Web. Naomi Meyer. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Naomi Meyer
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Триллеры
Год издания: 0
isbn: 9780795801211
Скачать книгу
vir jou ’n koffie,” kom die bevel. “En dan dink jy sommer in die kombuis aan ons volgende social media campaign. Wat moet ons doen om die meeste likes te kry? Wanneer gaan mense ons retweet?”

      Sophia voer die bevel halfpad uit. Sy gaan skep twee lepels poeierkoffie in die beker, maar dink nie aan sosiale media terwyl sy wag dat die ketel moet kook nie. Sy dink aan Diederick se leë koppie in die wasbak.

      Voordat die ketel tot kook kan kom, is daar ’n kragonderbreking.

      “Sal ons kerse aansteek om op ons rekenaars te kan sien?” vra sy op pad terug na hare met sy swart skerm. Sy battery was pap en sonder elektrisiteit sit die wêreld met rampspoedige wetenskapfiksie-gevolge: die mensdom is gedoem, niemand kan meer moderne take uitvoer nie. Haar werk staan stil.

      Trouw glimlag nie eens vir haar flou grappie nie, maar trek papier nader sodat hulle in die daglig wat by die venster inval na haar sirkeldiagramme kan kyk.

      Terwyl sy met haar potlood beduie, kry Sophia onverwags ’n gevoel van bewondering. Trouw het altyd ’n toekomsvisie. Sy het immers geboorte gegee aan BoekWeb en is een van daardie mense wie se idees nooit opdroog nie. As Trouw praat, klink dit of sy haar eie strategieë glo. As dit nie vir mense soos sy was nie, het die boekebedryf lankal nie meer bestaan nie.

      Want hoekom lees mense? dink Sophia terwyl sy kyk hoe Trouw se potlood verder op die bladsy krabbel. Liewer ná ’n dag se harde werk sit en wyn drink voor die kaggel of die TV, of jou kinders met hulle huiswerk help. Trouw teken driedimensionele goeters met pyle wat energiek uitskiet. En Sophia dink aan die mense aan die ander kant van die elektriese heining vanoggend – mense wat nie vanaand gaan sit en lees nie, want hulle het heeldag ander se toilette skoongemaak, en daar’s nie geld vir appels in daardie huise nie, wat nog te sê boeke.

      Sy dink ook aan Candice wat gister besluit het sy daag nie op vir werk nie.

      Trouw teken amper die hele oggend lugkastele en pyldiagramme. Sy gaan kla by die eienaar omdat die krag nog nie aangegaan het nie, en sy bel die munisipaliteit.

      Toe die elektrisiteit eensklaps aankom, het Sophia se rekenaar ’n nuk en moet ’n deskundige kom kyk. Trouw is stuurs oor die onnodige uitgawe.

      Eenuur kry sy ’n SMS van Diederick: Ek brand vas. Gaan haal kinders.

      As die rekenaar nie probleme gegee het nie, het Trouw nou op haar gevoel gespeel. Want in haar wêreld bestaan daar nie iets soos kinders nie. Hulle is net lastig, morsig en in die pad. Maar daar sit ’n tegnikus met ’n frons voor Sophia se rekenaar en sy kan tog nou niks doen nie.

      “Ek gaan haal net gou my kinders by die skool en vat hulle na Candice by my huis toe,” kondig sy aan.

      Dis nou te sê as Candice opdaag. Dalk is dit die skoolvakansiereëlings wat haar so deurmekaar maak dat sy nie betroubaar voorkom nie. In die kwartaal is sy elke middag daar. Maar hierdie slag gedurende die vakansietyd, as Sophia haar meer gereeld wil vra om na die kinders om te sien, selfs soggens, is die vrou skielik ontwykend en nie beskikbaar nie. So asof sy ander werk soek.

      Trouw reageer nie.

      Sophia ry met ’n gevoel van verligting skool toe.

      Sy is vry, sy is wég.

      Haar kinders is nie in die klaskamer toe sy instap nie. Sy haal hulle tasse uit die rakkies, groet ’n paar onbekende volwassenes wat vermoedelik gedurende die vakansietyd die personeel is, en stap na die speelgrond. Mathys klim die klimraam en beoefen seunsaktiwiteite. Hoe kan die geslagstereotipering reeds so gevestig wees? Hier klouter haar seun wat anderdag nog doek en ’n dierbare natgekwylde blou hempie gedra het: “Kyk, Mamma!”

      Mamma kyk. Maar nie vir hom nie. Mamma kyk op die speelgrond rond.

      “Waar is Magriet?”

      Het sy haar dan binne misgekyk? Want hier is net ’n see van onbekende koppe, soos tydens Tweede Nuwejaar by Muizenberg se swembad. Mathys antwoord nie. Hy is deur sy eie spel verblind en het mos seunsmaatjies wat saam met hom klouter, of langs hom in hulle eie wêreld.

      “Sy was nou-nou nog hier.”

      Sy het Mathys onderskat. Sy staan verlig nader, pols hom vir nog inligting.

      “Seker so … tagtig dae gelede.”

      Terug binnetoe. Daar sit die personeel en tee drink. ’n Kind slaap in ’n bondel komberse by een se voete. Sophia se bedagsaamheid neem die wyk. Laat die kind wakker word, wat maak dit saak.

      “Weet iemand dalk waar Magriet is?”

      Hulle skud hulle koppe heen en weer, en dis asof sy vra of hulle hierdie of daardie onlangse fliek gesien het.

      Iets voel nie reg nie. Maar sy wil nie oorreageer nie. Veral nie hier nie, nie as ’n ma in ’n skool waar Mathys die mense weer in die oë moet kyk nie. ’n Ma kry so vinnig ’n slegte naam, nes ’n meisie wat rondslaap – jy moet oppas, want voor jy weet, práát die mense.

      “Sy is nie buite nie?” Sophia kan nogtans self hoor hoe klim haar stem.

      Eers diep asemhaal.

      “My dogter kom nie gewoonlik hierheen nie,” begin sy van voor af. “Dis gewoonlik net Mathys.” Sy beduie in die rigting van die klimrame en hulle oë volg haar vinger. Hulle luister na haar storie, sy behoort verlig te wees. “Sy is in graad een by die laerskool, maar tydens die skoolvakansie is sy partykeer hier …”

      Nou knik hulle gelyk. Hulle is meer by as wat sy gedink het. Maar nie by genoeg nie.

      Een van hulle, ’n helper wat Sophia al vantevore gesien het, staan op. Hoekom het sy nog nooit moeite gedoen om haar naam te vra nie?

      “Wie was vanoggend aan diens, mevrou Stipp?” vra sy hulpvaardig.

      Kortaf antwoord Sophia: “Ek weet glad nie, ek het niemand hier geken nie. Kan ons kyk of Magriet nie by die senior klas is nie? Dalk ken sy kinders daar wat ook die vakansieskool bywoon.”

      Die vrou se gesig verklap reeds die antwoord: Hierdie ís die senior klas.

      Haar stemtoon het die deurslag gegee en opeens is almal op die been. Hulle verdwyn en verskyn weer en elkeen het dieselfde verslag te lewer: Magriet is nie in die badkamer nie, sy is nie in die skool se kombuis of saal nie, sy is op geen uithoek van die speelgrond nie, sy is nie in die televisiekamer of enige van die ander lokale nie. Die sekuriteitsdeure is almal op knip. Nêrens staan ’n hek oop nie.

      Die heeltyd bly sy op een plek, ingeval Magriet na die klas terugkom.

      “Waar kan sy wees, Sophia?”

      Die skoolhoof het nou ook op die toneel verskyn en sy vra die vraag met groot gebare, asof sy in ’n charismatiese kerk lofprysing doen. Wye, oop arms. Hande na bo gelig.

      Nee, vertel jy mý. Dis jóú skool. En dis mý kind.

      Soos vanoggend in die tuin teenoor Diederick, weet sy dis beter om nie nou te reageer nie. Sy beduie dat sy buite gaan kyk, netnou sê sy iets onverantwoordeliks. Mathys kom oor die speelgrond na haar toe aangehardloop terwyl sy na die sekuriteitsdeure stap. Sy sit haar hand ’n oomblik lank op sy kop en voel sy hare sag onder haar vingers.

      “Mathys, wanneer laas het jy vir Magriet gesien?”

      “Is sy weg?”

      Julle het dan vanoggend hand aan hand by die deur ingestap, wil sy sê, het jy nie eens agtergekom nie? Dis dan jou groot sussie.

      “Nie ver weg nie,” jok sy seepglad. Hulle bereik die sekuriteitsdeur en sy druk daarteen, so asof dit dalk heeltyd effens oopgestaan het en Magriet gaan uitspring en skree: “Surprise!”

      Die deur is bottoe. Sy plaas haar wysvinger op die skandeerder vir ’n elektroniese vingerafdruk.

      “Miskien is sy huis toe,” stel Mathys voor. Een kyk in sy oë laat haar besef die trane lê vlak.

      Sophia stoot die deur oop en hulle stap uit op die parkeerterrein. Daar is net ’n pa en seuntjie op pad binnetoe.