Die man vra ook nie. Hy vra net waar hy haar moet aflaai. Alicia gee haar adres.
“Do you have daughters attending Saint Nicholas?” vra Alicia twee blokke verder net om iets te sê.
“No. I have two boys at Saint Francis. Both of them play hockey.” Die man glimlag. “One of my sons recently got Free State colours, you know? His name is Jimmy. Maybe you have heard of him?”
Sy skud haar kop. Sy hokkie en gimnastiek gereeld teen leerlinge van ander skole, maar sy meng nie eintlik met die Saint’s-seuns nie. Die Engelse seuns lyk altyd vir haar bietjie wild.
“No, I haven’t heard of him – or met him.” En in hierdie stadium gee sy ook nie eintlik ’n hel om nie. Hy moet haar net aflaai. As sy geselskap wou hê, het sy dit op Facebook gaan soek. Of Instagram. Sy beduie waar hy moet afdraai na hulle huis toe.
Huis.
So onvanpas.
Flippen glaspaleis aan skerwe, maar sy kan nie dink waarheen anders om te gaan nie. Toe hulle by die afdraai na haar huis kom, versnel die motor effens.
“We’ve got to turn around. You missed my street.”
Die man glimlag en knik. Uit die kant van die deur haal hy ’n voorwerp. Swart. Blink. Met ’n loop.
3
Maart
Vanderkloof, Saterdag
Hy is g’n bangbroek nie! Hy was net nie gisteraand lus om ’n spinnekop met sy kaal hande te vang nie. Maar Nantus, sy suster se metroseksuele kêrel, sal dit nie eens waag om sy reddingsbaadjie uit te trek om in die dam te swem nie. Seker bang vir die babers.
Wat sien Liné in Nantus? Hy’s so into sy “young upwardly mobile professional”-status. Flip, die arme dude weet nie eens sy naam pas glad nie by sy Gucci- en Calvin Klein-klere nie – nie eens amper nie! “Chad”, of “Hunter”, ja. Maar nie “Nantus” nie. Dalk sommer net “Asshole”! Yebo, dit kan werk: Asshole.
Die fishfinder wys hier is baie vis. Die diepte is 85 meter. Paul stuur die motorboot nader aan die eiland. Hy is êrens in die middel van die dam. Gelukkig is hy nie rigtingbeneuk soos die Sandton-bleeksiel nie, want die Vanderkloofdam is nou nie juis ’n poeletjie nie. Nantus sal nie ’n flippen poef-doef kan opspoor sonder sy GPS nie. Die idee van Nantus op ’n longdrop werk nie lekker nie. Yuck!
Paul wil net ’n foto van homself op die eiland neem en dan teruggaan om die ander te gaan haal vir die dag se hengel. Voor sy pa besef hy is alleen uit op die dam, sónder om eers by die plaaslike polisiekantoor aan te meld dat hy met ’n boot uitgaan. Sy pa kraam sweerlik ’n posbeer. Of ’n olifant in visnetkouse.
Eintlik is sy pa nie te sleg nie, maar hy kan flippen beneuk wees as hy wil. Paul kyk op sy horlosie. 05:35.
Naby die eiland skakel hy die enjin af, dryf versigtig nader, anker die boot, spring rats tot op die naaste rots. Die eiland is klein, maar die rotse is hoog opgestapel. Amper soos die bopunt van ’n draairoomys. Paul klim tot op die boonste rots en haal sy foon uit sy hemp se bosak. Hy neem vier selfies. Hy maak seker die agtergrond en die water agter hom is ook op die foto’s. Dis voldoende bewys. Sick! Sodra hy kans het, gaan hy dit op Instagram laai. Sy pelle gaan uitfreak van jaloesie. Hy is stoksielalleen in die middel van die dam, en dit op sestien.
Ha! Nantus reken dalk hy is coolness deluxe met sy gejelde hare, maar Nantus is ’n stokou flippen fossiel en so wit soos die dood. Amper dertig, het sy suster gesê. Amper so opwindend soos ’n slak.
Hy kan nie verstaan waarom sy suster nie vir haar ’n beter kêrel kry nie. Hy is seker sy kan beter doen as die bles mannetjie met die gejelde kuif. Jel sy kuif aan die voorkant sodat ’n mens die maanlandskap bo-op sy kop moet miskyk.
Paul whatsapp gou vir Liné een selfie.
Wi ju bngbruk? tik hy onderaan.
Hy druk die selfoon terug in sy bosak sodat hy kan afklim ondertoe. Hy weet Liné sal dit vir Nantus wys. Hy moet tog net by die huis kom voordat sy dit dalk vir sy pa ook wys, anders word hy dié keer dalk vir ’n jaar gehok.
’n Motorboot raas iewers naby. Dit kom op volle vaart vanuit die teenoorgestelde rigting aangejaag en meer vas aan die ander kant van die eiland. Paul wil roep en groet toe die enjin afgeskakel word. Dan versteen hy.
“… diamonds! You think you are safe? He will do the same to you! Please, just listen? Pleeeeeease! No, pleeeeeease! Don’t!” Twee mans lig die derde een op. Die pleitende derde man wriemel en skop. Trek sy bene op na sy bors toe en skop weer reguit.
“Please! Please! Just give me five minutes. Let’s talk. Then you can do whatever! Pleeeeeeeeeease!” Die swart man se arms en bene is vasgebind, sien Paul. Die ander twee – ’n dikke met ’n baard en ’n varkiepienk maere – lig die goiing-sakke op wat aan die man vasgebind is. Daar is iets swaars in die sakke. Klippe? Paul neem drie foto’s met sy foon voor die man die water tref en sink. Die man se gil verstil in die rimpels. Baardman kyk op. Skree en beduie vir Rooies.
Die flits van die selfoonkamera. Hulle het hom gesien!
Dalk was dit blote toeval, maar hulle het hom gesien. En hulle weet hy’t húlle gesien.
Paul gly-val tot onder en spring in die boot. Trek weg. Die boot wil-wil oplig soos hy jaag. Die voorruit spat aan stukke. Koeëls. Paul gooi esse. Die vasmeerplek kom nader. Die ander boot is vinniger. Dit kom van links en keer hom van die vasmeerplek af weg. Hy swenk skerp regs. Wal toe. Hy kan dit nie te naby aan die wal waag nie. Die sluise is oop en die damwal loop oor. Dis ’n 108 meter-val as die water hom vat. Dan suis ’n koeël by sy oor verby. Paul duik. Diep. En skop. Regs. Baardman en Rooies sal hom na links soek, Vanderkloofdorp se kant toe. So hoop hy.
As hy net nie te na aan die wal gaan nie.
4
Villa Persephone
Alicia laat sak haar kop teen die diefwering. Die nag is swart agter die venster. Sy kan die straatligte deur haar kamervenster sien. En die heining, so naby en tog so ver. Die sterre lyk verder as ooit. Onbereikbaar ver. Dan hoor sy ’n dreuning, ’n enjin wat aangeskakel word. Die hek teen die straat gly oop en ’n motor ry uit. ’n Rooi Mercedes. Sy voel weer aan die venster se knip. Die ding wil nie wikkel nie.
Nie eens amper nie.
Wat help dit sy skree? Wie sal haar hoor? Net die monster wat in die gang sit.
Bullet.
Dalk moet sy die ruit breek en gil. Hoop iemand hoor haar, kom tot haar redding. Sy weet net sy kan nie meer nie. Wil nie meer nie. As Bullet tog net nie …
Daar is ’n klop aan die kamerdeur. Alicia voel hoe haar hart opspring in haar keel. Wie soek haar? Sy is vasgekeer.
Die handvatsel draai.
Die deur gaan stadig oop.
’n Kraaines Rastalokke glip geruisloos om die deur, druk dit saggies toe.
5
Maart
Vanderkloof, Saterdag
Hy móét opkom vir asem. Sy longe gaan bars. Net vier hale. Probéér. Sy kop breek deur die water. Hy asem diep in en duik weer dadelik af. Kan nie nou kyk waar die boot is nie. Eers wegkom. Paul skop verwoed. Hy hoop maar net hy swem nog reguit. Parallel met die damwal. As hy by die waarskuwingsdobbers verbygaan, is daar net een pad: sluise toe.
Hy kom weer op vir asem, kyk vinnig agtertoe. Nes hy gedink het: die motorboot soek dorp se kant toe. Hulle het nie gereken dat hy in die teenoorgestelde rigting, berg se kant toe, sal swem nie. Idiote!
Paul kyk wal