Of is sy nou verspot en is ekstase deel van die onbesonne jeug? Het ekstase, dáárdie soort ekstase wat sy in Ben se arms gesmaak het, by die onvolwasse Marlene gepas en is dit ’n ervare en volwasse vrou nie waardig nie? Het sy Ben Roux werklik nog so lief, of is sy reeds meer verlief en verknog aan Herman Henning as wat sy besef?
En wat moet sy doen as sy oor ’n paar weke haar diploma ontvang? Moet sy voortgaan met haar oorspronklike plan, of moet sy finaal van gister afskeid neem en ’n nuwe toekoms saam met Herman instap?
Baie kilometers daarvandaan vra Ben Roux homself hierdie vraag ook af. Is dit nie tyd dat gister verbygaan en die verlede finaal agtergelaat word nie?
Dis tant Miemie wat die ding weer aan die gang gesit het. Sy praat knaend oor die onderwerp. Daar is niemand wat hom so graag getroud wil sien as juis tant Miemie nie. Hy glimlag nou effens en strek sy bene behaaglik voor hom uit. Hy geniet sy kuiers op Tabaksfontein by tant Miemie en oom Jors. Twee goeie ou mense en boesemvriende van sy oorlede pa. Hy het so te sê hier grootgeword. Dit was tant Miemie wat ná sy ma se dood onopsigtelik gesorg het dat sy kosblik gepak word en dat sy klere reg is vir die koshuis en later vir die universiteit. Dis tant Miemie en oom Jors wat hom met oop arms terugverwelkom het toe hy verbitter en ontnugter hier aangekom het. Hulle het hom ontvang en vertroetel en hul liefde was soos ’n balsem oor die seer en rou in hom. En hulle het nooit vrae gevra nie.
Maar deesdae laat tant Miemie duidelik blyk dat sy dink dis nou tyd dat gister weggepak word, dat ’n mens die verlede nie vir altyd met jou kan saamsleep nie. En vanaand draai die gesprek ook al weer in dié rigting.
“Eet nog ’n beskuitjie, Ben. En onthou dat ek jou ’n blik vol saamgee. Mens, nee, jy sal darem maar vir jou ’n sorg moet aanskaf. Die mens is nie vir alleen bly gemaak nie,” betig sy al goed bedoelende.
Oom Jors het ook vanaand ’n stuiwer in die armbeurs te gooi. “Ja-nee, Ben, jy begin al grys word, sien ek. Handjievol is nou wel knap, want een wat deur tant Miemie se hande is, ken haar werk, maar ’n man moet ’n vrou hê …”
Ben het nog altyd maar net goedig gelag wanneer hulle aan hom begin karring, maar dis of dit vanaand moeiliker is om ontwykend te wees. “Met wie sal ek tog trou, oom? Al wat vroumens is, is bang vir my!” Hy lag grimmig. “Hulle dink almal ek is ’n nors buffel.”
“Dis nou twak daardie,” laat tant Miemie heftig hoor. Daar kan nie ’n mens bestaan wat nié van Ben hou nie, glo sy. Dat hy wel, veral aan die begin, elke vroumens wat enigsins na sy kant toe gekyk het goed op hul plek gesit en hulle vir ewig die skrik op die lyf gejaag het, weet sy nie. Al wat sy weet, is dat Ben geen belangstelling in die vroulike geslag getoon het nie. Behalwe miskien vir Josephine. Maar Josephine is nie die regte vrou vir hom nie, het tant Miemie klaar besluit. Sy is nou wel haar eie kleinkind, maar sy sal nie graag wil sien dat Ben ernstig met haar raak nie.
Sy is amper erger oor Ben as oor haar eie kroos, terg haar kinders haar altyd, en dis ook glad nie so ver van die waarheid af nie. Van kleintyd af het sy ’n besonder sagte plekkie vir Ben Roux gehad, en dit was vir haar ’n groot skok toe hy ’n paar jaar gelede skielik op Rondekuil opgedaag het, sonder vrou en met ’n blink hardheid in sy oë wat haar nie mislei het nie, maar waaroor sy liewer die swye bewaar het.
Deesdae sien sy nie meer so dikwels daardie hardheid in sy oë nie. Die ergste seer is aan die verbygaan. Dié dat sy deesdae moed het om hom al meer en meer in die rigting van vrousoek te begin dwing.
“Dis net Josephine wat miskien vir my sal kans sien,” hoor sy Ben droog sê. “Sy is parmantig genoeg!”
“Nee, nie Josephine nie,” laat tant Miemie vinnig hoor. “Dit sal maar net ’n herhaling wees van …”
Sy swyg vinnig, maar albei mans weet wat sy wou sê en Ben se glimlaggie verdwyn.
Skielik is die ou hardheid terug in sy oë. “Nee, tant Miemie. Daar sal nooit ’n tweede keer wees nie. Nie vir Ben Roux nie. Ek stamp my kop net een maal aan dieselfde klip. Wat meer is,” en hy probeer glimlag, “soos oom Jors sê, ek raak al grys. Hoekom sal ek nou ’n sukses maak van iets waarvan ek, toe ek jonger was, ’n totale mislukking gemaak het? Nee, tant Miemie, om te trou, moet jy kan vertrou en … ek sal nooit weer kan vertrou nie.” Hy staan op. “Waar is daardie blik beskuit wat ek belowe is? Ek moet gaan.”
Buite loop hy Hennie raak, oom Jors se kleinseun wat saam met hulle bly en op die ou familieplaas boer.
Hy kyk die jonger man tergend aan. “Hennie, jy het my darem lelik in die steek gelaat.”
Hennie de Waal kyk hom verward aan. Hy is wel met agt jaar hierdie man se junior, maar hulle is groot maats. “Hoe so?”
“Kon jy nie ’n plan gemaak het met suster Eloff dat sy op Rondekuil bly nie? Ek verloor ’n goeie teatersuster in haar. Hoekom is julle jong boertjies so swak?”
Hennie lag en dis sy beurt om te terg. “Nee, ek het gedink ek sal jóú maar eerste kans gee!” Hy sien hierdie soort tergery staan Ben glad nie aan nie, en vervolg dan vinnig: “Goed. Ons kan tot ’n vergelyk kom. Kry ’n oulike opvolger vir suster Eloff en ek sal kyk wat ek aan die saak kan doen!”
Maar toe Ben eindelik in sy eie sitkamer in ’n stoel neersak, is sy gesig stroef.
“Die mens is nie vir alleen bly gemaak nie,” hoor hy tant Miemie weer sê en hy sug. Sy is reg. Natúúrlik is sy reg, maar …
Dis nou byna vyf jaar …
Sy kop sak tussen sy hande in. Vyf lang, eensame jare. Miskien is hy ’n gek. Hoekom laat hy sy lewe so sinneloos verbygaan? Of nie sinneloos nie, want sy werk is nog altyd die kragaar van sy lewe, maar tog, soos oom Jors gesê het … hy begin al grys word.
Asof oornag het hy besef dat die edel beroep waarin hy staan en waaraan hy toegewyd is, nie meer genoeg is om alles in hom te bevredig nie. Die mens is nie vir alleen bly gemaak nie, sê tant Miemie. Nee, hy is nie. Hy is vir ’n lewensmaat gemaak. Die mens is in ’n paar gemaak, om saam te lewe, saam te werk, kinders te hê …
Om dinge saam te doen … Maar sy ervaring was die teenoorgestelde. Hulle kon nie saam dink, saam doen, saam voel nie. Nee. ’n Mens moet kan vertrou as jy gaan trou. En hy kan nie vertrou nie, sal nooit weer glo nie. Nooit weer nie.
Die telefoon se gelui laat hom opskrik.
“Ag, dokter, kom tog gou! Ek dink Santjie is nou rêrig aan die gang!”
“Goed, Nols. Ek is nou daar.”
Daar lê ’n bitter trekkie om sy mondhoeke. Om saam kinders te hê … Santjie is “aan die gang”, maar ’n erfgenaam is nie vir hom, Ben Roux, beskore nie. Hy is net daar om ander se kinders in die wêreld te help bring.
Terwyl Ben op daardie oomblik met sy lewenstaak besig is, skakel Herman Henning die motor se enjin af en kyk oor die stad se liggies uit.
“Wat is jou planne ná die eindeksamen?”
Marlene het hierdie vraag verwag, maar het nie ’n antwoord gereed nie. Deur die jare was daar altyd ’n vae voorstelling in haar kop: Sodra sy klaar is met haar opleiding, sal sy na Ben gaan, hom vertel dat sy nou sy taal kan praat, sy wêreld ken; dat sy oorgestap het soos hy van haar verwag het. Maar presies hoe sy te werk sou gaan, het sy nooit duidelik uitgeredeneer nie. Maar nou het die tyd aangebreek en sy weet nie wat om te doen nie. Sy kan tog nie net na Rondekuil ry nie, sy spreekkamer binnestap, haar epoulette voor hom op die lessenaar neersit met Tinkie daarnaas en sê: Ek is nou ’n gekwalifiseerde verpleegster en hierdie is jou kind. En dan verwag dat hulle daar en dan die drade weer moet optel asof vyf jaar nie verloop het nie! Sy weet nie eens of dit moontlik sal wees om die drade weer op te tel nie. Wat as hy intussen weer getroud is?
In die verlede het sy nog altyd van hierdie gedagte weggeskram, maar nou kan sy nie langer weier om die moontlikheid te erken nie. En as dit