“Waar is daai nikswerd broer van jou? Ons moet pres-sake praat.”
Dis Boel se manier van praat. Sy weet dat hy eintlik nogal van Arno hou. Boel het nie broers nie, net getroude susters.
“Nog op die werf rond, dalk by die kraal.”
Sy kyk hoe hy wegstap oor die werf wat begin versag in die eerste skemer. Hy is kwalik buite sig, toe haar ma in die deur verskyn. Sy voel-voel oor haar grysswart hare en druk haarnaalde reg, soos sy altyd maak as sy iets op die hart het. “Boel hier?”
“Ja, Ma.”
“Jy moet tog al die stukkies skille optel. ’n Mens gly daarop. Wat sê Boel verder van die onderwyser?”
“Hy het sy baadjie gebring wat in die lorrie bly lê het. Ons het nie verder oor hom gepraat nie.”
“Gee laat ek sien?”
“Maar my wêreld, Ma, dis ’n baadjie. Niks om oor nuuskierig te wees nie.”
Tog neem Leen die baadjie, bekyk dit, vou dit respekvol weer op. “Jou pa het ook destyds partykeer baadjie aangetrek, sommer, nie vir koue of beste nie. Toe ons jonk was. Hy het so ’n swart blazer gehad …”
Nida word diep getref deur die onverwagte ophaal van ’n intieme klein herinnering. Sy onthou so weinig teerheid tussen haar ouers. Dalk heel vroeg, maar later glad nie meer nie. Dis waarvoor sy die bangste is in ’n huwelik met Boel: dat alles net funksioneel sal word, dat emosie al minder en minder plek sal hê.
Sy staan op en gaan by die hoekpilaar van die toegerankte stoepie staan. Grondgeitjies, bedags geheimnisvol verskuil, begin oral op die werf tjik-tjik-tjik. Geurige koelte begin instoot, te danke aan die groot sementvoor wat hier verbyloop, asook die rivier verder weg. Die ruising van die watervalletjies in die vlak kloof klink sterker noudat die gedreun en gepols van meganiese implemente – rytuie, trekkers, snymasjiene, waterpompe – begin stil word.
Sy voel die aand oor haar wange vee, hoor vlermuise onder die dak se nok uit swiep, hoor op ’n afstand die stemme van Arno en Boel, laasgenoemde eenkeer in bulderende lag. Seker Arno se siel uitgetrek … oor die baalpars, wat anders?
“Hy benodig losies, dis maar klaar,” klink dit onverwags agter haar op.
’n Oomblik lank wonder Nida of sy reg gehoor het. Dat haar ma van die onderwyser praat, snap sy wel. Sy weerstaan die drang om terug te draai om te sien of haar ma ernstig is. Maar sy bly uitkyk oor die gronderige werf en dink: Al die huise het al met pompe water uitgebring om die werf lowergroen te maak. Net hulle s’n bly kaal en vaal. Boel en tant Bella se werf is ’n lushof van koelteboom, prieel en ’n sementleivoortjie waar jy jou voete kan sit en afkoel. En my ma wil vir ’n vreemdeling wat beter gewoond is, hierdie barheid aanbied.
“Stel Ma belang?” vra sy neutraal.
“Miskien kan mens iets uit ’n loseerder maak.” Dit klink of sy iets verswyg. “Net ’n paar maande, dit kan nie te erg wees nie.”
“Dit sal vir Ma baie ekstra werk wees,” sê Nida om die ware motief te probeer toets. “Behalwe die vleis en bykos, nog elke dag slaai en poeding.” Nou is sy moedswillig, en geniet dit nogal.
“Miskien is hy so verleë oor sorg dat hy sal eet net wat ons eet,” bespiegel Leen hoopvol.
“’n Man soos hy is seker gewoond aan die beste huisvesting,” herinner Nida meedoënloos.
’n Diep, verborge stryd skemer deur op die verweerde gesig van die skraal, amper benerige vrou. “’n Paar maande sal hy darem kan uithou. En dis vir jou tog ook jonger geselskap.” Vinnig onthou sy: “En vir Arno.”
“Arno praat net oor lusern, Ma. En in elk geval sal Ma dan net die vleis sagter moet stowe, veral die skenkels.” ’n Sterker skoot moedswilligheid hierdie keer.
Sy is verstom oor haar ma se volgende woorde: “Eintlik het ek klaar aangebied. Toe jy in jou kamer gerus het na middagete, het ek vir Dewald gebel. Hom nog by die huis gevang voor hy die man vir ete gaan haal het.”
Nou weet Nida vir seker, en die opsigtelike set laat haar weerloos en verslae voel. Haar ma is bereid om elke dag haar beste voet voor te sit, om slegs een rede. So diep is haar wrewel in Boel, dat sy tot sulke uiterstes sal gaan om hom uit die prentjie te probeer kry. En dit juis noudat sy, die dogter, meer as een keer vandag iets vir Boel gevoel het, sterker as voorheen. Dat sy gedink het hulle kan ’n toekoms saam hê, net hier op Driekolk.
“Dewald het teruggebel en gesê die man sal môrenamiddag se koers oorkom. Jane sal vir hom kosgoedjies saamgee vir vanaand en so. Dalk is dit beter, dan kan ek my sake beter bedink. Die kos, en die buitekamer.”
Nida staar so stip die groeiende skemer binne dat dit voel of haar oë versplinter toe sy hulle knip. “Maak maar soos Ma wil,” sê sy, “solank Ma net nie by my kla nie. Hy is dan Ma se loseerder, nie myne nie.”
Sy kry die eienaardige gevoel dat sy met hierdie halfhartige instemming haar eie lot uit haar hande laat gaan.
Nelis luier die lang, loom namiddag om. Aangesien hy min op die trein geslaap het, sluimer hy in op die broeiwarm bedjie. Jane Venter het beddegoed gegee: lakens, deken, kussing. Geen kombers nodig nie.
Hy het die skoolvertrekkie se sleutel by Dewald gekry en terstond oopgesluit, gesien dat dit nog nie skoongemaak is nie. Stof en ja, vlermuismis inderdaad. Die twee rytjies skoolbanke. Hy het die deur net eers weer agter hom toegetrek. Na sy onrustige, swaar middagrus en met die geringe afkoeling van vooraand, stap hy nou weer die enkele meter soontoe.
Hy neem ’n uur of twee om alles op sy tyd deur te gaan. Die lang, eensame nag lê immers voor en hy moet tyd verbruik; dit kan wees dat hy geen oog sal toemaak nie. Hoe hard presies raas die rivier in die nag?
Die skoolbanke is verdor; dit kort ’n skoonmaakmiddel en ’n lagie olie. Die rakke en kaste is betreklik ordeloos. Die senuwee-juffrou wat so vol bestellings was en glo ook deur ’n spook geteister is, was beslis nie ordelik nie. Hy sal die hele twee weke nodig hê om alles in orde te kry. Van nature is hy ordelik en net. BH het waardering daarvoor gehad. Hoe dikwels hulle ook ligweg koppe oor Banie gestamp het (want jy twis nie met ’n versotte vader wat jou baas is nie), BH is ’n regskape man.
Dis nietemin aangenaam om in die skoolvertrek rond te peuter en te weet dat dit sy toekomstige koninkryk is. Soveel grade in een vertrek is ’n taai opdrag, maar Dewald sê die ouer kinders help soos regte onnies met die kleineres. Dank die hemel, sy aangebore belangstelling in die opvoeding van kinders het ongeskonde gebly; eerder toegeneem, want elke kind het vir hom Banie Hougaard geword en hy arbei onvermoeid aan elkeen persoonlik asof hy daarmee Banie se lewe kan terugkoop.
Hy vind deesdae verligting vir sy gemoed slegs in die teenwoordigheid van kinders, omdat hy in hulle onwetende blikke vryspraak soek, ’n versekering dat hy nog die reg het om sy aandag aan hulle te wy, sy kragte en belange.
Hy sien die vrugte daarvan, soos vanmiddag. Dewald Venter se kinders het hom dadelik op natuurlike wyse aanvaar, onderhoudend met hom gesels sonder om voor op die wa te wees of aandag te trek. Met so ’n kern kan hy goed wegspring. Fransie, die oudste, is veral slim en vrymoedig, het so lekker met sy bejaarde oupa gejil.
Met die een oog hou hy deur die vuil vensterruite ongemerk die pad tussen die winkel en die Thirions se huis dop. Hoe laat kom Nida van die werk af? Tog seker vyfuur? En stap sy wanneer Boel haar nie oplaai nie? Hy is ’n besige man. So ver is haar huis ook nie van die winkel af nie, en die son begin sy ergste krag verloor.
Dis bloot toevallig (of gelukkig?) dat hy kwart oor vier weer deur die venster kyk en haar sien stap, met ’n liggeel breërandsonhoed op. Dit sorg vir ’n mistieke prentjie. ’n Soort Monet-skildery, maar sonder boeselrok en papawerveld. Die vaal agtergrond beklemtoon die