'n Tydreisigersgids vir Suid-Afrika in 2030. Frans Cronje. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Frans Cronje
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Социология
Год издания: 0
isbn: 9780624081418
Скачать книгу
tion>

      

      Frans Cronje

      ’n Tydreisigersgids vir

      SUID-AFRIKA

      IN 2030

      TAFELBERG

      “Nou kyk ons nog in ’n dowwe spieël en sien ’n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken. En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde!”

      1 Korintiërs 13:12-13

      Voorwoord

      Niemand kan presies voorspel hoe die toekoms op die lang termyn gaan verloop nie. Dit is waarom dit baie beter is om vaagweg reg as presies verkeerd te wees. Scenariobeplanning is ’n metodologie wat hierdie beginsel aanvaar deur in die eerste plek die magte of tendense te identifiseer wat die toekoms vorm; dan dié te kies wat waarskynlik die meeste impak sal hê; scenario’s saam te stel wat die moontlike oorsaaklike aaneenskakelings illustreer wat uit dié magte of tendense voortvloei; en te besluit oor die tekens wat ’n aanduiding sal gee van watter scenario waarskynlik tydens die oorsigtydperk werklikheid sal word.

      In sy tweede boek het Frans Cronje die tegniek meesterlik aangewend om die geloofwaardige scenario’s vir Suid-Afrika tot 2030 te ondersoek. Hy meen dit is die aangewese tyd om dit te doen omdat Suid-Afrika die periode van die vierde oorgang betree het, ná die vorige oorgange in 1910, 1948 en 1994. Hy wys op al die goeie dinge wat sedert 1994 onder die nuwe bedeling plaasgevind het, maar toon oortuigend dat ons deur ongeëwenaarde ekonomiese uitdagings in die gesig gestaar word as gevolg van die Suid-Afrikaanse ekonomie se swak vertoning sedert 2007.

      Kortliks gestel, Suid-Afrika is by ’n kantelpunt waar klein, lukrake gebeure ’n groot uitwerking op die stelsel as geheel kan hê weens al die soorte verstrengelde terugvoering in die stelsel wat mekaar versterk en uiterste resultate lewer. Ons het in 2016 in die vrye wêreld twee merkwaardige voorbeelde van hierdie verskynsel gehad met die onverwagte besluit deur Brittanje in ’n referendum om die Europese Unie te verlaat en die verkiesing van Donald Trump as Amerikaanse president, al het die meningspeilings op heeltemal die teenoorgestelde uitslag gedui. Frans begin sy boek inderdaad met die verhaal van hoe ’n jong man genaamd Mohamed Bouazizi homself in Desember 2010 in Tunisië aan die brand gesteek het, wat massiewe gevolge vir die hele Midde-Ooste gehad het.

      Hier in Suid-Afrika het ons die toenemende frustrasies van jong mense met die gebrek aan vooruitsigte om hul lewe te verbeter as ’n potensiële vonk vir ekonomiese en politieke destabilisasie. Bouazizi het presies dieselfde ondervinding gehad voordat hy gesterf het. Dit is dus kwalik ’n verrassing dat Frans en sy span die vraag of daar aan algemene verwagtinge voldoen sal word of dat dit onvervuld sal bly as een van die asse van die scenariomatriks gekies het wat die vier moontlike scenario’s van Suid-Afrika se toekoms tot 2030 uitstippel. Die ander as is of die staat dominant of swak sal wees.

      Die vier scenario’s, wat almal pakkende leesstof uitmaak, word dan in die volgende volgorde beskryf:

      Die opkoms van die regsgesindes beeld ’n nuwe model van outoritêre kapitalisme uit wat verwys na die wegkalwing van demokratiese regte en vryhede, maar aan die ander kant ’n groot verbetering in die materiële omstandighede van byna alle Suid-Afrikaners. Dit bevorder ’n nuwe sin van algemene doelgerigtheid en kohesie onder die burgery en dryf Suid-Afrika voort om weer eens Afrika se voorste ekonomie te wees, en sy sukses oor die opkomende wêreld heen uit te roep. Dit laat ’n mens dink aan ooreenkomste met die onlangse ontwikkelingsgang in China, Suid-Korea en Singapoer.

      In die tweede scenario, naamlik Die tirannie van die linksgesindes, duur stagnante en negatiewe ekonomiese groeikoerse voort, terwyl die staat roekelose, verouderde sosialistiese beleid volg wat tot ’n reeks kredietafgraderings en ’n groot uittog van kapitaal lei. Inflasie, skuld en rentekoerse skiet die hoogte in en veroorsaak wydverspreide swaarmoedigheid onder die publiek, maar hulle bly oorbluf en berus in hul lot. Die verskil tussen Rusland en China se ekonomiese verloop sedert 1978 illustreer hoe die eerste en tweede scenario uiteenloop.

      Die derde scenario met die titel, Die verbrokkeling van Suid-Afrika, skilder ’n swak en verdeelde regering waar fragmentasie, faksievorming en verwarring heers. Twee klasse Suid-Afrikaners word duidelik: die een binne die mure en die ander buite die mure. Hulle het baie min met mekaar te doen. Rasse- sowel as etniese verdelings verdiep en dit is onduidelik of die samelewing ooit weer ’n geheel sal vorm.

      Die vierde en laaste scenario is ongetwyfeld die positiefste een en word heel gepas Die verskyning van die reënboog genoem. Suid-Afrika is nie meer die land waarin mense vir die regering wag om iets vir hulle te doen nie. Dit is een waarin hulle dit vir hulself sal doen, en die regering is daar om die omstandighede te help skep wat hulle daartoe in staat sal stel. Eerder as ’n swak regering beskryf hierdie scenario die tipe leierskap in die regering wat Nelson Mandela eenmaal met deernis beskryf het as om ’n trop skape van agter af te lei. Suid-Afrika, met ’n middelklas wat ’n bloeityd beleef, word ’n Asiatiese Tier sonder die outoritarisme inherent aan Die opkoms van die regsgesindes. Die ommekeer in die ekonomie beteken dat Suid-Afrikaners uit hul selfopgelegde enklawe-lewe te voorskyn tree en hul bestaan gemaklik langs mekaar voer.

      Om ’n verhaal te vertel gryp sowel die emosies as die intellek aan. Ek hoop van harte hierdie scenario’s sal deel van die algemene woordeskat in Suid-Afrika word, net soos met die Breë weg/Smal weg-scenario’s in die middel-1980’s. Dit behoort te gebeur, want die uiteensetting is baie oortuigend en het die vermoë om mense te inspireer om die nodige stappe te doen om hierdie land se besondere potensiaal te verwesenlik.

      CLEM SUNTER

      Hoofstuk 1: Die vierde oorgang

      Hierdie verhaal begin op 17 Desember 2010 toe ’n jong man genaamd Mohamed Bouazizi die verloop van die wêreld vir altyd verander het. Mohamed was ’n smous wat sy familie onderhou het deur in ’n klein dorpie, Sidi Bouzid, op die Tunisiese platteland groente en vrugte te verkoop. Hy het in ’n arm gesin grootgeword. Sy pa was ’n konstruksiewerker wat gesterf het toe Mohamed nog baie klein was. Hy was volgens ’n vriend ’n gewilde jong man wat, behalwe om sy susters se skool- en universiteitsgeld te betaal, ook ’n tweedehandse bakkie wou koop om sy groenteonderneming uit te brei.

      Op 17 Desember 2010 om 11:30 het Mohamed buite die plaaslike goewerneur se kantoor in Sidi Bouzid ’n kannetjie petrol oor homself uitgegooi, ’n vuurhoutjie getrek en homself aan die brand gesteek. Agttien dae later het hy in ’n Tunisiese hospitaal aan sy brandwonde beswyk. Die gebeure wat tot sy dood aanleiding gegee het, was die volgende: Hy het werk gesoek, maar kon niks kry nie en daarom het hy met die smousery begin. As ’n smous is hy voortdurend deur die polisie geteister omdat hy nie die regte handelspermitte gehad het om sy vrugte en groente te verkoop nie en hulle het hom afgedreig om vir hulle geld en omkoopgeskenke te gee. Die dag toe hy homself aan die brand gesteek het, is hy gedwing om geld te leen om sy groente te koop en kon hy dus nie omkoopgeld bekostig nie. ’n Polisiebeampte het hom toe in die straat geklap, op hom gespoeg en sy groentekarretjie omgestamp. Toe hy na die plaaslike regeringskantoor gaan om ’n klag in te dien, het hulle geweier om met hom te praat. Toe koop hy sy kannetjie petrol en gaan terug na daardie selfde kantoor . . .

      ’n Joernalis het geskat daar was 5 000 mense in sy begrafnisstoet in die dorpie waar hy grootgeword het. Hulle het gedreunsing: “Ons huil vandag oor jou. Ons sal ook dié wat jou dood veroorsaak het, laat trane stort.” En hulle het inderdaad.

      Namate die nuus oor sy desperate optrede versprei het, het die betogings begin. Binne ’n maand het dit oor die hele Tunisië versprei. Die polisie het hulle probeer beheer, maar was magteloos om die vloedgolf woede en frustrasie te beteuel. Tunisië se president, Zine el-Abidine Ben Ali, het desperaat en uit vrees vir sy lewe op 14 Januarie 2011 na Frankryk – sy land se voormalige koloniale heerser – gevlug. Die Franse owerheid het geweier om hom te ontvang en asiel is later in Saoedi-Arabië aan hom toegestaan. Die Tunisiese regering het kort ná sy vertrek in duie gestort.

      Die opstand het oos en wes van die land versprei. In Egipte het pres. Muhammad Hosni el-Sayed Mubarak ná twee weke van geweld sy bedanking aangekondig.