Shéri. Shéri Brynard. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Shéri Brynard
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796320315
Скачать книгу
my pa en ma beslis sukses behaal: Hulle het gesorg dat die reisgogga my byt. Ek ry dolgraag trein, skip, vliegtuig of bus.

      My ouma het my met ry en skommel aan die slaap gekry wanneer sy my oppas. Tot vandag toe is ek versot op enige ding met wiele of vlerke wat my van punt A na punt B neem. Ek dink ek het die reisvirus in Duitsland opgedoen, toe ek nog baie klein en baie slap was.

      In Duitsland het navorsers destyds selterapie ontwikkel wat spesifiek op Downsindroom gefokus was. Daar is geglo die inplanting van die breinselle van lamfetusse kan help teen die vinnige veroudering van mense met Downsindroom, dat dit hulle gesondheid kan verbeter en die fisieke kenmerke van Downsindroom verminder. Daarmee saam het hulle ander terapieë om die kind te stimuleer, aanbeveel.

      Vir die beste resultate moes die eerste behandeling verkieslik in die eerste lewensjaar geskied. Toe my ma en pa dit hoor, het hulle besef dat hulle net drie weke oor het voor die Junievakansie (my ma het toe reeds weer begin skoolhou) en in die Desembervakansie sou dit te koud wees. Die volgende jaar sou te laat wees.

      Hulle het my toe die Junievakansie Duitsland toe geneem vir behandeling deur prof Franz Schmid in die Kinderklinik in Aschaffenburg.

      Ons het eers Londen toe gevlieg. My ma sê die vlug was maklik, want ek het meestal geslaap. Ek was toe drie maande oud. Ons was by verskeie besienswaardighede en ek is oral gevoed, net waar ons was.

      Baie mense was glo verbaas om so ’n klein ou dingetjie – ek was besonder klein vir my ouderdom – te sien. Hulle het belang gestel en ’n groot ophef van my gemaak. ’n Meisie het gevra of ek ’n dogtertjie of ’n seuntjie is. Toe my ma sê ek is ’n dogtertjie, was sy baie ingenome en het voorgestel: “So, she can marry the prince.” Lady Di se baba, William, Brittanje se troonopvolger, is in daardie tyd gebore.

      By die kliniek het my ma en pa vriende gemaak met Amerikaners wat ook hulle seuntjie soontoe geneem het. My ma skryf dat sy opgemerk het dat ek baie woeliger was as ander kleintjies. Wat haar ook opgeval het, was dat al die kinders se ouers hulle aanvaar het en baie lief was vir hulle. Al die ouers was saamgesnoer deur ’n band omdat hulle kindertjies het wat anders lyk en funksioneer.

      ’n Probleem van mense met Downsindroom is dat ons soms byna geen neusbrug het nie. Dit kan die baba se asemhaling bemoeilik. En ons oë ontsteek maklik omdat ons traankliertjies weens die swak ontwikkelde neusbrug maklik verstop terwyl ons nog babas is. Boonop kan ons gesigsvel maklik uitdroog omdat die oliekliertjies toegedruk word.

      Dis die soort probleme wat hulle deur middel van die inplantings wou verminder. My traankliere het glo soms so erg ontsteek dat my pa en ma bang was dat die etter my oë kon beskadig. Twee dae nadat ons by die kliniek weg is, was die ontsteking weg. My ma het geglo dit moet die resultaat van die inplantings wees. Dit moes elke jaar twee keer gedoen word, totdat ek vier jaar oud was. Die spuitstof is toe later ingevoer en dr Karshagen, my pediater, het my elke ses maande ingespuit.

      My ma sê alles was nie aldag vir haar maklik nie. Sy wou altyd hê daar moet orde in ons lewe wees. Sy het baie gespanne geraak wanneer dit vir haar voel sy misluk.

      Maar die Here het haar nie alleen gelos nie. Hy het sy engele na ons huis toe begin stuur. En sommer Pick n Pay toe ook, soos toe die vrou van ’n proffie op ’n dag vir haar daar tussen die rakke gesê het: “Klassieke musiek laat babas ontspan. Speel klassieke musiek vir Shéri. En gesels met haar soos wat jy met enige ander kleintjie sal gesels.”

      En so het my pa en ma oor alles en nog wat met my gesels terwyl hulle my bad of aantrek. Hulle het voëltjies vir my gewys, wolke in die lug, vlieë teen die ruit, die maan en die sterre. My pa het partykeer met my ma, en ook met my, gedans. Ek kan myself nou nog hoor lag. Hulle was so snaaks. En dit was vir my lekker en mooi.

      Dans was ’n spesiale Pappa Jerry-ding. Ek was seker so tien jaar oud toe ons op die Sinfonia gaan vaar het. My ma het die aand van die kaptein se bal soos op die foto’s uit haar studentedae gelyk, toe sy joolprinses was. Sy was so jonk en mooi in haar swart aandrok en met haar hare wat sy geblowdry het sodat dit sag en los op haar skouers hang. My pa het ’n geel strikdas aangehad. Hy het haar met ’n buiging gevra of sy met hom sal dans. As hy met my ma dans, het my pa se dansvoete en danspassies al hoe beter en beter geword.

      En toe kom die dans waaroor die ander mense se monde oopgehang het. Ek het saam met my sussies by die tafel sit en kyk hoe my ouers dans, en toe kom my pa na my toe, steek sy hand uit en buig voor my asof ek ’n prinses is. “Mag ek?” het hy gevra.

      Ek het van die stoel af gewip. Dit het lankal onder my voetsole gejeuk. Dit was presies wat ek wou doen!

      Toe sien my pa hy het ’n probleem. Ek was te kort en hy te lank. Hy sou eintlik net met my kon dans as hy sy rug so krom soos ’n sekel sou maak, en dit sou hom tagtig jaar oud laat lyk.

      Toe tel hy my op en ek sit so half op sy heup. Hy vat my hand en ons dans met sy voete op die dansvloer en myne in die wolke.

      Ek weet presies hoe dit voel om in die wolke te wees.

      Dit is amper soos om in die hemel te wees, dink ek. My pa het dit reggekry om my en my ma en my sussies partykeer wolke toe te neem.

      My pa se dood

      Ek wonder baiekeer hoekom my pa moes doodgaan.

      Ek het maande lank gewonder waarom juffrou Susan deur ’n motor omgery moes word, sy wat nie eens motor bestuur het nie.

      En waarom my pa so alleen en so ver van ons af, by ’n waterval, moes doodgaan. Hy wat altyd vroeg huis toe gekom het om by ons te kon wees. Hy wat ons altyd by hom wou hê. Hy wat gesê het hy kan nie sonder ons lewe nie. En hy wat hoogtevrees gehad het.

      In 2001 is hy twee maande ná juffrou Susan dood, op ’n manier wat ons nooit sou kon voorsien nie, en net so onverwags soos juffrou Susan.

      Op 14 Augustus was ek negentien jaar oud, Marisa was in matriek in die Meisieskool Oranje en Suzette in die laerskool. Ek was by die huis besig om TV te kyk, Marisa het geleer vir die September-eksamen en Suzette was by ’n skoolkoor-oefening. My ma het by my ouma gaan kuier. Toe bars die bom.

      Prof Stef Coetzee, destyds die rektor van die Universiteit van die Vrystaat, en ’n vriend van my pa, het gehoor dat hy by die Augrabies-waterval vermis word. Hy en sy vrou, Rienie, het dadelik na my ouma toe gery om vir my ma te sê.

      Mense het toe na ons huis begin stroom. My ma het toe al vir Suzette gaan haal en haar van my pa se verdwyning vertel. Marisa het agtergekom iets is fout, na my ouma toe gery en die nuus daar gehoor. Net ek het nie geweet nie. Toe my ma by die huis kom, het sy boontoe, na my kamer toe, gehardloop om vir my te vertel. Ek was in die gang toe ek dit hoor. Ek het na my kamer toe gestorm en die deur toegeklap. Ek wou alleen wees en met niemand praat nie.

      Oom Charles Mitchell, die dominee, het ons kom besoek, en my ma het vir hom gesê dat ek nog nie uit my kamer gekom het nie en niemand wil sien nie. Oom Charles het na my toe gekom en ek en hy het ’n hele rukkie gesels. Hy het vir my gesê dat ek altyd my liggie vir Jesus moet laat skyn. Ek onthou dit soos gister.

      Daardie aand het my ma besluit dat ons so gou moontlik Augrabies toe moet gaan om my pa te gaan soek. Iemand van die universiteit het ons soontoe gevat en vroeg die volgende oggend was ons op pad. Dit was vreeslik ver en ons het heeltyd in die kar gehuil. Oom Riaan van der Merwe, ons ander dominee, het vir ons by Augrabies gewag. My pa se broer en suster het ook soontoe gery van Calvinia af. My pa se broer van Kaapstad ook.

      Die klippe rondom die waterval was seepglad. Terwyl ons daar rondgedwaal het, was ek meestal by oom Riaan, Marisa by my ma, en Suzette by Mariette Klopper, ’n vriendin van my ma en kollega van my pa.

      Later die dag, terwyl ons almal steeds huil, het my ma gesê ons moet vir my pa ’n kruis maak. Dit het ons besig gehou. Oom Attie Smit het ons gehelp. Ons het twee stukke hout en ’n plastieksak gebruik en veldblommetjies by die plastiekband ingedruk in die kruis vir my pa op die plek waar hy verdwyn het.

      My ma, Marisa en Suzette het saamgery in die ligte vliegtuig wat my pa gaan soek