“Is nie, ek het ’n stukkie wingerd en ek begin aan katoen dink. Maar waaraan anders wil jy hê moet ek dink?”
Dis waar, besef sy met berou. Hy het nie eers vrou of kind nie. En lusern sit kos op die tafel. Met die stukkie wingerd kom hy nie reg nie. Dit kry te maklik siektes.
“Wat praat julle?” Leen se aandag het weggedwaal. “Wat van die pres?”
“Ek sê, Ma, Arno kan gerus self ’n pres koop.” Arno sal dit kan bekostig, hulle lewe spaarsaam genoeg. Hy kan afbetaal. Nida dra by vir die huishoudelike uitgawes. Sy kan kosprys by oom Gert koop. “Ek het Ma se goedjies op die kombuistafel neergesit,” onthou sy.
“Dankie, my kind.”
“Daar is niks mee verkeerd as ek en Boel mekaar weghelp nie,” gooi Arno wal. Nida bekyk hom ’n slag deeglik, besluit dan dat haar broer eintlik ’n aantreklike man is, net verwaarloos van son en werk. Leen hou ten minste sy werksklere netjies genoeg.
“Maar dan na weerskante toe. Hy het in elk geval gesê hy is nog nie klaar nie. Hy het meer ysters in die vuur as jy, Arno,” maak Nida ’n einde aan die getjommel. Boel is een van die boere wat weet om wisselbou toe te pas. “Kan ek maar opstaan?”
“Jy het dan amper niks geëet nie.”
“Ek is regtig nie honger nie, Ma. Die hitte. Dankie,” onthou sy darem.
“Sit dan jou vleis terug in die bak.”
Sy gehoorsaam, maar nie sonder ’n stekie nie: “Ek hoop nie Ma wou my oorskiet vir die onderwyser stuur nie.”
Toe Nida help opruim het en in die kamer ’n bietjie gaan rus, is sy nog steeds die prooi van die ongekende, vae onvergenoegdheid. Sy probeer dit ontleed, omdat sy weet dat dit nie so hoort nie. Die dinge waarteen sy vanmiddag in opstand kom, is nie so vreeslik erg nie. Net vasgewortel.
Wie is daar per slot van rekening wat nie soms ’n mate van leegheid ervaar in sy omgang met ander mense nie, in besonder die mense wat naaste aan jou behoort te wees? So vermoed sy, wat nie die wye wêreld ken nie.
Sy lê op haar warm bed in die verskemerde kamer en kyk hoe die gordyne na binne bol. Ete is verby, die vlieë kan maar inkom. Mens kan nie alles so toe hou nie. Maar dit sal nie help om die gordyne oop te trek nie, omdat die wind ewe warm is.
Die skoolmeestertjie sal weet dat hy gestap het, het Boel gesê toe hulle alleen wegry. “Daar het gister drie van ou Bella se hoenders doodgebrand. Moenie verbaas wees as jy nog vir braaihoender genooi word nie.”
Sy het geglimlag, effens weemoedig miskien. Sy kom nogal goed klaar met Boel se ma, maar durf nie juis openlik daar kom nie. Haar ma kan die vrou ewe min as vir Boel verdra. Nida het so gewoond daaraan geraak dat dit haar bykans nie meer hinder nie. Behalwe in die laaste tyd, en veral vanmiddag.
Dis asof daar iets onpeilbaars kom staan het tussen haar en haar normale, alledaagse gang. Is dit dalk dat sy besig is om haar te vereenselwig met Hoffman se lot? Dit sou tog misplaas wees, omdat sy hom van g’n kant af ken nie. En tog is dit asof daar ’n mate van onrus tot haar uitgegaan het van sy kant af, veral in die laaste oomblikke van hulle kort saamwees vanmiddag.
Sy hoor haar ma se voetstappe in die gang. Dis ’n redelike ruim huis; haar oorlede pa het voortdurend aangebou, hoewel nie alte verbeeldingryk nie.
Nogtans het die meeste huise geriewe wat hulle nie het nie, soos verkoeling. Daar is van die boere wat waterverkoeling prakseer, dit blaas vanaf die plafon dwarsdeur die huise. Daar is elektrisiteit nodig en wel beskikbaar, maar haar ma vind die aansluitingsfooi te hoog. “Ons wag tot dit afkom.” Asof pryse ooit daal.
Sy wens onwillekeurig dat die voetstappe verby wil gaan, maar dit kom by haar halfoop deur tot stilstand. Leen Thirion stoot dit verder oop.
“Slaap jy?” vra sy gedemp respekvol. Middagrus is middagrus. Daaroor is eenstemmigheid tussen almal wat hierdie somers ken en saam probeer oorleef.
“Ma weet ek slaap nie in die dag nie, ek rus net. Ek moet al weer op.”
“Jy moet laatmiddag tog vir my die mandjie perskes kom skil vir inlê.”
Dis ’n mismoedige gedagte, maar hoe kan sy weier? Dis ’n ballasmandjie vol verniet perskes, Dewald het gebring.
Nida is suinig op haar aande. Dis haar leestyd, ook haar buite-sit-en-peins-tyd langs die grootvoor, as die aandskemer die hittige landskap omskep in ’n skemerige koelheid van die rivier se kant af. Naweke help sy haar ma met ekstra huistake, dis ’n ander saak.
“Goed, Ma,” willig sy gelate in. “Maar ons is tog nie een lief vir ingelegde perskes nie,” kan sy nie help om by te voeg nie. Dit is inderdaad so. Vars is beter.
“Die perskes staan nou hier, dit het my niks gekos nie.”
“Noudat ek daaraan dink, hoekom dra ons eie bome nie? Hoe het dit so verwaarloos?”
“Vra vir jou oorlede pa. Dalk was hy te besig vir vrugte.”
“Of dalk het Ma dit na sy dood laat verdroog. Ook nie gesnoei nie.”
“Hoeveel hande sien jy aan my?” protesteer Leen kragteloos.
“Ek sal Ma sê wat dit is,” verstout Nida haar. “Dis vir Ma beter as dit nie dra nie. Ma hou nie van oorvloed nie.”
“In die volop tyd het dit onder die bome lê en vrot,” erken Leen seldsaam.
“En Ma sien nie kans om dit verniet weg te gee of te laat optel nie.”
“Ek weet nie wat vandag oor jou lewer geloop het nie. Mens sou sweer ek het jou te na gekom.”
“Aag, Ma, los dit tog. Ek sal vir oom Gert vra of ek vanmiddag vroeg kan uitval, dan skil ek gou die perskes. Ek wil nou gesig was en hare kam, Boel kom my nou-nou terug winkel toe vat. Spesiaal,” voeg sy aspris by.
Dis genoeg om Leen die aftog te laat blaas. Hoe minder sy van Boel hoor, hoe beter. Hy is te ongemanierd, is haar hoofklagte teen hom. En hy is nie te vertroue nie, presies soos sy ma.
“Wat het tant Bella ooit vir Ma gedoen?” het Nida een keer gevra.
En moes toe die waarheid hoor: dat Bella Meyer vir hulle, die Thirions, met ’n slagding verkul het. Dit kamtig gekoop, maar nooit betaal nie. “Jou pa moes die verlies maar dra. Nogal ’n skaap, nie ’n bok nie. Om te dink hy het dit nog laat slag ook. As hy maar die vel kon kry, maar nie eers dit nie.”
“En Ma wil dit die res van julle lewe teen haar hou?” wou Nida weet. “Julle al twee het intussen julle mans verloor, julle kan tog genade met mekaar hê.”
“Die onreg bly, en ek verdra nie onreg nie,” het Leen dunlip geantwoord. Sy het voortgemompel oor die stokou storie wat die ronde doen: dat Boel se pa uit diamante geld gemaak het.
“Niemand weet of dit waar is nie.”
“Hoe anders kry jy geld hierlangs? Grootrivier vat alles terug wat hy gee, en partykeer ook wat hy nie gee nie.”
“Vergeet die storie, Ma. Dis nie ons saak nie. En dis ons bure, liewe land.” Tant Bella het altyd iets lekkers gehad vir ’n kind wat ’n boodskap bring. Dis voor die later jare toe Boel vir Nida begin flikkers gooi het. Daarna het alles erger geword.
Leen trek die kamerdeur toe agter haar, en oomblikke later wil Nida haar verbeel dat haar ma uit die kombuis bel. Wie nou? Beslis ’n plaaslike nommer, sy bel nie maklik deur die dorpsentrale nie, want dis te betale.
Dis ’n rare verwelkoming wat Nelis Hoffman in sy nuwe verblyfplek ervaar: ’n swart stoof op krom pote staan in die karige kombuis oorgehaal om hom tegemoet te waggel.
Origens is daar min; gelukkig ook nie tekens van vlermuise, soos Boel gespot het nie. Darem die nodigste kombuisgoedjies en huisraad, oud maar skoon genoeg. Hy het nie geweet of hy, benewens ’n groet, met die skugter Komien durf gesels, haar uitvra nie. Sy was omtrent klaar toe Boel en Nida hom aflaai, en sy het nie getalm soos een wat