Vatmaar. AHM Scholtz. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: AHM Scholtz
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Публицистика: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780795707803
Скачать книгу
wil wit wees.

      Almal op die delwerye het geweet Mineer Swartz praat nie as hy ’n goeie steen kry nie. Sy diamantkleim was een van die rykste in Bakerville, het die delwers onder mekaar gefluister.

      Ek het die baas hoor sê dit gaan nie baie voorspoedig met die Steenkamps nie, het Oom Flip vir Sus Bet vertel. Die baas het gesê hy weet Mies Mollie gee vir hulle verniet water en dat sy nie van hulle seun af kan wegbly nie. Dit sal goed wees, het die baas vir die Ounooi gesê, as hulle trou, dan kan Filemon die diamante sorteer want onse kaffir het mos ook nou ’n meid raakgeloop. Net so, Bet.

      Ek is net jou meid, het Sus Bet haarself hoor sê, en opgestaan en gesê: Naand, Flippus.

      Hy het haar hand gevat asof hy saam met haar uit hulle voorkamer loop. Hy het daarvan gehou. Naand, Bet, het hy gesê en weggestap asof hy op eiers trap.

      Siesie Lena het een weeksaand by Sus Bet gaan kuier. Langs die pandok het Mies Mollie, Filemon en Baas Steenkamp bymekaar gestaan. Toe sy by hulle verbyloop, sê sy: Naand, my Baas, Kleinbaas en Kleinnooi. Kan ek maar vir een van my Griekwa-geslagte gaan kuier? Want as ek dit doen, voel ek môre die eensaamgeit is weg, my Baas.

      Ja, gaan maar, Oumeid, het Steenkamp gesê.

      Toe sy by Bet kom, het Siesie Lena haar gesoen en gevra: Hoe gaan dit, my kind?

      Dit was die eerste keer dat Siesie Lena haar gesoen het en daardie aand het Siesie Lena die een praatjie na die ander oor die Griekwas en oor Postmasburg gemaak. Sy het gepraat asof iemand buite staan en afluister. Later vat sy Sus Bet se hand en sê: Stap saam met my want dit is donkermaan. Jou oë is beterder as myne en na ’n warm dag hou die pofadders van die paaitjie.

      Ook maar goed, het Bet gedink toe sy deur haar deuropening klim, want daar staan Steenkamp en sy vrou en luister na wat binne-in haar blyplek gesê word. Hulle het dadelik padgegee. Die witvrou het eintlik geklingel, so vinnig het sy geloop.

      Toe hulle ’n ent van die Steenkamps se pandok af weg is, gaan die twee vroue staan. Die oudste vat die jonge se hande en fluister: Moenie hard praat nie. Het jy met hom gepraat?

      Ja, sê Bet.

      Vertel my als.

      Bet het alles vir Siesie Lena vertel en Siesie Lena wou dit ’n tweede keer hoor.

      My kind, sê Siesie Lena toe, bewaar hom soos goud. Ek gaan met Janman praat. Ek sien jou aankomde week. Sy het haar vinger op haar mond gesit: Hou jou bek, ons gaan hier weg, jy sal sien.

      Hulle het naand gesê en toe sy terugloop, dink Sus Bet by haarself: Weg? Wie wil hier weggaan? Nie van my Flippus af nie! Maar ek sal wag en kyk en maak wat Siesie Lena sê, want sy weet beter.

      Die volgende naweek terwyl Sus Bet en Oom Flip onder hulle boom (want hulle het dit nou “onse boom” genoem) sit en die tyd stadiger probeer laat loop deur nie te praat nie en nie aan die slaap te raak nie, sit en wag Siesie Lena vir haar Janman. Toe hy kom, gaan hulle ook onder ’n doringboom sit sodat hulle kan sien as iemand aankom. Na sy vir hom vertel het wat haar kazie, haar cousin, haar vertel het, sê Janman: Sê dit weer, my Ma. Ek kan dit net nie glo nie, en dan glo ek dit tog weer. Partykeer pluk ’n witman darem ’n lat vir sy eie gat! Wat sal ons nou doen?

      Janman, sê sy ma, ons het nie baie tyd nie want tyd en geluk werk saam. Ek gaan vir Bet sê sy moet hierdie man van haar vra om vir haar een van die klippe te bring. Maar sy moet hom eers sê hoe gevaarlik dit is, want word hy gevang, sal hy in die tronk loop doodgaan.

      Ja, sy moet hom eers goed skrikmaak, sê Janman.

      Toe, nadat hulle hulle plan baie goed uitgedink het, sê Siesie Lena: Jy weet, my kind, ons moet eerlik wees met hierdie man want ek weet al die mense wat gevang is, het mekaar probeer besteel. So die heel grootste ding is, ons moet eerlik onder mekaar wees. Daar is vier van ons in die ding.

      Hulle het al byna die hele middag onder die boom gesit toe Siesie Lena weer sê: Jy’s reg, Bet moet hom eers goed bangpraat.

      Wie weet, sê Janman, ek dink nie hy kan so onnosel wees nie, want eers het hy altyd die mense te veel kleingeld gegee as hulle vir water betaal. Maar nou sal hy jou nie ’n pennie te min of te veel gee nie. En wat so snaaks is, as hy daarna voel, dan vat hy glad nie eers jou geld nie.

      Siesie Lena se plan was dat Bet eers moes seker maak dat Flippus nie kanse sal vat nie. Dan moes sy hom vra of hy haar rêrig liefhet. Sê hy ja, hy het, moet sy haar arms om sy nek sit en hom ’n lang soen gee. Dan moet sy wag en hom weer vra: Het jy my rêrig lief, sal jy iets vir my doen? Sê hy dan hy sal enigiets vir haar doen, moet sy sê: Bring vir my van daai blink klippe.

      Ek is seker God is aan onse kant, het Siesie Lena vir Janman gesê, want dink jy nie God kan sien hoe hierdie mense ons behandel nie? Vir ’n vrye mens om soos ’n slaaf te moet lewe is erger as om ’n slaaf te wees wat gekoop is. Die boeie is net dieselfde.

      Dit het laat geword, en Siesie Lena het opgestaan: Ek moet my kombuiswerk gaan doen.

      Naand, my Ma.

      Naand, my kind.

      Albei het terug loop en dink en dink en dink, ma en seun elkeen hulle eie dinge op hulle verskillende paaitjies. Ons moet liewer hulle se liefde laat groei as om dit te knak, het Siesie Lena gedink, want ek het Bet nog nooit in so ’n goeie bui gesien nie.

      Sy het weer een weeksaand by Bet gaan kuier. Dié keer het sy vir haarself gesê: Ek sal versigtiger wees want ek weet mos hulle luister af.

      Die lewe van ’n diamantdelwer is hard. Hy hoop die hele tyd hy kry ’n klip wat hom sal ryk maak. As hy nie ’n geluk kry nie, ly sy familie en sy werksmense saam met hom. Maar sy volk kry altyd die swaarste, want al kry hy ook ’n goeie klip, behandel hy hulle nog altyd asof hy swaar kry.

      Onder die delwers was daar ’n paar wat diamante teen ’n appel en ’n uie van ander delwers se werksmense gekoop het. Almal het dit geweet. Delwers is vriende want hulle ken dieselfde soort lewe, maar tog is daar ’n diep wantroue onder hulle en op Bakerville het hulle altyd dinge oor mekaar probeer uitvind.

      Siesie Lena was een van die gelukkige huisbediendes. Omdat hulle Engels was, het die Goodalls haar in hulle pandok se kombuis laat eet. Tot haar klere het sy by hulle gekry, met ’n kopdoek by om te wys sy’s ’n binnemeid. Sy het haar beker op ’n piering gesit as sy tee drink. Sy het ook elke Saterdag ’n stuk geelseep gekry. Die stukkie wat van die vorige week af oorgebly het, het sy gewoontlik vir Janman gegee. Maar dié week se oorskietstukkie seep sal sy vir Bet vat, het sy gedink, want sy het haar al ’n hele tyd nie seep gegee nie.

      Toe sy die stuk sinkplaat voor die deuropening wegtrek, sien sy Bet lê op haar kooigoed. Bet, sê sy, ek het vir jou ’n stukkie seep gebring, my kind.

      Bet het haar oë oopgemaak want sy het nie geslaap nie. Dit het net begin donker word en sy het nie ’n kers gehad nie want die Steenkamps het swaar gekry. Vandat hulle op hulle nuwe kleim begin delf het, het hulle nog nie een diamant gekry nie. ’n Kers vir ’n meid is te spandabel, het hulle gesê.

      Siesie Lena het weer met haar stories begin, dié keer stories oor haar kinderjare. Toe sê sy dis tyd om te loop.

      Wag, ek stap saam want ek het gehoor hulle het gistraand ’n pofadder in die paaitjie doodgemaak, sê Bet. Toe die twee ’n goeie ent weg is en seker gemaak het daar is niemand naby nie, vra Siesie Lena nie eers vir Bet of sy dit wil doen nie, sy vertel haar sommer net wat sy moet doen. En terwyl sy haar plan uitlê, sê sy oor en oor hoe gevaarlik dit is en dat Bet Flippus deeglik moet soen en dan met die as-jy-my-liefhet-stuk moet kom.

      Die hele plan het woord vir woord in Sus Bet se kop bly steek. Hulle het afskeid geneem en toe sy wegstap, sê Siesie Lena vir haarself: Party mense het al die geluk, maar hulle is gewoontlik dom. Nee, nie eers nie, hulle is regte ape.

      Daardie Sondag was Sus Bet eerste by die boom. Toe Oom Flip haar sien, loop hy vinniger. Onder die boom het hy haar met die hand gegroet en sy het haar aan sy hand van die klip af opgetrek. Toe los hy haar hand, trek sy baadjie uit en vou daarvan ’n kussing en sit dit op die klip vir haar.

      Het jy dan glad jou