Hulle het gesit en gesit en die saamwees ingedrink. Toe kom Sus Bet uit met die ding. Sy het net so gemaak soos Siesie Lena haar voorgesê het. Toe Flippus sê dat hy haar rêrig liefhet, het sy haar arms om sy nek gesit en hom gesoen en hy het sonder om te dink sy arms om haar lyf gesit en haar vasgehou. Sy het haar arms om sy nek losgemaak, maar hy het haar bly vashou. Hy het op sy knieë op die grond afgeskuif en so bly staan.
Ek sal dit net vir jou doen, Bet, het hy stadig gesê. Toe het hy háár gesoen, nog so op sy knieë. Dit het later laat geword en hulle het altwee opgestaan. Oom Flip het haar hand gevat en haar onder die doringboom uitgelei. Hulle het vir mekaar naand gesê en geloop.
Dit was die langste week in Bet se lewe. Dit het haar gelyk Sondag kom nooit. En Siesie Lena het ook nie kom kuier om die week te breek nie. Maar toe hulle die volgende Sondag weer langs mekaar sit met min om vir mekaar te sê, het Bet gedink hoe ’n goeie man haar Flippus is omdat hy gedoen het wat sy hom gevra het en die wag was niks.
Dit is my lobola, het sy vir hom gelag.
Die delwers se werksvolk wat eintlik die delfwerk doen, het geweet dat diamante vir ongelooflike pryse verkoop word, maar hulle het nooit die regte prys geken nie. Oom Flip ook nie en hy het nie geweet wat die twee klippe in sy binnesak werd was nie.
Sal jy omgee as ek jou eers vertel hoe ek aan daai seer oor, die dikbek en die sambokhoue gekom het, Flippus?
Hy het niks gesê nie en sy het hom alles vertel. Hy het baie stil gesit, soos iemand wat geslaan word terwyl sy hande agter sy rug vasgebind is.
Ek glo jou, Bet, het hy na ’n tyd gesê. My baas het dieselfde gedoen aan hulle jongmeid, Vlossie, maar sy het weggeloop en ek het haar nooit weer gesien nie. Die Ounooi het net gesê die Oubaas sal nooit so ’n ding gedoen het nie.
Daar was weer ’n lang stilte.
Toe sê Bet Flippus moet die klip wat hy vir haar gebring het in haar hand sit. Daar was twee. Die een was so groot soos haar duimnael en geel. Die ander een was halfpad so klein en wit. Oom Flip het die sitklip omgekeer en sy het die twee blink klippies daaronder gebêre. Toe sê sy: Net ek en jy weet.
Die verwekking van Klein-Neels was buite die eg, ja, maar volkome tussen die engele van die liefde. Hierdie eenrok-Griekwa-meisie het niks gehad om vir die ouer man te gee nie. Maar hy wou ook niks van haar hê nie, want hy was gewoond om die minste te wees.
Toe die liefdesvuur op sy hoogste brand, het sy aan hom gevat waar hy nooit tevore aangeraak is nie. Hy het doodstil bly sit en deur sy mond asemgehaal asof hy sy hartklop moet laat afkoel. Hierna is daar geen geheue nie. Geen pouse, geen rus. Hy het net aangehou. Min jong bulle kon by hierdie jong ou man byhou. En toe sy lyf nie meer kon nie, het hy omgerol en langs haar op die gras geval terwyl hy sy asem deur sy mond uitblaas. Fhoe, het hy gedink, die hemel kan nooit beter wees nie.
Bet wou nog meer hê.
Toe het hulle soos alle enjins wat warm is, vanself afgekoel. Dit was hulle eerste keer en daar sal nooit weer ’n eerste keer wees nie.
Daarna was hy ’n man en het hy soos ’n man gedink. Nou het hy geweet wat ja is en wanneer om nee te sê. Hulle het langs mekaar gesit sonder om skaam te wees dat hulle gedoen het wat niemand hulle ooit geleer het nie. En tevrede dat hulle dit kon doen. Want nou het ons grootmense se kos geëet, het Bet gedink.
Bok, het hy gesê, nou is ons man en vrou. Asof dit ’n bevel was. Sy het hom geglo.
Sy het opgestaan, die baadjie gevat en dit so gehou dat hy sy arms kon insteek. Hy het haar hand gevat en haar onder die boom uitgelei. Hulle het nie vir mekaar naand gesê nie, net hulle koppe geskud, wat baie meer beteken het.
Dit was winter en daar het ’n koue wind oor die delwerye gehuil. Bet het vir Mies Mollie en Filemon hulle tee op ’n skinkbord geneem.
Miskien is daar tog jammerhartigheid in die wêreld. Mies Mollie het ’n dik jersey en lang kouse aangehad terwyl Bet nie ’n kombers oor haar skouers mag gehang het wanneer sy die tee bedien en op haar kaal, gebarste voete staan en bewe nie. Kom, Bet, het Mies Mollie gesê, ry vanaand saam met die waterkar dan gee ek jou ’n jersey.
Daardie middag toe Oom Flip vir Mies Mollie kom haal, het Sus Bet ook op die kar geklim. Oom Flip het eenkant toe gekyk, maar toe hy wegry vir homself gevra: Wat gaan nou aan?
By die Swartze se pandok het Mollie gesê: Wag hier. Sy het teruggekom met ’n rooi jersey met lang moue wat vir Bet meer werd was as die twee diamante onder die klip.
Bet het tussendeur gedink en gedink hoe en waar sy die klippe moet bêre want die vrees wat sy by haar Flippus moes plant, het nou vir haar gepak. Maar sy was nie sonder plan nie.
Mollie was van dieselfde lengte en bou as Bet en Bet het vir haar gesê: My Miesies, ek vra een van my Miesies se ou bloemers, asseblief.
Mollie is die pandok in en het met die stuk onderklere teruggekom en gesê: Dè, maar moet my nie nog iets vra nie want julle mense is nooit tevrede nie.
Baie dankie, het Bet gesê en haar hande saamgeslaan. En nie vergeet om “my Miesies” by te sê nie.
Dit was net wat Bet wou hê – ’n swart, swaar bloemer met rekke om die pype. Sy het baie dankbaar weggeloop, die jersey in die loop aangetrek en die bloemer agter ’n bos.
Die volgende dag het sy haar miesies gevra of sy na Siesie Lena toe kan gaan as haar werk klaar is want sy wil graag haar nuwe jersey loop wys. Gaan, my meid, het sy gesê.
By die Goodalls se pandok, wat beter gelyk het as die meeste ander delwers s’n, want al is hy ook ryk, verkies die meeste delwers om soos ’n arm delwer te leef, het Bet vir Missus Goodall gegroet: Môre, Mêram. My werk is klaar en toe het my miesies gesê ek kan my siesie kom dagsê.
She is just round the corner doing the washing.
Dankie, Mêram, het Bet gesê.
Die twee Griekwa-vroue het mekaar gesoengroet. Siesie Lena het ooggeknip en gevra: Het jy reggekom?
Bet het die gevaar om oor sulke dinge te praat, geken en terug ooggeknip. Al wat sy gesê het, was: Onder onse boom. Albei het gelag. Sy het haar siesie by die wasbalie gaan help. Hulle het min gepraat want altwee het geweet as hulle eie mense uitvind iemand het ’n diamant, dan wil hulle die helfte van die geld hê of anders dreig hulle: Ek gaan jou brand.
Sus Bet het baie stories geken van mense wat verneuk, besteel of jare lank in die tronk toegesluit is, en sy was baie versigtig en het hard gedink. Hulle gaan nie my Flippus inloop nie, het sy besluit.
Toe die wasgoed klaar was, het Siesie Lena twee bekers koffie gemaak, ’n voorreg wat Bet nie by die Steenkamps gehad het nie. Toe het Siesie Lena vir haar mêram gesê sy gaan saam met haar kleinkind stap.
Laat ons gaan, het die ouer vrou gesê.
Bring naald en gare, het Bet saggies gesê.
Sonder om te vra hoekom, het Siesie Lena gehoorsaam.
Daardie oggend het Bet gesorg dat sy alleen is toe sy die baas-hulle se slaapkamer aan die kant maak. Sy het die hangkas oopgemaak en die rooi sysakdoek uit die bosak van die baas se baadjie gehaal. Haar rok was sonder sakke en sy het dit op die veiligste plek gebêre – in die bloemer se pyp. Nou weet ek waar om die klippe te sit, het sy gedink.
Sonder om ’n woord te sê, het sy en Siesie Lena die paaitjie gevat wat van die Steenkamps se pandok af wegloop en van die ander kant af by die boom gekom.
Dit is my klippe, het Bet gedink. En ek gaan hulle nie uit my hande laat gaan voor die geld daarin is nie. Onder die boom het sy op die klip gaan sit en geglimlag en op die gras afgekyk want sy het onthou van die vorige Sondag.
Kom hiernatoe en trek die klip om, het sy Siesie Lena gevra.
Bet het die twee diamante uitgehaal. Haar siesie het die klip weer op sy plek gesit en Bet het daarop gaan sit. Eers het sy die klein diamant gewys en toe die ander een.
Bet, Bet, Bet, my kind, ons het dit reggekry!