Tog twyfel sy vir die eerste keer in haar lewe aan haar eie vermoëns. Vir die eerste keer besef sy dat sy De Waal dalk kan verloor. Sy dink die res van die dag diep na en toe haar pa daardie aand sy Sondagkoerant oopmaak, is haar stem glad nie so selfversekerd soos altyd toe sy die stilte verbreek nie.
“Paps …?”
“Ja?”
“Mag ek oorsee gaan, asseblief?”
Haar pa kyk haar opsommend aan. Arme Rhona! Die vrede en geluk is in ’n mens self, maar sy wil dit op ver plekke gaan soek. Maar hy knik geredelik. “Soos jy wil.”
“Dankie.”
Sy stap na haar kamer toe, haar oë hard. Sy sal weggaan totdat die eerste aardigheid verby is en De Waal moeg geword het vir popspeel. Dan sal sy terugkom …
“Bring haar oor drie maande terug, dan kan ons kyk watter vordering sy gemaak het en nuwe besluite neem,” praat die dokter met De Waal. “Maar eers moet sy gaan aansterk. Haar gestel is geweldig verswak.”
“Dankie, dokter. Ek sal so maak. En onthou, die rekenings kom na my toe – almal.”
De Waal draai van die dokter af weg, stap met die lang gang af na Karina se kamer. Hy weet hy is steeds nie welkom nie, maar hy sal maar ’n renostervel moet ontwikkel en maak asof hy niks agterkom nie. Sy is in haar gees nog so onafhanklik soos altyd, maar na die vlees so verskriklik afhanklik.
“Is julle gereed? Dan kan ons maar gaan.”
Sy vrolike stem irriteer Karina. ’n Mens sou sweer hulle gaan na ’n piekniek! Sy sit op die kant van die bed, onbewus daarvan dat sy byna feeagtig lyk. Haar gesig is stil, onpeilbaar, maar die keelspiere werk krampagtig en haar hande bewe merkbaar.
“U koets staan buite gereed, prinses!”
Haar kop ruk omhoog. Sy dink aan haar kinderdae. Toe hy haar ook dikwels so aangespreek en van “haar koets” gepraat het as hy haar met sy fiets êrens heen moes neem. Sy draai haar kop weg, haar lippe wit en deurskynend. “As iemand my net tot op die vloer help, sal die prinses haar na die koets toe sleep, dankie.”
Daar heers ’n ongemaklike, pynlike stilte. Dan voel sy skielik sterk arms om haar gaan en sy word van die bed af opgelig.
“Nee! Sit my neer!”
“Karina, dis ek, De Waal. Onthou jy my dan nie? Ek het jou so baie gedra. Onthou jy? Toe het ek jou nie laat val nie. Ek sal ook nie vandag nie.”
“Ek … Waar is ’n rolstoel? Ek kan in ’n rolstoel …”
“Jou rolstoel is reeds in die motor gepak. Ek sal jou hierdie klein entjie dra.” Hy begin aanstap deur toe. “Sal tant Miemie daardie tas kan behartig?”
“Ja, natuurlik. Stap jy maar voor.”
Karina sluit haar oë en swyg. Sy is magteloos. Dis waar, hy het haar dikwels so gedra toe hulle nog kinders was. Maar toe was dit anders. Sy onthou nog hoe sterk en stewig die seunsarms haar vasgehou het. Maar vandag voel die arms anders. Dis ’n groot man se arms wat om haar is, wat haar met soveel gemak en sekerheid dra.
Dis ’n lang pad huis toe. Voorheen was die pad kort, het die tyd omgevlieg. Maar vandag, met net die beweging van die motor onder haar, die suising van die wind by die venster en niks om te sien nie, is dit ’n lang, lang pad.
Sy hoor hulle praat, maar sy skenk geen aandag nie. Die dinge waaroor hulle praat, is nie meer van belang vir haar nie.
Dis of ’n eindelose ewigheid verbygegaan het voordat sy De Waal hoor sê: “Ons is tuis.”
Sy laat maar weer woordeloos toe dat hy haar uit die motor tel en die huis indra. Sy is werklik spyt dat hulle nie maar teruggekeer het na die ou skakelhuisie toe nie. Dan sou sy darem nou vir haar ’n prentjie kon vorm van die vertrek waarin sy gedra word. Nou is alles vreemd, weet sy nie hoe groot die ruimte om haar is en waar alles staan nie. Selfs die reuk is vreemd nuut – nie soos haar ma se huis wat altyd na moskonfyt of varsgebakte brood geruik het nie. Dit ruik alles nuut en vreemd.
Maar sy swyg. Dis bloot ter wille van haar ma dat sy toegestem het om hier te kom bly. Ook bloot ter wille van haar ma sal sy De Waal verdra.
“Ek wil graag bed toe gaan, asseblief.”
Hy gehoorsaam en laat haar op die breë bed in die hoofslaapkamer neersak. Hy stap na die dubbele glasdeure toe en skuif dit oop en die see se geruis stroom die vertrek binne. Karina was altyd so lief vir die see. Hy laat haar alleen terwyl hy die motor afpak.
Tant Miemie voel verdwaal in die pragtige kombuis. Die voorraadkaste is gepak tot bo, en alles wat vir ’n huisvrou gerieflik is, is daar.
Tant Miemie het net betyds ’n uitroep bedwing toe hulle voor die huis stilgehou het. Sy het beskuldigend na De Waal gekyk, maar dié het net geknipoog.
Hy kom nou binne en glimlag weer vir haar.
“Regtig, De Waal, hierdie plek …”
“Kom hier iets kort? Sê dan net, tante. Tante weet, dis ’n oujongkêrel wat die plek ingerig het. Ek weet nie veel van huishouding nie.”
“Moenie ander praatjies maak nie, jong man. Jy weet wat ek bedoel.”
“In daardie geval is ek bly tante hou daarvan. Nie ’n woord verder nie. Onthou – kleine muisies, grote ore!”
“Daardie klein muisie gaan jou ore van jou kop af kou as sy eendag al hierdie dinge uitvind.”
Hy word ernstig. “Ter wille van haar hoop ek sy sal dit eendag uitvind, want dit sal beteken dat sy weer sal kan sien en loop. En as dit nie gebeur nie, tante, hoef sy nooit te weet nie. Onthou asseblief wat ek gevra het. Karina hoef niks te weet nie.”
“Ek verstaan nie hoekom nie, De Waal. Ek begryp nie hoekom ek oor jou werk en jou lewe leuens moet vertel nie.”
Hy glimlag net, sê beslis: “Ek gaan haar rolstoel haal. Dis die heel jongste model en sy behoort dit maklik te kan hanteer sodra sy die huis en stoepe goed ken.”
Toe De Waal uitstap, is hy bly dat tant Miemie nie daarop aangedring het om te weet hoekom hy nie wil hê sy moet vir Karina sê dat hy vandag ’n ryk man is nie. Hy weet self nie eintlik nie. Of miskien weet hy, maar wou hy dit tot dusver nie eens aan homself erken nie.
Toe hy eindelik seker is dat hulle goed gevestig is en alles het wat hulle nodig het, sê hy nag en vertrek. Onder aan die voet van die rant bring hy sy motor tot stilstand en klim uit.
Die seewind waai koel teen hom aan toe hy opkyk na bo. Lank rus sy blik op die huis teen die heuwel, wag hy totdat die laaste lig afgeskakel word.
Sy is terug. Sy is tuis.
Hy kyk na die groot venster met die uitsig oor die see. Agter daardie venster lê sy nou na die lied van die see en luister. Hy weet sy sal heelnag daarna lê en luister. Hy weet sy sal nie vannag slaap nie. Sy sal daaraan lê en dink dat gister en die jare wat verby is, asof met ’n mes afgesny is.
Hy kyk nog een maal na die wit huis en klim dan terug in sy motor. Hy moet môre vir hulle ’n waghond kry. Hulle is ’n bietjie eenkant daar.
Môre … Sy sal maar môre uitpak, besluit tant Miemie, en maar môre die huis deurkyk en Karina vertel waar alles staan sodat sy haarself darem op ’n manier kan help.
Môre … Môre sal sy werklik eers begin stap op hierdie nuwe pad, besef Karina. Van môre af sal hulle alleen wees … sy en haar ma. Daar sal geen rede vir hom wees om gou weer hierheen te kom nie. Hy het sy eie lewe … hy en sy verloofde het hul eie toekomsplanne. Van môre af is dit net sy en haar ma en die lied van die see …
5
Toe De Waal daardie volgende Maandagoggend van sy lessenaar af opkyk, staan Rhona se pa voor hom.
Daar is niks in oom Isak se glimlag wat verraai dat hy ’n wrok jeens De Waal