Klassiek reeks: Kroniek van Perdepoort. Anna M. Louw. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Anna M. Louw
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624078227
Скачать книгу
se growwe gesig versag in ’n byna kinderlike uitdrukking soos hy wegdraai van die hede en na die geliefde verlede begin kyk. Hy’t as kind dikwels voordag opgestaan en dan was dit vir hom of dit hý was wat die son beveel om op te kom. Die voëls het gefluit omdat hý dit verlang, die oggenddou het net bestaan om sý wange af te koel. Die lug was altyd so onbeskryflik blou, dit kon net die syfer wees waaraan die Here die aardbol ken, boorde en wingerde was altyd in somerdrag, blomtuine het nooit opgehou om kleur en geur af te gee nie.

      Alles verby nou en sal nóóit weer terugkom nie. Loop, loop … met die dowwe geklop van perdehoewe agter jou.

      Kobus het sonde om die perde oor die brug te kry, ’n hoef bly ’n oomblik vassit tussen twee van die weggewykte sparre, daar is ’n oomblik van paniek. Toe nader hy die ouhuis waar hy – hoe lank? – nie was nie. Ook die huis het vir hom erbarmlik gekrimp. In sy kindertyd had dit ontelbare deure en vensters, dit was sonder denkbare einde of begin, met ’n magtige teenwoordigheid wat daarin woon en waarin jy opgelos is. In die oggend word jy wakker, jou oë sanderig van die slaap. Jy onthou die betekenis van jou dae, spring op en kyk deur die venster: die skemerdonker verander stadig in die silwer en groen van bome en struike, silwer lig syfer langs die koppe af, die grond gloei ’n rukkie glasig of dit vol bruin vloeistof is. Jou lewe gaan om jou oop. Of dit sluit om jou toe.

      Kobus draai sy rug na die huis, kyk eers rond en neem dan ’n sluk uit die halfbotteltjie in sy binnesak. Die waenhuisdeur staan oop, hy sien die twee kiste agter in die koets en voel genoodsaak om nader te loop. Hy probeer trane uitdruk, maar twyfel pynlik aan sy eie trane. Weet hy dan nie dat hartseer nie ’n ding is wat jy self ophaal nie? Dis die vis wat onverwags aan jou lewenslyn kom ruk. Jy gooi dit terug as jy kan, want jy weet nie wat om daarmee te maak nie. Kobus sien stof aan sy oorlede pa se kis en probeer dit afkry met sy mou. Hy kan nie, dis deel van die hout al, sodat hy nader loop en die treetjies van die stoep opklim.

      Die meisiekind wat oopmaak – kan dié groot meisie óóit Attie se dogter wees? – korrel teen die lig sonder om hom te eien.

      “Dis jou oom Kobus, mos,” sê hy gretig. En skaam hom vir sy gretigheid. Sy sê dadelik: “Middag, oom Kobus, kom in.” Dit laat hom beter voel: sy sien nie die onmensige dik man aan hom nie. Vertroue stroom skielik in hom.

      “Hoe laat is dit?” vra hy en wil verduidelik van die swernoot van ’n ou Mietjie wat nie die wekker opgewen het nie, toe sy sê: “Jy’s seker moeg, oom Kobus, kom sit rus bietjie in die sitkamer, daar’s hope tyd.”

      Hy herken die aanraking van deernis: “Dankie, liewe kind, dankie. Ek sal regkom. Jy’t mos groot geword van ek jou laas gesien het …”

      Maar Attie se stem agter in die huis laat haar byna dadelik gaan: “Adriaaaana!”

      Kobus bly staan op die geteëlde vloer van die voorportaal en soek na terreinbakens. Waar is die jonkmanskis van rooshout waarin hy en sy oorlede pa hulle beste rygereedskap gebêre het? Waar die twee yslike regop stoele met die gesnede rugleunings waarop agente en dergelyk verplig was om te wag tot daar genoeë met hulle geneem word? Waar die groot koperblompot waarop sy oorlede ma so gesteld was? Net nog die kapstok wat kaal armpies uithou. Kobus onderneem ’n ontdekkingsreis.

      “O?” adem hy toe hy die sitkamerdeur oopstoot, want alles is hier versamel. Hy begin soek en uitken die individue uit sy vroeë lewe wat nou skouer aan skouer in gelid staan. Hy probeer om die vertrek uit sy geheue op te bou en vind dit onmoontlik – die verband is uitmekaargepluk; in die veranderende lig wat deur die venster kom, lyk die meubels beurtelings toiingrig en dreigend.

      As jong seun was hy lief gewees om op ’n groen tapyt met ’n patroon van kersietakke en voëls op sy maag te lê en te kyk na boeke oor stoetperde. Hy onthou ’n glimmende samelewing van silwer, glas en lamplig wat hóm later verloor het. Sodat hy nou met vreemde nuuskierigheid gaan staan voor die skildery van dié seun en na die oë onder die swart ruiterpet kyk. Wát het die vernuftige blou seunsoë geweet?

      “Let op, Kobus, let op!”

      Eers moet jy na die hoewe kyk: net soos ’n huis moet die goeie perd ’n sterk fondament hê. Die Arabier se hoewe is rond soos koeëls, sy ruggraat is kort, maar ystersterk, sy gebeente lig, maar onbreekbaar taai. Sy oë is sag en rond – daarom, pas op vir die slangoogperd! Pas op vir die holrugperd, pas op vir die perd met die bokramgesig, pas op vir die perd wat met sy hoewe stamp, want hy is onbetroubaar soos ’n rustelose mens. Die goeie perd is ’n jintelman: fyngemanierd, goedhartig, dapper en trou.

      Kobus voel ’n behoefte om sy vroeër self aan te raak. Gevaarlik balanseer hy op ’n stoel om een van die trofeë van die wandrak te haal. Hy vryf met sy hand daaroor: “Hel! Hoe’t ek dit reggekry?” Die oomblik wanneer sy lyf saamgestroom het met dié van die perd, was dit nie meer sý lyf nie; die hand wat gestuur het, wat die lans op die juiste oomblik gelig het, die pen gesteek het, oor die skouer geswaai het, was nie sýne nie. Alles was net één beweging: vlieënde maanhare, skuimvlokkies in jou gesig. Alles verby nou, vir ewig en altyd – nooit weer terug nie, al is dit ook net dat hy nooit weer, ná vandag, die ouhuis gaan binnekom nie.

      “Kobus!” sê Attie Hardehand se stem agter hom.

      Hy is bleek – vir hom. Dit kon wees dat ’n bevel nie gehoorsaam is nie, maar dit sou moet wag tot later. Op die oomblik lyk hy bietjie berouvol, bietjie verwytend: “Jy moet nie die bekers van die rak haal nie, dis gevaarlik, jy kan die goed laat val.”

      “Ek kyk maar net,” sê Kobus, “na die beker wat ek die slag by die perdesport met Marokko gewen het.” Hy draai sy kop dat Attie nie moet ruik nie.

      “Die trofeë hoort in die ouhuis.” Attie se stem is deeglik onder bedwang, maar hy sou ook geweld kon gebruik in ’n krisis. “Die ou goed moet opgepas word, ék is verantwoordelik.”

      Soos hy gaan – want daar bly niks anders oor om te doen nie – hoor Kobus hoe Attie die deur toetrek en soek na ’n sleutel wat opsent is.

      Hy gaan soek water in die kombuis. Waar daar vroeër altyd op die vuurherd ’n lekkerny was om op te raap: ’n paar ryp vye, of ’n piesang, ’n trossie dadels, ’n roosterkoek. Hy drink water; die kombuismeid staan vyandig met ’n doek oor die skouer, teen die tafel aangeleun. Nog dorstiger, glip hy by die bottelspens in, om tot iets bekends in homself terug te kom.

      “O, dis jy?” sê Letta Jan. Sy is aan die kyk na die ry melkterte onder ’n doek. Hy kyk nie of sy nou na hom kyk nie, want hy vrees sy eie beeld in haar oë. Hoe graag sou hy haar wou versoen het met ’n beeld van die Kobus wat sy nooit geken het nie! Maar sy stem wat slepend uitkom, verraai hom.

      “Sus Letta …” sê Kobus.

      “Die begrafnismense het al begin kom,” sê sy, “hulle sit in die eetkamer waar die diens gehou word.” Dit klink soos ’n bevel. Sy begin rangskik rumoerig: teelepels op pierings; en koekvurkies wat sy soos ’n slagorde soldate langs ’n stawel kleinbordjies opstel. Sy laat klink soos wapens om hom te laat verstaan hy is nie meer teenwoordig nie.

      “Ek gaan eers buite kyk,” sê Kobus Karba.

      Op die werf skud windvlae af en toe die modderskerms van die motors wat reeds versamel het. Afgeslagte skaapvelle wat oor ’n draad hang, swaai krakerig soos hout. Nog motors kom wieg oor die brug – ’n groot swarte is waarskynlik dié van die predikant. Kobus voel hy moet hom versterk teen wat nog vyandiger skyn as wat hy verwag het.

      In die stal kry hy die res van die halfbotteltjie met een skoot af. Soos vaneffe by die meisiekind stroom vertroue deur sy hele lyf. Hy gee die perde elkeen ’n proewende klappie op die boud.

      “En wat soek jý hier, outa Danster?” vra Kobus hartlik.

      “Ek moet beginne inspan, Bis Kowissie,” sê die ou onderdanig, “ek moet die leisels ok vat.” Die ou het ’n veertjie in die olierige hoedband, die pepers wat weerskante voor die ore uitsteek, is byna heeltemal wit. Ónder – die komieklike ou tronie met sy ry op ry plooie.

      “Mooi maak, my ou jong,” sê Kobus liefdevol.

      Toe Kobus inkom, staan en wieg die dominee en Mevrou by die eetkamerdeur,