“Maar wat is plig?” Vlugtend onthou hy vir Pilatus.
“Meer verenigingslewe, minder teorie,” sê sy. Sy glo aan die horisontale benadering en wil bowendien gaan rus.
“Die twee broers wat so totaal uitgesak het,” murmel hy agter haar rug aan. Hy trek sy wenkbroue pynlik saam. By Kobus Lotriet het hy nog skeurtjies menslikheid ontdek, waar iets kon wortel skiet, maar Klaas Lotriet het hom opnuut oortuig dat ’n bietjie geleerdheid gevaarlik is. Die man se vinnige, foutiewe argumente plaas jou in die posisie van ’n geoefende skaakspeler teenoor ’n beginner wat voordeel trek uit onortodokse, lukrake skuiwe. Hy’t al met geleentheid die jongste broer, wat vanjaar sy kandidaatseksamen aflê, attent gemaak op sy plig teenoor die ouer broers.
Die dominee het in sy studeerkamer gaan sit en die tande begin verwyder uit sy preek vir die aand.
Die junior prokureursvrou het in elk geval nie gegaan vir die preek nie. En ná die diens het sy haar meer as ooit uitgesluit gevoel, sy’t al begin wonder of dit haar klere is wat aanstoot gee.
“Moenie verspot wees nie,” sê haar man terwyl hulle peusel aan die gesondheidskosse wat hulle Sondae – die bediende se af dag – verkies. “Dis juis die plattelandse meisies wat die uitspattigste modes dra. En die meide bly nie agter nie.”
“Die saaiheid,” gaan sy egter voort om te kla, “swangerskappe, troues, begrafnisse.”
“Jy plaas dit in die juiste volgorde,” sê hy prettig.
Haar mooi blonde gesiggie word effe rooier: sy sal nooit hier aanpas nie. Hy ook nie. Hulle is stedelinge.
“Geduld,” sê hy, “dis ’n winsgewende praktyk, dit behoort nie langer as vyf jaar te duur nie.” Die ouer vennoot, ’n oujongkêrel, begin dink aan aftree. Dan is dit los voor. Die junior prokureur en sy vrou het dit alles vooruit beplan: Eers nog ’n reis oorsee, dan een of twee kinders. Maar sy laat haar nie vandag opruim nie: sy kan nie glo die platteland bied beter geleenthede nie: sy’t lus en gaan kuier by haar ouers in die stad, pruil sy. (Sy weet sy lyk sjarmant wanneer sy pruil.)
“Jy sal jou verstom,” sê hy en sy oë glim, “hoe lief die ou plattelanders is vir prosedeer.” En professionele etiket ten spyt, verklap hy: vat maar vir ou Attie Lotriet – ja, die man wat so effe na ’n padda lyk – hy is een van die mees geslepe sakemanne wat daar loop. Op die oomblik het hy ’n proses hangende wat daarop gaan uitloop dat hy die hele familieplaas inpalm. Die senior vennoot het hom daarvan op hoogte gestel.
“En wat van die ander broers?” vra sy jeugdig ontsteld. “Woon daar dan nie nog vier van hulle op die plaas nie?”
“Wanneer dit by aardse besittings kom,” grinnik hy. “Daardie einste ou Attie het glo destyds ná sy vader se dood ’n uitgerekte hofsaak aan die gang gehad oor die testament. My vennoot tel dit onder een van sy prestasies dat hy die testament grotendeels hersien gekry het.”
Sy skud haar kop: “Hy lyk dan so onskuldig.”
“Jy ken nog nie die wêreld nie, my skat!” Hy belig haar met sy mooi blou oë – ’n veelbeduidende flits, wat vroue nog altyd onweerstaanbaar gevind het. Hy sit sy arm om haar skouers en sy laat haar weglei om saam te gaan rus in die slaapkamer. Waar hulle lugreëling geïnstalleer het.
“Vir ’n dokter op die platteland,” sê die dokter, vaal en verweer ná ses jaar, “is daar nie genade nie.” Hy is pas terug van ’n plaas en sy vrou het sy bord kos in die oond warm gehou. Nou sit sy regoor hom om hom geselskap te hou terwyl hy eet. Sy wens hy wil nie soos ’n wolf eet nie. Sy wens terselfdertyd hy wil gou maak en klaarkry.
“En altyd op ’n Sondag,” sê die dokter. “Kom jy daar ná ’n uur of meer se ry oor ellendige grondpaaie, het die pasiënt tien teen een herstel, of verdwyn iewers uit op die lande. ’n Dokter op die platteland is elkeen se bleddie slaaf, hy’s nie van vleis en bloed gemaak nie. En jou kar is elke tweede jaar gedaan. Die regering behoort plattelandse dokters te subsidieer …” ensovoorts. Sy vrou ken die storie al van buite.
“Ek was vanoggend kerk toe,” sê sy. “Almal is aan die praat oor die ding van gister en oor die Lotriets.”
“Al wat ek van hulle weet,” sê hy en slurp versadig aan sy koffie, “is dat hulle nie glo ’n dokter het betaling nodig nie. Ou Attie se vrou was goed ses maande gelede hier en nog nie ’n sent nie. Ek het gesê sy moet plate in die stad laat neem: haar moer is aan flenters. Maar dis dan sus en dis so – die ou jakkals behoort hom te skaam.”
“Wat makeer haar?” vra sy bedug. Sy’t ’n neurotiese vrees vir kanker.
“Iets wat stadig ontwikkel,” sê hy op sy hoede. “Dalk bietjie ipekonders daarby. Daar’s twee dinge van jou plattelandse Afrikaners: hulle betaal nie doktersrekenings nie en hulle het ipekonders.”
Sy luister nie meer nie: sy sal nie rus voor sy haar weer ’n slag deur ’n stedelike ginekoloog laat ondersoek het nie.
“Gee my dan liewers die ou Hotnots,” sê hy, “g’n stuk ipekonders daar nie: ’n kop moet eers behoorlik oopgekloof wees. En hulle betaal kontant.”
Die dokter se plan is, vanselfsprekend, om hier klaar te kry en dan te gaan spesialiseer: in die rigting van die psigiatrie, so hoop hy.
By die dorpslokasie het daar intussen “sports” ontwikkel wat die dokter een of twee gebreekte skedels sou kon besorg. Johnnie Esau (bygenaamd Johnnie Politiek) het juis die lounge van die “hotel” wat toegestaan is onder die bedeling “gelyke voorregte” binnegekom. Hy is ’n lang, loslit Kleurling van iets oor die veertig wat altyd ’n skoon hemp aanhet en net bier gebruik. Hy sit twee bottels, versigtig met koerantpapier gekamoefleer, op die rooi plastiekblad van die tafeltjie neer waar vier van sy getrouste kantienvlieë wag.
“Dit sal rand sestig wees,” sê Johnnie.
“Agge-nee-a, oom Johnnie,” kla die onmensige vet man met die verkreukelde rooi hemp goedaardig, “waar kô die tien sent meerderer dan vanaan?” Hy laat duik nietemin sy hand in die agterste broeksakkie en bring twee rand uit.
“Ek moet my insurance hê,” sê Johnnie, “ek vat ’n kans om Sondae te verkoop.” Hy kyk vinnig na die groot venster van geriffelde groen glas.
“Issie kerk dan al yt?” vra die kleinerige donker kêrel met die geletselde harspan en hy lig sy smal gesiggie omhoog soos ’n duiweltjie uit ’n kassie. “Hy kan noggie hier rond wees nie,” sê hy en begin stroop die papier behendig van ’n bottel.
“Dis yt, ja,” sê die geel lummel van onbepaalde ouderdom, sy sakkies-oë gretig op die bottel, “en verderder het hy sy aanstellings om te kom oë speel. Sigselwers sal hy nie weer kom nie.” Hy ontplof van die lag, een van die leë plastiekglase slaan om. En die ander brul saam oor die herinnering aan die Sondagmiddag ná die kerk toe die Eerwaarde hier weg is sonder bril en valstande.
Die seremonie van uitskink maak hulle stil. Dan swaai hulle gesondheid en hulle drink. Die klein bruine sit eerste met ’n tik neer. Met ’n wêreldwyse glimlag luister Johnnie vir die ander drie tikke en hy kyk hoe die handrûe oor die monde gaan. Op ’n manier is hulle sy kinders.
“Sal die antie nie ga naald steek nie?” bedink die gele nou.
Hy rol sy oë in die rigting van die dik ou bruinvrou op ’n groen geskilderde rottangstoel teen die anderkantste muur. Sy sit toe-oog weggesak in haar stoel, of sy slaap. Die groen lig gee ’n doodse skynsel aan haar vel. Dit word skielik arrig.
“Nie antie Mietjie nie,” sê Johnnie. “Antie Mietjie,” roep hy net om seker te maak, “hoe lyk jy die Eerwaarde?”
Dit bring die ou vrou in beroering. Sonder om na hulle te kyk, begin skud sy haar kop, skud aanmekaar veel langer as nodig. Sê egter niks nie.
“Dié wo mos toe gister nie haar seun ga begrawe nie,” verduidelik Johnnie, “net oor sy lidmaatskap