“Jou ou blêrrie, los my!” sê Kolie.
“Jou verdomde malmens!” sê die kombuismeid.
“Ek sal gaan sê!” skreeu Kolie.
Hy hol eers, toe gaan sit hy agter ’n tolbos en trek sy skoene uit. Hy haal sy das af en vee sy oë daarmee uit. Hy trek sy baadjiemou oor sy neus en ondersoek die drilsel. Hy huil oor Jaco hom verwilder het en oor al die mense wat kom. Halfpad teen die rant uit haal hy sy troppie bokke in en hy begin praat wild teenoor hulle. Hy stoot hulle hoër op teen die rant uit, dis half lekker, want die wind help hom van agter aan.
Jy moet hom eendag voorlê en trug seermaak, neef Kool, sê Fielies.
Kolie druk sy bokke aan tot hoog bokant die rotsformasie waarvan die begrafnisgrot ’n deel uitmaak. Van daar kan hy lekker sit en kyk.
7
Ou Mietjie is vanoggend skoonveld en dis baie vreemd, sy’t in al die jare nooit gaan weglê nie. Kobus Karba gaan kombuis toe waar hy die uitgebrande houtstompies dieper indruk in die ou kolestoof se bek. Ou Mietjie se afwesigheid het die stilte van die huis verander, het die hele huis verander. Dis nie meer sy huis nie, dis ’n plek waar jy sit en wag.
Hy gaan weer ’n slag na Mietjie se buitekamer, dié keer trek hy die ou verbleikte bedsprei opsy en ontdek net die kale klapperhaarmatras. Agter sy gordyntjie is die klerekassie ook leeg. Hy gaan kyk – of dit ’n uitleg sou kon verskaf – na Mietjie se kamtige blomtuin ’n entjie weg van die varkhok: die wind het die paar jakopregoppe platgewaai, die blomkoppe is gekneus, maar klou nog vas aan die ontblote wortelkoeke. By die varkhok staan die twee sôe op hulle agterpote en og-og hom verwagtend aan: die plat, ronde snoete beweeg desperaat heen en weer soos hulle na kos snuif. Die melkkoei, wat dieper in onder die afdak vasstaan, stoot haar kop vorentoe en bulk byna geluidloos.
Net of dit ’n dag soos ander dae is!
Hier bo by LAND VAN ONSKULD is die lug effe betrokke: wasemrige windwolk wat geen vog dra nie, jy ruik ysterklip, jy ruik ou potklei. En Kobus onthou die slegte droom wat hy gehad het: ’n halfsak met goed val agter uit die skotskar, die leisels het uit sy hande geglip en sleep tussen die twee perde op die grond, hy buk oor die kant van die kar om te braak. Soos hy buk, is daar ’n flits en sy gesig word in die helfte deurgeklowe.
“Hoe laat sal dit wees?” vra Kobus Karba. Die wekker het gaan staan omdat Mietjie nie gisteraand opgewen het nie.
“Ek sal een regmakertjie gooi,” sê Kobus, “en niks meer nie.”
Want jy moenie gaan skande maak op jou oorlede ouers se begrafnis nie.
Hy ontdek, toe hy teruggaan in die huis, ou Mietjie se bord kos van gister onaangeraak in die oond en met ’n potdeksel toegemaak. Koue kos het ’n eie soort lekker. Hy vat sommer ’n lepel, skep eers die laag koue sagtevet af en laat dit tydsaam op sy tong smelt. Lek, toe hy klaar geëet het, die sous met ’n stuk brood op. En hy wens dat hy kon weeklaag oor die ou dooies tot die verlede versoen is en sy hartseer mag begin. Maar vandag is sy gevoelens net ’n vloed waarin hy wil verdrink.
“Alle vlees is gras,” onthou Kobus, “en hier is geen vaste burg nie.”
Dit het vir hom nooit tevore so waarskynlik gewees nie.
Kobus neem nog ’n kappie net om hom rigting te gee. Dan gaan sit hy vir die twee perde halters aan en maak vas aan die krip, soek ’n voertjie om te gooi. Hy sal moet lei, dis ’n goeie ent pad, hy sal vroeg moet begin.
Skeer en aantrek, dit val hom by. Maar hy neem eers nog ’n kappie. En nou begin staan die drank in hom op, en alles skyn minder vreeslik. Die water in die stoof se sy-tenkie is nog lou, hy sal sy eie skeergoed bymekaar moet kry. Tog voel hy – belaglik, vernederend, maar verlossend ook – hoe sy traankliere warm vloeistof begin uitskei.
“Huil ek oor die ou Boesman?”
“Ek sal tóg oor háár huil!” antwoord hy hardop.
Met die kommetjie skeerwater loop Kobus na sy slaapkamer, waar daar ’n gebarste spieëltjie teen die muur langs die venster hang. Dis al een wat nog oorskiet, want spieëls het ’n paar jaar gelede ’n manier gekry om hom te vervolg, sodat hy homself daarop betrap het dat hy met ’n vreemdeling korswel of baklei.
“Nou gee ek nie ’n donner om nie,” sê Kobus Karba. Sku takseer die blou oë, half toegeknyp tussen wenkbroue en wangvleise, die blou oë van die spieëlman.
“Lyk ek soos ’n vark?” vra Kobus Karba. En sy spotlus wat altyd ondergronds teenwoordig is, dryf boontoe. Hy blaas sy lippe in ’n vlesige tuit uit en span sy gesigspiere met geweld in om soos ’n vark te lyk: kop na vore word sy neus ’n gerimpelde appeltjie, ’n snoet; en elke stoppelbaard ’n varkhaar. “Og-og!” snork Kobus. Hy sien hoe die lippe in ’n lag open: “Hoing-hoing-ogge-og,” sê hy en hy buig sy arms op en laat hang sy hande soos die voorkloutjies van ’n vark.
“Kyk hoe opgeskeep is jy met jou voorkloutjies wanneer jy op jou agterpote gedwing word!” spot Kobus.
Aldus aangemoedig, begin gaan Kobus deur die hele register waarvoor hy jongtyd soveel applous ontvang het: hy swaai sy vet arms en beuk teen sy sye, rek sy dik nek en stuur ’n roep hemelwaarts: “Ie-ie-ieieeeee.” Hy byt in die vlesige deel van sy hand en huil soos ’n woedende baba. Met duim en voorvinger pluk hy aan sy neus om die klanke van ’n Hawaiiese kitaar na te boots: tong-tong-tong-aaaaie …
Een keer, tussen nommers, hoor hy ’n klank soos wat Mietjie maak wanneer sy afgetrokke deur haar tande fluit, en hy luister angstig. Dis net maar die wind in die skeur onder die voordeur.
Kobus skud homself in sy ou pak klere, Mietjie het lankal ’n driehoek gelas agter in die broek. Hy’s reg vir vertrek – ná net nog ’n kleintjie. Maar hoe laat kon dit wees, bedink hy.
Met verkyker in die hand loop Kobus weer uit om van die koppie te kyk of daar al beweging is onder by die ouhuis. Langs die skurwe voetpad lewe die bodem onder klip, die witterige sonlig voel oor die rotsblokke of dit inkomplek soek. In die ongewone skoene stamp Kobus sy voete keer op keer. Hy’s nie seker of dit ’n snik is wat losbreek nie, maar dis of alles hom vandag tot slagoffer kies. Hy gaan staan ’n oomblik en hy dink, nie vir die eerste keer nie: Ek moes gaan staan het daardie nag.
Daar onder jaag bruin skaduweetjies van die windwolkies mekaar oor die gelyktes en die koppe se hellings. Dis die verduiwelde bergwind, erger as hier bó. ’n Draai van die verkyker se skroef bring die ouhuis verbluffend nader, bring die onaardse gevoel wanneer ’n bekende ding jou skielik ’n vreemde aangesig bied. En die vrees wat hy soveel jare uitgestel het dat daar vir hom geen lewenslyn meer is tussen verlede en toekoms nie, neem Kobus vlietend in besit. “Ek sal nie gaan nie,” sê Kobus en hy verwens sy broer Attie wat onverhoeds ’n kwaai hond losgemaak het. Maar, terwyl hy nog sê, het die son al ’n entjie verder gevorder oor die bleek lug, met die eenvoud van tyd wat steeds die oorwinnaar bly.
Aanstons val hy in die pad met die perde aan halters, draai byna dadelik weer om om ’n plat flessie te vul met wat sou kon help wanneer sy hande te erg aan bewe gaan. Een keer voor hy begin afdaal, kyk hy om na sy halfgeboude huis en hy onthou die parmantige spreeus wat nes kom maak in die dak, luise bring wat teen die mure paadjies loop. Daar is oggende wanneer hy sement en sand aanmaak en begin pleister aan ’n buitemuur. Tot sy asem kort word en hy begin vloek op die huis waarvan hy op ’n tyd gedroom het: ’n skraal, gespierde huis soos ’n jongperd wat wegspring, ’n huis met baie, wye vensters en koel ligbruin vloere tussen stalle met die beste stoetperde in die land.
Laer af skep die wind Kobus Karba met mening en woede ontbrand wéér teen sy broer Attie wat hom betrek het by die onnodige rusverstoring. Die afwesigheid van iets waarop hy hom kan wreek, laat sied sy gedagtes reddeloos. Hy sjok voort met haat vir wat hy sien en vir alles wat veroorsaak is. Op hierdie najaarsoggend is alles droog en verbleik en die stroomgebied van die poort ’n groen oase tussen brandende, windverwaaide koppe. Deesdae word daar in hoofsaak met spanspek