Nie dat sy dink dat De Waal Karina ooit doelbewus sal seermaak nie. Nee, dit nooit nie. Maar ook hy het nou beskerming nodig, al besef hy dit nie. Hy kan dalk ook aan Karina geheg raak en eers as dit te laat is, besef dat hy met vuur gespeel het. Dit sal die hele situasie net nog meer tragies maak. Voordat twee jong harte gebreek word, moet sy wal gooi. Dis haar plig as moeder en as die ouer persoon wat verder sien as môre …
Die eerste aand nadat De Waal sy intrek in die huis teen die heuwel geneem het, lê Karina rustig na die see en luister. Daar is ’n kalmte in haar wat sy nog nie sedert haar ongeluk ervaar het nie. Die wete dat De Waal onder dieselfde dak as sy slaap, dat sy hom kan roep as sy wil, laat haar wonderlik veilig voel. Sy raak aan die slaap, vir die eerste keer met ’n glimlag om haar lippe.
De Waal het sy klere klaar in die kaste gepak en hy stap na buite. Hy kyk na die fosforgetinte branders, die maanstrale oor die kolkende see. Hy voel hy het tuisgekom vanaand. Hy staan op die stoep van sy eie huis. Hy dink terug aan die skakelhuisie in die onderdorp. Dit was ’n lang en opdraande pad van daardie skakelhuisie af tot op hierdie stoep waar hy nou staan. Maar vanaand staan hy hier …
En hulle is weer bymekaar: hy, tant Miemie en Karina. Ook vir hulle was dit ’n lang pad van die skakelhuisie af tot waar hulle vanaand hier onder sy dak slaap. Dit was ook ’n moeilike pad; ’n pad vol tragedie en smart en pyn.
Mag die Vader gee dat die pad nie hier sal doodloop nie, maar weer opnuut van hier af sal begin. Veral vir Karina … Karina moet weer sien. Karina moet weer kan loop. Dit het vir hom dié belangrikste ding in die lewe geword – haar herstel en haar geluk.
Maar as dit nie gebeur nie …? Hy skram van die gedagte af weg. Dis ondenkbaar. Hy weier om daaraan te dink.
Tant Miemie besef nie dat De Waal nie so blind is vir moontlikhede wat in die toekoms kan opduik soos wat sy dink nie. Hy besef maar te goed wat kan gebeur … en wat reeds gebeur het. Hy besef die implikasies daarvan en weet dat môre miskien nog groter hartseer en smart kan inhou.
Maar dis môre. En môre lê ver. Vanaand is soveel belangriker. Vanaand slaap hy in sy eie huis onder dieselfde dak as sy … as die maatjie wat hy verlore gewaan het. Hul lewenspaadjies loop weer saam en hy is diep dankbaar daaroor.
6
In die week wat volg, kom daar ’n rustigheid en roetine in die wit huis teen die heuwel, en al voel tant Miemie steeds onrustig, kan sy ook nie help om te sien hoe goed De Waal se teenwoordigheid Karina doen nie.
Haar lusteloosheid en rusteloosheid neem daagliks af. Dis asof sy nou weer in alles belangstel en lewenslustiger is. Sy is besig om wonderbaarlik by haar moeilike omstandighede aan te pas.
Dat De Waal hierin ’n baie groot rol speel, is duidelik, en tant Miemie se dankbaarheid jeens hom neem toe, al groei haar onrus terselfdertyd aan.
Tant Miemie hou haar dogter deur die venster dop. Dit het nou ’n gewoonte geword dat Karina laatmiddag haar stoel op die grasperk uitstoot en dan daar met Rex speel. Gewoonlik rol sy ’n bal vir hom oor die gras wat hy dan, baie ingenome met homself, kom terugsit in sy kleinnooi se hand. Maar tant Miemie weet dat haar ore gespits is vir die geringste dreuning van ’n aankomende motor.
Sy bemerk nou dat Karina al minder aandag aan die lewenslustige Rex gee en al hoe meer haar kop in ’n afwagtende houding omhoog hou. Dis al meer as ’n halfuur later as wat De Waal gewoonlik huis toe kom. Sy sug saggies en stap uit. Dis soms baie swaar om ’n moeder te wees.
“Kan ek solank vir jou ’n koppie koffie bring, my kind?” Dis die gewoonte dat, sodra De Waal by haar op die grasperk aangesluit het, tant Miemie met koffie te voorskyn kom.
“Dankie, Mamma. Ons … ons kan maar nog so ’n rukkie wag.”
“Miskien kom hy glad nie vanmiddag huis toe nie,” sê tant Miemie sag. “Hy het miskien iets aan die gang vandag.”
Sy sien die fronsie op Karina se voorkop. “Hy kom altyd eers huis toe van die werk af. Hy het dit die hele week nog gedoen.”
“Maar hy is nie onder ’n verpligting nie, Karina.”
“Nee. Natuurlik nie, maar …”
“Ons moet hom nie gebonde laat voel nie, my kind. Hy loseer net hier.”
“Ek weet nie wat Ma bedoel nie. Ek … ek verwag nie …” Haar stem sterf weg, skielik weer styf en ongelukkig.
“Karinatjie … Ag, my kind, Mamma wil net nie hê jy moet weer seerkry nie. Vergewe Mamma maar … maar jy moet oppas dat jy nie te afhanklik van De Waal se vriendskap word nie.”
Karina draai haar gesig weg, en tant Miemie voel hartseer omdat haar kind weer so bleek lyk. Toe sy praat, klink Karina se stem gedemp en hartseer.
“Ek … begryp, Mamma. Dit … sal nie gebeur nie. Ek besef …” Sy moet eers haar asem diep intrek voordat sy kan voortgaan: “Ek weet wat Ma my aan die verstand wil bring en ek besef dit. Ma hoef nie bang te wees nie. Ek sal niks meer van De Waal verwag as … as wat ’n blinde en verlamde meisie van enige man kan verwag nie.”
“Karinatjie …”
Karina se dapper glimlag sny deur die moederhart. “Ma hoef regtig nie bang te wees nie. As daar iemand is wat haar beperkinge besef, dan is dit beslis ek. Dit sou uiters belaglik van my wees om …”
Die moeder gryp haar kind se bewende hande, wat so styf op haar skoot geknel lê, in hare vas. Haar stem onvas, verskonend, jammer: “Ag, Karinatjie, Mamma wou jou nie seermaak nie …”
“Ek weet. Ek weet. Ek waardeer dit. Wat sou van my geword het as ek nie só ’n ma gehad het nie? Ek wil nog dankie sê, Mamma. Ek besef elke dag meer en meer watter wonderlike moeder die Here my gegee het. Dankie vir Ma se geduld en liefde en verdraagsaamheid. Ek was nie ’n goeie dogter vir Ma in die verlede nie, maar … ek ís dankbaar, Mamma.”
“My kind …” Tant Miemie se stem laat haar in die steek en sy kan nie verder praat nie.
“Kom nou,” sê Karina kalm. “Ons oordramatiseer ’n bietjie, nè? Ek sal nou ’n bietjie koffie drink, dankie, Mamma.”
Tant Miemie stap met ’n geruster hart die huis in. Karina is ’n verstandige kind. Sy het die afgelope tyd beslis ’n dieper, sterker mens geword deur haar lyding.
“Ag, Here,” bid sy, “gee my kind iets terug van dit wat sy verloor het!”
In die tuin rol Karina weer die bal vir die blaffende Rex, maar haar gedagtes is na binne gekeer.
Haar Ma se waarskuwing was nie so onnodig soos wat sy dit wou afmaak nie. Dit was nodiger as wat sy selfs op hierdie oomblik aan haarself wil erken.
Sy het reeds te afhanklik geraak van De Waal se vriendskap. Hoe afhanklik, besef sy nou eers. Terwyl sy gesit en wag het op die dreuning van sy motor, het sy aan haarself erken dat haar dag eintlik begin wanneer De Waal smiddae van die werk af kom.
En dit ná net ’n korte week! Daar kom ’n beklemming in haar binneste. Sy durf dit nie toelaat nie! De Waal mag nie so ’n belangrike rol in haar lewe speel nie. Dit sal belaglik en dwaas van haar wees om so iets toe te laat. Sy mag nooit, nooit vergeet dat sy blind en verlam is en dat De Waal ’n sterk, gesonde man is en boonop verloof ook nie!
En tog weet sy, skuldig, dat sy al hierdie feite die afgelope week doelbewus na haar onderbewussyn gedwing het. Sy het net elke dag met albei hande gegryp na elke krummel wat die lewe na haar kant toe gegooi het. Agter in haar brein was die waarskuwing, maar sy het dit doelbewus geïgnoreer.
Sou De Waal ook al opgemerk het dat sy hom smiddae gretig op die grasperk sit en inwag? wonder sy onrustig. Het hy juis vanmiddag doelbewus langer getalm om huis toe te kom sodat sy moet besef wat die posisie werklik is? wonder sy ontsteld.
Sy gooi die bal vir laas vir Rex en swaai haar stoel vinnig om in die rigting van die huis. Toe haar ma by die voordeur met die skinkbord uitkom, is Karina reeds besig om oor die stoep aan te kom.
“Ons