Haar dogter se hand soek na hare, gee dit ’n drukkie. “Ek weet, Mamma. Daar was ’n tyd toe Ma baie bekommerd oor my was. Ek was ver van die huis waarin ek grootgeword het – letterlik en figuurlik. Ek het niks groots verkeerd gedoen nie, maar …” Sy glimlag en in daardie glimlag lees haar ma ’n wysheid wat ’n mens net deur smart en diepe lyding bekom. Dis nie goedkoop wysheid nie. Jy betaal duur daarvoor, maar as jy dit eers het, weet jy die prys was nie te hoog nie. “Onthou Ma dat Ma my daardie dag gevra het of my ideale suiwer is? Ma het gevra wat ek regtig van die lewe wil hê?” Sy lag nou openlik. “Toe het ek gesê ek wil kaste vol mooi klere en ’n mooi woonstel en ’n motor van my eie hê! Ai, Mamma, onthou Ma?”
“Ek onthou, my kind.”
Karina skud haar kop asof sy dit self nie kan glo nie. “Toe het Ma my gewaarsku, maar ek het die vermaning in die wind geslaan. Ek is weg en ek het al daardie sogenaamde ideale gaan nastreef en bereik. En vandag weet ek hoe leeg en sinneloos en waardeloos dit werklik was en is. Vandag weet ek ook hoe na aan die afgrond ek beweeg het. In die stad is ’n mens so besig om op die aardse te konsentreer dat jy nie tyd het vir ander dinge nie. Ek het nooit meer kerk toe gegaan nie – later was daar ook nie meer tyd vir lees en bid soggens en saans nie. Ek was baie ver van die huis af, Mamma. Hóé ver het ek eers die afgelope maande besef.” Sy sug saggies. “Ma het vir my ná die ongeluk gesê dat ek ’n paar jaar gehad het om net aan die uiterlike aandag te gee. Miskien wil God my nou eers dwing om weer aandag aan die innerlike te gee. Miskien het Hy my juis lam en blind gemaak om my ’n mooier mens te maak. Ek kon Ma nie daardie dag begryp nie … Maar nou verstaan ek, Mamma. Ek weet nou wat Ma toe bedoel het. Dit kán gebeur dat daar eers gebreek en afgebreek moet word om weer mooier op te bou. Die verhaal van die Bybelse pottebakker het ek eers die afgelope tyd werklik begin verstaan.”
Ook De Waal vind in hierdie dae troos by Karina, in plaas daarvan dat hý die sterkere is. Terwyl sy wag op die dag van beslissing, kom daar ’n rypheid in haar gevoelslewe wat sy nooit voorheen ervaar het nie. Gedurende hierdie tyd voel sy soms veel ouer as hy, kry sy hom jammer soos ’n moeder haar seun sal jammer kry. Dikwels steek sy haar hand spontaan na hom uit en streel sy hande gerusstellend, kalmerend, totdat sy die bewing in die vingers voel verstil en die spanning uit sy handspiere voel verdwyn.
Ook wat De Waal betref, het sy ’n nuwe, ryper siening bereik. Hy sal altyd haar ouboet wees. Dis al. En sy is baie dankbaar vir daardie ouboet, al is hy in hierdie dae byna ’n kleinboet wat sý moet dra.
Dis goed dat sy nie die strak gelaat waarop die spanning nuwe lyne teken, kan sien nie. Maar sy hoor dit tog in sy stem, al skerts hy ook lighartig, en sy voel dit in die hande wat hare nou so gereeld toevou. Dis tant Miemie wat die uitdrukking in die oë sien wat so innig op Karina rus, en sy wonder daaroor. Sou De Waal werklik net ’n broederlike gevoel vir haar dogter hê? Maar dis nie nou die tyd om oor sulke dinge te tob nie. Daar is belangriker en ernstiger dinge wat nou eers agter die rug moet kom.
Die drie mense in die wit huis teen die heuwel leer ook nou in Isak de Villiers ’n opregte en getroue vriend ken. Hy is ’n baie gereelde besoeker en sy besadigde beskouing van sake en sy kalme beheerstheid help om hulle deur hierdie moeilike tyd te dra.
Veral vir tant Miemie word hy ’n steunpilaar, sodat sy wonder hoe sy vroeër sonder sy vriendskap klaargekom het. Haar vrese en kommer kan sy nie teenoor De Waal lug nie, want hy staan te na aan hulle. Ook kan sy sien dat hy swaar genoeg aan sy eie kommer en vrese dra. Dis teenoor Isak de Villiers dat sy haar hart kan oopmaak, en sy vind in hom ’n simpatieke toehoorder en ’n begrypende vriend. Hy is ook ’n ouer. Hy het ook net een dogter, ook sy enigste kind.
Op ’n dag neem hy haar hand in syne soos wat De Waal altyd met Karina doen, en daar lê ook ’n ope boodskap in sy oë, net soos in dié van die jonger man, as tant Miemie dit maar net wil raaksien.
“Miemie, jy is verniet so bekommerd oor jou kind. Weet jy dat jy ’n bevoorregte ouer is en nie rede het om bekommerd te wees oor jou enigste kind nie?”
“Hoe kan jy so sê, Isak? Daar wag ’n vuurproef op my kind!”
“Ja, en ’n vuurproef wat sy met vlieënde vaandels sal slaag. Ek het geen vrese wat Karina betref nie. Selfs al sou sy blind en verlam bly, dink ek nie ek gaan my oor haar bekommer nie. Ek sal natuurlik jammer wees as sy nie kan herstel nie, maar as dit so moet wees, gaan dit nie die einde van die wêreld beteken nie. Jóú kind het bokant hierdie dinge uitgestyg, Miemie.”
“Almiskie! Dit bly nog ’n vreeslike gedagte dat sy nooit weer sal kan sien of loop nie, Isak. Nooit is ’n lang tyd, en sy is jonk en mooi.”
“Ja, dit is so, maar Karina sal daarmee kan saamlewe. Sy sal nie ondergaan nie.”
“Ek weet. Karina het ’n sterkte in haar wat dit nie sal toelaat nie, maar … as ek nie meer daar is nie …” Sy kyk vas in sy oë op. “Sy het net vir my, Isak. My hart is swak. Ek glo God sal my die krag gee om my kind nog vir jare te versorg, maar daar gaan ’n dag kom, menslik gesproke, wanneer sy alleen gaan agterbly. Wat dan, Isak? Wat gebeur dan as sy nog steeds blind en verlam is?”
Oom Isak skud sy kop, hou haar hand stywer vas. “Jy is verkeerd, Miemie. Sy het nie net vir jou nie. Sy het vir De Waal, en nou ook vir my.”
“Maar julle …” Sy sluk die woorde terug toe sy die uitdrukking in sy oë sien, en hy knik.
“Ek is bly jy het dit nie gesê nie, want dit sou baie seergemaak het. Bande van liefde bind soms baie sterker as bande van bloed. Karina sal altyd vir De Waal en ook vir my hê.”
Tant Miemie laat haar kop sak. “Dankie, Isak. Dis ’n groot troos …”
Hy aarsel, sê dan versigtig: “Miemie, ek wil graag eendag met jou gesels. Ek weet dis nie nou die tyd nie. Karina kom nou eerste. Maar sodra daar weer sekerheid en normaliteit in jul lewens is, sal ek jou graag wil vertel hoe ek oor jou voel.” Haar kop ruk omhoog in ongeloof, en hy glimlag fyn. “Ou mense trou ook, weet jy?” Hy glimlag breed, sy oë teer. “Ons sal nie nou verder daaroor praat nie, maar nou weet jy dat jy nooit weer mag sê of selfs dink dat ek ’n buitestander is nie. Ek is die man wat jou liefhet en baie, baie graag wil hê dat jy die jare wat nog oor is, met hom moet deel.”
Hulle kyk lank na mekaar. Die jare van hartstog en brandende begeertes is verby. Die gevoel wat daar vandag is, weet albei, is op stabieler dinge as onstuimige emosie gegrond. Eerder is dit soos ’n stil, rustige stroom van respek en opregte vriendskap en waardering vir mekaar wat tussen hulle vloei en waarop hulle ’n huwelik sal kan bou.
Tant Miemie knik nou net, maar haar oë het hom reeds sy antwoord gegee. “Dankie, Isak. Ek is geëerd. Ons praat later weer hieroor. En dankie … baie dankie.” Sy staan vinnig op. “Ek gaan haal vir ons koffie. Stap solank uit na die kinders toe, dan bring ek dit daarheen.”
Oom Isak kom in die voordeur tot stilstand, sy blik peinsend op die twee jong mense op die grasperk gerig. Sy eie hart is op hierdie oomblik so vol vreugde dat dit sy hartsbegeerte is om hierdie twee jong mense te help. Die arme De Waal is deesdae ’n ernstige, bekommerde man en Karina se breë glimlag mislei hom nie. Maar die tyd is seker nog nie ryp vir inmenging van sy kant nie.
Dis jammer dat oom Isak nie weet dat Karina nog steeds onder die wanindruk verkeer dat De Waal aan sy dogter verloof is nie. Dan sou hy beslis dadelik opgetree het. Maar in hierdie dae is Rhona baie ver op die agtergrond.
Hy voel skuldig toe hy nou aan haar dink. Die drama wat besig is om in die huis teen die heuwel af te speel en stadig besig is om na ’n klimaks op te werk, het alle ander sake op die agtergrond geskuif – selfs vir Rhona. Hy het nou die dag ’n kort briefie van haar ontvang, gepos in Parys. Hy weet sy het nie geskryf om na sy gesondheid te verneem nie. Sy het net geskryf om nog geld te vra. Onderaan die briefie het sy so terloops gevra of De Waal nog lekker popspeel en of hy al begin moeg word daarvoor. Oom Isak het nie