Die grootouers se oë rus op die klein mensie met die blonde krulle en hulle weet dat hulle, wát hulle ook al mag voel, weer nie mag inmeng nie. Hulle mag hul dogter nie terughou nie.
Die vrees in hul harte dat sy miskien al die jare na ’n onbereikbare ster gemik het, moet hulle vir hulself hou. Tog help dit om te weet dat Ben nog nie ’n ander vrou in hul dogter se plek gestel het nie. Daar is dus hoop …
Hulle wonder egter of Marlene nog na Rondekuil sou gegaan het as Tinkie nie daar was nie. Doen sy dit nou bloot ter wille van haar kind, of dra sy werklik nog al die jare ’n gevoel vir Ben Roux met haar saam? Hulle weet sy twyfel oor hierdie punt vandat Herman Henning op die toneel verskyn het. Maar hoe sal sy seker kan wees as sy nie na Rondekuil gaan nie?
Hulle is diep bekommerd. Daar is soveel moontlikhede wat Marlene op Rondekuil kan aantref. Maar Marlene is vandag volwasse genoeg om al die opsies te kan hanteer.
“Gaan Tinkie saam?” vra Jan van Tonder versigtig.
“Ja, Pappa. Ek kan nie sonder my kind gaan nie. Ons was lank genoeg geskei.”
“En hoe gaan jy haar aan Ben verduidelik? Hy sal mos onmiddellik besef dat sy sy kind moet wees.”
Marlene se oë verstil. Ja, sy het lank geworstel met daardie probleem. Hoe gaan sy Tinkie aan Ben verduidelik? Sy kyk op. “Ek het besluit om maar ’n wit leuentjie te vertel.” Haar pa frons skerp en sy vervolg aarselend: “Tinkie is baie fyn en klein vir haar ouderdom. Sy kan maklik deurgaan vir ’n dogtertjie van drie.”
Haar ma teken oorstelp protes aan. “Maar, my kind, watter indruk sal Ben dán van jou kry? Dat jy onmiddellik ná jul egskeiding sommer weer getroud is? Nee, Marlene!”
Sy lyk bleek in die gedempte lig, maar haar stem is vasberade. “Dan moet hy maar dink wat hy wil, Mamma. Daar is nie ’n ander uitweg nie.”
“Maar jou van, Marlene,” werp haar pa nou ook ontevrede tussenin. “Jy het tog as suster Roux aansoek gedoen, nie waar nie? Hoe gaan jy dít verduidelik?”
“Daar is baie Rouxs in die land, is daar nie?”
Jan van Tonder sug, skud sy kop. “Nee, my kind. Jy gaan nie hiermee wegkom nie. Ben is nie ’n gek nie.”
“Ek móét net daarmee wegkom – voorlopig altans.”
“Hoekom is dit so belangrik dat hy nie mag weet dat Tinkie sy kind is nie?”
Haar blik sak en sy druk haar slapende dogtertjie ’n bietjie vaster aan haar hart. En dan lê die trane nat op haar wimpers, bewe die vol, vroulike mond. Sy klink maar net so selfversekerd. Noudat haar vertrek na Rondekuil ’n werklikheid geword het, wil die vrese haar versmoor. Tog weet sy sy móét gaan … voordat sy vir haar en haar kind ’n toekoms kan uitwerk. Haar stem is onvas toe sy eindelik antwoord: “As … en ek besef maar te goed dis ’n groot as … maar ás dinge tussen my en Ben regkom, ás hy my weer wil terughê, dan moet dit wees om myself, nie omdat daar ’n kind is nie.” Die blou oë pleit om begrip. “Ek kan nie met ’n man saamlewe wat my net verdra omdat ek sy kind in die wêreld gebring het nie. As Ben my weer wil hê, dan moet dit suiwer uit liefde vir my wees … en om daardie rede alleen.”
Hulle is stil. Marlene het baie verander die afgelope jare, maar die trots het gebly. ’n Getemperde trots. Sy is nie te trots om na Ben Roux te gaan nie; nie te trots om na Rondekuil te gaan nie, maar sy is nog trots genoeg om haar eise te stel.
Nou is dit nie net Ben wat hoë eise stel nie. Marlene s’n is ewe hoog. En dit gaan vir hom ’n bitter pil wees om te sluk dat Marlene pas ná hul egskeiding iemand in sy plek gestel het. As hy haar nog liefhet, gaan sy liefde aan dáárdie hoë eise kan beantwoord?
Op Rondekuil trek Ben Roux op daardie oomblik sy teaterjas uit en knik teenoor sy personeel. “Dankie. Dankie, suster. Ek gaan jou mis.”
Suster Eloff bloos liggies. Ben Roux gee maar min komplimente, en hy het nog selde sy waardering vir haar bekwaamheid so duidelik uitgespreek. Was dit nie dat dokter Roux baie duidelik ’n vrouehater is nie, sou Koos van Zyl darem maar moes sukkel om die jawoord uit haar te kry, dink sy met ’n meewarige glimlaggie. Maar sy moes, soos die res van Rondekuil se hubare dames, ook maar uiteindelik verstandig besluit dat dit nie sal help om haar flikkers vir die gewilde dokter te gooi nie. Hy was beleef en vriendelik, kon selfs gaaf en gesellig wees – veral in sy werk – maar daar het dit opgehou. Geen vrou kon daarin slaag om deur daardie pantser te dring nie.
Pieter Venter antwoord van die ander kant: “Moenie so bekommerd lyk nie. Herman Henning het ’n wonderlike getuigskrif vir ons nuwe suster gestuur. Sy het nou wel maar pas haar opleiding voltooi, maar hy het dikwels saam met haar in die teater gewerk en hy sê dat sy ’n spesiale aanleg het.”
’n Snork van die chirurg van Rondekuil ontlok skamper glimlaggies van die res van die teaterspan.
“Wat weet ’n pas gekwalifiseerde sustertjie van teaterwerk af? Met mangels en blindederms kan sy miskien help, maar verder?”
Piet Venter lag hardop en waag dit om te sê: “Wel, jy sal haar maar na jou hand moet leer soos jy suster Eloff geleer het. Daar is natuurlik ’n oplossing vir jou probleem, kollega. Sorg dat sy nie weer deur ’n minsame boertjie weggeraap word nie!”
’n Verergde blik en verontwaardigde grom is al antwoord wat hy kry, en dis eers toe hy uitstap dat die ander werklik uiting aan hul pret gee.
Suster Eloff laat laggend hoor terwyl sy begin opruim: “Ek kry die arme mens jammer, glo my! Ek sal nooit my eerste weke in hierdie teater saam met dokter Ben vergeet nie. My trane was my brood. Ek het later begin wonder of ek ooit graad een deurgekom het, wat nog te sê my diploma verwerf het! Hy was darem omgekrap daardie tyd.”
Piet Venter knik en begin ook van sy teaterklere ontslae raak. Ja, hy onthou. Maar toe was Ben Roux pas weg van ’n groot stadshospitaal en hy kon soms bars van frustrasie oor die ontoereikende geriewe en die jong sustertjie wat maar net mangel- en blindedermoperasies geken het.
Dit was maar eers toe Ben hom op Rondekuil kom vestig het dat meer gevorderde operasies hier uitgevoer is.
En dit was glad nie net suster Eloff wat moes deurloop nie. O nee. Hy, Piet Venter, waardige superintendent van die hospitaal, inkluis! Piet skud nou sy kop terwyl hy aan daardie tyd terugdink. Omgekrap wás hy, en dan is dit mak gestel. Maar mettertyd het suster Eloff, ná hoeveel tranerige dreigemente om te bedank, darem Ben se regterhand geword. Die res van die personeel het ook aangepas by sy hoë standaarde en die laaste jaar of wat gaan dit klopdisselboom in Rondekuil se hospitaal.
En nou wil Lettie Eloff skielik trou! Sedert Koos van Zyl die jawoord gekry het, is dokter Roux weer so knorrig soos ’n beer. En toe hy weer, soos toentertyd, met alles en almal begin skoor soek, het Piet Venter se geduld so kort geraak dat hy op die man af gepraat het.
“Nou vir wat slaan jy nie Koos van Zyl se hand in die as en trou self met die vroumens nie? Dan is al hierdie ontwrigting nie nodig nie. En moenie my aankyk asof jy mý graag onder die mes sal wil kry nie! Jy weet so goed soos ek jy kan maar net jou pinkie lig en Lettie Eloff los vir Koos soos ’n warm patat.”
“Moenie vir jou stuitig hou nie, Piet!”
“Ek dink glad nie dis stuitig nie. Dis die oplossing vir jou probleem. Maar miskien moet jy maar vir die nuwe suster wag. Lettie se troukaartjies is al uit.”
Ben Roux se breë, afkeurende rug was toe ál antwoord wat hy op sy puik voorstel gekry het, maar dit het tog inslag gevind.
Ben het in die dae daarna duidelik sy bes gedoen om ’n bietjie meer gemoedelik met sy personeel en kollegas saam te leef en sy ontevredenheid dat hy eersdaags met ’n groentjie in die teater sal moet sukkel, vir homself gehou.
Dit troos darem om te weet dat die nuwe suster nie meer so jonk is dat sy met verleidelike skaapoë na hom oor die masker sal