Vatmaar. AHM Scholtz. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: AHM Scholtz
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Публицистика: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780795707803
Скачать книгу

      Bet kon haar siesie se hart voel klop. Jy’s ’n wakker oumeid, het sy gedink.

      Hulle het sonder woorde verder geloop. Die een het die ander nie vertrou nie, tog was hulle mense van dieselfde soort.

      Sê my, my kind, het jy die klippe weer onder die klip gesit? vra Siesie Lena later.

      Nee, nee, my Siesie. Op ’n ander veilige plek.

      Lena het gesug maar niks gesê nie. Dankie, Here, was al wat sy gedink het. Toe vertel sy vir Bet van Janman se nuwe vriend en dat Janman hom wou bring om haar by die boom te ontmoet. Sy het Bet alles vertel wat Janman oor die man gesê het.

      Goed, dan bring ek Sondag vir Flippus saam na julle se boom toe.

      Goed, sê Siesie Lena. Ek sal kyk of ek ’n emmertjie kaffirbier kan kry.

      Goed, dan loop ek maar, Siesie.

      Sondagmiddag het die vier Griekwas en die Basoetoe onder die boom gesit en die bier rondgegee sodat elkeen ’n paar mondjiesvol kon kry. Op dié manier het die drank langer gehou. Toe die emmertjie leeg is, sê Siesie Lena: Nou ja, Jakob Kierie, vertel ons van die plek waar jy vandaan kom. Hoe roep hulle hom?

      Du Toitspan, het hy gesê, en die witmense praat meeste Engels. Maar daar’s ’n nuwe plek nie ver van die dorp af nie waar ’n mens ’n erf kan koop vir vyftien sjielings en vyf sjielings ’n jaar. Daar’s baie water. En ek het met een van onse mense daar gepraat, sy naam is Ta Vuurmaak. Hy sê die mense koop stene by hom en dat hy nie hoef te werk nie want hy kry ’n ouderdomspensioen.

      Watse ding is ’n pensioen? wou Oom Flip weet.

      Hulle het gelag en toe vertel Siesie Lena hom. Ook maar goed want Bet het ook nie geweet nie.

      Oom Flip het ’n klomp vrae gevra. Hulle kon nie verstaan hoekom hy sulke dom vrae vra nie.

      Toe sê Jakob Kierie: Die mense in daai plek sukkel baie want hulle het nie transport nie en die Pan se transport is duur.

      Dié nuus het Oom Flip se kop op hol gesit. Hy het van sy eie trekgoed en wa sit en droom. Nee, het hy gedink, nie osse nie, ’n perdekar of miskien muile. Hy het ’n laggie uit sy hart gegee want nou het hy sy eie begeerte geken.

      Siesie Lena het nie gesê hulle het diamante nie.

      Wat as ons ’n klip kry . . .? is al wat sy vir Jakob Kierie gevra het.

      Dan moet julle hom vir my gee solat ek hom kan verkoop en vir julle die geld gee soos ek vir Mister Goolam ook gedoen het wat ’n groceries-winkel in Barkly het.

      Hulle het nie vir hom ja of nee gesê nie. Elkeen van hulle het ’n ver kyk in die oë gekry maar niks gesien of gesê nie.

      Toe sê Siesie Lena: Die groot ding is om hier weg te kom. Ons moet nie weghardloop as ons trek nie, want hulle sal hulle se suspisies hê. En dit sal wees: Hulle het ’n klip gesteel.

      Laat hulle sê wat hulle wil, sê Jakob Kierie. Ek loop soos ek wil. Ek is mos ’n los hotnot.

      Ons sal die saak hier laat, sê Siesie Lena en vat die emmertjie. Ons sien mekaar Sondag weer hier – en sy het na die boom gewys. Elkeen het diep ingedagte sy eie pad gevat.

      Ouman, het Bet in sy oor gefluister, sê vir almal jy wil met my trou en hou hulle se gevrete dop en dan sê jy my Sondag. Ons moet lat die diamant ons perd en kar koop – want sy het gesien hoe sy gesig ophelder toe hy van die probleem met die transport hoor. Sy het nou al haar Flippus se buie geken asof sy hom haar hele lewe al ken.

      Ek sal my Ounooi vertel dat ek vrou gaan vat en dat dit jy is, Bok, en dan sal ek sien wat hulle sê.

      Hulle het hande vasgehou en in mekaar se oë gekyk. Toe glimlag Oom Flip en sê: Ek loop eers.

      Die volgende Sondag het Oom Flip na Sus Bet se krot toe geloop. Hy het buite bly staan. Bet, is jy daar? vra hy en hy dink by homself: Ek is vir niemand meer bang nie want sy is my vrou. Net gister nog wou Mies Mollie weet hoekom hy vir daai meid twee canfruit-blikke vol water gee – een is mos genoeg om haar gevreet in te was, het sy gesê. Hy het nie gehou van die manier waarop sy dit sê nie, toe antwoord hy met ’n harde stem: Sy is my vrou.

      Nie Oom Flip of enigiemand anders het geweet hoekom Sus Bet die ekstra blik water wou hê nie. Maar snags het sy die blik water onder die handdoek toegemaak wat Siesie haar vir ’n kussing gegee het. In die blik het sy die “rooi gevaar”, soos sy die pakkie genoem het, gebêre en dit soggens eerste uitgehaal, die water uitgedruk en dit op sy plek tussen haar bene gesit.

      Jy moet nie stink nie, het sy heeltyd gedink as sy dit sit waar dit hoort.

      Toe Bet vir Ounooi Steenkamp sê Flippus wil haar vir sy vrou hê, sê sy: Ek wil nie nog ’n kaffir en meid op die kleim hê nie. Een kaffir en meid is oorgenoeg. So as hy jou wil hê, moet hy jou met hom saamvat. Hy raak te groot vir sy skoene, en die sambok het lanklaas werk gehad. Meide is volop. Ek skop jou onder jou gat en dadelik val daar ’n ander een in jou plek.

      Dit is wat haar ounooi gesê het, het Bet vir haar Flip vertel. En van toe af het die Steenkamps haar minder en minder kos gegee. Sy het honger bed toe gegaan en weer honger opgestaan.

      Flippus het daardie week elke aand ’n halwe brood vir haar gebring, want hy was nie meer bang vir haar witmense nie. Maar een aand vra Filemon vir hom: Wat het jy daar, Kaffir?

      My vrou se brood.

      Jy het vergeet om Baas te sê, my Kaffir, sê Filemon.

      Flippus het net na hom gekyk.

      Bok, sê hy later, toe ek hulle vertel ek gaan met jou trou, het die hele Swartz-familie gelag. Jy’s nog nie ’n man nie, my Kaffir, het die Oubaas gesê – wat hom geken het vandat hy ’n piekanien met ’n stertriem was. Het jy geproe? Is dit lekker? Nou wil jy jou goeie Oubaas weggooi vir poes.

      Oom Flip het nie ’n woord gesê nie, net na sy Oubaas gekyk, want die respek wat hy vir hom gevoel het, het die Oubaas met dié woorde in die grond vertrap.

      Mies Mollie het dadelik gesê: Hou hom weg van die gruis af. My Filemon het gesê hy sal enige tyd die sortering doen, Pa moet net vra.

      Bok, sê Flippus, die Ounooi het toe gesê: Hy’s nie meer onse kaffir nie, hy’s ’n vreemde kaffir, hou hom op sy plek.

      Oom Flip was baie hartseer en Sus Bet was jammer vir hom want sy het geweet sy was die oorsaak.

      Daardie Sondag was die vyf mense onder Siesie Lena se boom diep ingedagte toe die emmertjie kaffirbier leeg is. Toe Bet hulle vertel wat haar ounooi gesê het, sê Siesie Lena: Dis net wat ons wou hê, dis in onse guns lat sy so gesê het.

      Toe vertel Flippus sy storie en hulle het almal gelag oor sy oubaas se woorde dat hy nog nie ’n man is nie en of hy geproe het, want vir dié mense was woorde woorde, elkeen met sy betekenis, of dit nou goeie of slegte woorde was.

      Siesie Lena het gesê haar mêram het dadelik verstaan toe sy sê sy moet haar erfenis gaan haal anders los haar broers niks vir haar nie: Die mêram het gemeen Jakob Kierie het die tyding gebring, sy’t hom laas Sondag saam met my gesien, en sy het gesê ek kan al my goed vat en lat sy my my pay sal gee, solank ek net vir haar ’n ander bediende kry, een wat sy net so kan vertrou soos vir my.

      Mêram, het Siesie Lena gesê, Mêram is ’n baie goeie mêram. Ek sê vir Mêram dankie lat Mêram my soos ’n mens behandel. Ek gaan met ’n goeie hart weg en laat vir Mêram ook met ’n goeie hart agter.

      Ek het vir haar gesê ek het klaar iemand vir haar gekry en die mêram sê toe ek moet net sê wanneer ek wil loop.

      Dit klink alles baie goed, sê Jakob Kierie, maar waar is die klip? Ek kan nie dink voor ek die klip sien nie.

      Die klip se tyd kom, sê Siesie Lena met ’n swaai van haar arm.

      Goed, sê Janman. Klaar gepraat. Ek sal Saterdag my loon gaan haal en Bet moet by haar ounooi ook haar geld vra. Flippus sal ook sy geld vra en Sondag kom ons weer almal hier bymekaar en maak reg vir Maandag se vertrek.