Uit die Beek 2017. Attie van Wijk. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Attie van Wijk
Издательство: Ingram
Серия: Uit die Beek
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796319357
Скачать книгу
hom verlaat. Sy beste vriend het ontken dat hy Hom ooit ontmoet het. Hoe voel Hy oor jou vandag? Dalk is daar iets wat jy moet regmaak.

      GEBED: Here, vergewe my dat ek U ook gereeld in die skande steek. Ek wil terugkom na U toe. Dankie vir u groot genade.

      Lees vanaand in Deuteronomium 32:1-10 die volkslied wat die volk moes herinner aan wat God vir hulle gedoen het.

      SONDAG 19 FEBRUARIE 2017 Lees eers Psalm 119:113-120

      DIE GEVOLGE VAN ONTROUHEID

      U verwerp almal wat van u voorskrifte afdwaal; met hulle ontrou mislei hulle hulleself (119:118).

      GESELSVRAAG: Wanneer gee ’n mens toe aan versoekings?

      “Ag, jy is tog nie een van daai nie?” swets ’n sakeman toe ’n Christensakeman hom aanspreek oor sy lasterlike taalgebruik. Tog het dit hom nie verhoed om voort te gaan om die Here en sy Naam te belaster nie. Die gevolg was dat die Christen sy sake met daardie firma beëindig het, al het hulle jare lank goeie diens gelewer. Hy het gevoel God se eer is op die spel.

      Hierdie lang psalm herinner ons vandag daaraan met Wie ons te doen het. As jy God die rug toekeer, is dit nie net jou taalgebruik wat in die slag bly nie. Jy word ’n huigelaar (vgl. v. 113), onregverdig (vgl. v. 115), ’n afdwaler en iemand wat nie vertrou kan word nie (vgl. v. 118). Jy is goddeloos en soos waardelose skuim (vgl. v. 119). Iemand wat aan die Woord van God vashou, beweeg in die teenoorgestelde rigting. Daarom kies die digter om respek vir God te hê (vgl. v. 120).

      Ons kom elke dag voor keuses te staan. Vandag kies ons ook of ons die dag saam met God wil deurbring, of in diens van die wêreld. Gaan ons die Here ’n kans gee om deur Bybelstudie, die erediens, aanbiddingsliedere en ander gelowiges met ons te praat? Of gaan ons die dag in die kring van die spotters en Godveragters deurbring?

      GEBED: Here, ek het die grootste respek vir u Naam. Help my om vreesloos te wys aan Wie se kant ek is.

      Lees vanaand in Psalm 119:121-128 hoe ons eerder moet kies om aan God gehoorsaam te wees.

      MAANDAG 20 FEBRUARIE 2017 Lees eers Deuteronomium 32:11-18

      VLIEG SOOS ’N AREND

      Soos ’n arend wat sy kleintjies uit die nes uitskop, oor hulle fladder en hulle vang op sy vlerke wat hy oopsprei, soos ’n arend wat sy kuikens op sy vlerke dra … (32:11).

      GESELSVRAAG: Wat val jou op van ’n arend?

      “Moses het 40 jaar lank in die woestyn skape opgepas en daarom kan ’n mens verstaan hoekom hy die visarend so goed leer ken het. Met ’n vlerkspan van tot 2,4 m is dit ’n indrukwekkende roofvoël,” verduidelik ’n voëlkenner.

      In hierdie lang lied wat alle Israeliete moes leer sing, vertel Moses hoe ’n jong arend leer vlieg. Die nes word baie hoog in hoë bome of teen kranse gebou. Daar word die kleintjie ’n ruk lank goed versorg. Wanneer die tyd kom om te leer vlieg, sal sy ouers hom uit die nes uitskop. Hy sal angstig sy vlerke klap, maar net voordat hy hom te pletter val, sal die ouer onder hom induik en weer nes toe neem. Dit word herhaal totdat die kleintjie goed kan vlieg. Só maak die Here ook met sy mense. Dit lyk soms asof Hy teen ons is en al ons sekerhede van ons wegneem, maar dan is Hy altyd daar om ons weer te vang. So wil Hy ons geloof versterk.

      Het jy al gebid vir ’n sterker geloof? Daar is net een manier om dit te ontwikkel: deur in omstandighede te kom waar jy geloof nodig het. Net soos jy wil moed opgee, sal God jou red en van sy almag verseker. So groei ons ook geestelik.

      GEBED: Here, ek is soms so bang om dit uit die nes te waag. Dankie dat U altyd daar is om my te vang.

      Lees vanaand in Deuteronomium 32:19-28 hoe die Here ons soms toelaat om die gevolge van ’n slegte keuse te dra.

      DINSDAG 21 FEBRUARIE 2017 Lees eers Deuteronomium 32:29-35

      DIE BRON VAN WYSHEID

      As hulle wysheid gehad het, sou hulle dit verstaan het, sou hulle begryp het wat hulle uiteinde sal wees (32:29).

      GESELSVRAAG: Wat is die grootste les wat jy al geleer het?

      “Dit is tog snaaks dat mense nie kan leer uit ander se ervaring nie. Almal herhaal ander se foute voordat hulle leer,” lees ek iewers. Dit is een ding om ’n klomp feite te leer, soos wat ons in die klas doen, maar dit is ’n totaal ander ding om wysheid te leer. Dít leer ons gewoonlik deur foute te maak. “Ervaring is iets wat ’n mens kry net nadat jy dit nodig gehad het.”

      In die lied wat ons nou lees, vind ons dat die volk se vyande dink dat hulle uit eie krag die Israeliete oorwin het. Hulle besef nie dat die nederlae die gevolg was van die Israeliete se ongehoorsaamheid aan God nie. Israel se neerlaag is so groot dat dit onnatuurlik is (vgl. v. 30). Tog is die God van Israel steeds lief vir sy mense. Daarom bevry Hy hulle en bring hulle terug uit ballingskap sodra hulle hul les geleer het. Hy bly in beheer (vgl. v. 35).

      Ons almal gaan vandag wysheid nodig hê. Ons sal besluite moet neem wat dalk onverwagte gevolge sal meebring. Waar kry ons die nodige wysheid? Jakobus leer ons dat ons dit van God kan vra (vgl. Jak 1:5). Daarom moet ons nie dink dat ons eie kennis of ervaring genoeg is vir vandag nie. Net Hý kan ons die nodige wysheid gee. Sy Gees kom woon in ons om ons te lei.

      GEBED: O Heilige Gees, ek gee my aan U oor sodat U my vandag die nodige wysheid kan gee.

      Lees vanaand in Deuteronomium 32:36-42 hoe die Here sy almag wys deur sy volk van hul vyande te verlos.

      WOENSDAG 22 FEBRUARIE 2017 Lees eers Deuteronomium 32:43-52

      AMPER

      Jy sal die land wat Ek aan die Israeliete sal gee, regoor jou sien, maar jy sal daar nie binnegaan nie (32:52).

      GESELSVRAAG: Watter droom van jou is nog nie verwesenlik nie?

      “As jy amper betyds is om jou vliegtuig te haal, bly jy in die lughawegebou agter. As jy ’n boksgeveg amper wen, dan verloor jy,” verduidelik ons onderwyser. “Amper is nog nie stamper nie,” is ’n bekende gesegde. So stel ons vir ons doelwitte wat ons dalk nog nie bereik het nie. Wat kan ons doen om dit te verwesenlik?

      Ons kom nou aan die einde van Moses se lewe. Hy het wonderlike ervarings met God gehad. Hy het baie wonderwerke gesien. Maar sy eintlike doelwit, om die volk in die beloofde land in te lei, kon hy nie bereik nie. Dit was nie omdat God nie in staat was om dit te doen nie. Dit het uiteindelik wel gebeur. Dit was Moses nie beskore nie omdat hy en sy broer ongehoorsaam was. Hulle het die rots geslaan in plaas van daarmee te praat (vgl. Num 20:12). Die enkele keer dat hy die eer vir homself wou inoes en nie stiptelik gehoorsaam was nie, het hom die beloofde land gekos.

      Jy voel miskien vandag ook teleurgesteld en moedeloos oor iets wat nie uitgewerk het nie. Dit kan wees omdat dit ’n verkeerde doelwit was. Tog kan dit dalk eers later vervul word. Moses het eeue later wel in die beloofde land ingekom (vgl. Luk 9:30).

      GEBED: Here, dankie dat ek ook my drome aan U kan oorgee. Ek is tot u beskikking. Gebruik my net soos U wil.

      Lees vanaand in Deuteronomium 33:1-7 hoe Moses vir oulaas ’n seën oor elke stam uitspreek.

      DONDERDAG 23 FEBRUARIE 2017 Lees eers Deuteronomium 33:8-11

      GESEËN OM TE SEËN

      Hulle sal vir Jakob in u bepalings onderrig, vir Israel in u wet (33:10).

      GESELSVRAAG: Watter seën verlang jy vir jouself? En vir jou kinders?

      “Wil Pa nie vir elkeen van die kleinkinders ’n seën uitskryf wat hulle vir die res van hul lewe kan lei nie?” skryf een van ons skoondogters nadat sy ’n studie oor familieseën in die Bybel gedoen het. In die Bybelse tye was die laaste woorde van ’n gesinshoof baie belangrik.

      Moses was self uit die stam van Levi. Hy verwys terug na geleenthede toe dié stam vir God se eer gestaan het terwyl ander ontrou geword het. Hierdie stam moes die volk op die pad van die Here lei en as hul onderwysers en predikante