“Jy nie?”
“Miskien. Tot siens.”
Maar sy gaan nie huis toe nie; sy kry koers na ’n kwekery en wurm deur ’n spleet tussen die heining en die hek. Dis lank gelede dat sy hier was en die verruklike klein bonsai van mevrou Hagerer gesien het. ’n Klein seder nogal, die geurigste en trotsste boom-met-naalde wat daar bestaan – Dawid het dan al in die Bybel gaande geraak oor die seders van die Libanon! ’n Hond begin woedend blaf toe sy aanstap na die deel van die tuin waar mevrou Hagerer haar bonsai-boompies bêre.
Byna onmiddellik gaan die buitelig aan en mevrou Hagerer storm by die huis uit met ’n pistool in die hand. “Wie’s daar? Praat of ek skiet!”
“Ek het vir die seder kom kuier!” roep sy terug.
“Die bonsai?” Mevrou Hagerer kom nader en lig met haar sterk flits op Philla. “O, dis jy. Watter tyd van die nag om te kom kuier.”
“Is dit al baie laat?”
“Nogal.” Sleutels rinkel. “Kom kyk. Ek het intussen met nog ’n paar bonsai-boompies begin. ’n Tamarisk, onder andere, en ’n soetdoring.”
In die afgekampte onderdak-deel van die tuin staan dosyne boompies in blikke. Alles ruik vars; dis of ’n lewende groen damp uit die blare kom. “O, sy stammetjie het dikker geword! En jy het hom in ’n ander houer gesit.”
“Ek het weer bietjie gesnoei aan sy wortels, ja, en sy takke gevorm met stukkies draad. Lyk hy nou vir jou te dun bo?”
“O nee, hy’s pragtig – soos ’n kers wat wag om aangesteek te word.”
“As mens ’n gebed kon sien, sou dit soos hierdie klein seder gelyk het,” sê mevrou Hagerer saggies.
“Ek wens …” begin Philla, en bly weer vinnig stil.
“Wat dan?”
“Nee, toe maar.” Mevrou Hagerer sal dit nooit oorweeg om die boompie te verkoop nie – nie vir honderd rand nie, of selfs duisend. Daar’s dinge wat nie kan verkoop word nie, en ’n volmaakte bonsai-seder wat iemand sewe jaar al versorg, waarvan sy van tyd tot tyd die wortels uiters versigtig knip, die takkies vorm, oorplantings doen na ’n volgende houer, duime vasknyp as dit lyk of die snoeisessie dié keer te drasties was … Nee.
“Kom huis toe, dan drink ons iets.”
In die ruim kombuis wag hulle dat die melk moet kook. Mevrou Hagerer is ’n lang vrou met groot, benerige hande en ’n wye mond. Sy dra ’n mansbroek en ’n stokou trui; haar donker oë ondersoek Philla sonder nuuskierigheid. “En vannag loop jy weer op wilde paaie?”
“Ek hou van wilde paaie.”
“Ja.” Sy staan op en sit koppies reg, meet kakao af.
“Is dit verkeerd?” vra Philla skielik. “Mense … my ouma … dink ek is net moedswillig. Kán mens anders wees as wat jy is?”
Hulle sit en proe aan die warm vloeistof. “Jou oupa het jou tussen bome grootgemaak, het jy al vir my gesê.”
“Ja, maar is dit daarom … is dit net omdat hý …”
“Dit sal jy self moet uitvind,” sê mevrou Hagerer saaklik.
“Oupa is siek,” sê sy. En skielik kan sy dit nie meer wegstoot nie: die wete van Oupa wat weggevat is uit sy bos en in ’n hospitaal lê; Oupa alleen tussen vreemde mense wat net bekommerd is oor sy hart en nie oor sy gees wat bome nodig het nie; háár oupa wat ’n bomer mens is as enigiemand anders wat sy ken en wat miskien, oor ’n week of twee … nie meer …
Sy druk haar gesig in haar hande.
2
Mens sou nou gereken het Philla moet lank slaap – dit was ná middernag toe sy teruggeklim het deur die venster. Ek moes help om die sif weer op sy plek te kry. As Ma-hulle, en veral Ouma, moet wéét dat sy die skroewe losgedraai het sodat die houtraam net op genade teen die venster leun!
Of sou Pa weet? Hý het vir Philla ’n paar karatehoue geleer so asof hy besef sy mag dit nodig hê op haar omswerwinge. Hy’s stil, maar hy sien baie raak – veral wat Philla betref. Hy praat nie veel met haar nie, en veral nie sy met hom nie, maar hy’s altyd bewus van haar. Gisteraand het hy in ’n stadium hier ingeloer en begin vra: “Waar’s …?” Toe kyk hy na die sif wat eenkant staan en hy maak sy mond vinnig weer toe.
Dit kan natuurlik wees dat hy my geglo het toe ek sê sy slaap, en na haar bed wys waar ek ’n bondel klere ingestop het. Dit het Ouma gekul. Maar ek is nie so seker van Pa nie.
En hier is sy sowaar voor dagbreek weer onder die komberse uit. Toe Ouma “Prys die Heer” (liederewysie) begin sing, sit sy lankal by die vensterbank met ’n skryfblok op die knieë. “Aag,” klik sy oor Ouma wat almal in die huis elke oggend wakker sing terwyl sy haar kamer aan die kant maak. “Ek wens ek kon in Jimmie se kamer geslaap het, dis darem verder van Ouma af.”
Dis snaaks dat Jimmie so beslis was daaroor dat sy kamer moet leeg staan terwyl hy tog net hier en daar ’n naweek kan kom. Seker maar dat hy kan weet dat daar darem iewers nog ’n plek bestaan wat nét syne is. In die kamp slaap hulle klompe bymekaar, daar’s geen privaatheid nie. Ek is wel jammer vir hom, maar dis Philla wat die swaarste kry. Ons twee aard nie lekker so saam in die kamer nie. Ek probeer hard om dit nie te doen nie, maar elke kort-kort baklei ek met haar omdat haar laaie slordig is, omdat sy vergeet om haar bed op te maak, omdat die lessenaar waar ons al twee moet werk, ewig gesaai lê van háár boeke en tekenpapier.
Vandat sy by my moes intrek, toe Ouma van Oupa af weg is, loop sy baie meer rond as eers.
“Skryf jy vir Oupa?” vra ek. Dis nog nie baie lig in die kamer nie en sy sit behoorlik met haar neus op die skryfblok; haar hare val oor haar oë. Sy’s omtrent die enigste meisie in standerd sewe wat nog lang hare het; definitief die enigste wat die goed nie vleg of ordentlik vasmaak nie, maar dit pas haar. Buitendien het sy mooi hare.
“Gaan dit gou pos,” sê sy en trek ’n langbroek en trui sommer oor haar slaapklere aan.
“Oppas dat Ouma jou nie sien nie. Sy sal nou enige oomblik kombuis toe verkas om koffie te maak.”
“Dan liewer deur die venster.” Sy lig die sifraam weg. “As sý nie vir Oupa wil skryf nie, is dit nog nie te sê dat ek dit nie mag doen nie. Hoe moet hy nou voel – alleen in ’n hospitaalkamer!” So vroeg in die oggend is haar oë donkergrys en opstandig.
“Pos vir my ook ’n brief,” vra ek, en kry dit tussen my boeke. Sy ruk haar kop eenkant toe dat die hare wegswaai.
“Vir Jimmie! Hy kom tog die naweek.”
“Ek het dit geskryf voor ons geweet het, maar dit maak ook nie saak nie. Hy’s so honger vir briewe.”
“Lien kan skryf,” sê sy styf.
Ek probeer geduldig wees, maar dis moeilik. “Jy’s so onredelik oor Lien! Jimmie is tog al agtien, hoekom kan hy nie ’n meisie hê nie?”
“Ek en hy was altyd maats. Jy weet dit!”
Ja, ek weet. Speel saam bal, en sien my nie eens huil oor ek graag wil saamspeel nie. Geniet hulle eie spesiale grappies of ek nie bestaan nie, gee vir mekaar lekkers wat hulle by partytjies versteek het. ’n Ruk het hulle glad in geheimtaal met mekaar gepraat – ek het gedog ek word gek. Ek is mos óók Jimmie se suster.
“Nou toe, kry jou loop,” sê ek, en sy frons effens – seker omdat ek so onnodig kribbig klink. Sy klim deur die venster met die ongelooflik lenige bewegings wat mense altyd na haar laat kyk, en skielik is sy weg.
Toe ek weer wakker word en haastig opspring omdat dit laat is, lê Philla uitgestrek en slaap, sommer bo-op die komberse en nog geklee in die langbroek en trui. As sy so diep slaap, kry geen aardbewing of sirene haar wakker nie. My moed sink: nou is dit weer een van dáárdie dae. Hoekom moet ék ook alewig