Elsabe Steenberg
Boom bomer boomste
Tafelberg
Een
1
En nou is Oupa siek.
“Kan ek die brief lees, asseblief?” vra Philla.
“Jou ma het mos nou vir jou gesê wat daarin staan,” keer Ouma.
“Maar ek wil dit self lees.”
“Jý wil! Jy wil alles net omdat en hoe jý dit wil!” Ouma word al weer kwaad. “Jy loop van die skool af weg oor jy sommer net nie lus was vir geskiedenis vandag nie; jy’t weer ’n stuk tou om jou rok gebind pleks van ’n ordentlike gordel; en nou wil jy self opsluit ’n brief lees wat nie vir jou bedoel is nie!”
“Mamma?” Sy ignoreer Ouma en hou haar hand uit.
En Ma gee die brief, met ’n verskonende blik na Ouma. Matrone Swiegers van die hospitaal op die bergdorpie Makierie het dit gestuur. Die bejaarde meneer Rossouw, skryf sy met netjiese letters, is in die hospitaal opgeneem ná ’n ernstige aanval van kroonslagaartrombose. Kinders het hom bewusteloos in die bos aangetref – niemand weet natuurlik hoe lank hy onversorg en blootgestel daar gelê het nie, dis ’n wonder dat hy hoegenaamd nog leef. Nou is hy in ’n private kamer in die hospitaal, maar hy maak nie goeie vordering nie, hoofsaaklik omdat hy steeds pogings aanwend om op te staan en weier om die nodige pille en inspuitings te ontvang. As hy nie tot rus kom en hom onderwerp aan die noodsaaklike behandeling nie, kan hy nog ’n week of twee lewe, nie meer nie.
“Ons moet gaan, Ma,” sê Philla gejaagd. “As jy vir Pa laat weet om dadelik ’n bus in die stad te haal terug huis toe, kan ons oor ’n uur of twee ry. Dan is ons vanaand daar.”
Ma kyk na Ouma. Die ou vrou sit groot en bitter op haar stoel. “Ons gaan nie,” sê sy heeltemal beslis. “Dis sy eie skuld dat hy nou daar lê, nes dit sy skuld is dat ek hom gelos het toe ek die ellende nie meer kon uithou nie. Ek het vir hom gesê, daardie dag toe ek ingepak het, dat ek nooit sal terugkom nie. Moet ek nou kruip net omdat hy siek is? Hmf.”
“Dan hoef jy nie te gaan nie.” Philla is al op pad telefoon toe. “Ek gaan Pa bel. Hy is tog Oupa se seun, hy het die reg om te weet …”
“Hy is mý seun!” sê Ouma skerp. “Wat het hy ooit aan sy pa gehad? Daardie leegloper wat nooit in sy lewe ’n ordentlike dag se werk gedoen het nie, wat nie omgegee het dat sy vrou in ’n rokwinkel moet swoeg om hom en sy kind te onderhou nie … Moet ons nou na sy bed toe hardloop asof óns verleë is?”
Philla pluk die knippies uit haar hare. Sy bewe, maar sy weet dat woede nie sal help nie – nie teen Ouma nie. “Hy’t stories geskryf, Ouma,” sê sy so kalm moontlik. “Hoe kon Oupa nou ’n gewone soort werk doen? Hy was nooit gewoon nie.”
“Hmf. Nes jy,” bits Ouma. “Kamma so anderster. Jy word g’n so gebore nie; jy hóú jou anderster net om ordentlike mense te verpes.”
“Hy moes deur sy bos loop.” Sy sien dit voor haar: die raasblaar- en silwerpopuliere waarmee Oupa se oupa ’n bos gemaak het, seker tagtig jaar gelede; en die hoë Chileense populiere en byna ewe hoë seders wat Oupa se ma ’n kwarteeu later om die rand van die bos laat aanplant het. En toe dit Oupa se beurt was, het hy nog ’n paar ander soorte bome ook langs die houthuisie daar in die middel van sy bos, naby die spruit, geplant: ’n witstinkhout om wag te hou oor die lendelam kleinhuisie wat ’n entjie van die houthuis af staan gemaak is, ’n paar ouhoute en ’n appelkoos wat nooit dra nie (maar sy blare!) en twee appels wat wél dra, en ’n den. En daar is die wattelboom wat sommer self opgeskiet het; hoog van tak en slap van stam ’n jaar gelede al, met kokkewiete wat alte graag in die top sit en sing.
“Hy moes stories skryf,” sê Ma ook, maar onseker.
“Sy ou storietjies,” sê Ouma minagtend. “Hekse, bid jou aan, in die tyd waarin ons lewe, en dwergies! ’n Grootmens wat hom met sulke stuitighede ophou!”
“Dis nie dwergies nie, dis robyne.” Vinnig skakel Philla die bank in die stad. Omdat hy hoof is van die rekenaarafdeling, het Pa sy eie uitbreidingsnommer; gelukkig is hy in sy kantoor.
“Pa.” Skielik moet sy sluk, omdat die woorde in die matrone se brief dieper tot haar deurdring. “Oupa is siek. As Pa vroeër kan terugkom …”
Ouma gryp die gehoorstuk uit haar hand. “Dis onnodig, Thomas. Baie mans kry hartaanvalle sonder om daarvan dood te gaan, en buitendien gaan ons nié, hy kan nie verwag dat ons aangehardloop kom nadat hy my so … Hoe het hy my nie verneder nie!”
Pa antwoord iets.
“Hy was nooit vir jou ’n pa nie,” sê Ouma. En dan: “Goed, goed, ons kan uitvind. Dis in elk geval nie nodig dat jy vroeër terugkom nie. Tot siens.”
Met haar rug nog gedraai bel sy Makierie se sentrale en vra om deurgeskakel te word na die hospitaal. Die gesprek met ’n suster duur nie lank nie. “Hy’s bietjie beter,” sê sy kortaf toe sy aflui. “Nie buite gevaar nie, maar hulle sal laat weet as ons moet kom.”
“Ek dog Ouma wil nie gaan nie?”
“Net as hy nou regtig aan sy einde is: dan wil ek wél gaan.” Ouma tik met haar mes teen die tafel en voel dan of haar bolla nog netjies is. “Ek wil hom één keer mooi van voor tot agter vertel wat hy my alles laat deurmaak het. Dis of hy dit nie weet nie. Vyf-en-veertig jaar saam, en toe ek my goed pak en hom los, het hy nie eens probeer keer nie. Nooit ’n brief nie. Net vir Philla skryf hy om van sy storietjies te vertel; vir mý nooit. Gee nie ’n flenter om nie!”
Ma bring vleis, groenboontjies en ander kos. Vandat Ouma hier woon, kook sy vir middagete, al kom Ma laat eers van die uitgewery af waar sy soggens werk, en al moet Pa se bord tot die aand gebêre word. “Hy’t darem die geld net so aangestuur, tot die laaste sent, toe julle huis verkoop is,” sê Ma.
“Wie’t gesê hy moet ons huis verkoop? Wie’t hom gevra om in daardie krot in die bos te gaan bly asof hy niks beters gewoond is nie? Skep in en eet,” sê sy vir Philla. “Ons moet Helet se kos maar bêre saam met jou pa s’n.”
“Nee.” Sy glip yskas toe, kry twee appels en ’n groot stuk kaas en vlug weg van Ouma se stem: deur die woonkamer, die gang in na haar eie kamer. Sy het ’n manier ontdek om die slot van die binnekant af te wikkel sodat niemand die deur kan oopkry nie behalwe Pa met ’n skroewedraaier, en dis nog lank voordat Pa kom.
Mintig. Verslae kyk sy na die kamer, wat skemerig is met toegetrekte gordyne. Oral staan snuisterye, tot bo-op die gordynkap. Dit ruik na boegoe en lyfpoeier. Hoe kon sy vergeet het dat dit nou Ouma se kamer is – dis al soveel maande dat Ouma hier bly! Gelukkig het sy haar skooltas saamgebring. Sy kry papier en potlood en begin teken. Met die robyne kom sy die laaste jaar of twee al goed reg: klein ronde mannetjies waarvan Oupa skryf, met waaiende hare en vrolike okkerneutronde neuse. Glansrooi is hulle, hier en daar deurskynend, maar sy gebruik nie kleure as sy teken nie, net potlood.
Die hekse is moeiliker. As sy die dag vir Kgatala regkry, die hoofheks met haar knopvoete en dun geel bene, sal Oupa haar toelaat om sy boeke te illustreer. Later, met herdrukke, kan sy vir die vroeëre boeke ook tekeninge maak. Maar om die hekse reg te kry sodat jy die boosheid uit hulle kan sien straal – nie net vir Kgatala nie maar ook die ander kgatas wat van die moederheks afstam. Sy verstaan die robyne en die kgatas wat in Oupa se bos woon: sy’t met hulle grootgeword. Miskien is sy dáárom soos Oupa, omdat sy so baie by hom was toe sy klein was, in sy bos waar die voëls altyd sing en waar sy hande beduie en met haar hare speel. O, Oupa het wonderlike hande. In sy vingers lewe stories waaroor kinders dol is, en ritme wat hy uit die boomstamme tokkel.
Saggies begin sy fluit, soos Oupa haar geleer het toe sy nog skaars kon praat. So dikwels was sy by Oupa; kort-kort het hy haar kom haal en met haar koers gekry na sy bos. Ouma was kwaad, natuurlik. Hulle het haar in die mooi huis op die dorp laat staan en bos toe gegaan en snags in die houthuis geslaap. Sy het gehoor hoe hy met die bome praat, of met God. “Dis maar eigelik dieselfde,” het hy gesê. “God het bome gemaak as die kroon van alle natuurdinge; Hy woon in bome. As ek met die bome praat, praat ek heeltyd met Homself ook. Hy is die Boomste Wese, g’n skepsel kan sonder Hom klaarkom nie.”
“En