Web. Naomi Meyer. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Naomi Meyer
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Триллеры
Год издания: 0
isbn: 9780795801211
Скачать книгу
moes Magriet nie toegelaat het om om te draai en weg te stap nie, het Sophia later gedink. Maar daar was ’n rigiede sisteem om in stand te hou. Dis ’n masjien. Die skool. Die werk. Die dag se roetine.

      Sy het die dag se patroon met slegs ’n paar sekondes omvergewerp deur tóg blitsig oor te leun en iets in die kind se broeksak te druk.

      “Vir jou, Magriet.”

      Maar daardie geskenk, jare lank al agterstallig, was nie daardie reënerige Donderdagoggend in Julie genoeg nie.

      Dit was nie genoeg dat sy nou die dag in die winkel gestaan en uiteindelik die perfekte ene op die rak gesien en Magriet se versoek onthou het nie. Dit was nie ’n verskoning dat haar daaglikse lewe deur soveel dinge oorgeneem is dat daar niks kopspasie oorgebly het om te dink aan ’n spesifieke pienk haarknippie en haar dogtertjie se begeerte daarna nie. Niks sou daardie oggend goed genoeg gewees het nie, maar agterna het Sophia gedink: As ek tog net Magriet se gesiggie kon sien ophelder.

      Maar die dogtertjie het gelyk of sy nie eens agtergekom haar ma sit iets in haar broeksak nie.

      Haar kinders vleg tussen die ma’s met die gym-uitrustings deur tot by die kleuterskoolgebou. Sophia kom agterna. Sy moet ook haar stap ken, want daar is baie ma’s en hulle is almal haastig. Net een glimlag stywerig in haar rigting. Sophia herken haar as iemand wat sy al by Magriet se skool gesien het.

      Die kinders hou vakansie by die vakansieskool, maar die volwassenes nie. Hulle hardloop rond soos marmotte op wieletjies; dís toe wat dit beteken om groot te wees.

      In die klaskamer waarheen sy haar kinders neem, speel gospelmusiek op ’n dansmaat. ’n Kind huil en nog een dans. Sy weet nie of daar iemand van Magriet se graadeenklas is nie. Sy herken niemand, maar is ook nie so seker nie.

      Magriet het geen maatjies die afgelope twee jaar gemaak of huis toe genooi nie, dink sy kort daarna terwyl sy haar motor se trurat indruk. Nie een nie.

      Op pad na haar werk besef sy dit: As sy by haar kinders is, wil sy op haar eie wees. Weg van hulle, wil sy net by hulle wees, nêrens anders nie. Natúúrlik was eergisteraand se rit Laingsburg toe ’n glips, die soort flater waaroor hulle gesin later almal sal kan lag.

      Sy begeer dit om een van daardie ma’s by die kleuterskool te wees wie se lewe daaruit bestaan om hulle eie drome deur middel van hulle kinders se partytjies te verwesenlik. Ook al moet hulle die hele dag koeke versier, beteken dit steeds hulle het meer tyd saam met hulle kinders as sy saam met hare.

      Terwyl sy oor ’n plastieksak en ’n polistireenhouertjie in die parkeerarea voor haar werk ry, verfyn sy haar fantasie. Sy wil een van daardie ma’s wees, veral die een met die bruingebrande bene sonder ’n sweem van selluliet in haar kuit of in die gedeelte waar die swart rekbroekie gespan het.

      Sy wat Sophia is, wil nie ’n vaal jas dra en heeldag doodstil voor ’n rekenaar sit nie. Sy wil nie in die spieël kyk en so grys en moeg lyk nie. ’n Vaal, gemiddelde vrou met ’n bril tussen die sprankelende, aktiewe moeders.

      Sy wil eerder dáárdie een wees, die een wat voor die skool so half in haar rigting geglimlag het.

      Terwyl sy haar motordeur toesluit, dink sy dat sy aan die vrou se been sal wil vat, net om te voel of dit ’n regte mens s’n is, ’n vrou wat al kinders gehad het. Hoe baar mens kinders uit so ’n lyf? Sy is so ferm soos Barbie, met dieselfde aangeplakte glimlag. Die vermommingsglimlag maak haar nog meer begeerlik. Dis presies wie Sophia wil wees. Sy wil nie voel dat sy iemand tevrede moet stel nie. As haar man werk toe sou foeter sonder om haar te groet, is dit sý verlies, sou sy reken as sy daardie vrou was.

      Sy sluit BoekWeb se kantoordeur oop en toe sy instap, sien sy Trouw sit reeds voor haar rekenaar. ’n Bekende tamheid oorval haar. Dis ’n gevoel wat verband hou met kantoorwerk en roetine. Die dag het nou eers begin, maar die marmot op die wieletjie is klaar suf.

      Tog, sonder haar karige salaris kan sy nie bekostig om haar kinders in dieselfde skole te hou as dié van die supermammas wat heeldag gym nie. Hulle eggenote is nie polisiemanne nie. Hulle is magnate.

      Terwyl sy haar skootrekenaar uitpak, sien sy Trouw se gesig is donker. Sy vee haar vlegsel geïrriteerd agtertoe en Sophia ken al daardie beweging. Trouw tob oor BoekWeb, die webwerf wat sy self uitgedink het. Trouw tob elke dag daaroor, maar party dae meer as ander. En die laaste rukkie voel dit vir Sophia asof Trouw se luim nog slegter is as gewoonlik.

      “Die naam BoekWeb is nog net in Holland geregistreer toe ek laas gekyk het,” sê Sophia terwyl sy haar kodewoord intik.

      Trouw frons en skud haar kop. Nee, dis toe nie hoekom sy so onplesierig lyk nie.

      “Daar is rassistiese comments op ons Facebook wall.”

      “Wat’s nuut?” vra Sophia.

      “Dis erger as ooit. Die studenteprotes het die hele land aangesteek. Nou is almal van voor af kwaad: die plaaswerkers, die mynwerkers, die huiswerkers …”

      “So almal skryf nou rassistiese kommentaar onderaan artikels wat met boeke te make het …?”

      “Mense skryf nou wilde comments enige plek! Die hashtag-veldtogte raak al hoe meer en jaag almal in verskillende kampe in. En die comments lyk regtig nie goed vir ons brand nie. Waar val al hierdie mense uit?”

      Amper antwoord sy, al weet sy die vraag was retories.

      Dis die ou storie op sosiale media, Trouw, die details het net verander. Hulle kruip saans uit hulle gate. Hulle voel alleen, of hulle kyk diep in die bottel, of hulle kry onmiddellik reaksie. G’n mens weet nie. Dis die internet se geheim. En ons kopseer.

      Maar Trouw weet daardie goed al lankal.

      “En anyway, Sophia, die feit dat die website se naam iewers anders geregistreer is, beteken ons stuur al ons traffic na hulle toe.”

      Watse verkeer, Trouw? Dis nou nie asof besoekers in rye by ons webwerf aanmeld soos motors wat staan by die verkeerslig buite die sekuriteitskompleks waar ek woon nie. Ons bemark immers boeke in ’n land waar die meeste mense nie geld het vir kos nie en die res die sente omdraai om vir goeie skole en universiteite of Europese reise te betaal.

      “Ons doelwitte verskil van daardie webwerwe s’n,” sê Sophia teen haar beterwete. Haar rekenaar is aan. Op die skerm is tekeninge van springende gedroggies; Google lyk vanoggend so besig soos ’n kleuterskool.

      “Hoe? Hulle bemark boeke online en ons ook.”

      Sy weet sy moet stop. Sy moet opstaan, kombuis toe gaan en vir haar gaan koffie maak. Dit sal nie lyk of sy haar aan die gesprek onttrek nie. Maar nee. Soos haar kinders, weet Sophia nie altyd wanneer dit ’n goeie tyd is om ’n gesprek te beëindig nie.

      “Ons is mos nie net … ’n databasis soos hulle nie. Ons probeer mos vir mense lok … um, dink ek …”

      Trouw help haar nie om haar sin te voltooi nie. Sy sit haar só en kyk. Asof sy wag dat Sophia ’n eksamen moet slaag.

      BoekWeb 101, vraag 1: Wat is BoekWeb?

      Sophia weier om haar te laat intimideer.

      “Soos aanlyn boekbekendstellings, man, jy weet mos!”

      Trouw leun terug in haar stoel en klap drie keer stadig vir haar hande. Die irritasie kriewel in Sophia.

      “Jy’t mooi geleer,” sê haar kollega. “Ons probeer die boeke verkoop ook. Net jammer dit klink so boring. Sal ons gou kyk na die dag se bigger picture?”

      Nee. Jy is die een wat die konsep uitgedink het en my gewerf het om saam met jou te kom werk. Kyk jý na die bigger picture. Die enigste prente waarna ek op hierdie stadium kyk, is Google s’n. En die enigste prente waaraan dit my laat dink, is die inkleurprente in my kinders se skoolboeke.

      Sy wil fokus op die oomblik. Sy wil dink aan haar kinders. Verkoop jý die boeke, Trouw.

      Trouw ignoreer haar gesigsuitdrukking. Sy mag miskien ’n vlegsel dra soos ’n tiener op skool, maar sy’s nie verniet die baas nie. Sy staan elke oggend op