“So draai die wiel,” sug ou Gert eindelik. Hy proe aan sy koffie, dis nog te warm. “Die boonste sporte kom onder,” konstateer hy.
“Nou gaan Pa te ver,” berispe die seun. Die preek, vir sover hy gevolg het, spook nog flou by hom. “Attie Hardehand is darem ’n fluks boer, a!”
“Fluks uit gierigheid,” sê ou Gert knorrig, want die waarheid moet uit, “en dink jy nou daar’s ooit iets vir die kerk? Dis maar altyd sus, of dis so. Vir wie maak hy tog bymekaar? Daar sit hy met ’n seun wat ’n kwes in die kop het en die dogter …” Ou Gert haak vas, hy’s nie in staat om die afstand tussen hom en ’n wulpse skoolmeisie te oorspan nie. Hy praat liewers van ou Jan: dié was maar altyd nog ’n ou bontskieter. Ou Gert raak aan die lag toe hy vertel hoe die dominee met die laaste kerkraadsvergadering vir ou Jan moes stilkry met: “Ek vrees, broer, ons dwaal te ver weg van ons oorspronklike grappie.”
“Jongmense verander, Pa,” gooi ou Kittie stuiwer in die beurs.
“Hulle verander nié,” oordeel ou Gert, “ek is al oud genoeg om te gesien het.”
“Pa, jy darem!” sê ou Kittie toegeeflik. Daar was tye in hulle huwelikslewe toe sy haar ou trekmaat dood kon gegaffel het, maar sy gun hom steeds die ereplek. Hy’s immers haar man en die vader van haar seuns.
“Nee wag, Pa, nou skinder ons mos!” Die seun.
“Ek sê maar net ou Koos Nek het kop en skouers bokant één van sy afstammelinge gestaan,” sê ou Gert, steeds agter die waarheid. “Toe hy jonger was, het almal gedink daar word iets van Klaas, hy was ’n slimkop. Nou sit en vergaan hy daar op die plaas en jy sien hom byna nooit nie. En Kobus wat so ’n uithaler-ruiter was! Jy moet hom op ’n perd gesien het!”
“’n Dronklap!” bars ou Kittie uit. “Ek het hom een keer gesien …” ’n Opstuwing van emosie laat haar vla mors uit die poedingbak wat sy vir die bediende aangee om uit te dra kombuis toe. “Bring ’n vadoek, Mina,” beveel sy skerp, “ek kom nou uit om vir julle te skep.”
“Wat maak julle, Pa?” vra ou Kittie. “Ek gaan bietjie skuins lê.”
Die skoondogter wil ook – die kinders kan soet buite gaan speel.
“Ek weet nie …” twyfel ou Gert; hy kry verlammingsnagmerrie wanneer hy op ’n vol maag gaan lê.
“Kom ons gesels liewers ’n paar woorde, Pa,” stel die seun voor, want middagslapery is vroumenswerk; laat jou bowendien gewig aansit.
“Vertel bietjie meer van ou Koos Nek,” stel die seun voor toe hulle buite op die stoep sit. Miskien help dit om wakker te bly.
Wat ou Gert betref: dit skyn ’n namiddag vir herinnering met die bergreeks daar anderkant so wasig blou teen die witterige lug.
Later word die bergreeks perserig: kolomme en koepels en rotsboë begin uitstaan uit die flanke en borse; tot lank ná die son verdwyn het, vlam die pieke nog rooi. Die ou dorp, met dele van sy geskiedenis nog ongeskonde in stil straatjies, word ’n attraksie vir vakansiegangers en bergklimmers. Dié wat hier ingeburger is, onderneem selde klimtoere; hulle is die afstand van pieke te gewoond. Dalk het die vertoon van krag en tydloosheid mettertyd ’n invloed gehad, want van die ouer families het ’n reputasie vir eienaardig wees: driekwart mal en eenkwart slim. Te veel op hulleself aangewys, sê buitestanders. In die afsondering van subtropiese valleie tussen die berge se uitlopers.
“Ek weet nie of daar veel te vertel is nie,” het ou Gert die namiddag – skielik droewig van te veel eet – gesug, “ek het dit alles maar van my oorlede vader.”
Ná ’n rukkie het hy tog begin vertel.
4
Koos Nek was ’n jintelman, ’n egte Bolandse jintelman, met meer geleerdheid as die grootste gros van sy tydgenote. Waarom hy die spogplaas wat hy glo van sy oorlede vader geërf het, verkoop het om hier in die binneland sy empire te kom vestig, het ’n raaisel gebly. Hy’t nooit intieme vriende gehad nie.
Maar hy het die regte ideale vir sy tyd gehad: die begeerte om ’n skepper te wees in ’n landsdeel waar daar nog alles te doen was. Dit was of sukses hom aanvanklik aan die hand gelei het en daar was jaloesie, kleinlike dinge is van hom gesê. Hy’t hierheen gekom met geld en ’n jonggetroude vrou – sy was dalk sy skild. Hy’t gekom met kosbare besittings – hóé kosbaar word nou eers besef: silwer, glas en buitelandse porseleingoed. Om nie te praat van die meubels nie, alles uit die voorste rakke. Om maar te vergeet van die duur tapyte, gordyne en linnegoed. Die huis self moet vir daardie dae ’n fortuin gekos het: geelhoutbalke, stinkhoutmuurkaste en -vloere, vensterbanke van olienhout. Attie Hardehand, wat nie onder ’n kalkoen uitgebroei is nie, besef terdeë en sou die ou goed met sy eie lewe verdedig.
Maar Koos Nek was bowenal grondkenner en perdekenner en hy’t geweet wat hy doen toe hy die poort gekoop het. Die rivier wat sy oorsprong bó in die gate van die Swartberg het, word op pad ondertoe konstant gevoed deur stroompies en dwarsriviere waaroor daar in die reëntyd flenters reënboog kom staan – dis ’n wonderlike gesig. Sedert onheuglike tyd het die water die goeie bougrond uit die hoogtes gebring en met verdrag langs die oewers neergelê. Ondertoe waar die voetheuwels plek-plek van mekaar wegstaan, is die wye komme landbougrond waar daar in Koos Nek se tyd die soetste lemoene en perskes, om nie van druiwe te praat nie, in die land gekweek is.
Ou Gert, wat nie op sy mond geval is nie, het voor sy seun se oë laat opstaan: die donkergroen lemoenboorde en wingerde, die troppe stoetperde op die kweekplate langs die rivier: die swartes, die kastanjebruines, die skimmels, die palomino’s.
Dit was voorjaar en op ’n weekdag toe hy die eerste keer gekom het – met ’n splinternuwe kapkar en twee eersteklas perde wat flink met die hoofstraat afgedrawwe gekom het – verby die residensie, die Engelse kerk, die bordinghuis en hotel (toe nog ’n sinkdakgeboutjie wat aan Levin se oorlede vader behoort het) tot onder by die tronk. Toe weer terug en voor die hotel stilgehou. Voor die mans wat op straat doenig was, kon nader staan om te verneem, is hy in by die hotel en het eers weer ’n halfuur later verskyn met vars klere aan. Geen agent of veekoper nie, kon jy dadelik bespeur: ’n aansienlike jongkêrel, taamlik aan die kort kant en met duur klere. Hy’s reguit na die prokureurskantoor en geleidelik het die nuus versprei. Die mense het geproe aan die ietwat buitegewone van: ene Lotriet van die Boland. Hy soek grond om te koop.
Dis ook al wat hulle van hom verneem het … byna al wat hulle ooit werklik uit sy eie mond verneem het. Niks van sy herkoms, planne en stand nie; sy ouderdom, nasieskap en huwelikstaat nie. Party het gedink hy’s ’n Hollander weens sy hoë spraak, maar dié bedenking is gou die kop ingeslaan. Die vent was niks meer as ’n boer nie, hy stel hom net aan. Want van die begin af was die houding daar: kop hoog, iets aan die skouers, oë wat wil-wil by jou verby kyk. Nie juis onbeleef nie, maar koelkomkommer en té besadig.
Dié wat saans by die kroeg gewag het om uit te vra – van die boere het spesiaal ingekom – was teleurgestel. Dit het gelyk of die man gedurig haastig was. Ou Gert se oorlede vader het later gesê: “Dit was of Koos Lotriet al jongtyd bang was hy gaan nie genoeg tyd hê om alles te verrig voor hy doodgaan nie. Party mense ís so.”
Die vrae, wat al hoe versigtiger geword het, is deur die verwaande jong Bolander op die hoflikste wyse ontwyk. Tót dié van die magistraat, wat sover gegaan het om hom vir ete te nooi.
Voor die week verby was, het hy die poort gekoop – ’n stuk los grond uit ou Sias van Zyl se boedel. Die prokureur het laat uitlek. En hy’s weg en het meer as twee maande weggebly.
Toe weer net so onverwags opgedaag, dié keer met ’n muilwa en twee Slamse ambagsmanne: dwarsdeur die dorp sonder stilhou. En die volgende ses maande moes die dorp gewoond raak aan die heen-en-weer-gerammel van transportwaens uit die Boland, of ander groter dorpe, wat boumateriaal gekarwei het na die poort. Van die nuuskieriges wat gery het om te kyk, het kom vertel van