Uit die Beek 2017. Attie van Wijk. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Attie van Wijk
Издательство: Ingram
Серия: Uit die Beek
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796319357
Скачать книгу
my Naam ontsag gehad. Hy het die volk my wil reg geleer en niks verdraai nie. Hy het naby My geleef, heelhartig en opreg, en hy het baie laat afsien van hulle sonde” (Mal 2:5-6). Wat ’n pragtige getuienis.

      Wat wil jy graag hê dat mense by jou begrafnis oor jou moet sê? Sal dit nie wonderlik wees as hulle Maleagi se woorde net so oor jou kon getuig nie? Maar dan moet jy (en ek) gewillig wees dat die Here met en deur ons werk. Hy wil ons daarvoor toerus met die Heilige Gees en deur sy Woord.

      GEBED: Here, seën my sodat ek vir ander ’n seën kan wees. Dit bid ek ook vir ons hele gesin.

      Lees vanaand in Deuteronomium 33:12-19 hoe nog stamme geseën word.

      VRYDAG 24 FEBRUARIE 2017 Lees eers Deuteronomium 33:20-29

      KONINGSKINDERS

      Dit gaan goed met jou, Israel! Wie is soos jy?

      Jy is ’n volk wat deur die Here verlos is! (33:29).

      GESELSVRAAG: Wil jy graag ’n prins of prinses wees? Hoekom?

      “Ek wil graag ’n prinses wees by my verjaardagpartytjie,” sê my een kleindogter. Watter dogtertjie het nog nie daardie droom gehad nie? Die prinses is altyd baie mooi, met pragtige klere, en daar is ’n prins iewers wat op haar verlief gaan raak. In die regte wêreld is dinge ’n bietjie anders, nie waar nie?

      As jy ’n kind van God is, is daardie droom nie ver van die waarheid nie. God is die Koning. Sy kinders is almal prinse en prinsesse. “Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word” (Joh 1:12). “In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees. Daarom moet ons God prys vir sy wonderlike genade wat Hy in die Geliefde vrylik aan ons geskenk het” (Ef 1:5-6). Wat ’n voorreg om ’n kind van die grootste Koning te wees.

      Moses sluit sy laaste toespraak af deur te vertel hoe wonderlik die God van Israel is en hoe wonderlik die volk van God. Die groot boodskap van Deuteronomium is sekerlik dat dit moontlik is om ’n verbondskind van God te wees. Jy kan weet dat jy aan Hom behoort en dat jy verlos is.

      GEBED: Hemelvader, dankie dat U my aangeneem het as u kind in Jesus Christus en dat U my elke dag daarvolgens wil verander.

      Lees vanaand in Deuteronomium 34:1-12 hoe Moses sterf en waar hy sy gesag vandaan gekry het.

      Welkom by Handelinge

      Skrywer:

      •Die dokter Lukas, wat ook die Evangelie volgens Lukas geskryf het (vgl. Kol 4:14; Luk 1:1-4).

      Eerste lesers:

      •Teofilus en die eerste gemeentes in die Midde-Ooste en Europa.

      Datum:

      •Waarskynlik 59 n.C. tot 61 n.C. terwyl Paulus in Rome was.

      Doel:

      •Om die belangrikste momente in die groei van die vroeë kerk vas te lê. Dit bevat ook ’n duidelike uiteensetting van die evangelie.

      Hooftrekke:

      •Die begin van die kerk (1:1-2:47).

      •Die getuienis in Jerusalem (3:1-7:60).

      •Die getuienis in Samaria en omgewing (8:1-12:24).

      •Die getuienis oor die hele wêreld (12:25-21:26).

      •Paulus se laaste getuienis (21:27-28:31).

      Let op na:

      •Gewone gelowiges speel ’n groot rol in die kerk se groei.

      •Vervolging laat die kerk juis uitbrei.

      •Die opstanding van Jesus is die hooftema van feitlik elke toespraak.

      •Die kerk groei oor alle grense, en sluit alle gelowiges in.

      Christus in Handelinge:

      •Christus het die Heilige Gees gestuur en werk dan deur die jong kerk.

      •Christus openbaar Hom aan Paulus en roep hom (9:1-31).

      •Christus is die middelpunt van die evangelie wat oor die hele wêreld verkondig is.

      •Christus leef!

      •Christus roep ons almal om deel van Handelinge 29 te word.

      SATERDAG 25 FEBRUARIE 2017 Lees eers Handelinge 1:1-5

      JESUS LEEF!

      Ná sy dood het Hy aan hulle met baie onbetwisbare bewyse ook getoon dat Hy lewe (1:3).

      GESELSVRAAG: Watter verskil maak dit dat Jesus regtig leef?

      “Ai, as Jesus maar net vandag nog hier op aarde geleef het, sou ek my probleem na Hom toe geneem het. Hy sou my dan genees.” Het jy ook al so gedink? Maar Hy is mos hier by ons, al kan ons Hom nie sien nie. Sy Naam is nie verniet Immanuel – God by ons – nie. Hy belowe om altyd by sy kinders te wees (vgl. Matt 28:20). “My God is not dead – sorry about yours” staan op ’n bekende sendeling se tassie geskryf. Hy kon keer op keer getuig hoe die Here vandag nog wonderlike dinge doen.

      “En as Christus nie opgewek is nie, is ons prediking sonder inhoud en julle geloof ook sonder inhoud,” skryf die apostel Paulus (1 Kor 15:14). As die opstanding van Jesus dan so belangrik is, is dit geen wonder dat dit die sentrale boodskap van die boek Handelinge is nie. Feitlik al 23 toesprake wat in Handelinge opgeteken is, gaan daaroor dat Jesus weer opgestaan het. Daarom kan ons verwag dat die vyand alles in sy vermoë wil doen om ons te laat twyfel of Jesus werklik leef.

      Kom lees dus saam met my die boek van Die Handelinge van die Apostels en kyk of jy dan nog kan twyfel of Jesus werklik uit die dood opgestaan het.

      GEBED: Dankie dat U werklik leef, Here Jesus. Ek wil U in die volgende maande beter leer ken.

      Lees vanaand in Handelinge 1:6-8 vir wie die Here deur die Heilige Gees sal bekragtig om oral sy getuies te wees.

      SONDAG 26 FEBRUARIE 2017 Lees eers Psalm 119:129-136

      U WOORD GEE LIG

      Wanneer u woord vir mense oopgaan, bring dit lig; dit gee insig aan dié wat nog onervare is (119:130).

      GESELSVRAAG: Wanneer het ’n mens lig nodig?

      “Wat het die mense in Suid-Afrika voor kerse gebruik om lig te maak? Elektrisiteit!” was een van die grappies wat die ronde doen terwyl Eskom die een dorp na die ander in duister dompel. Dan ontdek ons opnuut hoe afhanklik ons van elektrisiteit geword het. Daarsonder kan ons omtrent geen werk doen nie. Hoe het ons voorouers dit reggekry om sulke wonderlike handwerk by kerslig te doen? Kon hulle dalk beter in die donker sien?

      Ons het elke dag ook ’n ander soort lig nodig, want ons moet daagliks keuses maak en besluite neem. Wat is die regte ding om te doen? Dit is waar die Bybel ons wil help. Al die verhale wat hierin opgeteken is, wil ons leer hoe om reg te kies. Hoe kan ons ons kinders toerus vir hierdie gevaarlike wêreld? Dalk is die Bybel net wat hulle hul hele lewe lank gaan nodig kry. Ons moet die belangrike lesse van God se Woord elke dag aan hulle leer. Op skool en universiteit kry hulle meermale met verkeerde invloede te doen. Die groepsdruk is erg. Die Bybel wys ons ’n ander manier van leef.

      Vandag sal gelowiges oor die hele wêreld om God se Woord bymekaarkom. Ons almal sal God se leiding soek oor hoe om elke dag se uitdagings en krisisse te hanteer. Moenie dit misloop nie.

      GEBED: Dankie dat U ons nie in die duister gelaat het nie, Here. Dankie vir u kosbare Woord wat ons elke dag lei.

      Lees vanaand in Psalm 119:137-144 hoe die Bybel ons wil leer wat reg en regverdig is.

      MAANDAG 27 FEBRUARIE 2017 Lees eers Handelinge 1:9-11

      JESUS KOM WEER

      Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe