Vatmaar. AHM Scholtz. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: AHM Scholtz
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Публицистика: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780795707803
Скачать книгу
Daar was twee jong dogters, albei kaalvoet en in wit rokke. Met sy arms omhoog het die domanie hardop gebid en onse kerk geseën en die deur oopgesluit. Die ander jong meisie, met ’n bos asters in ’n vaas, het eerste ingegaan omdat Oom Chai gesê het sy moet die eerste voet oor die drumpel sit, sy, die reinste en skoonste van Vatmaar. Die meisie het die vaas op die tafel gesit waar die domanie sy Bybel sou neersit. Sy het haar twee hande teenmekaargesit soos wanneer jy bid, haar knieë geknak en toe omgedraai en saam met haar maats op die vloer gaan sit.

      George Lewis het langs ’n stoel onder Oom Chai se peperboom gestaan en die gedoente met ’n British army-verkyker dopgehou. Hy het die kerk help opsit en hy was baie trots om deel daarvan te wees, maar soos hy vir Oom Chai gesê het: You know as well as I do that I cannot get on with a Dutchman. They have no flag, and now they rally behind their taal.

      Oom Chai het vergeet om vir homself ’n stoel te laat aandra, toe moet hy langs die sittende hoë kokkedore staan. Party mense was jammer vir die ou man, ander het gedink dit hoort so, en ander het gemeen dit is sy verdiende loon.

      Die domanie het gesê: Ek is so dankbaar dat God my die geleentheid gegee het om die mooi en gesonde mense van Vatmaar te verwelkom in die skoot van die moederkerk aangesien Afrikaans hulle huistaal is.

      Daar begin dit al weer, het Oom Chai gedink. Dis onse huistaal, maar hulle moedertaal!

      Hierdie sendingkerk, het die domanie gesê, hierdie gebou, was die eerste N.G. kerk in Du Toitspan. Toe ons ’n groter kerk gebou het, het dit die kerksaal geword. So het ons eerste moederkerk nou julle eerste sendingkerk geword.

      Vervolgens het hy ’n hoofstuk uit die Bybel gelees, die deel wat sê jy moet jou huis op ’n rots bou. Dit het Vatmaar se mense beter laat voel oor al die klippe op die erf.

      Toe gee die domanie vir die gemeente die nommer van die gesang op. Die tien gaste het hulle gesangboeke oopgemaak (want hulle het elkeen so ’n boekie en ’n Bybel by hulle gedra) en gesing: Heilig is die huis van die Heer . . .

      Hulle was al wat gesing het en die gemeente het daarvan gehou. Na die preek, waarin hy gesê het die kneg is nie groter as sy meester nie, het die domanie die water in die kom geseën.

      Oom Chai het al die moeders met hulle se babas en jong kinders in ’n ry laat staan om gedoop te word. Hy het ’n nuwe swart stywebandboek uit die syslopie gehaal waarin hy sy Bybel gehou het en dit aan Mineer du Plooy gegee sodat die name, vanne en geboortedatums van die dopelinge (as hulle dit kon onthou) daarin opgeskryf kon word. Die Juffrou, Domanie Pienaar se vrou, het ’n pakkie kaarte – die doopkaarte – uit haar handsak gehaal waarop sy die besonderhede uit die hardebandboek oorgeskryf het voor sy dit aan die ouers van die gedoopte kinders gegee het. Nog ’n gesang is na die dopery gesing.

      Die domanie is eerste by die kerk uit en die ander gaste is agter hom aan. Oom Chai het hulle na die tafel toe gelei wat bedoel was vir die eerbare gaste en aan elkeen ’n mes en vurk op ’n skinkbord gegee. Hy het toe die lewer van die vuur gehaal, dit op ’n bord gesit en gesê: Vatmaar se gaste, help julleself.

      Hy het dieselfde met die vleis gedoen. Toe het Sus Bet die warm roosterkoek oopgesny en dit saam met ’n groot stuk botter op die tafel neergesit. Sy het bekers gemmerbier nader aan die gaste geskuif en gesê: Drink! Moenie skaam wees nie, dit is Vatmaar se special. Wag, sê sy toe, julle mense kan nie staan en eet nie. Sy het ’n paar seuns geroep en gesê: Gaan haal vir die domanie en onse kerkmense stoele.

      Oom Chai het vir sy vriend George Lewis ’n beker gemmerbier, roosterkoek en vleis peperboom toe gedra. Toe almal sit en eet, sê hy vir die domanie: Ons het nie dankie gesê voor ons begin eet het nie!

      Goed, Chai, sê die domanie, ons sal nie vergeet om Dankie Vader te sê na ons die kerk se inwyding klaar geniet het nie.

      Die domanie sê toe met ’n harde stem: Maak toe julle oë.

      Die hele Vatmaar het stilgestaan en die domanie het onse dank aan God oorgedra.

      Een van die eerbare vrouens van die Pan het so baie van die roosterkoek gehou dat sy vir Sus Bet gesê het dit was die beste roosterkoek wat sy nog ooit geproe het.

      O ja, het Sus Bet geantwoord, ’n ou Voortrekkerresep.

      Toe is daar handgeskud en handgeskud en nogmaals handgeskud.

      Na die gaste vertrek het, het Vatmaar se mense probeer om alles op te eet wat daar nog oor was. Daar was niemand wat daardie eerste Sondag van Oktober kos gekook het nie.

      Die ouderling, Mineer du Plooy, het altyd die eerste drie Sondae van die maand gepreek, en Oom Chai die laaste een. Teen dié tyd het die mense die woorde van die Onse Vader geken, en ook, soos hulle dit genoem het, Oom Chai se lied, Nader my God by U.

      Wanneer die wit ouderling die diens gehou het, was die kerk gewoontlik vol. Maar as Oom Chai gepreek het, ’n ding wat hy in die begin baie ernstig opgeneem het, was daar net ’n paar mense. Hy kon dit nie verstaan nie want hy het nie geweet dit was oor hulle dan Nader my God by U net so stadig soos hy moes sing nie.

      Oupa Lewies het net kerk toe gekom as Oom Chai preek. Hy het saam met sy vrou gekom wat nooit ’n Sondagdiens gemis het nie. As Oom Chai die boek en hoofstuk in die Afrikaanse Bybel, wat hy spesiaal gekry het, opgegee het, het Oupa Lewies sy Engelse Bybel oopgemaak en saggies vir homself gelees. Selfs onder gebed het hy die woorde saggies vir homself geprewel. Hy het gesê hy geniet die kerktoeganery. Sy twee kinders, Elsa, die meisiekind, en Tommy, die seun, het hy na ’n Engelse kosskool in Kimberley gestuur waar hulle Rooms-Katolieke geword het.

      Die eerste begrafnis

      Ouma Lewies was die eerste om uit die kerk begrawe te word. Nadat die kis die kerk ingebring en op twee bankies neergesit is, het Oom Chai na Oupa Lewies toe geloop. Sonder ’n woord het hy George Lewis se Engelse Bybel gevat en sy eie Hollandse Bybel op die tafel neergesit. Hy het die Engelse Bybel oopgemaak en gelees: In my Father’s house are many mansions, if it were not so I would have told you so.

      Die kerk was stampvol want Vatmaar se mense was deel van Ouma Lewies. En dit was ’n Sondag.

      Daar is nie gepreek nie en Nader my God by U is nie gesing nie. Daar was net ’n lang oomblik van stilte.

      Toe vat hierdie witman die hande van sy twee gekleurde kinders en gaan staan by die koppenent van die kis. Hy het in die swart gesig van sy geliefde Ruth gekyk en in ’n mooi, ryk stem gesing: Rock of Ages, cleft for me, Let me hide myself in Thee . . . Al vier verse.

      Die kis is toegemaak en op Oom Flip se trollie getel en Ou Swaai het geweet sy moet nie haastig wees nie, die hele Vatmaar loop agter haar aan.

      Langs die graf het Oom Chai met ’n gebroke stem Nader my God by U begin sing. Vatmaar het die woorde geken en dit gesing asof dit uit een hart kom en asof hulle met die Hemelse Vader van Vatmaar praat. Daarna is die kis laat sak. Oom Chai het ’n paar handevol sand in die graf gegooi en in Engels gesê: Dust to dust, ashes to ashes – uit respek vir sy vriend se taal.

      Terwyl die graf toegegooi word, het Oom Chai na Oupa Lewies se gesig gekyk, sy hand gevat en hom weggelei. Hulle het mekaar omhels soos net tweelinge kan. Albei het begin huil. Die trane het op die skouers van die twee grysaards gedrup terwyl hulle so staan. Almal het stil geraak. Toe het die twee ou vriende hulle arms laat sak en sonder om na te dink het elkeen sy kakiesakdoek uitgehaal en die ander se gesig afgedroog. Die mense het dit alles doodstil staan en aankyk. Oom Flip het met ’n stadige skud van sy kop gesê: Die liefde ken nie grense nie.

      Oom Flip vertel van sy transportryery

      Oom Flip het vertel dat sy mense in Basoetoeland gewoon het, ’n land wat hy as piekanien verlaat het.

      ’n Transportryer het by hulle stat verbygekom. Toe niemand kyk nie, het hy opgespring om te voel hoe ry die wa. Hy het nooit daaraan gedink dat as hy wegry hy nooit weer sal terugkom nie.

      Ek het my eerste rit op ’n wa geniet en ek het gou vas aan die slaap geraak. Ek is kort voor sononder deur die agterloper wakker gemaak. Hy het ’n man met ’n baard geroep en met hom ’n taal gepraat wat ek toe nog nie geken het