“Nee. Dis … tant Miemie.”
“Miemie! Wat van Miemie? De Waal, praat! Is Miemie siek?”
“Nee, oom. Sy is … dood.”
Isak de Villiers het hard grootgeword. Hy moes al harde slae in sy lewe verduur, maar hy struikel onder hierdie hou. Hy gryp na ’n stoel, sak daarin neer. “Dood?”
De Waal knik, neem ook plaas. “Ja, oom. Die hotelbestuurder het gebel. Hy het my nommer gehad.”
“Ja! Ja! Wat sê hy? Wat het … gebeur?”
“Sy het weer teruggekom van die hospitaal af, soos gewoonlik. Dit was net toe sy met die trap opstap dat sy … dat sy net inmekaargesak het. Hulle het onmiddellik ’n ambulans ontbied, maar toe hulle by die hospitaal kom, was alles reeds … verby.”
Dis lank stil, ’n woordelose, verslae stilte.
Oom Isak sug diep, en die nuwe vreugde wat die afgelope tyd so deel van hom geword het, is skielik net weg. “Vreemd, ek het ’n voorgevoel gehad. Daardie dag toe jy hulle weggeneem het, toe ek julle so sien wegry het, het ek ’n gevoel gekry dat iets gaan gebeur … Toe het ek maar aan Karina gedink, nie geweet, verwag … Maar ons het almal geweet Miemie se hart is swak, en die spanning van die afgelope tyd moes dit finaal geknou het.” Hy sug weer. “Ek moes by haar gaan bly het in die hotel; haar bygestaan het, gekyk het dat sy haar nie vermoei nie. Hoekom het ek nie?” Hy kyk op en die smart in sy oë vind weerklank in De Waal se hart. “Hoekom weet jy altyd wat jy moes gedoen het wanneer dit te laat is? Hoekom dóén ’n mens nie dié dinge wat jy voel jy móét doen nie? Hoekom altyd uitstel tot later … en dan is daar nie ’n later nie?”
“Moenie oom so verwyt nie. Oom was ’n besonderse vriend vir haar die afgelope tyd. Ek weet oom het geweldig baie vir haar beteken.”
“Ek was en ek het. Nou is dit verby. Miemie is … dood.” Die ou man frons met skielike ontsetting in sy oë. “Hier sit ek en … wat van jou? Jy het ’n moeder verloor. Ek is jammer, seun.”
“Dis alles reg, oom. Ek verstaan. Ja. Ek het ’n moeder verloor. Voorwaar ’n wonderlike moeder. Maar ek het nog nie tyd gehad om aan my persoonlike verlies te dink nie, oom. Al waaraan ek nou kan dink, is … wat van Karina, oom Isak? Wat nou van háár? Sy het haar moeder dan juis nou so nodig! Hoe …?”
Sy stem sterf weg en weer is albei mans stom.
“En môre word die verbande afgehaal … As sy kan sien, sal sy haar ma seker eerste wil sien. Wat gaan ek vir haar sê, oom? Hoe kan ek vir haar sê dat sy tant Miemie nooit weer …”
Sy stem breek en hy staan vinnig op, die woorde kom krakerig en saaklik: “Ons moet maar ry en daar kom, oom. Daar is nou baie om te reël.”
Die hele ent pad Kaap toe word in verslae stilte afgelê. Vir albei is die wete dat hulle nie vir tant Miemie daar sal aantref wanneer hulle daar kom nie, net ondenkbaar.
Maar God is gewoond dat die mens met Hom redeneer. Ook nou, in hierdie lang nagtelike ure, redeneer hulle woordeloos met Hom wat die lewe in sy Hand hou.
Hoe kon tant Miemie nóú gesterf het? Haar kind het haar so nodig! Hoe kan Hy die sorg wegvat en die hulpelose wees alleen agterlaat? Hoekom kon sy nie maar nog ’n rukkie geleef het, al was dit dan net totdat Karina se operasies agter die rug is nie? Al het Hy dit maar net uitgestel tot oormôre! Môre kom Karina se verbande af, en as daar een is wat verdien het om die resultaat te sien en eerste in daardie pragtige oë te kyk, dan is dit seker die moeder wat haar so getrou bygestaan het! Hoekom …?
Dan word dit stil in hulle toe hulle besef met wie hulle redeneer. Want wie durf met Hom redeneer? Wie durf vra: Wat het U nou gedoen? Dan kan hulle maar net in ootmoed en kleinheid smeek: Wys U ons die weg aan! Wys U vir ons wat ons nou moet doen! Gee vir ons krag om ook hierdie smart te kan dra!
Vroeg die volgende oggend is De Waal in verbinding met Karina se dokter, en laasgenoemde is self diep geskok om van die tragiese gebeure te hoor. Tog moet ’n mens se eerste gedagte by die lewende wees. Karina mag nie van haar moeder se afsterwe vertel word voordat die verbande verwyder is nie. Dis ’n baie definitiewe bevel.
Professor Keuler ontmoet hulle in die hospitaalgang voor Karina se kamerdeur en word voorgestel aan oom Isak.
“U kan saam met my inkom en by wees wanneer ek die verbande verwyder. Dit sal goed wees as daar iemand is wat sy ken, meneer,” sê hy vir De Waal.
“Sy sal haar moeder verwag. Wat moet ek sê as sy vra? En sy sál vra!”
“Ons sal moet dink. Sy durf nie nou aan skok blootgestel word nie. Vir ten minste vandag mag sy nie ontstel word nie.”
De Waal skud sy kop. In die verlede was hy gou om ’n noodleuen uit te dink, maar vandag wil sy verstand nie werk nie.
“Jy moet haar maar sê haar ma is by my. Ek voel ongesteld. Vertel haar enigiets wat jy wil, maar nou moet ons net aan Karina dink, De Waal. Miemie sou dit so wou gehad het,” stel oom Isak voor.
De Waal knik en professor Keuler vra simpatiek: “Is u gereed? Dan kan ons maar gaan.”
Oom Isak druk sy skouer. “Gaan, ou seun. Ek wag buite. Sterkte.”
Jy kan die spanning in die vertrek met ’n mes sny toe hulle binnekom. Die suster staan reeds gereed met haar trollie met al die instrumente daarop.
“Hoe voel my pasiënt?” vra die professor byna op prosaïese toon.
Sy antwoord dadelik: “Goed, dankie.” Dan voel sy ’n hand oor hare vou, en sy weet. “De Waal! De Waal, is dit …?”
“Dis ek.” Sy stem het nog nooit so diep geklink nie. “Ek is hier by jou en ek belowe ek sal jou hand die hele tyd styf vashou.”
Sy trek haar asem diep in, sê met bewende lippe. “Dankie. Dankie, my ouboet.”
Dan word dit stil … baie stil. Daar is die gegirts van die skêr, die effense geritsel van die suster se uniform. Daar is die strakheid van die professor se blik. Op hierdie oomblik word nie aan persoonlike prestasies gedink nie, maar aan ’n blinde mens – ’n blinde mens wat miskien weer sal kan sien …
En daar is die hand wat hare pynlik styf vashou en die al ligter wordende gevoel soos die gewig van die verbande van haar oë af gelig word. Dan voel sy meteens heeltemal vry, weet sy dat hulle af is … vir altyd af is.
Die gordyne is toegetrek en die kamer in skemerdonkerte gehul. Dis asof De Waal wil skreeu om lig en lug, maar sy stem verstok in sy keel. Hy kan net angstig afkyk op die pragtige gesig met die geslote oë.
Professor Keuler buk nader, neem die twee wattekussings weg. “Kyk na my, Karina.”
Die ooglede lig. Die oë bly uitdrukkingloos. Hy hou ’n dowwe liggie omhoog.
“Sien jy iets?”
“Nee, ek … Ja! Ek sien ’n liggie … Ek sien ’n liggie!”
“Kan jy dit volg met jou oë?”
“Ja! Ja! Ek sien dit beweeg!” Sy lig haar effens omhoog, kyk dan verby die liggie, sien die onbekende gesig met die bekende stem.
“Geluk, Karina. Jy kan weer sien!” Die dokter knik goedkeurend met sy kop.
“Weer sien?” Die oë vul met trane en die gesig word wasig voor haar. En dan is daar ’n ander gesig voor hare, ’n gesig wat half vreemd is en tog ook pynlik bekend. “Ek kan weer sien? De Waal …?”
Hy kan net knik, stom en dankbaar in hierdie oomblik van hartseer en vreugde.
“Ek sien weer, De Waal! Ek kan jou sien!” Haar hande strek na sy gesig uit, raak sy wange aan, en dan lê sy teen sy bors en rou snikke van onbeskryflike dankbaarheid vul die vertrek.
Hy kan haar net vashou terwyl haar snikke weerklank in sy eie hart vind. Karina kan weer sien!
Professor